Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Wednesday, April 27, 2011

Vryheidsdag- Tyd vir Brothers in Arms- Dire Straits!

http://www.youtube.com/watch?v=jhdFe3evXpk

Dit is Vryheidsdag. Vandag dink die ANC aan hulle maatjies wat saam poskantore opgeblaas het en landmyne op plaaspaaie geplant het.

Eendag, lank lank gelede, het ek ook in die naam van Vryheid my hare verloor, en in 'n bruin speelpakkie ingeklim. Vandag word ons baie daarvoor gekritiseer dat ons in die Weermag was. Destyds het ons nie regtig 'n keuse gehad nie, behalwe 'n vier jaar tronkstraf en 'n kriminele rekord as alternatief.

Daar is iets baie wonderlik vir 'n man aan die Broederskap van oorlog.  Daar is iets wat 'n man graag wil ervaar om aan 'n groep te behoort, wat groter as die individu is.

Ek het Tom Hanks se reeks Band of Brothers baie op televisie geniet. En daarin vertel die ou veterane van die 101st Airborne dat hulle nie geveg het omdat hulle die vyand gehaat het nie. Hulle het dit gedoen om hulle buddies se lewens te beskerm in kontaksituasies. Daar was 'n groter prentjie, die vyand moes oorwin word. Maar in die onmiddelike klein omgewing het dit gegaan om mekaar te help en mekaar te beskerm. In oorlog is verhoudings tussen manne gesmee wat dikwels sterker as broers se liefde vir mekaar is. In oorlogsituasies was jy afhanklik van iemand anders, jy moes hulle met jou lewe vertrou, omdat jy nie altyd oral kon kyk nie.

Maar soos in Dire Straits se wonderlike lied is daar ook 'n tyd wat dit verby gaan. Daar kom 'n dag wat die soldaat nie meer in uniform is nie, wat die bomme nie meer rondom jou bars nie. Daar kom 'n tyd om huis toe te gaan. Die wyse ou Prediker het dit gesê dat daar 'n tyd vir oorlog is, en 'n tyd vir vrede.  Jesaja het gepraat van swaarde wat ploegskare word.

Die hartseer is dat nie almal huis toe kom na 'n oorlog nie. Daar is in elke oorlog die mense wat alles opoffer, en nooit weer hulle geliefde in die arms kan neem nie. Het jy die fliek Passchendaele gesien? Ek het op daardie slagveld van die 1e Wêreldoorlog rondgeloop, en die Geallieërde begraafplaas besoek. (Fotos onder). Honderdeduisende mense lê daar begrawe. By die Menin hek van Ieper is die name van nog honderdeduisendes wat net eenvoudig so opgeblaas is, dat niks gevind is om begrawe te word nie.
Ook 'n hele klomp Suid-Afrikaners. Dood. Einde van die prent. Game Over. Anders as in die Playstation kan jy nie oor begin nie.

Nog honderde duisende soldate het na die twee Wêreldoorloë nie heel huis toe gekom nie. Op Gallipolli en Verdun, by Alamein en Monte Casino (nie die dobbelplek nie!) op Omaha en Iwo Jima het ouens se bene en arms en oë agtergebly. Baie was nooit weer fisies heel nie. Nog baie meer was psigies nooit weer heel nie. In die eerste Wêreldoorlog is duisende manne vir lafhartigheid geskiet, manne wat so bomskok opgedoen het dat hulle weggehardloop het. Baie ander het aan bomskok gelei, dit is eers later as Post Taumatiese Stress sindroom beskryf, en toe verstaan almal skielik beter...

Ons land het sy eie kwota manne wat Brothers in Arms was, aan albei kante van die geveg. Ons almal het vriende verloor. By Fort Klapperkop is die name van die "vryheidsvegters" wat gesterf het. In die militêre basisse is (was?) ererolle van hulle wat vir volk en vaderland gesneuwel het.  Maar daar is baie, baie meer stukkende oorlewende Broers. Manne wat bene en arms verloor het in landmyn ontploffings. Ouens wat seergekry het  met Buffels wat rol. Daar is die manne wat soos seuntjies gehuil het daardie eerste aande van basiese opleiding, wat van daardie dag af gedink het hulle is nie goed genoeg om soldaat te wees nie. Dit het 'n gat in hulle ontwikkeling as man gelaat...
Daar is die ystermanne wat nie die keurings kon slaag vir die Rekkies en die Valskermbataljon nie.
Daar is manne wat ander mense moes doodskiet. Party voel vandag skuldig oor dit so lekker was om 'n lewe te neem. Ander onthou dit met die grootste walging. PArty gaan terug Angola toe om jammer te sê, om 'n verlore stuk van homself weer te gaan vind.

Ja, baie Broers het iets verloor in oorlog. Daardie basiese stukkie onskuld. Daardie iets wat ons laat kop optel, en dink ons kan iets positiefs vir iemand anders beteken.Party voel nog steeds skuldig dat hulle oorleef het.
Baie manne het liggaamlik teruggekom van oorlog af, maar geestelik is hulle nog op die slagveld. Skrik in die nag vir harde geluide. Baie wantrouig teenoor hulle naaste. Vir sommige is daardie mooi stuk van hulle menswees so weg, dat hulle die pyn van oorlewing met drank en pille probeer verdoof. Die manne se verhoudings kry swaar, die vrouens in hulle lewe byt dikwels die spit af.  So baie manne begeer dat die nagevolge van kontaksituasies net weer kan weggaan uit hulle lewens uit. En tog is daar nog steeds broers wat deur die wrede bitch van oorlog terugverlei word- daardie manne wat "veiligheidswerk" in Irak gaan doen. Die oorlog los hulle nooit. Die rush van adrenalien, die reuk van kruit en bloed word 'n verslawing wat hulle net nie meer kan los nie. As die dood elke dag saam met jou loop, word hy later 'n goeie vriend.

Dit is Vryheidsdag. Die oorlog is verby. Die Broers kan almal huis toe kom, en aangaan met hulle lewens.

Dan is daar 'n klein snotkop soos Julius Malema wat sê Afrika berei sy jeug voor vir oorlog. En hy dreunsing dat hy ons graag wil doodmaak. En dis net 'n stukkie kultuur. Meneer Malema, daar is nog 'n paar broers oor wat KAN oorlog maak! Daardie tipe woorde help nie vir die gesondword wat almal in hierdie land nodig het nie!!! Moenie die dier van oorlog wakker maak, en dink niemand gaan seerkry nie.

Mag daar nou werklik 'n tyd van vrede kom, sodat ons saam hierdie mooi land kan opbou.

Maar te veel mense hou aan oorlog praat. Miskien was George Santayana reg toe hy in 1922 gesê het: "Only the dead have seen the end of war." Ek hoop hy is verkeerd. Maar daar is altyd nog 'n dom bliksem wat nie 'n idee het nie, wat dink dit is baie romanties om iemand te skiet.

Die uiteinde van oorlog- niemand weet dalk eers wie jy was nie!




'n Klein gedeeltetjie van die Passchendaele Gealliërde begraafplaas. Brothers in Arms vir altyd.  Ek is eerder in my vrou se arms, dankie!