Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Monday, September 20, 2010

'n Liefde en Ywer vir sistematiese Huisbesoek...

NA soveel jare in die bediening in dieselfde gemeente begin ek soms wonder of 'n mens nog kan aanpas by 'n ander gemeente.  Soms is ek bang om te stagneer, en soms weet ek regtig nie meer wat om te preek op Sondag, wat ek nog nie voorheen al gedoen het nie. Ek is nou al deeglik bewus van my leemtes in my bediening, en daar is sekere dinge wat ek net nie in my het om vir 'n gemeente te bied nie.  Om Paulus aan te haal in die teks wat my oorspronklik tot die bediening geroep het: "Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom..."  (1 Korintiërs 2: 3)  Ja, ons glo dit is die Here wat oortuig, dit is die Here wat sy kerk hier op aarde bou.  In die proses gebruik Hy ook mense soos ek.

Nou, na meer as vyftien jaar in een gemeente, kyk ek met nuwe oë na die Kerkbode. Nie om die nuutste teologiese debat te volg nie, nee, eerder daardie voorlaaste bladsye binne die Teksbokse.

En dit is skrikwekkend! Iewers langs die pad het die kerk 'n baie georganiseerde besigheid geword. 'n Leraar is nie meer net iemand wat Jesus ontmoet het, en graag vir ander van Hom wil vertel nie. Nee, deesdae is hy veral beeldbouer van sy besigheid se plaaslike tak. Hy moet uitstekende organisatoriese vaardighede hê. Hy moet soomloos kan inskakel by die top sakemanne van die gemeenskap, om sy 1990 Corolla tussen hulle 2010 Mercs en BMW's te parkeer by die manne-ontbyt. Hy moet as kandidaad beskikbaar wees vir 'n hele battery psigometriese toetse, by die bedryfsielkundige broer wat deur die kerkraad vertrou word om die swakkes uit te dun. Hy moet die tale van mense en Engelse goed kan besig. Die geskikte kandidaad kan miskien nog regkom as hy 'n USB poort langs sy anale opening het, om goed met rekenaars te kan kommunikeer. Maar ons dominee moet liefs "wireless" wees, met 'n ver reikwydte. Hy moet alles vir almal in ons gemeenskap kan wees. En dit ook goed met rekenaartegnologie kan verduidelik.  Ons geskikte kandidaad beskik oor 'n baie Gereformeerde spiritualiteit, maar kan hom tog tuis voel in die geselskap van ander spiritualiteite. In die stad word verwag dat jy jou eie woonplek sal aanskaf, met 'n behuisingsubsidie, na belasting natuurlik, waarmee jy 'n ruim tweeslaapkamer woonstel kan huur. Terwyl jou kinders op universiteit is, sal Mevrou se professionele salaris julle darem seker deurhelp, of hoe? O, Mevrou is 'n onderwyseres? Sterkte broer!

Op die platteland mag Mevrou weer nie werk nie. Sy moet tuis wees, om Dominee en die gemeente se behoeftes te akkommodeer. Mevrou moet asseblief saamkom vir die onderhoud: ons wil darem sien of julle twee saam sal inpas by die "image" van ons gemeente!

En dan die towerwoorde in soveel (veral plattelandse gemeentes?) se advertensies: Ons geskikte kandidaad sal 'n liefde en ywer vir sistematiese huisbesoek aan die dag lê.
Gesels ek met die teologiese studente, sê hulle (By Pretoria, Bloemfontein sal waarskynlik anders sê, en niemand weet wat in Skelmbos aangaan nie!) die proffies sê: Huisbesoek werk nie.

My eie ervaring van 'n dekade en 'n half se getroue, sistematiese huisbesoek is ook: dit werk nie.
Die probleem wat dit in gemeentewees ingebring het, is daardie bekende prentjie in gemeentebou- kringe van lank lank gelede van die lang (eindelose) ry swaaie, waarop gemeentelede sit. En almal wag vir die dominee om hulle te kom "maak".  Die probleem van atrofie is dat voor 'n mens vreeslik verder gevorder het, het die eerstes lankal weer tot stilstand gekom.  Daardie een besoekie van Dominee tuis hou net so lank.

Ons is as kerk in die tyd van die Perfekte Storm (Stephan Joubert en Leonard Sweet onder andere...)
Ons word getref deur die grootste storm waarin irrelevansie die kerk kelder. Daar moet nuut gedink word hoe om die goeie nuus van Jesus met die wêreld te deel. Die beste metodes bly interpersoonlike kontak. Die Bybel ken die antwoorde, bv Efesiërs 4:12 waarin  'n leraar toeruster word vir ander, sodat hulle hul eie dienswerk kan gaan doen. Daar is sekere aande van die week nodig om leiers toe te rus. Daar is ander aande van die week nodig om mense bymekaar te kry in sinvolle kleingroep byeenkomste, sodat hulle saam God se liefde kan beleef, mekaar kan versorg, en uitbeweeg om 'n verskil in die wêreld te gaan maak.  Verder het 'n leraar ook tye in die aand nodig vir pastorale versorging van seer, werkende mense. En net so nou en dan het die leraar 'n gesin, en 'n kind wat sukkel op skool, en 'n oueraand waar wysheid gevra moet word.

Die model vir sistematiese huisbesoek werk baie goed in die klein plattelandse gemeentetjie, waar daar maksimum 200 lidmate is. Dan ken almal mekaar, en die dominee ken almal.
Is die gemeente egter in die finansiële posisie om die minimum leraars te bekostig, en vir elkeen die maksimum hoeveelheid lidmate toe te ken, dan raak dit moeilik.  Hoe kom 'n dominee van vlees en bloed, wat gereelde vergaderings met diensgroepe moet lei, wat betrokke moet wees om 'n kleingroep bediening aan die gang te kry, wat sekere aande van die week opsy moet sit vir pastoraat, huwelikskategese, doopkategese, sukkelende huwelikke... nog steeds redelik gereeld uit by meer as 800 mense?

Vir sekere mense is 'n jaarlikse besoek veels te min. Daar is mense wat verontreg voel as die dominee nie ten minste kwartaalliks by hulle uitkom nie. Vir andere is maandeliks veels te min. Dit is hierdie liewe tannies wat jou kruisig met die woorde: "Dominee, jy het my vergeet!"

Gebeur Huisbesoek wel die aand, dan verloop dit dikwels as volg: Broer wil eers gesels oor die stand van Springbokrugby, kwotas en spankeuses.  Suster wil net graag weet wie het nou eintlik daardie nuwe kanselkleed gemaak, en hoekom hang hy so skeef.  Die kinders se sertifikate word uitgestal: Kleinsus het 'n C+ by die ATKV se kunskompetisie gekry, en Boeta is sowaar kaptein van die 4e rugbyspan.
Soek 'n geestelike aanknopingspunt om die gesprek na meer heilige gebied te lei.

Broer- julle was bietjie lanklaas in die erediens opgemerk... Ja, Dominee, ons is maar moeg deesdae, hierdie lang ure (8-5, Maandag tot Vrydag) maak ons baie moeg.
Broer, ek wens dat ek vir jou kon sê dat ek vanoggend sewe-uur al by die biduur was. Nege uur het ek die Bybelstudie gehad, van tien tot twaalf by 'n klompie siekes uitgekom, van twaalf tot een vinnig deur die berg korrespondensie gewerk wat op my lessenaar lê. Een tot twee het ek darem saam met my gesin kon eet, twee tot half drie het ek op my bed gelê omdat ek self uit op my voete van moegheid is. Van drie tot tien is ek besig om sewe gesinne te sien, om die stand van Springbokrugby te bespreek, klagtes oor koeksisters aan te hoor, boeta en sussa se prestasies te prys, en dan vir julle 'n stukkie uit God's Woord te lees, uit daardie Bybel wat julle so diep onder die stof gaan uitgrawe het.  Ek gaan my bes doen om julle aan die Here op te dra, vir sy seën oor julle lewe te bid, veral vir julle finansies, sodat julle darem ook een van die 28% besoekpunte kan wees wat wel iets bydra in 'n maand.
Maar al hierdie dinge kan ek nie sê nie.

Ja, ek was gisteraand by julle huis. Ek gee vir julle om. Ek bid vir julle, en ek lees vir julle. Ek probeer om vir julle te inspireer om met blydskap voluit die Here te dien. Maar oor ses maande vertel julle weer vir almal dat ek nooit by julle aan huis kom nie...
Intussen hou my kinders nie baie van die kerk nie. Soms sien hulle die seer in my oë raak, wat ek nie vir hulle kan wegsteek nie. Soms wonder hulle hoekom iemand hulle pa so dringend op die aand van hulle verjaarsdag moet sien, en dan vir ure gesels oor 'n klein ongelukkigheid oor parkering by die kerk of derglike snert.

Waar is die advertensie van 'n gemeente wat graag lewend, dinamies kerk wil wees en 'n verskil wil maak waar God hulle geplaas het? Waar is die gemeente wat 'n leraar soek om saam met hulle die Here te kom dien, en hulle toerus, sodat hulle self die dienswerk in die gemeente kan doen? Waar is die gemeente wat erns maak met die baie, baie "mekaar" tekste in die Bybel, en nie net een professionele nar wil hê vir wie almal hande klap nie?  Is daar nog sulke gemeentes in die tradisionele kerke? Of is dit hoekom ons lidmate so in massas na die tentkerke toe stroom, om by 'n selgemeente te gaan inskakel waar hulle die pastoor net op Sondag sien, maar die res van die week die liefde en warmte van 'n kleingroep beleef?

Ek wil graag in 'n bediening wees waar ek nooit weer 'n huis hoef te besoek nie. Ek wil nooit weer die woord "besoekpunte" hoor nie. Ek sou so graag in 'n bediening wou wees waar dit gaan oor mense, oor verhoudings, oor saam soek na die Here se wil.  Waar ek nie alleen 800 mense moet bedien nie, waar ander gelowiges my ook soms bedien, wanneer ek moeg is, seer het, visie verloor...

Ja, ek het 'n groot liefde en ywer vir Huisbesoek. Dit is my motorfiets se naam...