Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Thursday, February 24, 2011

Donderdag oggend by die Pepper Tree


Daar sit ek toe Donderdag oggend by die Pepper Tree Art Stable en Coffee Shop in Philadelphia. Dit is 'n pragtige oggend in die Kaap. Die strand was nou net spierwit. Die water is mooi asuurblou. Dit is nie te warm nie, en nie te koud nie, net reg, soos Bababeer dit graag wou hê. Die Kaap is een van my heel gunsteling plekke in die ganse wêreld, en ek is baie lief vir Philadelphia.

Ek het so pas met 'n BMW 320 D gery, 'n fantastiese motor. En by die Koffieshop drink ek 'n heerlike koppie koffie, en eet 'n Appeltert met roomys. Dit klink soos 'n absoluut ideale dag in my lewe, en enige ander tyd sou dit wees.  Maar ek sit in trane, met 'n helse klont seer in my hart.

Jy sien, die BMW is een van my heel beste vriendinne se motor. En ek was so pas by Doves in Kaapstad om saam met my vriend vir die laaste keer vir haar tot siens gesê. Sy is Saterdag in 'n motorongeluk oorlede. Sy was een van die mooiste mense wat ek ooit geken het. Baie mooi van buite, nog baie mooier van binne. Sy het soveel liefde uitgestraal vir almal rondom haar. En vir die meer as twee dekades wat ons vriende was, het sy my altyd aanvaar net soos ek is, en altyd so welkom laat voel in haar huis.

Ek kon nie vanoggend my vriend alleen los in oomblikke soos hierdie nie. EK kon nie dat hy dit alleen moes regkry om die kis vir die laaste keer toe te maak, en alleen daar weg te stap nie. Maar bliksem, dit maak seer om iemand vir wie 'n mens so lief is, so in 'n kis te sien lê. En dit maak seer om 'n vriend se seer te sien, wat met sy hele wese vir sy vrou lief was, en vir die laaste keer op aarde in haar gesig vas te kyk.  Sy was nog steeds mooi, ten spyte van die seer wat die teerpad op haar gelos het.

Om vir my vriendin tot siens te sê vanoggend, was een van die heel seerste ervarings in my lewe. Om my vriend so te sien, is wragtag nie lekker nie. Die koffie het maar geswem in die trane heen. Die appeltert steek vas in my keel. Kom nie verby die knop nie. Daardie aaklige gevoel gaan nie weg nie.

Ons glo. Maar ons verstaan nie. Ons sien 'n dowwe spieëlbeeld, maar eintlik sien ons F****ol.  Ons het hoop. Maar vandag stink. Woorde is weg, emosie  kan 'n mens so hard bliksem. Dis al...