Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Saturday, April 9, 2011

Die mooi in die seer...


In 2006 het ek uitgebrand êrens langs die lewenspad.  Die grootste oorsaak daarvan was ekself gewees. Daar was net te veel bagasie wat langs die pad saamgekom het, sonder dat ek dit sien opbou het na 'n ondraaglike lot. Te veel dinge het ek gedink is agter gelaat, wat toe nie so was nie. Te veel onthou van sekere episodes uit my kinderdae. Te veel bagasie rondom my identiteit en selfbeeld. Te veel verkeerde maniere van dink oor my rol in my beroepslewe. Te veel meet van my eie suksesse (of gebrek daaraan!) deur die ondraaglike tirannie van my eie opinie.   Daar was so baie interne druk, en ek was my eie grootste vyand.

Saam met dit was daar ook 'n paar eksterne faktore. 'n Wyse man van die Fasiliteringskommissie van die Sinode het gesê dat die verhouding tussen gemeenteleiers  moet wees soos 'n hondjie wat op sy rug gaan lê, dat jy sy magie kan krap. Ek het dit probeer, en my magie gewys. Ek het gewaag om sekere van my seer te deel. En kort daarna het alles skeef geloop in 'n paar uiters belangrike verhoudings in ons gemeente. Mense wat ek gewaag het om met my lewe te vertrou, het skielik "vertrouensbreuke" met my ontwikkel, wat ons kerk uitmekaar geskeur het.  My persoonlikheid en my menswees het seker maar baie bygedra tot die ontploffing wat gevolg het.

Die spanning het net te veel geword om te dra, die golwe van moedeloosheid oor die rol wat van my verwag word, en wat ek glad nie kon wees nie, het ondraaglik geword. Waar die kerk 'n plek van liefde en genesing moes wees, het dit die bron van tydelike geestelike doodsheid vir my geword.

Gelukkig was daar in hierdie dae iemand in die kerk wat my raakgesien het. (Die Iemand kon nie in hierdie dae so maklik raakgesien word nie!) Die iemand het my lewe gered. Hy het aanbeveel dat ek gestuur word na 'n plek in Skotland wat spesialiseer in uitgebrande kerkleiers. Hy het die kerkraad daarvan oortuig, wat verseker 'n Godswonder was! En toe ek daar aangekom het, het ek gesien my vrou moes ook daar wees om die helingsproses te voltooi. Die iemand het vir haar uit sy eie sak uit 'n vliegtuigkaartjie gekoop, dat sy by my kon aansluit. Om my vrou binne twee dae te kry om vir die vier kinders alternatiewe akkomodasie te reël, in eksamentyd by haar skool af te kry, 'n vliegkaartjie te kry en binne 48 uur op Aberdeen se lughawe te wees, dit was 'n tweede Godswonder. (Iemand was toe regtig nie afwesig nie, ek kon Hom net nie sien of hoor deur die seer heen nie...)

Die plek van heelword word genoem Blairmore, naby Huntly in Skotland, so in die middel tussen Inverness en Aberdeen.  In hierdie luukste herehuis het 'n groepie gelowiges uit hulle pad uit gegaan om ons te dien. Ons is met soveel liefde ontvang, ons is bedien met die wonderlikste etes, met opbouende sessies, met gebedsbediening...  Hierdie sentrum kom uit 'n ander tradisie van die Christelike geloof as ek (die Ellel Genesingsbediening). Maar hulle het soveel moeite gedoen om Jesus se liefde prakties aan ons te bewys, dat dit werklik 'n lewensveranderende ervaring was.

Ek is so dankbaar teenoor daardie iemand, wat soveel uit sy eie sak betaal het om my te help red. Hy is intussen uit ons kerk uit om voltyds by 'n genesingsbediening aan te sluit. My dankbaarheid teenoor hom sal vir altyd daar wees.
Die daar wees het my in staat gestel om deur 'n nog moeiliker 2007 te volhard, tot nou in 2011, vyf jaar later. Ek is nog steeds hier... Maar ek is nie meer dieselfde nie...

Die foto hier bo is op een van die seerste dae in my lewe geneem. Dit bly een van my heel gunsteling fotos van alle tye.
Dit is geneem op 'n laat November herfsmiddag in Skotland. Die lig was baie effentjies, ek moes die sluiter lank ooplos om hierdie foto te kry.
Daar is 'n duidelike grens- aan die een kant is God se natuur, soos Hy dit wou plant. Aan die anderkant van die draad is die boer se weiding, soos hy die natuur makgemaak het. Daar is telefoondrade in sig, 'n kommunikasielyn wat oop is.
Die pad strek voor my uit, maar daar is 'n draai daar voor, na 'n onbekende plek. Ek weet tot vandag nie waarheen die onbekende pad strek nie.

Ek geniet die dynserige sonnetjie op my vel, en die koue herfslug wat in my nek blaas. Ek geniet die palet van verskillende herfskleure, wat hulle laaste glorie geniet voor die eerste sneeu begin val om uiteindelik alles in 'n swart en wit landskap te verander.  Ek geniet die vorms van die takke, die verskillende teksture wat sigbaar is. Ek geniet die vaal poeierblou lug, soveel sagter as die harde Bosveldse blou. Ek geniet die vlieserige wolkies, wat belofte van seisoensverandering en koue aankondig.  Ek geniet die stilte. Behalwe vir die fluistering van die wind in die takke is daar nie 'n enkele mensgemaakte geluid nie.

Ek weet nie waarheen ek op pad is nie. Maar ek is nou HIER. My vrou is aan my sy. Dit is nou mooi. En dit is genoeg...


Ns. Ek publiseer hierdie  op Bileam se Donkie, en nie die blog in my eie naam nie, want vyf jaar later is ek nog steeds in dieselfde gemeente, en ek wil nie weer ou wonde oopkrap wat intussen grootliks genees het nie. 

1 comment: