Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Sunday, June 20, 2010

Die vreemde droom

Ons het gisteraand van vakansie af teruggekom. Ek het nou vroegoggend wakker geword, met die vreemdste droom, wat ek graag wil neerskryf voordat dit weer verlore gaan.

Ek droom dat alles in my lewe skeefgeloop het. Op 'n manier het ek alles verloor wat ek oor die jare bymekaar gemaak het. EK dink nogal nie familielewe is daarby betrek nie- dit was nie deel van die droom nie. Maar ek het my beroep as predikant in 'n gemeente verloor. Daar was 'n groot stuk hartseer en verlies as basis van die droom.

Al wat ek oor het, is my gehawende Volkswagen Beetle, wat net- net op die pad is, maar olie mors oral waar hy gaan. En die enigste uitkoms vir ons finansies is om terug te gaan Weermag toe, ek onthou duidelik dat ek die rangtekens van 'n dienspligkapelaan dra. Na Negentien jaar is ek weer terug waar ek begin het- "square 1". Op 'n manier is daar 'n ou, gehawende tjello wat ek by iemand gekry het, wat moet teruggaan Weermag toe. Op die tjello staan gestempel: "Geskenk deur die Suiderkruisfonds. Vir gebruik op die grens..."

Die uniform sit vreemd aan my na al die jare. My hande is vol bagasie van goed wat ek nodig het. Maar in my agterkop onthou ek vaagweg dat ek sekere mense sal moet salueer as hulle verby kom. Ek, en die tjello, en die hande vol bagasie, sukkel deur die weermagbasis om in te klaar. Langs die pad ontmoet ek 'n ander ou, ook met pers rangtekens, maar dit klink of hy meer in 'n finansiële rigting is. Maar soos ek moet hy ook terug weermag toe gaan. Hy dra 'n klein viool in 'n pragtige tassie saam met hom rond.

EK en hy moet saam na die offisiersmenasie toe gaan met ons bagasie, die tjello en die viool. Maar die Beetle wil nie aan die gang kom nie. Later sit ons moedeloos buite die Beetle onder 'n boom- ons kan nêrens heen gaan nie. Ek hou die Suiderkruis tjello vas. En ek begin tokkel op die snare, soos op 'n kitaar. Druk, en speel met een vinger. Dit klink vir my mooi, dit breek die aaklige stilte in my hart. Maar my nuwe vriend, wat soos 'n nerd lyk met dik glase in sy bril, vra of hy maar mag. Hy vat die tjello, en begin dit instem. Dan neem hy sy viool se strykstok. EN skielik begin die mooiste musiek uit daardie tjello uit kom... Die hele basis se mense drom later saam om die stukkende Beetle, die dienspligkapelaan, die finansiële ou met die dik bril, en die mooiste musiek. "Bach" reken die een klerk. " Nee, dis Mozart" sê 'n ander blonde dame. Die generaal se vrou sê dat sy eerder dink dis Chopin. Dit was toe Bach se Cello Suite no 1 in G...

Met die samedromming om die Beetle stamp iemand 'n 2 liter Cokebottel sonder prop op die Beetle se dak om. Dit val in die Beetle, en begin al die bagasie vol klewerige, karamellerige gemors spuit. Alles is taai en vuil in die motor. EN ons moet die tjello inlaai, en self inklim om te ry. Maar alles is taai en vuil. En as die motor dan uiteindelik weer aan die gang kom, is dit wat in die lug hang, steeds die musiek. En die ou, verflenterde Suiderkruis tjello sing 'n warm Suid-Amerikaanse tango uit...

Tuesday, June 8, 2010

Die Ringsitting

Daar sit ons toe mooi in 'n sirkel, die hele dag lank. Ons is God se mense in ons gebied. Ons het die wysheid in pag, want daar is meer van ons bymekaar. Ons debatteer. Ons praat so mooi! Ons intonasie en ons stemtoon is afgerond, elke woord word gepoleer, en aangebied soos 'n skouperd. Ons lees baie papiere, party van hulle vertel ons eie storie. Daardie blinkgepoetste storie wat ons so graag wil hê ander mense moet glo van ons. Ons kyk powerpoint aanbiedings. Ons sien pyltjies gaan op, ander pyltjies gaan weer af. Ons spreek mekaar as broer en suster aan. Ons eet biltong en koeksisters.

Dan... die OOMBLIK! Iemand sê iets lelik. Trane vloei vrylik. Hoe kan die wêreld so wreed wees? Twee kollegas is in hulle moer... Die papiere ritsel, die stemtone styg, die planne raak op. Toemaar broers, volgende jaar lyk dit miskien beter... Kom ons stel dit uit vir volgende jaar, hierdie tyd. Dan sal ons weer mooi in 'n sirkel sit, die hele dag lank. Dan is ons weer God se mense in ons gebied. Dan het ons meer wysheid, dan praat ons weer so mooi. Miskien sal daar weer biltong en koeksisters wees...

Gaan dan heen, en sondig nie meer nie. Die Here seën ons...