Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Sunday, May 1, 2011

Die vyf beste koffieshops in my lewe

Potchefstroom se Café  Fiori
Met die ekonomie wat so erg kan druk, is daar baie vreugdes wat nie gebeur nie.  Met agt jaar se universiteitsopleiding kan ek niks nuwer as my 9 jaar oue bakkie, of my 11 jaar oue motorfiets bekostig nie. Albei is vrek stadig, en eintlik is ek baie lief vir spoed- Top Gear is dan my gunsteling TV reeks!  Ander vreugdes is ook nie elke dag beskikbaar nie, al is 'n man gelukkig getroud.

Daarom bly 'n goeie koffieshop die een ding in my lewe wat ek my laaste paar sent sal uitgee in.  Dis die plek waar ek en Mevrou gaan gesels as ons dik die moer in is vir mekaar. Of wanneer ons verlief voel en sommer net wil wegglip van die kinders af. Dis die een sosiaal aanvaarbare plek waar die dominee gesien mag word in ons gemeenskap. Ek is al aangespreek deur die ouderlinge oor ek soms alleen in die aand in die Italiaanse restaurant gesit en 'n Draught drink en slap tjips eet het- ek belowe! Ek kom van huisbesoek af, mammie is vroeg bed toe, ek is eensaam en honger- bier en tjips het die ding gedoen. Maar Dominee moet net nie alleen gesien word in die restaurant nie- dis te veel vir party mense om hulle dominee daar te sien...  As my vrou by is, is dit glo orraait. Hierdie dae in my lewe sal ook verby gaan... Ek kan nie wag om die stoudste oom in die ouetehuis eendag te wees nie...

In elk geval, ek dwaal af. In Koffieshops het ek al van my wonderlikste tye in die lewe beleef. Mense het al vir my die wonderlikste verhale uit hulle lewe gedeel rondom 'n koppie koffie. Ek het al dikwels ook alleen daar gaan sit, as ek 'n bui beleef. Moerig. Hartseer. Gemoedsbekakking (is dit nie 'n pragtige Nederlandse woord vir depressief nie?) Partykeer sit ek net daar met die dag se koerant, net om my kop skoon te kry- die Beeld help nie daarvoor nie. Gelukkig het een koffieshop gratis Wifi- dis nou pret om daar te sit en met almal te kommunikeer wat nie werksverwante kennisse is nie- soos julle! 

Daar is die afgelope paar jaar 'n groot verbetering aan die malls se koffieshops. Ek is baie lief vir Mugg & Beane. Bodemlose koffie met 'n moerse lemonandpoppieseedmuffen, nadat ek 150 km gery het om 'n siek mens in die stad se hospitale te gaan besoek. Cappucinos is ook fantasties, en ek is baie dankbaar teenoor Kobus Wiese vir sy bydrae tot die koffiebedryf, veral by 'n paar hospitale. Die een franchise wat nog kort in ons land is Starbucks- ek weet daar is een in Sandton, maar my ouderlinge dink dit is net wyle Lolly Jackson en the Ranch wat daar is, so ek kom nie daar nie. Dit kan glo sleg vir 'n dominee se reputasie wees om in Teazers gesien te word- as ek soveel *** optel in 'n Italiaanse restaurant, wat sal die vonnis wees by Teazers? Seker publieke kastrasie en teregstelling.  Ek wonder skielik net- hoe is Teazers se koffie? Weet iemand dalk? Maar Franchises tell ook nie vir hierdie gesprek nie, want Mugg & Beane is dieselfde van die Kollonade tot by die Kaapse Waterfront. Uistekend, maar dieselfde.

My gunsteling koffiedrinkplekke is daardie plekke wat iemand se droom was, en iets van hulleself weergee. Unieke plekke, elkeen met hulle eie tikkie individualiteit.  En my top vyf gaan more weer anders lyk, dis net soos ek op hierdie oomblik voel.

1. Café Fiorri in Potchefstroom- oor ek eergister daar was. Ons stop gereeld daar op pad na Skoonma se huis toe. Individuele plek, met die interessantste kamers op die eerste vloer, waar jy met jou vriende julle eie hoekie kan kry, en privaat kan kuier. Soos op hierdie foto- lekker gesellig! Mooi kunswerkies, eie atmosfeer. 

  2. "Die lady se Suitcase" net voor Klein Kariba op die pad tussen Warmbad en Nylstroom. Hulle spesialiseer in geroeste look kaggelkakkies, maar hulle het 'n baie lekker kondensmelk koffie in blikbekers. 'n Lekker stop op 'n motorfietstrippie.

3. Café Anton in Swakopmund- die uitsig is uitstekend oor die pier, en die Apfelstrudel is uitstekend!  Ek weet hy is nie in die liewe Republiek nie, maar my gat jeuk vir 'n ver biketrip! 

4. Die Pepper Tree in Philadelfia in die Kaap. Uitstekende plaaswerf opset, die diens is uitstekend. Hier moes ek net die laaste keer wat ek daar was, my hart sit en uithuil- iets wat nie baie gereeld gebeur met my kliphart nie. 

5. Evita se Perron in Darling- vir daardie Boere atmosfeer van destyds, die fyn spot, en die heerlike melktert.


Ek kan aan nog 100 goeie koffieshops dink, maar ek kan nie altyd hulle name onthou nie. Hulle is in die GPS in my kop gestoor. Maar ek wil graag vir jou die geleentheid gee om by te dra tot die lys.

Die liefde vir filterkoffie met bruinsuiker kom van my ma se mense af. Haar twee oujongkêrel broers was albei baie lief vir goeie koffie, en het altyd dit besit, al het hulle niks anders gehad nie. Die jongste een is in 1993 vermoor in Durban. Die ander een is vanmiddag half vyf aan kanker oorlede.

No comments:

Post a Comment