Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Friday, May 27, 2011

'Cause I'm leaving, on a Jetplane...

Liewe vriende, this is it! Vandag is die dag. Die reis het vier jaar gelede al begin toe my goeie vriend in die kaap my een aand na 'n CAmino bekendstelling toe gevat het. En toe het ek net kennis geneem, en gewonder wanneer gaan hy. Ek kan mos nie stap nie, ek kry altyd blase onder my voete, die rugsak is deur die duiwel self uitgevind, dit gaan te duur wees, as my motorfiets petrol in het sal ek eerder soontoe ry... verskonings verskonings verskonings. Net nie ek nie.

Tot ek verlede jaar skielik agtergekom het die ouderdom bekruip my, soos 'n luiperd maak met 'n pasgebore rooiboklammetjie, jy kan net niks teen die bliksem doen nie. Skielik sien ek my pa as ek in die spieël kyk. Die tannies in die gemeente begin opmerkings maak van hoe wys ek nou begin lyk. (wat de hel beteken dit???) En die oudste kind moet einde 2011 uit die huis uit gaan. Gesien in die lig van 'n blog of twee terug, lyk dit tans na nie 'n slegte idee nie. Maar wanneer jou kinders begin huis verlaat, lui 'n klokkie êrens wat verskriklik hard begin skree: jy word nou oud! En soms is dit nog 'n slegte idee. Ek werk ook in 'n ouetehuis met mense, en daardie fase wat almal uitgedra word en voor die televisie geparkeer word vir al e-tv se heruitsendings van ou sepies- jong, ek vrek liewer op my motorfiets as om ooit daar te kom. Jy weet, daar waar 'n man 'n halwe viagra moet begin drink om nie jou skoene nat te piepie nie.

En verlede jaar het die saadjie begin opkom: gaan stap daardie Camino, so veel van hom as wat jy kan inpas. Breek vir 'n slag uit die groef uit, gaan doen iets avontuurliks waaroor jy die ander ou omies eendag langs die piskrip kan vertel as dit so ure vat om watertjies te passeer met die knypende prostraat. Die frustrasieklier.

Daarom het ek daardie raad gevolg van: die verskil tussen 'n droom en 'n reis is 'n vliegkaartjie. Flight Centre se moer, dis baie goedkoper om self op die internet te koop, as deur hulle. Ek vlieg lekker Lufthansa vanaand- ek hoop daai Duitser agter die stokke het goed geslaap, en dat vandag nie die dag is wat hy weggeraap word, soos Hal Lindsey al voorspel het in die 70's nie- die gelowige vlieënier word weggeraap, en die res van die passasiers gil al die pad ondertoe nie. Nee, dit gaan nie vandag gebeur nie. Ek hoop ook Ahmed the Suicide Bomber is eerder saam met Malema op Ethiopian Airways op pad om Gaddafi te gaan besoek.   Ek wil nie weer op 'n Vrydag met Egypt Air in Kaïro aankom nie. Laas keer toe dit gebeur, toe kyk almal na my, en val op die grond neer op sulke klein matjies, en buig voor my. Soveel waardering kan ek nie hanteer nie.

Soos die dinge nou staan, is ek more en Sondag in Madrid, en Maandag vat ek die pad met die trein of bus Leon toe. Sal Dinsdagaand by die Roomse gevaar se huisies begin slaap, en Woensdagoggend begin werk aan die blase op my voete. Ek is steeds skytbang, want dit begin na groot werk klink om 'n rugsak oor die berge te dra.

Maar nou ja, dis my eie skuld, so ek gaan die beste daarvan maak. Gisteraand het ek mooi vir mamma en die kinders tot siens gesê. Ons het pizza en Coke gehad, ek en mamma het die vier nefies besoek. Daarna het ons vir die kinders smarties op die grasperk gaan uitgooi...  Het darem ses ure se slaap ingekry voordat die opwinding te groot begin raak het, en ek die rugsak uitgepak het, en weer ingepak het. Kyk of die yskas nie dalk ook êrens kan in nie. Maar die laptop wil net nie...

So, ek hoop daar gaan kans wees om so nu en dan met julle te kommunikeer. Dalk kan ek êrens by 'n internet kafee vashaak, en bietjie sê waar ek is, en hoeveel blase daar op my voete is.  Hoe tapas nou eintlik proe, en hoe die bier is.  As dit nou nie so dikwels gebeur nie, hou goeie moed, as die Duitser nie weggeraap word nie is ek weer rondom die 25e Junie op die lug, by die huis.  Baie dankie vir julle vriendskap die afgelope twee maande, daar is nogal wonderlike mense versteek onder die litnet bloggers.

Mooi bly, en lewe voluit daar waar jy met jou lewensreis op pad is!
Die Donkie
Onderwerpe:  camino  

Wednesday, May 25, 2011

Die demoniese invloed van esterogeen in die plattelandse pastorie... Die begin van my doktorale verhandeling.




Daai Kamperende manne het nou wel gesê ons gaan weggeraap wees/ in Oktober word/ met die volgende moontlike geleentheid wreed tot 'n einde kom/ saggies heengaan in ons slaap (skrap wat nie van toepassing nie en stuur 'n donasie).

Die ander dominee van Rant-en-Dal het in die sop beland oor alles die demone se skuld was, of nie is nie. Die Kaapse sinode het gesê jy moet nou self besluit of daar 'n duiwel is of nie. Die astronome sê asteroïde Toutatis tref ons 21 Desember volgende jaar, of nog 'n groter klip, Aphopis in 2029. (Dit gaan op 13 April 2029 plaasvind, donasies op die link hieronder asseblief mense, kyk of ons daardie klomp sissies by Family Radio se skamele $104 miljoen kan wen...)
Openbaringe sê die einde kom met vuur, en dan sal daar 'n geween en gekners van tande wees. En die astroloë sê waterdraers soos ek is slim en sexy, die res van julle is redelik in julle moer, want Venus beweeg verby die Ram onder die Bul se wakende oog, en die Tweeling is elders besig om nie meer 'n Maagd te wees nie.

Al hierdie dinge is redelik minieure verwikkelingtjies in vergelyking met die vreugde van om 'n tienerdame groot te maak.

Daar is twee esterogeenfabrieke in my huis. Moeder en dogter. En vanaand is oom niek en sy seweduisend demone weer los in die pastorie. (moet dit net nie vir die Ringskommissie van Krugersdorp sê nie, ek het nog so paar paychecks nodig voor die wegraping in Oktober). Soos ek hier sit, is ek redelik die hel in (moet dit ook nie vir oom Angus sê nie, ek sal weer beter word voor die volgende aartappeloes!) Ek probeer nog Oscar Wilde se raad volg, ek moet immers binne 48 uur land-uit vlug.  'n Man moet probeer voor bly. Jy moet jou aandele hoog hou. Maar nee, die demone het weer losgetrek in die huis. En nou is die jonge dame met haar se scooter die strate in, dik die bliksem in vir ma. En ma sit met opgepompte wange, dik die bliksem in vir sussie.  Ek en die boeties staar verslae na Australian Masterchef, ons verstaan nie hierdie dinge nie. Ons hou van vrede.

So as iemand êrens op die N1, vanaf Messina tot Melkbosstrand my dogter vanaand sien op haar scooter, sê vir haar haar pappie verstaan. Ek het ook so op my motorfiets rondgejaag as die storms hier binne woed. Deesdae skryf ek maar eerder blogs, petrol en agtertires raak te duur.
Hoe gaan julle haar herken? Wel, in die bui wat sy vanaand is, lyk sy so min of meer so:


Foto geleen by: http://www.geeks.co.uk/21282-newsbeats-from-la-la-land-7


Tuesday, May 24, 2011

Positiewe denke, die Ferrari en die vulkaan...

Adage vra netnou wat lees ons. Ek het vanmiddag klaargemaak met Robin Sharma se boek: "The Monk who sold his Ferrari." Ek weet hierdie boek gaan te geestelik wees vir party, te Boeddisties vir ander, en te cheesy vir sommiges. Maar ek het dit regtig geniet. Of te wel, ek het die 200 bladsye vinnig tussen gister en vandag in 'n A6 grootte sakboekie opgesom, dat ek in Spanje daaroor kan loop en dink.

Die een ding wat ek uit al my oordenkinge die afgelope ruk leer, is hoe geweldig belangrik die manier is waarop ons dink. En dan veral die manier waarop ons met onsself praat- die innerlike dialoog vir die literêre mense, die "self talk" vir ander soos ek.
Dis nogal waarmee die Ferrari storie begin- hoe ons gedagtewêreld soos 'n tuin is, wat goed bewerk moet word. Dit beteken, anha, dat ons nie te veel stront daarin moet toelaat nie...  Ek verstaan dit nie, want is dit nie juis die stront wat die tuin groen maak nie? Dis mos wat Keith Kirsten en daai Robertse tannie van die kruie gesê het: keep it organic, do it in the garden...?
In elk geval, as jy nou so mooi tuin het soos Keith en Antie Margaret, dan is jy daarop ingestel om die onkruid gereeld uit te trek.  En dit is die drift van wat baie van julle ook op my vorige pos voorgestel het.  'n Mens moet weer kyk hoe ek dink.

Ek is nogal bekommerd daaroor. Behalwe dat Tina die padwoede uitgewys het as iets verkeerd, en nie behulpsaam om sommige idiote net wakker te maak voor hulle iemand seermaak nie, is daar ook ander gedagtes wat maar gerus kan waai.  Ek is redelik geneigd daartoe om my eie beste vyand te wees. Ek gee dikwels nie eers iemand anders kans om iets sleg vir my te sê nie, ek doen dit sommer self. En dit blyk verkeerd te wees, volgens die Ferrarilose priester.  Daar mag in jou gedagtetuin geen onkruid groei nie. Niks negatiewe gedagtes nie. En as jy sou dwaal daarop, dan staan hulle vir 'n halfuur onder 'n yskoue waterval. Daar is net nie een van hulle (yskoue watervalle) naby my huis nie, sal die stort doen?

Nietemin ('n domineewoord wat die kollegas by Tukkies se engeltjiefabriek aanleer, hulle almal sê dit graag in hulle preke!), al sê die Boeddiste dit, sê die Bybel dit ook. Lyk my dis beproefde, eeue-oue waarhede. In die Bybel staan: "Wees veral versigtig wat in jou gedagtes aangaan, want dit bepaal jou hele lewe..."
Dit wat ons dink, is dit wat ons gaan doen. Dit wat ons 'n paar keer doen, word vir ons 'n gewoonte. En ons gewoontes het 'n reuse invloed op ons karakter, wie ons werklik is, en wat ons vir ander mense kan beteken.
Dit beteken, soos ek nou oor die goeters sit en dink, dat 'n mens sal moet aanleer om darem nie jou eie vyand te wees nie. Los dit maar vir skoonma.  Wanneer ons positiewe dinge dink, (sê iemand anders se boek onlangs vir my, lees ook so baie dat ek nie meer kan onthou nie, maar as dit joune is- thanks!) kan ons brein glo nie onderskei tussen die gedagtebeeld en die werklikheid nie. Neander moet maar help hoe dit werk- 'n mens se brein begin dan nuwe neurologiese paadjies bou om daardie droomkonsep waar te maak. Positiewe energie word gegenereer, wat 'n mens 'n baie beter kans gee om suksesvol jou droom te bereik. Maar as jou drome net nagmerries is, en jy sien altyd net die negatiewe en doom en gloom oral waar jy gaan (soos baie van my liewe mede-kerkmense!) dan gaan jy ook nooit self uit die gemors uit opstaan nie. Jy word jou gedagtes. Dis Zen en die Bybel wat so sê, en blykbaar het neurologie ook iets daarmee uit te waai.

In elk geval, ek wil graag my negatiewe gedagtes begin omsit in positiewes. Dis een van die goed wat die Ferrarilose Een gesê het- as jy in die openbaar 'n begeerte uitspreek om te verander, dan is die kans baie groter dat jy dit sal doen. Mense kan jou dan accountable hou vir jou wens. Ek wil nie meer vir elke oumens wat 40 voor my ry (sorry Tina en Maankind!) hardop of in my kop sê: jou stadige... donker Afrikaanse woorde... nie. Ek wil vriendelik waai  en verbysteek sonder om my wiele te spin. Jou dag moet sommer beter wees as ek jou verbysteek in die hoofstraat van Hermanus... of Heynertsburg... Ek wil nie dadelik meer die ergste verwag nie- soos verlede week toe die prokureur my soek en ek dadelik wonder wie wil my dagvaar nie. Dit was toe net my buurman in die meenthuiskompleks wat sy motorhuis wil toebou en almal se toestemming moet kry. Hoekom verwag ek altyd dadelik die ergste? Kon die prokureur nie net gebel het om te sê ek het toe regtig die Eurolotto gewen, en daar word 900 miljoen Britse Pond oorbetaal nie? En dan is dit net vir een maal nie TB Joshua in Nigerië se neef se nuutste 419 scam nie?

Ek sal nie meer dadelik dink die ergste gaan my tref nie. Ek gaan voluit leef, en 'n positiewe verskil maak in elke mens se lewe wat my pad kruis. Sommige f***** idiote se kommentaar gaan ek net ignoreer, (derde keer se deurgaan: dalk moet die Donkie eerder hier sê: Geliefde, andersdenkende, mileu-gestremde mede-aardbewoners, en potensiële vriende as ons mekaar net om 'n bottel rooiwyn kon ontmoet...), ander liewe vriende se kommentaar gaan my lewe verryk en my 'n beter mens maak.  Ek gaan meer tyd saam met my vrou spandeer. Ek gaan my kinders se eerste stappe na sukses saam met hulle vier.

Daar is net twee goed wat op die oomblik nog buite my bereik lê soos ek dit nou sien:
Ek weet nog nie hoe om vir my 'n Enzo Ferrari te koop, dat ek nie langer die Ferrarilose Priester is nie!
En kan iemand asseblief daardie donderse vulkaan in Ysland se bek toestop dat ek wel Vrydagaand Spanje toe kan vlieg en my een Bucket List droom kan waar maak op die Heilige Jakobus se weg?


Die Priester begeer hierdie Ferrari- is dit nie die sexyste lyne ooit nie, behalwe nou miskien 'n paar susters op aarde s'n? Foto êrens op die internet gesteel lank lank gelede as voorwerp van intense oortreding van die 9e gebod: Jy sal nie jou naaste se Enzo Ferrari begeer nie!

Ns. Ek het nie 'n idee hoe om Boeddis te spel nie, Lewies, en ek is nou heeltemal te lui om in die HAT dit te gaan opsoek. Die vorige keer het ek darem 'n aangename verrassing gekry met die woord vir 'n vierkantige klein seiltjie voor op 'n kleinerige seilvaartuig se boeg...
Ek dink nou moet ek my groentetuin gaan bewerk deur een van my vriende se rooiwyn te gaan help opsuip (vierde deurgaan; dalk sal dit mooier klink om te sê: Pastoraal verkeer rondom die edele vrug van die wingerdstok..." )

Friday, May 20, 2011

Skotland en Magersfontein, o Magersfontein

Behalwe nou vir die verbande boek van Etienne le Roux wat die Hertzogprys gewen het in 1979, was daar regtig so 'n ligte ou skermutselingtjie tussen die Boere en die Britte op 11 Desember 1899. Dit het 'n hele paar ouens se Kersfees en Eeuveranderingpartytjies geruïneer.  Die Slag van Magersfontein was veral vir die Black Watch Regiment van Skotland nie pret nie. Lord Methuen het hulle beveel om met gevelde bajonette op die Boeremagte se loopgrawe te marsjeer, wat hulle met groot dapperheid gedoen het. Methuen was egter so effentjies onnosel om dit te beveel, want die Boeremagte was ingegrawe in loopgrawe (wat een of ander ander onnosele ou die idee van loopgrawe gegee het vir die 1e Wêreldoorlog. Die 2e Regiment van die Black Watch het swaar verliese gely.

Generaal Wauchope het 'n briljante nagmars in die Soedan gehad tydens die slag van Omdurman, (in 1898)  en het dieselfde taktiek hier in Suid-Afrika probeer. Dit was 'n ligte ou glipsie. Van die ouens in die loopgrawe het geweet hoe om 'n Mauser 7x 57 mm te hanteer. Hulle het verder die Boeremagte wakker gemaak, maar nie beseer nie, met liddietbomme uit die artillerie, wat agter die Boeremagte geval het (hulle was toe heelwat nader as wat die Engelse vermoed het). Die Engelse en veral Skotse regimente het begin marseer voor sonop, en teen dagbreek was hulle in netjiese rye opgelyn, so 370 m van die Boereposisies, toe die Boere begin vuur het. Ene Majoor Benson het Wauchope teen sy strategie gewaarsku, maar hy het geantwoord: "... I'm afraid my men will lose direction. I think we will go a little further."  generaal Wauchope was een van die eerste mense wat in hierdie veldslag gesterf het.  Vir 'n wyle was die Skotte vasgekeer deur akkurate Mauservuur, totdat die Coldstream Guards en Gordon Highlanders as versterkings opgedaag het.  Die Grenadier Guards het 'n omsingelingsbeweging van die Boeremagte gestuit. So het die Highlanders die hele dag in die son gelê en dekking slaan, totdat 'n Boer met 'n wit vlag na hulle toe gery het en toestemming gegee het dat hulle mediese spanne hulle gewondes van die slagveld kon verwyder. Hier was nog soveel beter maniere tussen vyande as in die 1e Wêreldoorlog. 'n Britse vlootkanon het die skietstilstand later verbreek. Dié keer is 'n Engelsman met 'n wit vlag oor na die Boere toe om om verskoning te vra- die een offisier het nie gehoor van die skietstilstand nie, (is hy dan doof?)  Die Boere se kanonne het om 17h30 vir die eerste keer daardie dag op die Britse magte  begin vuur, en Methuen het sy magte teruggetrek om by die Modderrivier kamp te hergroepeer die volgende oggend.
Die Black Guard het die meeste slagoffers vir die Slag van Magersfontein gehad, met 303 offisiere en manskappe as slagoffers vir die dag. Wauchope se lyk is 180m van Genrl Cronjé se loopgraaf gevind.
Die omstandighede in die Modderrivier kamp het later tot uitbreek van Tifuskoors gelei, en soos die Britse soldate na Bloemfontein toe teruggetrek het, is tussen 10 000 en 12000 van hulle met die siekte getref, wat tot 1200 sterftes gelei het.

Een van die Black Watch se manskappe het hierdie gediggie geskryf oor die dag:
"Such was the day for our regiment,
Dread the revenge we will take.
Dearly we paid for the blunder
A drawing-room General's mistake.

Why weren't we told of the trenches?
Why weren't we told of the wire?
Why were we marched up in column,
May Tommy Atkins enquire…"

Private Smith, December 1899.

Vir al hierdie manskappe wat van die Black Guard gesneuwel het in die Suid-Afrikaanse oorlog, is hierdie standbeeld in Edinburgh opgerig. Nee, jy mag nie inloer om te kyk wat word onder 'n kilt gedra nie.

En ja, die Britte het Magersfontein gewreek by Paardeberg, waar Generaal Piet Cronjé met 4017 man oorgegee het. Die oubaas wou nie na Generaal Koos de la Rey de la Rey, sal jy die Boere kom lei, de la Rey, de la Rey luister nie, en het die hele familie saamgevat in die ossewa vir sy oorloggie.  Toe Kitchener opdaag, het hy so waar as wragtag 'n laer met sy waens gemaak, soos in Bloedrivier faam. Sy laer is uitmekaar geskiet deur die Britse artillerie, iets wat die Zoeloes nie by Bloedrivier gehad het nie. So het die held van Majuba sy alie gesien. En die gang van die oorlog gedraai.

Ek is nou nie een van daardie ouens wat graag die Vierkleur wil terughê nie. Ek haat ook nie die Engelse nie. Die Boere-oorlog bly vir my 'n baie interessante stuk geskiedenis, en die ordentlikheid wat daar in hierdie oorlog was, tot die Britte die konsentrasiekampe en die Scorched Earth beleid begin het, was opmerklik.  Dit was net interessant toe ek en vroulief in Edinburgh rondstap, en op hierdie standbeeld afkom, om die geskiedenis weer te gaan oplees.

Thursday, May 19, 2011

'n Bileam spesiale kunstoekenning!

Vandag was ek in NG Gemeente Moreletapark se restaurant. In die restaurant is hierdie pragtige kunswerk van my!

Hy is vir net R300 te koop! Ek het nie vandag geld by my gehad nie, maar ek dink ek moet 'n plan maak om hom te gaan koop, dit sal nogal baie mooi in die studeerkamer lyk!

Tuesday, May 17, 2011

Tempest Fugit- die tyd vlieg

Of eerskomende Saterdag, of 21 Desember 2011, of êrens in 2029 het die uurglas vir die mens uitgeloop. Dis nie wat ek as dominee van die grootste susterskerk sê nie. Dis wat my liewe blogvriende wild en wakker oor skryf op die oomblik.
Party ouens spot. Ander probeer vinnig sondetjies toesmeer of bely. Nog ander gaan probeer om vir die ANC te stem.  Dalk help dit om oom Jaap Z se raad te volg?

Ek, die dominee, slaap nog steeds rustig. As die einde kom, dan kom dit. As dit nie kom nie, dan wil ek voluit lewe. Nie uit vrees vir die asteroide wat ons gaan tref 21 Desember 2012 of 2029 nie. Nie vir die taxi wat bo-oor my wil jaag as ek op my motorfiets in die groot en bose stad Pretoria dit waag om siek mense te gaan besoek nie.  (Ha-ier harabbiem.... die woorde waarmee Ninevé in Jona beskryf word- vir die wat alles graag in Hebreeus wil hê. ) Ek wil nie in vrees lewe vir wat 'n Malema alles met ons land kan aanvang nie. Ook nie wat die volgende idiotiese witwolf tipe met 'n vuurwapen kan aanvang nie. Ek wil nie in vrees lewe dat ek nou 'n ketter is omdat die Wes-Kaapse Sinode die Belhar belydenis aanvaar het nie. Ek wil net lewe. En in die lewe wat ek hier op aarde het, wil ek graag 'n positiewe verskil in ander mense se lewe maak.

Die een ding wat egter waar is, is dat tyd uitloop. Elkeen van ons het net 'n bepaalde tyd op hierdie aarde. Dit kan Saterdag klaarmaak, of eers oor 70 jaar. Maar ek en jy is sterflik. Die dood wag vir elkeen van ons. Niemand is op die oomblik ouer as 114 jaar in hierdie wêreld nie. Ons elkeen word ouer in ons liggame- elke jaar neem die kragte so bietjie af. Elke jaar vat dit so bietjie meer van my om te oefen vir die Argus. Elke jaar is dit so bietjie moeiliker (nee, wag, dit was die sedoos se skuld...)

Een van die mooi ou gesange sê: "ure, dae, maande, jare, gaan soos skadus stil verby, niks wat met die loop van jare, onveranderlik kan bly..." met die mooi woorde van Psalm 103, die beeld van veldblomme in die woestyn, wat daarop volg.
Iemand het op 'n muur in New York se moltreintonnels die woorde gegrafiti: "Death is life's way to stop everything happening at once..."  Dalk is die teenoorgestelde eerder waar- die dood wat oor elke mens se skouer loer, bring ons in aksie om soveel as moontlik met ons lewe te doen, want hy is eintlik kort en gaan vinnig verby.

Daarom, liewe gemeente, mag ons nie uitstel om goed te doen nie! In die Christelike geloof is "vandag" baie belangrik. Jesus leer ons bid vir vandag se brood. Hy sê ons moenie bekommer oor die dag van more nie, vandag sorg die Here vir sy kinders (soek dit self in Matteus 6 en 7).  Vandag is ook die dag van redding, sê die Ou Testament...

Wat ek met my liewe blog vriende wil deel: daar is net soveel dae en soveel geleenthede om voluit te lewe. So baie geleenthede is net eenmalig. Ander kan so dikwels opduik, en as jy dit nie gebruik nie, raak dit saggies weg soos reënwater wat in die sand wegsyfer. Jy kry geleenthede met jou lewensmaat om goed te doen, om die klein dingetjies reg te doen, om hom of haar te dien met jou menswees. Die Kaapse Sinode was reg- die man is nie die hoof van die huis nie. Vir die gelowige lesers- Efes 5:21 sê in my woorde: Omdat julle Jesus liefhet, dien mekaar...  Vir die ongelowige lesers- as jou verhouding net oor jouself gaan, is jy 'n poepol en besig om jou gat te sien- op 'n dag is dit weg. Capisce?  Ouers kry geleenthede om kinders te begelei op die pad na grootword. Dit is veronderstel om 'n wonderlike avontuur te wees, wat jy elke dag saam met jou kind verbaas kan staan oor hoe wonderlik die lewe, die heelal, die wetenskap (ja, Neander, jy lees reg!) die kuns en 'n geloof wat nie op oordeel nie, maar op liefde gebou is.  Daar is geleenthede elke dag. Maar jy kan so baie van hulle mis deur jou eie belange en jou eie Ek, dat jy die kosbaarste dinge heeltemal kan mis. Die dood wat vir elkeen van ons wag, kom waarsku dat tyd vir elkeen van ons uitloop, en op 'n dag is dit verby.  Het jy darem gedroom? Het jy soms 'n droom vir jouself waargemaak? Het jy soms van jouself gegee, sodat iemand anders se drome waar kan word?

Ek dink Jeanne het eendag vertel van 'n ander geloof wat aan die anderkant van die dood vir elke mens sou vra: het jy joy in jou lewe gehad, en het jy joy aan ander gebring? Dit is ook 'n waarde wat ek as Christen heeltemal onderskryf. Ek verstaan die vraag in ons geloof: Het jy werklik liefgehad? Soveel so dat jy jouself opgeoffer het?

Die Sandkorreltjies loop. Nou gaan ek Bybelstudie hou saam met 'n groepie dames van 60-90 jaar, en ons gaan dit geniet om saam oor die Here se liefde in sy liefdesbrief te lees. Mense wat heelwat ouer as ek is, verryk my lewe so ongelooflik met hulle liefde. Daar is ook ander... lees van my ander blogs soos Gatvol.  Maar ek kan ook kies hoe ek die geleenthede gaan gebruik, en gaan reageer op elke mens.  Mag jou dag geseënd wees, en mag jy vandag iets positiefs vir iemand anders beteken!



Sunday, May 15, 2011

Die wonderlike broederskap van die motorfietswêreld



Vanoggend het ons na 'n plattelandse dorpie toe gery, waar hulle Hoërskool 'n motorfiets breakfast-run aangebied het.  Ek het dit net weer verskriklik baie tussen die motorfiets broers en susters geniet.

Die  een ding wat so wonderlik is in hierdie wêreld, is dat jy nie op 'n sekere manier moet wees om in te pas nie. Nou ja, jy moet 'n motorfiets hê, en die mense gaan vir jou lag as jy met  'n scootertjie daar aankom. Maar verder, as jy dit met daardie motorfiets op die oop pad kan waag, is jy deel van ons. Ons sal onder mekaar spot oor die verskillende brand- names. Harleys is altyd vir ou ooms wat nie meer self kan regkom nie. As jy 'n Harley ry, is daar waarskynlik fout met jou prostraat. BMW's is vir juppies. Of ou has-beens. Ons ouens met Italiaanse fietse kan nogal snobisties lyk- veral as dit die Ducati brand dra (ek ry die ANDER Italiaanse fiets, nie Vespa nie!)  Die Japannese superfietse word gereeld met mekaar vergelyk. En al lyk ons asof ons nie belang stel nie, hoor ons graag van ervarings anderkant die 300 km/h zone.  Daar is die cruisers, die superbikers en die duallers. En elke groep is met trots verteenwoordig op so 'n breakfast run. As dit op twee wiele is, en self aangedrewe is, dan is jy my broer of my suster.

Daar is ouens met die nuutste fietse, hopelik gaan die BMW 1000 RR se foto êrens voor die 21 Mei wederkoms laai. Vinnige goed, jaloerse kyke, maar tog gun ons jou dit. As jy die geld het, geniet dit. Daar is ook arm ouens, (soos ek) wie se fietse ouer as 'n dekade is. Daar is mense wat op interessante maniere hulle wiele aan die rol hou. Hulle is net so deel van die broederskap soos mnr Harley of Mnr 1000RR. Dalk verdien hulle selfs nog meer respek!  Hierdie fiets hierbo het die lewe begin as 'n Moto Guzzi, êrens in Italië. En het ek nou lekker met die eienaars gesit en gesels vanoggend! Die oorspronklike enjin wou net nie meer nie. Hy wou elke 10 000 km nuwe ringe hê, nes wyle tannie Liz Taylor op haar dae.  En eendag het die trotse eienaar genoeg gehad. Hy het die italiaanse ingenieursvernuf se trots uitgeruk, en seker van 'n krans gaan afgooi. Toe het hy 'n Dayhatsu Charade se enjin geneem, en dit aangepas tot dit in sy raam kon inpas. Ook 'n 3 silinder, dit lyk net so effens anders as jy die punte daar agter die groot lugfilter kan sien uitsteek. So het 'n simpel karretjie se enjin deel geword van 'n man se droommasjien. Die eienaar sê hy kan tot 200 km/u haal, maar is op sy gemaklikste op 150 km/u.  Hy trek stadig weg, soos 'n Dayhatsu, maar as hy eers op spoed is, kan hy kaap toe ry.

En dit is wat ek van die motorfietswêreld bewonder. Daar is nie nog so 'n fiets in die wye ganse wêreld soos hierdie Guzzi nie, en tog is die eienaar net so deel soos die res van ons. Elkeen wat hunker na die vryheid van die oop pad, elkeen wat nie omgee om soms nat te reën nie, elkeen wat in die spitsverkeer lag vir die mense in hulle metaalboksies, hulle is familie. Party is regtig kunstig ingekleur deur die tattoo parlor, ander is dominees undercover soos ek. (Die tattoo kom nader!)Enige beroep is welkom, enige inkomstegroep, enige ras, veral vrouens is baie welkom, kinders kan soms geskok wees, plattelandse gemeentetannies met houdings moet eerder wegbly.

As jy val, sal jou broers jou ophelp. As jy bier het, sal jou broers jou help opdrink. As jy eensaam is, sal jou broers vir jou vir 'n spin vat. As jy weird is, sal jou broers jou aanvaar, want elkeen is tog mos maar uniek? As jy 'n poepol is, sal jou broers jou uitsorteer, as jy vriendelik is, sal jy baie vriende hê.  Langs die pad groet ons mekaar, al ken ons mekaar nie. Dis nou behalwe daardie manne van Morelethapark, hulle groet niemand nie want hulle is rykgatte... Die res van ons voel tuis by mekaar.

En dis hierdie tipe ervarings wat 'n mens nodig het om mens te kan wees, en te voel die lewe is die moeite werd.




Friday, May 13, 2011

EK soek ‘n nuwe donkiekar- hoe nou gemaak?


Die lewe bly darem net vol keuses. En partymaal is daar heeltemal te veel opsies. Gestel ons het nou in die ou Oos-Duitsland gebly. Dan het iemand met my kwalifikasies ‘n fiets gery van Peoples Democratic Bicycle Factory #43, voorheen bekend as die Treblinka Konsentrasiekamp. Daar was dan twee opsies: met of sonder ‘n klokkie. Standaard in swart.  Het ek nou wel ‘n doktorsgraad in ruimtefisika gehad, het die opsies al heelwat verbeter- dan kon ‘n mens ‘n Trabant gekoop het. ‘n Mens het selfs ‘n paar opsies daarop gehad. Die De Luxe model het uitgekom met ‘n standaard 10 pond hamer, waarmee ‘n mens die carburettor geslaan het as hy nie wil vat in die 9 1/2 maande Oos Duitse winter nie. ‘n Verdere luukse was dat hy dan ook verf op gehad het. Jy het ‘n keuse gehad tussen Kruschev Kapoen ( daardie mengsel tussen pampoen en… jy verstaan…) en Stalin Seesiek- so blouerige groenerige mengsel. Die standaard model het net in een kleur uitgekom- Gagarin se Geroeste Metaal. Dit het vanself gebeur wanneer die motortjie uit die fabriek uitry, en sy naakte staal die suurreën vir die eerste keer ontmoet het- Rustic Rusty.
In die Democratic Peoples Republic of Azania, viva Comrade Malema, viva, het ons egter baie meer keuses. As ‘n mens nou swart was, met ten minste standerd 4 op jou naam, en jy het vriende gehad wat vernoem is na ‘n melkgebasseerde drankie in die Wimpy, dan het jy gewoonlik ‘n hele paar luukse motors gehad, een by elke huis vir mamma, en een by elke huis vir jouself- 20 S klas Mercedesse, of 7 reeks BMWs.
As jy sy Mini-me was, viva Comrade Malema, viva,het jy agt swart Range Rovers gehad, Een vir jou en jou nuutste squeeza, en sewe vir die manne met die swart pakke, wit hemde en rooi dasse.  Dalk nog een net vir al die magasyne van hulle gunne ook.
As ‘n mens egter wel op universiteit was, en wit is, en ‘n vervoertoelaag het, dan lyk sake bietjie anders. Eers belas die regering ‘n mens op 100% van jou vervoertoelaag. Jy hou 57% daarvan oor. Dan belas hulle jou petrol-  nog 20% van jou vervoertoelaag weg. 37% oor. Nou moet jy ‘n kar gaan koop. ‘n Nuwe een het dadelik ‘n emissionstax, wat glad nie gebruik word om besoedeling te bekamp nie, nee, daar word plaaslongdrops op Viljoenskroon daarmee gebou. Jy moet die “emissions” ruik wat daar uit kom! Op jou nuwe kar vat die staat nog 14% BTW- jy het nou 23% oor van jou vervoertoelaag. Maar jy moet budget vir die Gauteng tolskandaal, wat nog R2000 per maand gaan vat van jou vervoertoelaag, of te wel 25% daarvan. Jy het nou -2% van jou vervoertoelaag om ‘n kar mee te gaan koop.  Die enigste voertuig wat dalk nog bekostig kan word, is die bicycle model 7 uit die People’s Democratic Republic of China se Bicycle factory #43 aan die buitewyke van Beijing. Vir ‘n paar rand ekstra gee die China Shop jou ‘n klokkie, wat gewaarborg is om te hou tot jy by die voordeur van die winkel uitstap.

Om welke rede Bileam se DOnkie se nuuste voertuig nou tien jaar oud is, met 200000 km op die klok. Sou ek nou wel ‘n nuwe voertuig kon bekostig, is daar ‘n klein probleempie. Wat koop ek?
Ek benodig iets met wiele waarmee ek in die gemeente kan rondjaag. Verkieslik iets goedkoops, met ‘n diensplan tot op 120 000 km, wat darem 500 000 km op die enjin sal gee, teen 4 l/ 100 km. Daar moet ses mense inpas, en vir die basaar moet daar vleis in groot hoeveelhede vervoer kan word. Dit moet ‘n helse hoë grondvrye hoogte hê om by die boere op die wildsplase uit te kom, en ‘n lae dak om by die ouetehuis se “boom” deur te kan kom.  Dit moenie te luuks wees nie, dan dink die gemeente ek kry te veel geld. Dit moenie te armlastig lyk nie, dan stop die spietkops my by elke padblokkade as hulle my met oom Robert se mense verwar.
Elke motorhandelaar in ons dorp raak skielik weg as hulle my by die voordeur sien instap. As ek uitstap, hoor ek hoe die verkoopsmanne histeries begin te giggel. Ek is so effens verward op die oomblik, en weet nie wat om te besluit nie. Kan jy my dalk raad gee?

Thursday, May 12, 2011

Die komplot van Felix Astera teen die ganse mensdom...

Ek was vanoggend by my tandarts.  Hierdie besoek is vooraf gegaan deur baie gemoedswroeging, want ek is een van daardie mense wat so vrees uitstraal teenoor 'n tandarts, dat dit hulle selfmoordsyfer opjaag. Dis glo baie gevaarlik om 'n tandarts te wees- selfmoord is 'n ernstige beroepsrisiko.  Maar myne het dit nog nie oorgekom nie, anders sou ek dit dalk vanoggend agtergekom het. 
In elk geval, my tandarts het een kyk na die gebreekte tand gegee, en toe sy kop meewarig geskud. "Hierdie gaan jou baie seerder maak as vir my," het hy gesê. Toe het daar allerhande inspuitings en gasmaskers toegeslaan op my vreesbevange liggaam daar in die gat bo kop sitposisie in die stoel. My tandarts se stoel lyk nog nie soos die Spur se sitplekke nie. Dis ook nie so lekker ervaring soos 'n Draught en hammie in die Spur nie. En baie, baie duurder!  In elk geval- ek pass toe maar uit van al die vreemde chemikalië wat deur my are spoel. 'n Mens sou dit kon beskryf deur te sê dat ek vanuit die helder wit lig in die donker tonnel inbeweeg het... 
 Ek is vaagweg bewus daarvan dat iemand oor my leuen, en my heen en weer deur die gesig klap. Dis die tandarts wat klaar is met sy argeologiese opgrawings in my agtertand. Ek moet nou wakker word en loop, daar sit nog baie mense in sy spreekkamer om aan sy Mercedes en Wildsplaas te betaal.   In elk geval, ek strompel daar uit, val in my bakkie in, en jaag huis toe. Gelukkig ken die dorp se spietkop my, hy weet as ek jaag is daar 'n groot krisis in die gemeente, meestal in my eie huis. 
Toe ek by die huis kom, het die lewe begin terugkom in my mond. Ek het toe maar op die bed gaan lê, totdat die wêreld vir 'n slag ophou om so vinnig te draai. Ek weet ons moet teen 29 km/s om die son kom, en 365 1/4 rotasies voor Oujaarsaand 24h00 voltooi, anders is 'n jaar mos nie meer 'n jaar nie, en gaan niemand meer weet wanneer verjaar hulle of is dit Krismis nie.  
Einstein die Kat
Toe ek so op die bed gaan lê, kom die kinders se kat, Einstein, langs my lê. En wat nou gaan volg, is baie belangrike inligting wat asseblief aan Jaap Zuma en Barack Obama oorgelewer moet word, ons almal se lewens hang daarvan af.
Die kat, Einstein, foto hierbo, kyk my so met meegevoel aan. En skielik praat hy. Ek jok regtig nie nou nie! Ek het my doodgeskrik. Die kat sê vir my: "Jy lyk sleg, né!" Ek sê vir hom- "jy is 'n mooi een om te praat! Gelukkig sit ek nie my eie gat en lek in die son soos jy nie!" Die kat kry so verleë glimlag om sy mondhoeke.  Maar hy laat hom nie afsit nie, eintlik hou hy nogal van my- ek koop vir hom Pedigree katkos. HY sê vir my dat hy iets op die hart het om met my te deel, wat sy eie lewe en myne in gevaar stel. Ek dog dis dalk 'n rotplaag in die dak, wat die builepes weer gaan laat opvlam. Ek wil hom net vra wat hy daaromtrent gaan doen, toe sien ek hy lyk ernstig. Hy moet die volgende met my deel, sê hy.
Stephen Hawkins was toe reg gewees. Daar bestaan inderdaad iets soos paralelle heelalle. Einstein (dis nou my kat, nie Albert nie) vermoed dat Hawkins se kat ook iets uitgelap het. Soms raak katte baie lief vir mense, en dan praat hulle uit. Maar meestal sal hulle net optree asof ons nie bestaan nie. Behalwe wanneer die yskas oopgaan. Ek gaap van verbasing. Hoe ken Einstein vir Stephen Hawkins, en wat weet hy van paralelle heelalle? Ek weet dan nie eers iets daarvan nie? 
'n Paralelle heelal (universe) is 'n hipotetiese (net vir ons- 'n hipotese bly dit totdat dit bewys of die teendeel bewys is, dan is dit 'n feit of 'n mite) selfonderhoudende realiteit wat saam met die ervaarde realiteit saambestaan. Dalk is my vertaling effens kreupel. Einstein het hieroor geskryf op Wikipedia terwyl ek geslaap het en my rekenaar aan vergeet het: "A parallel universe or alternative reality is a hypothetical self-contained, separate reality coexisting with one's own. " In hierdie alternatiewe heelal is die basiese natuurwette anders, daar is nie relativistiese beperkings nie, en die spoed van lig kan oortref word, aldus Einstein. Uit wat Einstein graag vir my wil vertel, is daar 'n paralelle heelal aan ons s'n, wat net deur 'n enkele kwantumgebeure van ons af geskei word.  Dieselfde tipe dinge gebeur meestal dieselfde in verskillende wêrelde. Maar in hierdie paralelle heelal, genaamd Felix Astera (die Kat-ster konstellasie) is die huiskat die kroon van die skepping. In daardie heelal hou huiskatte mense aan as troeteldiere. "Onthou jy wat het jy met my knaters gedoen, Bileam? In daardie heelal het ek... " Ek val hom dringend in die rede- sekere goed wil 'n man nie hoor nie. 
"Nou wat wil jy vir my vertel, Einstein- wat is so dringend dat jy jou lewe in gevaar stel vir my?" Die kat kyk my met ou, wyse oë aan. 'n Ligte glimlag speel om sy mondhoeke. "Ek wil jou waarsku- julle is in gevaar! Jy moet voorbereid wees daarop." 
Die kat begin my die hele storie vertel. Die planetestelsel rondom die Kat-Ster het 'n groot krisis begin beleef. Hulle weergawe van die asteroide Toutatis wat ons aarde gaan tref op 21 Desember 2012 op die Suidpool (google dit, kyk self!), het deur die gravitasie van hulle son van wentelbaan verander, en  teen hulle derde planeet gebots. Dit het die wentelbaan van hulle planeet baie effentjies verander.  Maar met die miniatuur gradeverskil van hulle wentelbaan het hulle planeet se ellips om die son jaar na jaar, bietjie vir bietjie, na die son toe begin indraai. Stadigaan is hulle planeet besig om al nader aan die son te beweeg. Temperature styg elke 1000o jaar met 1 graad Celsius. Binnekort sal dit egter by hulle soos op ons Mars begin word, te warm vir water om 'n vloeistof te bly, en plante sterf uit, hulle verdroog letterlik soos die son nader kom. 
Die katte se wetenskaplikes is baie ver voor die menslike wetenskap. Hulle het meer as 8000 jaar gelede al uitgevind van paralelle heelalle, en ons s'n ontdek. Hulle het ook uitgevind van 'n ander dimensie van tyd, wat reis tussen die heelalle moontlik maak deur 'n sogenaamde "worm-hole". Waar is hulle heelal? Dis wat ons nog nie kan verstaan met ons wetenskap en ons konsepte van lengte, breedte en hoogte nie. Daar is 'n vierde dimensie, tyd, en 'n vyfde dimensie, wat ons nie eers in ons tale met woorde kan beskryf nie. Dis by ons, en terselfdertyd aan die ander kant van die heelal. Die portaal van hierdie worm-hole is die Sfinks by die piramides net buite Kaïro. (Dis hoekom dit die lyf van 'n kat het, en die kop van 'n mens. Verstaan jy? Obviously nie!)
Vier duisend jaar gelede het hulle 'n afvaardiging katte na ons wêreld toe gestuur met die opdrag: gaan vermeerder, vul die aarde, en rapporteer terug aan ons. As die mensdom op sy weerloosste is, kan hulle baie maklik oorgeneem word met 'n vinnige staatsgreep.
Dis waarmee die katte die afgelope vier duisend jaar besig is. Die katte het so vermeerder dat byna elke huis in die wêreld 'n verteenwoordiger van Felix Astera in hulle huis akkomodeer. Die kat steur hom nie veel aan sy "eienaar" nie, want eintlik besit hy reeds op papier die huis, die inhoud en die mense. Hy is wel afhanklik van die kos wat ons hom gee, en sal so nou en dan 'n muis van om ons te laat dink dat daar n doel aan sy teenwoordigheid in ons huis is . 
Die probleem met die katspesies wat op aarde voorkom, is dat dit verouderde tegnologie is. Die kat se pels is so ontwerp om van ons son se strale om te skakel in elektriese energie. Dit help die kat om vir so ongeveer 14 jaar te kan opereer, voordat sy sisteme ingee en hy ophou funksioneer. Daarom lê die kat graag in die son. Hy herlaai sy batterye. Die foto-elektriese eienskappe van die pels word nog deur water bedreig, omdat dit sulke ou tegnologie is, is dit baie vatbaar vir kortsluitings. Daarom sal katte so ver moontlik water vermy. As jy 'n kat sien wat van bad hou, moet jy ekstra versigtig wees, dis 'n nuwer weergawe, wat baie meer gevaarlik as die ouer modelle is. Wanneer 'n mens 'n kat streel, dan word ekstra energie opgewek. Die kat maak 'n hoorbare vibrasiegeluid. Ons mense is gekondisioneer om te dink dat die kat die aandag baie geniet, wat veroorsaak dat ons langer aanhou streel. Wat in werklikheid gebeur is dat die wrywing op die pels sekere statiese energie opwek, genoeg om die kat se interne kommunikasietoerusting (vermom om soos 'n linkernier te lyk) aktiveer, en dan word kort, bondige sit-reps na Felix Astera gestuur. 
Die katte weet dat die aarde teen 21 Desember 2012 'n radikale verandering gaan beleef. Die Mayas se katte, en Nostradamus s'n, het dit per ongeluk uitgelek. Een of twee Hollywood grootkoppe se katte het ook per ongeluk iets laat val terwyl hulle base hoog was op kokaïene- dis waar rolprente soos 2012 en Next vandaan kom. 
Daar is nie veel wat ons daaraan kan doen nie. Maar Einstein wou net gehad het ek moet weet. Want op 22 Desember 2012 word ek sy troeteldier in hierdie heelal. 
Ek weet dit klink heeltemal na net 'n storie. Maar as die mensdom betyds gewaarsku is, kan Nasa dalk nog iets doen daaraan, soos daai fliek wat Bruce Willis vir daai lelike ou van Aerosmith wat op American Idols is, se pragtige dogter en ons almal red, deur 'n gat in die asteroide met 'n olieboor te gaan boor.  As iemand vir oom Jaap Zuma persoonlik ken, of weet hoe om met die Withuis te kommunikeer, moet hulle asseblief hierdie inligting aanstuur! Dit sal dalk nodig wees om die Obamas se kat net eers te elimineer wat sekere inligting van hulle af weghou. (hierdie woorde het nou net die FBI se triljoende dollar rekenaar diep onder die aarde onder Washington DC geaktiveer, en in Amerikaanse Engels vertaal. Die pos sal binne minute verdwyn, soos reeds met Litnet en Blogger vanoggend gebeur het.)
As ek binnekort ook verdwyn, moet julle weet waar dit vandaan kom. Die beste raad is om nou dadelik te gaan en 'n kat te gaan skiet. Julle is gewaarsku, maak gereed, die einde is op pad! 

Wednesday, May 11, 2011

Kerkraadsvergadering- die lelikste woord in Afrikaans!

Hierdie is weer een van daardie vier dae in 'n jaar in my lewe. Dit werk presies net soos 'n vrou wat aan erge PMS ly. 'n Mens weet hier kom 'n gemors. 'n Mens weet ook jy kan niks daaraan doen nie. Dit gaan kom. Dit gaan jou van jou voete af slaan en soos 'n reuse golf oor jou spoel, jou teen die rotse vasslaan dat jy bloei, en dan gaan die haaie jou lewendig opeet. Gelukkig gebeur dit op die oomblik nie so baie soos PMS nie, maar dis amper net so gereeld. Vanaand is Kerkraadsvergadering.

Van my eerste dag as jong domineetjie in 'n gemeente was dit die een ervaring van die kerk wat ek nog nooit kon verstaan nie. Kerkraadsvergadering.

Graphic- Sherman Kuik

Kom ons gaan kyk na die oorsprong. Op 'n dag het Jesus van Nasareth daar langs die See van Galilea geloop, en 'n paar vissermanne gesien. Hy het hulle op die naam geroep, en gesê: "Kom, volg My!" Later het daar nog so 'n windverwaaide tollenaar bygekom, 'n politieke fanatikus (Malema van 30 n.C!) 'n geldgierige wolf. 'n twyfelaar. Soos die beweging gegroei het, het al meer mense deel geword daarvan- eers die straatvroue en bedelaars. Melaatses, kreupeles en blindes, wat by Jesus genesing ontvang het.  En hierdie groepie het vir drie jaar saam met Jesus deur die land beweeg, en mense se lewens kom aanraak met liefde en aanvaarding. Ek lees nêrens van 'n vergadering daar nie.  Toe spyker die goeie mense Jesus aan 'n kruis vas. Dit was nie goeie vergaderingsprosedure nie, en beslis nie kerklik korrek om die Seun van God dood te maak nie.  Maar Jesus het die dood oorwin, en daarmee 'n nuwe lewe vir elke mens moontlik gemaak. Toe gaan Hy huis toe, om vir sy pelle plek gereed te maak. En Hy stuur die Heilige Gees, om die klomp slapgatte nuwe moed te gee, sodat hulle kan vertel van die nuwe lewe en hoop wat in hulle is. En skielik het die manne verander- hulle wat weggehol het toe Jesus gekruisig is, het skielik nuwe moed gehad, om in lewensgevaar iets anders te vertel as wat die wêreld of die kerk van daardie dae graag wou hoor.

Hulle het gegaan, en die wêreld gaan vertel dat Jesus die Here is. Die kere wat hulle bymekaar gekom het, sien ons in die Bybel, was gekenmerk deur saam eet en saam bid.  En so het die Here sy kerk gebou. Tot in Konstantyn se tyd so 3 eeue later. Skielik het die kerk fênsie geword, en mag gekry. Skielik het alles in die geloof baie formeel begin word. Geboue, getalle en geld het belangrik geword. Sukses is daaraan gemeet. Verhoudings was nie meer so belangrik nie.  En deur die jare, eeue en millenia heen het dit so gebly- getalle, geboue en geld (Stephan Joubert se term, nie myne nie!) Die bose drie-eenheid van die kerk.

Martin Luther het gesê die kerk moet weer verstaanbaar vir die gewone ou wees. Die Bybel moet in sy taal wees. En Martin Luther het 'n paar major changes gemaak aan die kerk, waarvoor ek wel baie dankbaar is. Maar hy het dalk nie ver genoeg gegaan om weer die "amp van die gelowige" te herstel nie.

Ek verstaan die kerk as 'n klomp mense wat saam opgewonde is oor Jesus, en die verskil wat Hy in ons alledaagse lewe maak. Mense wat deur die Heilige Gees nuut gemaak is, om vol liefde, vreugde, vrede, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing te wees.  En wanneer daar dan leiers gekies word, dan is Geesvervulde manne en vroue saam besig om in nederigheid die pad te soek waarop die Here sy kerk wil lei, om 'n verskil te maak in hierdie wêreld.

Nou die realiteit. Hier voor my langs die rekenaar in die koffieshop lê 'n pak papier, halfpad so dik soos my Bybel. Dit is die Sakelys vir vanaand se Kerkraadsvergadering. Dit begin met die Notule van die vorige vergadering. En die notule van die Buitengewone- baklei-oor- geld vergadering van die kerkraad. Dan is daar die verslae van verskeie kommissies, wat dalk nie noodwendig iets gedoen het die afgelope kwartaal nie, maar tog baie woorde en papier gebruik om te sê wat alles gedoen sou kon word, indien daar wel geld beskikbaar was. Daar is 'n lys van mense wat graag in ons gemeente wil inskakel, omdat hulle gatvol vir hulle dominee en kerkraad is. Dan is daar 'n lys van mense wat graag uit ons gemeente wil uitgaan, omdat hulle gatvol vir my en ons kerkraad is. Ring a ringa rosies...

Om vanaand voorsitter van die kerkraad te wees, moet ek my Kerkorde goed ken. Ek moet vergaderingsprosedure goed onder die knie hê. Almal moet gehoor kan word, maar nie te veel nie. Almal kry een spreekbeurt op elke agendapunt, sodat ons nie more middag eers huis toe gaan nie. Vanaand is ons Broer en Suster, en ek is Broer Voorsitter.

Op 'n punt van orde, Meneer die Voorsitter, wat het geword van dissipels wat saam met Jesus langs die See van Galilea sit, en saam om die kampvuur, vis in die hand,  besluit waarheen ons volgende wil gaan? Meneer die Voorsitter, hoekom word so baie bome opgekap vir al die papier wat ons weer gaan genereer, maar verskil maak in die gemeenskap- dit is nie eers 'n A5 blaadjie vanaand nie.
Broer Finansieële Voorsitter, verduidelik weer hoe ons so ver onder begroting met die inkomste is? Broer Gemeentebediening- verduidelik hoe die duur dominees beter aangewend kan word deur nog beter en meer huisbesoek te gaan doen- as die dominee eers daar was, sal die mense betaal! Suster Jeugbediening- waar is al die kinders deesdae? Ons moet die kinders aanspreek, dan sal die ouers weer kerk toe kom. Broer Bazaar- hoeveel beeste gaan daar wees vir die Bazaar? Julle moet asseblief saamwerk, die hele derde kwartaal gaan opgeslurp word om 'n goeie Basaar te hou, dan kan die boeke dalk klop.
Broer leer en aktueel, weet jy dat die Wes-Kaapse Sinode vandag oor die Belydenis van Belhar praat? Bel vir wie?

Broer Voorsitter, hier is heeltemal te veel mense wat buite die eg spyker in hierdie gemeenskap! Daardie ou daar oorkant jou is in geen kerk nie, hy suip soos 'n vis, sy ouma het gebel, gaan spreek hom aan!

Ek tel die dae af. Nog tagtig normale kerkraadsvergaderings voor ek kan aftree. Tagtig keer se stadig doodgaan.  En dit kan so anders wees!

Broer Voorsitter, hoekom hoor niemand jou as jy sê hierdie skippie wil nie meer float nie?

My droomhuis in Skotland...

Dins 10 Mei 2011, 21:15     Daar is seker baie huise wat sou kon aanspraak maak op die titel: Droomhuis.
Daar is daardie lawwe monstrositeite op MTV se Cribbs en ander "lifestyle of the rich and fatap"- tipe programme. Daardie huise wat selfs 'n tv in die kleinste kamertjie het, vir die kere wat jy die ringsitting op witbank  moet bywoon.
As ek die Argus so amper klaarmaak, dan dondereer ek gewoonlik daar deur Clifton, Bantry Bay en sulke plekke van my fiets af as ek sien watter huise bou mense, en watse seeuitsig daar van hulle nederige aardse tentwoning moet wees.  As daar nou nog net 'n Aston Martin Vantage in die R4 milj-enkel-garage-uitgekap- in- die- rots kon staan, dan kan baie mense lekker droom.

Daar is die een huis wat baie gereeld in my gedagtes opkom. Ek het in 2006 in Skotland gaan probeer om heel te word, sodat ek nie 156 grein lood onnodig mors nie. Die lewe het alle sin verloor. Ek het al voorheen geblog oor hierdie ervaring van heelword.

Terwyl Modderkoekie na haar nuwe grond in Skotland gaan kyk het, het haar fotos my weer aan 'n baie wonderlike ervaring laat dink, ten midde van die donkerste tye van my lewe. Ek was aanvanklik alleen by 'n heelwordsentrum naby Huntly in Skotland. 'n Baie geseënde, wonderlike mens het uit sy sak betaal dat my liewe vrou enkele dae later by my kon aansluit, om deel te word van die pad na genesing.

Dit was November in Skotland.  Dit was herfs. En in die natuur was daar die ongelooflikste palet van kleure. Oordadige rooi, geel, oranje op elke boom geverf. Dit was baie, baie koud, al het die sneeu nog nie gekom nie. Die dae was baie kort, en die ligintensiteit baie laag- elke foto moes baie lang lensopeninge kry om sinvol te wees.

Ek en my vrou het die een dag gaan stap. Sommer net gaan stap. Ek het nog bronchitis gehad, en my longe uitgehoes. Maar ons het die paadjies gevat.  Skotland is 'n baie, baie ou land. En daar was die ongelooflikste ervaring van heel word, van sommer net genesing ervaar in die stap. Op hierdie seerste dag van my gesondwordproses het ek van my mees kosbare fotos geneem.

Baie naby die een piepklein dorpie het ek en my vrou voor hierdie huis gaan staan. Daar was niemand tuis nie, dit was seker iemand se naweekplekkie. Maar daardie huis het skielik die simbool geword van alles wat ek so graag in my lewe wou hê. Al wat ek wou hê, is 'n huisie soos hierdie, wat myne is. In 'n plek waar niemand in die aand deur die venster gaan klim met 'n mens om my vir my selfoon te vermoor nie. 'n Plek waar ek nie eers die gordyne hoef toe te trek as ek nie daar is nie. Ek sou bitter verbaas wees as daardie voordeur gesluit was.

In my geestesoog het ek die huisie gesien soos wat hy 'n maand later waarskynlik sou lyk. Met 'n laag sneeu oor, wat alles kom bedek. Met 'n warm vuur in die kaggel. Met die vrou van my drome in my arms voor daardie kaggel, toegewikkel in 'n lekker dik kombers, terwyl ons 'n glasie rooi sherrie drink. En met hierdie prentjie in my kop het ek besluit om die lewe weer 'n kans te gee.  En die lewe het besluit om my weer 'n kans te gee. Die lewe het sy onderste draaipunt gemaak, daarvandaan kon dit net beter. Skielik was daar weer 'n pad om te loop. 'n Nuwe brug om oor te steek.

My geliefde het die hele pad saam met my gestap, al het dit haar 'n baie groot emosionele prys gekos. Ek hoop ek kan eendag vir haar so 'n huisie gee, waar ons saam kan woon, met 'n kaggel wat brand in die winter, met 'n warm kombers en 'n glasie rooi sherrie. In 'n plek waar ons veilig kan wees, sonder lede van die bevolking wat ons dood wil hê, net omdat ons wit is, en kerkmense wat ons weg wil hê.

Ek dink baie dae aan daardie huisie in Skotland. Ek ken nie die mense aan wie dit behoort nie. Dalk het hierdie huisie 'n totaal ander verhaal wat hy vir iemand anders vertel. Dalk is ek verkeerd om so baie aan 'n besoek aan 'n eenvoudige huisie te koppel. Maar somtyds droom ek nog...

Monday, May 9, 2011

Die vreugdes van 'n eenvoudige lewe...



Foto:  http://astrangerintheland.blogspot.com/


Die afgelope ruk het ek baie gedink oor die lewe. Daar is so baie perspektiewe op lewe. So baie verskillende opinies en teorieë.  En ek luister graag op blogs na verskillende mense se sienings, sonder om in argumente te verval, want ek dink niemand van ons weet regtig soveel as wat ons dink ons weet nie.

Ek het die afgelope ruk deur redelike diep waters in my persoonlike lewe gegaan.  Die lewe slaan my ook maar soms gat oor kop, en vir  'n plattelandse dominee is daar nie altyd 'n skouer om op te huil nie.
In hierdie tyd het ek weer 'n keer uit die boek Prediker gelees vir myself, en by 'n hele paar geleenthede vir ander mense.(So uiteenlopend soos die VLU se provinsiale kongres en 'n motorfietsrally!)

Daar is so baie dinge wat 'n mens nie weet nie. Die Prediker sê dit ook, hy noem dit telkens 'n gejaag na wind- selfs om wysheid en kennis bymekaar te maak. Maar daar in Prediker 9: 4 en verder word 'n paar mooi dinge gesê.
Dit wat vir my baie beteken op die oomblik, is die beeld dat ons ons brood met vreugde moet eet, ons wyn met blydskap moet drink, ons hare olie, wit klere aantrek, en die lewe geniet met die vrou vir wie ons lief het.

Die een ding wat oor en oor vir my uitstaan, is dat die lewe se grootste vreugdes in die eenvoudige dinge lê. Om daagliks brood te hê om te eet. Om tyd te maak om dit te geniet. Om wyn te kan drink, en geniet (sorry, al julle Bible-bashing geheelonthouers!) Ek het netnou die vier nefies se botteltjie rooi oopgemaak, en 'n glasie geniet terwyl ek 'n klompie van my nuwe vriende en vyande se blogs gelees het. En dit verskaf my groot blydskap- die wyn, en die meeste blogs...Daar is 'n hele klomp van julle wat ek om 'n vuurtjie in die Bosveld sou wou ontmoet, en 'n glasie saam met julle drink.

Die beeld van olie in die hare en wit klere is die teenoorgestelde van om te treur, met as in die hare en geskeurde klere. Om jouself te versorg, en 'n keuse te maak om gelukkig te wees vandag. Ja, ek weet daar is verskillende soorte depressie- ek het ook een van hulle. Ek voel vanaand al weer baie melankolies, sonder enige rede. Miskien dalk tog die dood van familie en vriende, wat nou ernstig begin tref.  My beste vriend se huis wat gister sonder 'n moeder was vir die eerste keer, dit blixem my baie hard.  Maar ons het ook keuses in hoe ons kies om op te tree- 'n tyd om te lag, en 'n tyd om te treur- Prediker 3.

Om die lewe te geniet met die vrou wat ek liefhet- dit is baie maklik, na 21 jaar van getroude lewe. Ek is liewer vir haar nou as daardie mooi herfsoggend by die Klipkerk in Bloemfontein. Sy voel nie so lekker vanaand nie en het vroeg gaan lê. Ek verlang na haar, en vriende, en soveel ander dinge, en daar is nie 'n goeie boek om te lees nie...
Die vrou wat ek liefhet is die ma van my kinders. Ek was vier keer saam met haar in die kraamsaal. Ek het vier keer die wonder van geboorte gesien, al was die een keer die absolute angs van 'n noodkeiser (hy is nou 11 en niks fout nie, dankie dat jy vra!) Ek was twee keer magteloos buite die teater waar 'n skraap na 'n miskraam gedoen moes word. Ek het die wêreld se respek vir my vrou, en ek dink sy is die beste ma wat my kinders ooit kon hoop om te hê. Gister het ek vir haar 'n vinnige ontbyt in die bed gegee (muesli en jogurt, maroelasap en rooibostee) net voordat ek mos hardloop om vir die gemeente te gaan nagmaal bedien. Ek het na kerk vir haar middagete gemaak: alweer kerriehoenderpotjie (ek weet darem hoe om een of twee ander dinge ook te maak) met  gemengde groente, aartappels en rys. Met 'n botteltjie Robertsons rooi, en sjokelade mousse en vla vir poeding.Om saam met haar, en my kinders om 'n tafel op Moedersdag te sit, en almal lewe, en almal is gesond- dit is genade! Vir my is dit baie kosbaar. Dit maak my 'n ryk man.

Ek kom dit al hoe meer agter- hierdie is die dinge wat die lewe mooi maak. Om in die elke dag se bestaan die klein wonderwerkies te kan raaksien, en dit te geniet. Ons brood, ons wyn, en die liefde van ons lewe. Nou gaan ek nog 'n glasie skink, na die New College Oxford choir luister, en dan styf langs haar inkruip.  Mag jy ook geseënd wees!

Saturday, May 7, 2011

Ouers langs die plattelandse rugbyveld- nie vir sensitiewe kykers nie!


Moet hierdie een maar op die anonieme blog sit, anders gaan ek geblissem word in onse dorpie...

Het jy al ooit gesien hoe emosionele saak is skolerugby? Dit begin daar voorskools met die bulletjierugby, waar daar spesiale dae is waar die jong mannetjies rugby kan pleeg. Een rugbyveld word in vier opgedeel- die kantlyn word wenstrepe, en die kwartlyne en middellyn word nuwe kantlyne. Dan draf daar  'n klomp seuntjies met dieselfde trui op van die een kant, en 'n  klomp seuntjies met ander truie van die anderkant. Die fluitjie blaas, en skielik sit jy met 'n groot losskrum in die middel van die veld. Dit gryp en los, skop en slaan, huil en spoeg. Sulke woorde het jy nooit daar verwag nie! En dis net die mammies langs die veld. Op die veld gaan dit amper net so erg.

En so vorder Boetie in sy rugbyloopbaan, daar vanaf sy roemryke begin in die bulletjiefase (noem hulle dit in die Kaap windjie- fase en in Natal die guppy-fase? Is dit die katjies in die Vrystaat- ek was so lanklaas hier weg ek weet nie, kan iemand help?)  Ek onthou toe my oudste nog in daardie fase  was, het een van die ouens in die  huidige o-19 Bloubulle as standerd 5 seun die skoolhoof gehelp om af te rig. Hy het die seuntjies voor 'n wedstryd herinner om te "fokus" en "die oog op die bal te hou." My laaitie het nie geweet wat "fokus" beteken nie. Dit het vir hom soos verskriklike vloek geklink.  Maar toe hy drie was, het ek ook eendag vir hom gesê hy moet sy oog op die bal hou. En dadelik het hy die tennisbal in sy hand teen sy oog geplaas- gehoorsame seun! Ek wens die Bloubulle wil daardie lessie leer!

Deur die Laerskool heen is die mammies die hele tyd langs die veld. En daar tree hulle heeltemal anders op as in die kerk. 'n Mens gaan hulle nie more herken as dieselfde dames as vandag nie. Nie waar hulle bloedjies bloei nie!

Vandag was Hoërskoolrugby in ons ou dorpie. Die aartsvyande het kom kuier. En hulle is vanjaar weer baie sterker as ons op die rugbyveld. Behalwe nou die onder 16 span, waar ons skool gewen het toe die wedstryd weens geweldadige spel gestop is. Ek vermoed dit was 'n tegniese uitklophou. Dit gebeur mos maar in 'n seun se lewe. Op 16 bruis die testosteroon deur 'n man se are, en dit wat jy nie kan vry nie, wil jy slaan. Laat nou dertig van hulle op dieselfde stukkie aarde los op mekaar, en gooi 'n ovaalvormige stuk leer tussen hulle in. En plaas so paar honderd baie aantreklike jong dames met sulke kort netbalrompies daar langs die veld. Hoe verwag hulle dat daar nie moeilikheid gaan wees nie?

Maar goed- terug by die ouers. Met hierdie groot industriële dorp se ouers soek ons nie skoor nie. Doodgewoon omdat daar BAIE meer van hulle is as ons. Iemand by ons gaan dalk net seerkry. Gewoonlik sit die verskillende skole se ouers weerskante van die veld, so 'n mens hoor nie so mooi as iemand anders iets skree van ruk af jou kind se kop, en moenie dat hy ly nie.

Met een van ons ander buurdorpe, baie naby, en net so groot soos ons (dorp en skool) is dit 'n ander storie, veral by hulle. Daar het verskeie ouers al in die koerante beland. Selfs 'n gesiende dokter van daardie dorp is al uitgewys vir vuilspel langs die veld. Dominees en dokters slaan nie aan ander ouers nie. Maar soms vergeet ons- seker ook maar mens, né Dok...
Die opmerkings langs die veld bly egter altyd baie interessant. Van Melkbosstrand tot by Messina skree ouers seker maar dieselfde dinge vir hulle toekomstige Springbokke op die veld:
"Die bal- die bal"- ja, ons almal vermoed daar was een, voor daai dik stut van die buurdorp hom ingesluk het...
"Clean, clean"- dit gebeur in 'n losskrum wanneer jou neus per ongeluk teen die opposisie se slot se foefenjols vasgedruk word, en jy vermoed dat hy dalk 'n ander onderbroek nodig het.
"Pass die bal!"- dit kom gewoonlik Noord van die Jukskeirivier voor, van ouers wat gereeld op Loftus kom, en Mnr Bostick Olivier in aksie sien. Hy, en talle ander, moet gewoonlik deur 'n pappie herinner word dat die bal nie nou al saam met hom huis toe kan gaan nie. Erens in die verte is 'n langverlore ou met 'n nommer 14, en dié se mammie, wat dit so pas geskree het, wil darem een keer ook haar kind in aksie sien voor die Grim Reaper opdaag om haar te kom vat.
"Knock! Knock"  Hierdie is gewoonlik om vir die ref 'n grappie te vertel, gewoonlik omdat hy so ernstig lyk as hy daar met sy dun wit beentjies op die veld ronddraf, so ver weg van sy geliefde Engelse letterkunde klas af.
"Ref"- dis gewoonlik die onnoselste ou in die gemeenskap, wat nog nooit 'n rugby reëlboek in sy lewe gesien het nie. Hy is gewoonlik erg bysiende, en baie  bevooroordeeld teen die span wat die meeste ouers op die pawiljoen het. Hy is of 'n jong onderwysertjie wat nog nat agter die ore is, of iemand anders wat niks beter met sy Saterdagoggende kan doen nie .  Hy is gewoonlik skaars fiks genoeg om sewentig minute rond te hardloop, en vang ook ander onnoselhede aan op die veld.
"Maak oop jou oë, ref!" 'n hele paar van hierdie manne is berugte slaapwandelaars. Dit is soms nodig om hulle te help ontwaak, sodat hulle nie dalk seerkry as hulle skielik in die middel van 'n rugbyveld wakker skrik nie. Dit is gewoonlik 'n baie bedagsame ding om te sê langs onse rugbyveld.
"Tackle"- dit kan verskeie dinge beteken. Die eerste en sterkste moontlikheid is dat die skreeuer na sy visvangtoerusting verwys. In ons provinsie het al die toeskouers gewoonlik 'n Hiluxbakkie met blou knaters aan, en visvanggoeters op die dak. Visvang is dalk so bietjie gewilder nog as rugby, want daar is meer tyd vir drink, en gewoonlik gebeur daar minder dinge rondom jou om die drank te laat mors. Jou "Fishing Tackle" is gewoonlik 'n redelike fris persentasie van jou maandelikse inkomste, en daarom baie belangrik om langs die rugbyveld te noem, net om seker te maak die ander ouens weet jy het ook.
"Tackle" kan ook in dieselfde sin gebruik word as "Block & ..." en is daardie apparaat waarmee die ou Ford se enjin uitgehys word, om daai drieliterenjin weer reg te maak.  As jy hulp nodig het met die uithys van 'n enjin, en jy het nie die regte gereedskap nie, dan is dit wat jy skree. Gewoonlik is die kans goed met al die manne daar by die rugby dat iemand se kans sien om jou te help na die game. Dit gaan gewoonlik 'n sixpack kos.
"Los my kind!" In ons gemeenskap kan dit nogal gereeld gehoor word, en dit is baie belangrik om dit te sê. Die meeste is neefs, maak nie saak van watter dorp af hulle kom nie. Daar is selfs heelwat wat halfbroers kan wees. En daarom, voordat dit te liefdevol op die veld begin lyk, is dit goeie raad om mekaar eerder uit te los.  Dit word soms ook gehoor as een van die slotte met sy toks se skerp studs besig is om trampolien te spring op jou kind se kop. Die rede waarom die staking van aktiwiteite aangevra word, is al is dit waar dat "chicks digs scars"  is die dokter op die dorp se naweektariewe redelik hoog om oop wonde toe te werk. Daardie geld kon eerder 'n hele paar bottels Klippies gekoop het, wat baie meer sinvolle aanwending van jou staatstoelae behels.
"Vlagman jou dief!" Die vlagman is amper soos die ref, hy hol net  langs die veld en nie op die veld nie. Sy misdaadgeskiedenis is gewoonlik erg onder verdenking, maar dit kan ook verwys na 'n episode toe hy ses jaar oud was in 'n winkel soos Jan Twak s'n. Op die platteland het die mense lang geheues. Dit word nog steeds teen een familie in ons dorp gehou dat hulle mense "Joiners" in die Boere-oorlog was- al is dit al vyf geslagte terug.
"Jou ma...!" gewoonlik maak dit die mense in ons gemeenskap baie kwaad. Die rede daarvoor is omdat die moeder onder bespreking  'n baie gerespekteerde stut in die dorpspan is, en niemand mors met ons rugbyhelde nie!

Julle kan gerus maar help om te sê wat die ouers daar in julle omgewing  langs die veld aanvang. Ek kan nie op die oomblik  nog onthou nie, want gewoonlik as ek so vir die mammas begin giggel, dan dink die manne ek lê by hulle vrouens aan. Dan moet ek gewoonlik eers rou steak op my oë gaan sit om wel my gemeente die volgende oggend te kan raaksien as ek oor die sonde van die mensdom vir hulle moet preek.

Thursday, May 5, 2011

Die ou oom op die BMW sonder sy sidecar

In my studiejare het die groot verliefdheid oorgekook in 'n huwelik. Nee, ons moes nie, ons wou! In my vyfde jaar is ons getroud. Maar ek het hierdie ding sien kom. En so moes ek 'n manier vind om my bruid te huisves, en nog steeds my ses jaar studies te hanteer.  Om te trou en te studeer het 'n man geld nodig. Meer as wat Gapsa se voorganger, Volkskas, bereid was om te leen in daardie dae met die 25% rentekoerse. Die een oplossing in ons klas was dat baie van ons munisipale busse in spitstyd vir die Munisipaliteit van Bloemfontein gaan bestuur het. Ek sal daardie storie op 'n ander dag vertel.  Ek wou net hierdie enetjie vinnig met julle deel.

Ek bestuur een middag laat die laaste bus van Hoffmannplein af- ek kan nie eers meer onthou roete hoeveel nie. Maar daar in die middestad kom so 'n ou omie, met 'n baie ou swart BMW motorfiets aangery. (Min of meer soos op die foto hieronder). En hy kom stop reg langs my. Ek kyk vir die omie, want ek is van die kraamsaal af al 'n groot motorfiets fanatikus, en hierdie was regtig 'n mooi opgepaste ou masjien, wat nog so mooi purr soos daardie ou Boxerenjins mos maar doen.

Maar terwyl ek vir die oom kyk, gebeur 'n vreemde ding. Die oubaas sit glad nie sy voet neer by die rooi robot nie. Stadig begin hy omkantel, tot hy ordentlik (ekskuus, goeie kerkmense, daar is nie 'n gepaste ander woord nie!) neerbliksem hier reg langs my bus se voorwiel. Ek sit dadelik die bus se handrem op, en spring uit om hom te help. Hy het nog so 'n eerste wêreldoorlog leer vlieëniershelmet opgehad, met daardie groot stofbrille wat daarby pas. En agter die bril staan sy oë wyd orent. Wit geskrik nes ek. Ek help hom om die aansienlike gewig weer regop te tel, en dié keer die staander behoorlik uit te stoot dat die waardige ou BMW regop kan bly staan.

Ek vra die oom wat het nou so pas hier voor my jong, onskuldige oë afgespeel, want ek voel regtig getraumatiseerd (pas die vorige jaar Sielkunde 3 gepass, sien!)
Nee, sê die oom- eintlik het sy BMW 'n "sidecar", wat hy daardie oggend afgehaal het om mooi te laat restoureer. En by die robot het hy eintlik net vergeet die sidecar is afgehaal...




Foto gesteel op http://motorcycles-2009.blogspot.com/p/bmw-motorcycles-2001-bmw-motorcycles.html

Tuesday, May 3, 2011

Lekkerkry blog

Wynvlieg sê ek praat te lank, en my vrou sê ek praat gevaarlike goed. Maar die vorige een vanoggend was darem my mees gelese blog so ver.  Paar mense het gevra: hoekom het ek gekies om 'n dominee te word. Party dink ek is mal, ander weet dit...

Maar daar is 'n paar redes hoekom ek deur ses jaar se aanvanklike studie bly volhard het. Weet julle hoe lank is ses jaar op universiteit! Dit raak lewenslank. En later nog twee vir 'n meestersgraad net om bietjie meer te probeer verstaan. Graad met lof. Mission Failed. Ek verstaan nog minder.

Maar daar is 'n paar vreugdes wat ek ook uit die pastorie uit met julle kan deel.

1. Dis vir my baie lekker om baie tyd te spandeer aan lees!  Dit kos my baie geld in 'n maand om boeke te koop, maar dit bly baie lekker dat dit deel van my werk kan wees. Dit is vir my so lekker om mense ook te kan leer, om hulle toe te rus om hulle lewensreis beter te verstaan, om met meer hoop en minder skuldgevoelens te kan leef. Ek help mense om vrede met God, mekaar en hulleself te vind. Ek is nie een van daardie vuur en swael predikers nie, niemand is nog ooit in die hemel in geoordeel nie. Die liefde kan soveel meer brue bou, en verhoudings herstel. Ja, ek het ook Dawkins en Hitchens gelees- het jy al Lee Strobel se Case for the real Jesus gelees? Ja, ek lees ook wetenskaplikes, en sommiges is ook gelowiges soos Francis Collins se uitstekende boek: The Language of God. Hy is die "vader van die menslike genoom." die bekroonde wetenskaplike wat die menslike DNA ontrafel het dat dit verstaan kan word, en 'n gelowige wat God se vingerafdrukke in die DNA van 'n mens raaksien.  Ek wil nie op hierdie blog in lang debatte oor wetenskap versus godsdiens betrokke raak nie. Ek vertel my stories hier vir die mense wat dit graag wil lees, en sê net hier ek hou van lees.

2. Ek beleef wonderlike oomblikke saam met mense op hulle lewensreis. Ek geniet dit baie om met verloofde paartjies 'n pad te stap, en hulle dan te trou- dis vir my baie spesiaal. Dit is vir my 'n wonderlike ervaring om babas te doop (Sorry Charismatiese vriende- dis rerig lekker!) Dit is lekker om saam met mense vreugdes in die lewe te deel- saam te bid vir deurbrake in hulle beroepe of persoonlike reis, en dit gebeur.

3. Ek is daar vir mense in hulle seer.  Ek beleef baie hartseer saam met mense. Ek was vanmiddag, op die vakansiedag.  by 'n jong man waar sy twee oujongnooi- tannies in 'n motorongeluk was, een is dood, een is baie kritiek in die hospitaal. Hierdie mense het vir hom persoonlik al so baie beteken, dis 'n swaar slag dat hulle op so manier aan die einde van 'n lewensreis saam gekom het.
Ek is daar wanneer iemand sterwend is, om saam met hom of haar die laaste paar treë van die lewenspad te gee. Ek is die een wat hulle bel as iemand ernstig siek is, nadat die mediese mense met hom klaar is. Ek is die een wat vir mense 'n laaste diens gee, om hulle te help onthou, na hulle dood.  Ek beleef soveel hartseer saam met mense elke dag, en dit maak my soms baie depressief. Maar daar is ook 'n geweldige groot vreugde in om mense so te kan dien, om so vertrou te word met mense se intieme oomblikke en ervarings langs die lewenspad. Ek is die een wat soms net vir 'n uur of twee langs jou sal sit, en jou hartseer saam met jou beleef, sonder om 'n woord te sê.

4. Ek geniet tog die verhouding met mense baie!  Al kan ek nie in so 'n groot gemeente elke jaar by elkeen uitkom nie, is daar tog iets wonderliks om by mense te gaan kuier, en hulle eie unieke stukkie menswees te beleef. Dit is so lekker om na mense se stories te luister- waar hulle vandaan kom, waar hulle vandag op hulle reis is, waarna hulle uitsien, en waarmee hulle worstel. Moet net nie vir my sê ek moet twintig huise 'n week besoek om 'n regmerkie langs elkeen se naam te sit nie. Ek stel nie in huise belang nie, ek loop 'n pad met mense. En daar is sulke uiteenlopende mense, wat die lewe net soveel interessanter maak. Daarom kan ek dit nie hanteer as vooroordele of oordele mense in 'n boksie druk, en hulle afskryf omdat hulle nie in die vormpie pas wat ons dink reg is nie.

5. Ek werk flexityd, en kan my eie dag redelik beplan.  Al word daar baie vrae gevra deur sekere kerkraadslede, kan ek my week redelik inkleur soos ek hom graag wil hê. Ja, my dae is soms lank, soos 'n Dinsdag wat 08h00 begin met die finale voorbereiding vir 9- 10h00 se bybelstudie. Daarna siekebesoeke tot twaalf, 'n pastorale opvolg tot een, van twee tot vier admin, pastorale gevalle, dalk 'n vinnige koffie met 'n leier, en dan die riller- 16h00 tot 21h00 huisbesoek!  Dae kan baie lank raak, so baie mense het aandag nodig, en wat my doodmaak is alles en almal wat ek nie by uitkom nie. So baie mense wat gereeld sê: "Dominee, jy het my vergeet." Maar ja, ek kan my week redelik self beplan, en so nou en dan afsprake skuif om my kinders se sport te gaan kyk, of mammie vir 'n vinnige koffie êrens te vat. Die een ding wat ek geniet, is dat ek nie sommer voor 09h00 iemand hoef te gaan sien nie. Daarom, in die tye wat ek nie verwoed oefen vir die Argus nie (dis net JAnuarie en Februarie, na die Argus gaan die fiets in sy winterslapie tot Desember) , kan ek soms met net effense skuldgevoelens eers 08h00 opstaan. Dit maak op vir die kere wat ek 03h00 op 'n wintersoggend ouetehuis toe ontbied word vir iemand wat dink hulle gaan dood, maar dalk net te veel koffie gedrink het die vorige aand en nou hartkloppings kry.

6. Soms gebeur daar iets wonderliks op vergaderings! Maar net soms- die meeste is sieldodend. Die uitsondering is wanneer daar skielik nuwe idees, nuwe kreatiwiteit, nuwe hoop kom. As iemand skielik visie begin kry, en verstaan waarheen ek graag op pad wil wees, is dit baie lekker!

7. Sommige mense se lojaliteit maak al die verskil.  Daar is baie mense wat ons beroep deesdae spot. Daar is ouens wat nie my blog sal lees nie, omdat hulle niks van enige dominee hou nie. Ek verstaan dit, ek het ook 'n paar dominees in my lewe al ontmoet, party is regte poepolle! In sekere mense se oë is ek seker ook een.  Maar daar is ook die dierbare mense wat my aanvaar soos wat ek is. Mense wat regtig vir my en my gesin lief is en omgee. Mense wat soms sien as ek moeg is, mense wat soms net baie mooi dankie sê vir iets wat ek vir hulle beteken het. Een opregte dankie wis baie ongevraagde aanvalle uit!

8. Ek bly in 'n reuse groot huis, wat ek nooit self in my beroep sou kon bekostig nie. Ek is baie dankbaar vir die pastorie, al het dit sekere nadele soos ouderlinge wat soms aanmerkings maak oor hoe die tuin in stand gehou word. Die huis is 'n bate van die gemeente, en hulle probeer deesdae die huis in 'n redelike toestand hou.

Ek het aanvanklik gedink ek gaan niks te sê hê nie. Hier is tog agt redes wat my nog laat aanhou.

Ten slotte- mense, dominees is soos ander mense, al besef die meeste dit dalk nie self nie. Ons het ook unieke persoonlikhede. Nie almal van ons wil altyd vuur en swael spoeg, en mense veroordeel nie. Nie almal van ons lol met klein seuntjies nie. Ons word baie gestereotipeer in die flieke en in die opinies van mense op blogs.
Ek hou ook van fliek, van braaivleis saam met vriende, ek neem ook soms 'n dop (KWV 5 jaar oud op die ys, of Windhoek Draught, dankie!) Ek is mal oor my motorfiets, en oor rallies wat ek anoniem bywoon. Ek ry graag fiets, al is ek die stadigste ryer in die dorp. Ek neem graag fotos. En ek lees graag jou blog. Al kan jy soms so totaal anders as ek dink oor iets, is dit vir my baie interessant.  Ek het baie vyande, maar ek het baie meer vriende. Mense maak my lewe hel. Maar mense gee my ook hemelse ervarings. Dankie dat jy geluister het vandag.

Monday, May 2, 2011

Gatvol blog


'n Hele paar van my blog vriende het speelgoed uit die kot uitgegooi oor die naweek. Ek wil ook maar- dan voel ek dalk ook beter, en later kan ek hierdie blog dalk weer uitvee.  Soos ek hier sit, is ek baie, baie gatvol. Net 'n paar redes:

  1. Geen privaatheid in my lewe nie- Ek het net-nou 12 km gaan stap ter voorbereiding vir die Camino. Na 10km is ek gewoonlik warm, en begin stywerig voel. 'n Mens is dan in 'n lekker ritme, wat 'n mens dan moet hou tot by die huis. So 2 km van die huis af, buite die dorp, jaag een van die gemeente se "dames" skielik met haar Shitty Golf tot langs my, en trek die handbriek op dat daar net stofwolke spat. Vir die volgende 45 minute KKNK sy oor haar ma haar uit die huis wil uitsit, en haar seun haar 'n hoer noem. En ek staan in die son, en knik instemmend, en wens ek kan net loop om tuis te kom.  Dieselfde ding het al baie gebeur as ek met die fiets oefen vir die Argus- die boere-omies sien my 25 km uit die dorp uit, en raak lus om met hulle dominee te gesels. Hulle kom nie tot die punt nie, en as hulle weer lekker verder ry, het my spiere styf geword van die ontydige lang staan.  Maar die beste was toe ek nog 'n jong dominee was. In ons dorpie is die huise se deure nog nie altyd gesluit nie.  Ek het die vorige nag baie lank langs 'n sterfbed gesit, tot die persoon se laaste vlug vertrek het hemel toe. Ek het baie vroeg die oggend vir die eerste keer in die bed geklim. En toe ek so net na sewe my oë oopmaak, staan 'n gemeentetannie in die slaapkamer se deur, sy wou net graag vir dominee iets kom vra.
  2. Alewige opmerkings oor ek so duur kos.  'n Dominee se pos is 'n duur ding om te onderhou. Dit lyk skrikwekkend dat twee dominees in 'n gemeente die helfte van die begroting kos. Die bedrae wat ons Cost to Company beloop, lyk na 'n baie, baie goeie salaris. Vir dié wat nog steeds wil kla- ek het agt jaar universiteitsopleiding, wat baie honderde duisende rande gekos het. Ek kry nie 'n sent ekstra vir my meestersgraad nie. Ek is omtrent op dieselfde salarisskaal as 'n kaptein in die polisie. Van my vriende wat na skool polisie toe is, trek al by die kolonelrang verby. As dit jou beter laat voel, na my vervoertoelaag afgetrek is vir die voertuigpaaiement, my brandstof en versekering, vat ek so R8 000 per maand huis toe. Waarvan die skool dadelik R800 per kind wil hê, per maand. Ek kla nie oor my salaris en pakket nie, ek is net so moeg vir die alewige stories oor dit. Ek werk baie dae, soos elke liewe Dinsdag, 14 ure. Op vakansiedae het ek nog steeds siekebesoeke en krisisse. Ek spring elke keer hemelhoog as my foon lui, omdat 'n mens nooit weet watter trauma of ramp aan die ander kant van die lyn wag om hanteer te word nie.
  3.  Die verwagtinge van mense-  Ons gemeente is op pad na 1700 mense toe, met twee leraars. Elkeen van die 1700 verwag dat ek onmiddelik op hulle naam hulle sal kan groet as ek hulle skielik in die Pick 'n Pay raakloop. Die buurgemeente se 1800 mense verwag dit ook in ons dorp- dat ek hulle ook moet ken! En al die ouers by die twee laerskole, en al die ouers in die Hoërskool. Sorry- ek is nie in staat om al 10 000 blankes van ons dorp onmiddelik op die naam te ken nie! Dan verwag die 800+ mense in my gedeelte van die gemeente dat ek ook onmiddelik alles van hulle persoonlike omstandighede af moet weet. Ek moet dadelik weet as hulle siek is. Ek moet rampe in die hele uitgebreide familie ken, en help hanteer- dominee weet mos nou van my vrou se neef op Koekenaap wat so moeilikheid het met die burgemeester se sekretaresse se skoonseun... Ai, hoe kon dominee vergeet het!
  4. Al die bosprofete wat beter as ek weet.   Ek het weer in hierdie week so geval gehad. Erens is altyd een of ander ou wat skielik 'n wonderlike openbaring ontvang dat die hele kerk van die eerste Pinksterdagpreek af, deur al die denominasies heen tot vandag toe almal heeltemal verkeerd was en op pad hel toe is. Die polisiesersantjie het onder die boom gesit, en skielik hierdie groot visioen gesien van hoe die kerk eintlik veronderstel was om te lyk- aan die hand van een teksversie in Levitikus. Of die oud Koevoetlid wat skielik wil kom vertel dat almal wat nie groot gedoop is nie, nie aan die Here behoort nie. Of die rondreisende ou met sy karavaan wat almal wil wys hoe die einde van die tyd nou eintlik lyk met sy Powerpoint show oor sy verstaan van Openbaring. (Die einde het intussen klaar aangebreek, en hier is ek nog steeds, glad nie weggeraap nie!) Of verlede week se profeet, wat by 'n pasgetroude egpaartjie gewoon het vir sy besoek in ons dorp. En vir die vroutjie vertel hoe hy ook so graag 'n vrou net soos sy wil hê. En toe trek sy sak en pak saam met hom, want die Here het mos so gesê!  Ons stap jare met mense 'n pad, 'n pad van versorging en omgee, en dan hardloop hulle saam met die eerste bosprofeet in 'n rigting. En dit het hoeveel keer in ons dorpie gebeur- eers daag daar 'n profeet met 'n nuwe leer op, en dan is die kerk nie meer reg nie, en dan begin getroue mense wegbly, en skielik is daar 'n boskerk, en as die oorspronklike profeet aanbeweeg, dan val die boskerk in duie, want dit was op die mens gebou.
  5. Die mense wat die kerk se finansies bestuur, bestuur die kerk.  Geheimpie- dis nie die dominee wat die tjeks teken, of die beleid bepaal in die meeste gemeentes nie. Hier by ons is daar weer 'n groot botsing aan die uitbroei. Vir jare lank probeer ek mense wegkry van die herder- kudde model. Jy weet, daardie een wat die dominee die Groot Induna in die kerk is, daar op sy heilige troontjie. Dominee se woord is wet, dominee alleen weet alles, dominee alleen kan alles doen, en die res van ons betaal hom om dit te doen, en klap hande as hy dit goed doen, of gooi klip as hy *** aanjaag!  Vir jare al lees ek in die Nuwe Testament dat die kerk 'n liggaam is, waar elke gelowige 'n unieke plekkie het, om hulleself uit te leef. Ek lees dat my werk is om gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk.  Na al die jare in die platteland is daar nog steeds net 28% van die mense wie se name op die kerk se boeke is, wat enigsens iets bydra of iets probeer doen om kerk te wees. Die wêreld se ekonomiese insinking tref nou die kerk. Raai wat is die heilige finansiesbroers se antwoord? Dominee moet meer huisbesoek doen! Ons soek 'n lys van al die mense wat dominee hierdie week gesien het. As die herder werk, sal die geld reg wees!  Hoe gaan ek ooit weer vrymoedig met mej Y gesels oor haar seer van molestering, as sy weet ek moet dit aan die kerkraad rapporteer???!!! Ek kan nie. Ek is teen 180 km per uur op pad na 'n doodloopstraat, en ek sien geen ander uitdraaipad nie. 
  6. Ek is gatvol oor my eie kinders op die kerkterrein verbied is, behalwe tydens eredienste! Ek woon langs die kerk, op die terrein.  Ek het 'n hele paar seuns, wat nogal besig en woelig kan wees. Maar nie lelik stout nie. Die jongste en sy vriend het eendag oor die gedenkmuur se heining geklim om binne te speel- seker lekker oorlogplek so tussen al die dooie mense. Op 'n ander dag het 'n paar van hulle op die een gebou se dak geklim om te sien hoe die dorp van bo af lyk. In die proses het hulle moddermerke teen die mure gelos. En iemand het van die besproeiingstelsel se sproeiers afgebreek op die terrein. (Ek weet daardie koppe is by ons hardewarewinkel 10 vir R12,00) Ons kry 'n opdrag van die broers- die kinders word die terrein belet, want hulle het R800 se skade gemaak (wat die koste van 'n opgradering op die besproeiingstelsel was, nie die actual skade nie!) Hulle moes die mure gaan was, wat ek heeltemal mee saamgestem het. En nou is hulle nie welkom in die week op die kerkterrein nie.
  7. Mense is hel. Jean Paul Sartre het dit gesê. En ek stem meer en meer saam daaroor! Sluit nou by punt 3 aan. Almal is reg in hulle eie oë. Elkeen het sy eie musieksmaak, en alles anders is verkeerd. As mense ander verwagtinge as ek het, moet hulle eerder na die AGS (of APK) toe gaan!  Ek kan baie mooi begrafnisdienste hou, dis een van my min sterk punte. Dan sal die tannies van ander dorpe altyd kom sê hoe goeie dominee ek is, nie soos daardie pateet daar by hulle kerk nie. Dan weet ek my gemeentetannies sê waarskynlik dieselfde van my op ander plekke. Die prys van mense is nie veel werd nie!  Ek kan mense soms onbeskaamd sit en afluister in koffieshops en malls. Die ouer geslag, en sekere persoonlikheidstipes is so vol van hulle eie opinies- as ons dinge net op hulle manier sou doen, sou daar nooit moeilikheid gewees het nie. So dink hulle. Ek kan aan niks erger dink as so 'n wêreld nie.
  8. Die kerk se tribunaal kom uit die hel uit!  As mense vermoed 'n dominee in ons kerkgenootskap was stout, dan kan hulle hom by die ring gaan aankla. Die ring verwys dit dan na die sinode se tribunaal, wat dit dan hanteer en 'n finale uitspraak maak.  'n Predikant in Sinodale diens, en enkele "regskenners"- dominees sit daarop, met 'n paar ferocious ouderlinge. Uit die manier wat twee van my goeie vriende die afgelope ruk deur hierdie tribunaal behandel is, maak my nog verder lus om te gaan toerbusse bestuur in Europa vir 'n lewe. Koud, klinies, genadeloos.  Die kerk is die enigste weermag wat sy eie gewondes skiet. Daar is nou 'n nuwe eenheid om dominees uit te haal.  Die kerk se eie SS.  Hierdie pos gaan waarskynlik my job kos as dit ooit in die verkeerde hande beland met my regte naam by. Maar ek is bereid om dit onder my eie naam op die volgende Sinodesitting te sê- die manier waarop een van my klasmaats behandel is deur die kerk, is skokkend! Die kerk gaan op sy moer kry in die Hooggeregshof, en ons almal gaan daarvoor betaal.
  9. Dogmas in plaas van liefdesgemeenskap- baie mense in die kerk is net begaan daaroor om reg te glo. Hulle sal doodmaak om hulle standpunt te verdedig. Van Jesus se opdrag om mekaar lief te hê, dat die wêreld kan glo, is daar nie baie sigbaar nie. En daarom het die kerk nie regtig 'n sterk getuienis in die samelewing nie. In die kerk moet jy altyd versigtig wees, die Here se kindertjies het skerp tanne en kan seer byt.  Veral die voorbidders kan baie seer byt as jy nie heilig genoeg voorkom as dominee nie.
  10. Prestasiemeting-  Party wil so graag ons prestasievlakke meet in die bediening. En nie om ooit 'n prestasiebonus te kry nie. Dit sou ongehoord wees, dan geld die reël van "nie omdat ons dit verdien nie, net uit genade." Maar sommige kerkraadslede het 'n alewige hang-up of die dominee sy salaris (- nee, die kerk gebruik die woord "traktement"- hulle trakteer jou eintlik net,) werd is. Stephan Joubert praat van die bose driemanskap van geboue, getalle en geld. Meet die dominee se sukses. Hoeveel mense het jy gesien, dominee? Hoeveel ure hierdie week? Hoekom preek jy nie beter, dat die kerk weer kan vol raak soos in die ou dae nie?
Broer Ouderling, het jy al Stephan Joubert en Leonard Sweet se boek gelees: Die Perfekte Storm? Die Titanic is besig om te sink, en julle wil KKNK oor die beddens nog opgemaak moet word. Fritz Gaum maak sekere mense die hoenders in met die vraag van sy nuuste boek: Gaan die NG Kerk nog by die Oordeelsdag bestaan?  As daar nie major change kom in die institusionele karakter van die kerk nie, wens ek die kerk 'n sagte heengaan toe.  Die wêreld het nie nog reëls en regulasies en organisasies nodig nie, die wêreld het die liefde van Jesus nodig.  As die kerk nie daardie dienskneg gestalte en liefde uitleef nie, het hy nie bestaansreg nie.

Fynskrif- KKNK is in ons huisgesin die term vir k**, kla en kerm.