Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Monday, October 18, 2010

Oor die dood van 'n kind...

Jare lank sien ons hulle al daar staan: op die hoek van Hans Strijdom en Lynnwoodweg. Met ogies wat kliphard verstar as gevolg van die gom, met klere wat jare gelede al nie meer geskik sou wees vir vloerlappe nie. Elke middag staan hulle daar by die kruising, en kyk direk in  my oë in. Hulle wys met gepunte vingers dat hulle honger is. Soms staan hulle op hulle knieë op smeltende teer in die bloedige warm son. Maar ek gee niks nie, want hulle gaan net nog gom koop daarmee. En die staat vat in elk geval so hel baie belasting van my, dat daar êrens 'n maatskaplike werker met 'n plan moet wees vir hierdie straatkinders.

Saterdagaand is dit weer so. Daar is straatkinders in die kruising by Lynnwood en Hans Strijdom. Hoe weet ek dit? Want van baie ver af, anderkant Makro, kan ek die flitsende blou ligte sien. En soos ek  nader ry, lyk dit of die hele Boschkop en Garsfontein polisiestasies daar staan. "Padblokkade"- flits dit deur my kop. Maar nee- in die pad lê 'n bondeltjie. En soos ek verbyry, sien ek: 'n kind het seergekry!  Een van die gomsnuiwertjies lê in die kruising. En hy lê baie stil... Twee ure later ry ek weer daar verby. Daar is nog steeds polisievoertuie, met flitsende blou ligte. Die een baan is steeds gesluit vir verkeer.  Nou lê daar net 'n anonieme bondeltjie toegegooi onder 'n groot stuk foelie.  Daar steek twee klein, verslete tekkietjies onder die foelie uit. Die kind is dood...

Daardie seuntjie sal nooit weet hoe lekker dit is om 'n vrou vas te hou nie. Hy gaan nie aansit by 'n heerlike kersete saam met 'n familie wat vir hom lief is nie. Hy gaan nie eendag die droom waarmaak, en met 'n Harley op Roete 66 na L.A. toe ry nie. Hy gaan nie eendag Bungie van Stormsrivierbrug af nie.  Dalk het hy nie eers geweet dat 'n mens sulke drome kan droom nie. Dalk het hy maar net gedroom van iets meer as 'n ou televisieboks vir 'n dak, dalk het hy gewonder hoe voel dit om 'n nuwe boks Kentucky Fried Chicken net vir homself te hê, sonder dat iemand anders klaar al die lekker afgeëet het.  Dalk wou hy ook maar net een keer die woorde hoor: My seun, ek is lief vir jou- en ek is baie trots op die man wat jy besig is om te word.

Ek weet nie wat sy naam was nie. Ek weet nie waar hy gebore is nie, ek weet nie wie sy ouers was nie. Ek weet nie of hy ooit liefde in sy lewe ervaar het nie. Al wat ek weet, is dat die teerpad donners hard is, dat dit Saterdagaand baie koud was toe ek op my motorfiets daar verby is, en dat daardie kind baie, baie stil gelê het onder die emergency blanket waarmee hulle hom toegegooi het...