Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Friday, July 15, 2011

Pappie is die BAAS van hierdie huis...


Julle gaan iets anders hier kry as wat julle dalk gedink het. Maar daar is 'n sakie wat ek van my hart af wil kry. En ek gaan in die toekoms dalk nog baie daaroor skryf. En my eie vrou gaan dit onder my neus vryf, en sê dat ek dit ook nog nie regkry nie.

Ek wil net graag vir 'n slag 'n Donkiebol los oor die manier waarop manne vroue behandel...

Hierdie skrywe kom al 'n hele ruk saam met my, en hierdie sal seker ook nie die finale weergawe wees van wat ek wil sê nie.

Ek werk BAIE met mense se seer. Ek kry gereeld dames wat in my studeerkamer kom vertel van hulle seer. Mense van die stede kom trou ook graag hier in die Bosveld, en ek kry nogal heelwat van hulle wat my nader om hulle te trou. Waar dit moontlik is, geniet ek baie om 'n paar gesprekke met voornemende troupaartjies te hê. Ek hou daarvan om 'n geneagram saam met hulle te teken- 'n metode waar 'n mens hulle posisie in hulle gesin van oorsprong teken- en in die proses vertel hulle eintlik vir my hulle storie. So dikwels (deesdae meestal!) is dit mense se tweede huwelikke. En so dikwels is daar 'n BAIE seer storie oor hoekom dit hulle tweede huwelik is. Ek dink, as ek dit kon bekostig, sou ek graag verder wou studeer en voltyds in huweliksberading wou ingaan.

Maar in my blog het ek ook 'n paar baie goeie nuwe vriendinne ontmoet. 'n Paar van hulle het my al soveel vertrou dat ek iets van hulle lewensverhaal gehoor het. Party van hulle skryf baie openlik oor hulle seer - 'n duidelike teken dat daar al klaar genesing begin plaasvind het in hulle lewens. Ander se vertroue in my sal ek nooit skend deur hulle storie oor te vertel nie. Daarvoor is hulle vertroue te kosbaar vir my. Maar so baie seer wat ek mee te doen kry, kom terug na hierdie punt toe: die manier waarop manne optree. In hulle verhoudings, in hulle huwelikke, en wat my die meeste die bliksem inmaak, teenoor kinders.

So hier gaan ons:

Baie mense haal heel gelowig hierdie Bybelse verwysings aan, dat die man oor sy vrou moet heers. Daar is 'n groot kulturele probleem daarmee. In die Bybelse tye het die vrou geen regte, en geen status in die samelewing gehad nie. Dit was uit en uit 'n man se wêreld. Die algemene opinie, waaroor selfs my held Paulus soms baie primitief dink, is dat Eva die appel gebyt het, daarom het sy die sonde in die wêreld ingebring, daarom is die man die sterker geslag en die hoof van die huis.

Die kultuur van destyds (wat nog net so in die Midde-Ooste voortleef in streng Moslemlande!) is dat die vrou nie 'n sê het nie. Die man heers oor haar. Pappie het al die mag. Ek is nie besig om teen Moslems te diskrimineer nie, ek het die ervaring van 'n vrou wat net-net uit Saudi Arabië kon ontsnap van haar man, en haar kind omtrent moes uitsmokkel om hom steeds by haar te kan hê. 'n Vrou kan nie die land sonder haar man se toestemming verlaat nie, en hy kan deur bloot drie keer te sê "Ek skei jou!" skei van haar. En haar sonder enige heenkome op straat los, sonder beskerming van die reg. Dink maar net aan die simboliek van die Burka...

In Bybelse tye was 'n vrou se status net-net beter as 'n slaaf s'n, en dikwels effens laer as Pappie se geliefde hond s'n. Sy het geen regte gehad nie, geen stem nie, en daar was geen werksgeleenthede vir goeie vrouens nie. 'n Weduwee was altyd oorgelaat aan familie se genade, en 'n oujongnooi het nie bestaan nie, hulle is teen hulle sin in 'n gereëlde huwelik weggegee teen bargain pryse.

Baie manne het nog hierdie "Bybelse" siening van 'n vrou se plek. Dit is veral waar van die ouer geslagte, maar 'n mens kry nog jong buffels wat ook so dink. 'n Vrou sal onderdanig aan haar man wees. Sy sal maak wat hy sê. Sy sal hom dien, vir hom kos maak, die skottelgoed was, vir pappa die koerant en koffie aandra. Want dit is haar werk. En Pappa? Hy werk mos hard, hy sit op die stoep met die koerant en koffie, tot sy ete gereed is. Na aandete is dit die nuus, en dan is dit POMPTYD! Sodra sy die kinders net stil en in die bed het. 'n Goeie vrou is 'n dame in die openbaar, 'n bediende in die kombuis, en 'n slet in die bed, sê die ou grappie mos op die huweliksonthaal. Many a true word is spoken in jest... Ek sien baie dames wat so behandel is, 'n paar jaar later. Die kinders begin uit die huis uit gaan, en sy sien net nie meer kans vir daardie lui bliksem wat net voor die televisie lê, en dan wil pomp op aanvraag nie. Die sprokie het dit nie gemaak nie. Die lig is uit hulle oë uit. En dit is alles omdat pappa die BAAS van sy eie huis is.

Dis waar die onderdanige vrou so uit konteks uit geruk word. Gaan lees dit weer in Efesiërs 5. Vers 21 is die basis van drie verhoudings wat daarop volg. Die beginsel is: Uit eerbied vir Christus moet julle aan mekaar onderdanig wees. My vertaling op troues- omdat jy Jesus liefhet, dien mekaar! As daardie fondament nie daar is nie, val die res baie hard op jou kop inmekaar. Want die drie voorbeelde van die beginsel is: die huwelik- man en vrou wat mekaar dien. Ouerskap- ouers en kinders wat mekaar dien. En werkgewer en werknemer (baas en slaaf...) wat mekaar dien. Tradisioneel het ons in ons kultuur al drie heeltemal gemis...

Ons gesels vandag oor die huwelik. Omdat ons Jesus liefhet, dien ons mekaar- dis die fondament van 'n Christelike huwelik. In die Ou Testament het die vrou wel 'n Raw Deal gekry- die man sal oor haar heers, en sy sal na haar man hunker- Genesis 3. Maar Jesus het tog al daardie vloek op Hom geneem, en alles kom nuut maak. Die beste voorbeeld is sy hantering van vroue in die Bybel. Jesus wat met 'n Samaritaanse vrou van slegte reputasie praat by 'n put in Samaria in Johannes 4- kulturele grense heeltemal opgedonder! 'n man wat met 'n vrou praat, 'n Jood wat met 'n Samaritaan praat, 'n heilige Man wat met 'n sondaar praat... En haar vergewe, en haar 'n nuwe lewe gee... Jesus het die vrou in haar eer kom herstel. Ons sien dit in die voorkoms van vrouedissipels soos Maria Magdalena, Profete soos Priscilla... Kerkleiers soos Nimfa in Efese...

Lees bietjie Paulus verder- hier (in die kerk/ koninkryk van God) maak dit nie saak of iemand man of vrou is, Jood of Griek, slaaf of vry nie- hier is almal een! Hoekom preek ek so hier op my blog? Want dit is nie Christelik om te sê die man is die baas van sy vrou nie! As julle nie gelykes in julle verhouding is wat mekaar dien nie, dan is jy op pad na groot moeilikheid toe!

Die manne behandel so dikwels hulle vrouens soos bediendes. En dan skielik, as die kinders in die bed is, dan wil hy asemrowende seks hê van 'n doodmoë vrou (hierdie een gaan my vrou onder my neus vryf!!!) Menere, 'n vrou se kop werk nie so nie! 'n Man het 'n enkele gedagte nodig, en hy is reg vir aksie. 'n Vrou is soos die bank sonder oortrekkingsfasiliteite. Jy moet eers genoeg krediete opbou voordat jy 'n ontrekking kan maak! As jy 'n fenominale ervaring wil hê- dan gaan dit jou kos! Jy gaan haar soos 'n dame behandel. Jy gaan mooi met haar praat. Jy gaan haar help. Jy gaan ingestel wees op haar (soms onverstaanbare!) emosies. Jy gaan soms blomme koop, en tjoklits, maar nie te veel van laasgenoemde nie. Sy gaan weet dat sy jou eerste prioriteit is, bo jou pelle. En as sy veilig by jou voel, as sy geliefd voel, en nooit oor haar veiligheid hoef bekommerd te wees saam met jou nie, dan gaan jy soos 'n koning behandel word. Dink net bietjie mooi- hoe beskryf jy jou geliefde voor ander mense? Hoor hulle respek? Of is sy maar vir jou net soos jou ou kis BMW- iets wat gebruik word op sy tyd, maar nie iets om oor opgewonde te wees nie? Broers, in julle verhouding met 'n vrou gaan jy maai wat jy saai! Saai liefde, kry baie liefde terug. Saai respek, kry baie respek terug. Saai omgee, en kry meer as wat jy kan opgebruik terug. Maar boetie- saai ongeërgdheid, en kry 'n yskoue skouer terug. Behandel haar soos 'n buffel, en jy kon net sowel jou aan nekrofilie (gaan google dit!) skuldig maak.

'n Man het nie die reg om 'n vrou af te breek nie. Jy is daar om haar te dien. Om haar te help om die mens te word wat sy gemaak is om te wees. Haar lewe moet beter wees omdat jy daar is, jy is nie veronderstel om probleem nommer 1 te wees nie.

Ek staan by wat ek op my hoofblad sê- 'n man wat aan 'n vrou slaan, is laer as haaimis op die seebodem. As jy in my gemeente is, en jy slaan jou vrou, dan sal ek alles in my vermoë doen om haar te oortuig om van jou te skei. Want jy is besig om haar te vermoor. Fisies vat dit dalk lank. Geestelik het die optel van jou hand alreeds 'n kosbare deel van haar doodgemaak. Respek vir jou. Morsdood. En dit vat 'n buitengewone Godswonder om dit ooit weer reg te maak. Dit sit nie in jou broek nie.

Ek het nog baie hieroor te sê, maar my blogs is te lank. So- gaan dink daaroor!

Word vervolg...

Wednesday, July 13, 2011

Mense is hel! Of hulle is nie…

Die Franse filosoof  JEan Paul Sartre het dit gesê: “Mense is hel.”  En hoe dikwels het ek nie al met hom saamgestem nie!
As ek terugkyk oor my lewe, dan is daar mense se gesigte wat opduik by elke insident wat baie seer was.
Ek het al verskeie kere van fietse afgeval. Ek het al dosyne kere van motorfietse en perde afgeval. Dikwels op my kop, en daarom sal ek julle glo as julle sê dit lyk nie of al die varkies daar is nie. Ek het toe ek drie jaar oud was, my linkerarm die eerste keer gebreek toe ek van ‘n tennis skeidsregterstoel afgeval het. Drie jaar later het ek dieselfde arm weer gebreek uit ‘n boom uit.  Ek het al lewendig uit ‘n kop aan kop motorongeluk uitgeklim, wat my geliefde Conquest 16 Valve Sport totaal opgeneuk het.  Ek was besig. Dalk selfs hiperaktief. Natuurlike rampe soos al hierdie het maar gereeld gebeur, dit het dalk permanente lidtekens op die lyf gelos, maar nie op die hart nie.
Daardie tekort aan dopamien het verseker gemaak dat ek nie baie seker van myself was nie, nie in die Laerskool nie, nie in die Hoërskool nie, en selfs nie op Universiteit nie.  Dis eers noudat ek ouer is wat ek begin besef ek kan maar net ontspan, en my lewe geniet vir wat dit is. Ek hoef nie meer die sexyste ou op die strand te wees nie. Ek hoef nie die Argus onder 4 1/2 ure af te jaag nie.  Ek hoef nie alles te weet nie.
Deur die jare heen was daar baie mense wat dinge gesê of gedoen het wat diep seergemaak het. Ek het baie dikwels verwerping in my lewe ervaar. Ek het baie dikwels die gevoel gekry dat ek nie goed genoeg is nie…
Die wonderlike ontdekking is dat ‘n mens nie daardie woorde hoef saam te dra in die lewe nie.  Ek het die reg om te vergewe, vry te spreek, en aan te gaan met my lewe. Ja, mense kan hel wees.
In my werk werk ek baie met mense. En daar is ‘n hele klompie selfs in die kerk! wat ‘n mens se vreugde in die lewe bedreig. Daar is sekere name, as dit op my selfoon se skerm verskyn, wat my eers baie diep laat asemhaal, voor ek antwoord. Elke gemeente het sy kwota smartvrate. Hier by ons is enkele dames wat absoluut genot daaruit put deur my in die supermark raak te loop, en dan vir ‘n uur lank vir my die ellende van haar vier mislukte huwelikke en drie kinders by verskillende vaders te vertel. Of  haar eksman wat vir haar sms’e stuur van wat se f***n teef sy is. Of ‘n oom wat gereeld in kerkvergaderings sal opstaan en vertel hoe die dominees van vandag niks meer voel vir mense en huisbesoek nie…  Rick Warren het gepraat van die EGR mense in ons lewe- “Extra Grace Required… “  Ja, die ding wat my werk die moeilikste maak, is mense. Mense met hulle eie opinies. Mense met hulle eie verwagting. En daardie eie Ek in mense wat verwag dat die dominee dadelik alles sal los, en dadelik aan my alleen sal aandag gee.
Mense word net hel as jy hulle toelaat om dit in jou lewe te wees.Jy kan nie altyd kies wat mense rondom jou doen nie, maar jy kan kies hoe jy daarop gaan reageer.
Haat word kettings wat ‘n mens vasbind, en al jou vreugde uit jou lewe kom steel. Bitterheid kan selfs jou gesondheid kom steel.  Maar ons het die keuse om mense te vergewe, vry te spreek, en nie toe te laat dat hulle optrede die res van my lewe se vreugde kom steel nie. Wanneer ons vergewe, is dit ons self wat vry kom van ander mense se strikke.
Gelukkig is daar ook die ander kant van die muntstuk as ons oor mense praat.  Mense kan ook hemels wees in ons lewe. Ek wil nie nou gesels oor die vreugde van die huwelik (in my lewe) nie. Dit sou ‘n ensiklopedie vra, nie ‘n bloginskrywing nie.  Ek wil nie nou deel oor die vreugde van ouerskap, en die oorweldigende liefde wat ‘n mens gereeld oor jou voel spoel as jy na ‘n bloedjie kyk wat jou ore het nie…
Daar is sekere mense, wat sonder dat hulle dit dalk self weet, so ‘n positiewe verskil in ander mense se lewens maak. Daar is mense, selfs in ons ouetehuis, by wie ek baie meer kry as wat ek ooit vir hulle kan gee. ‘n Siek tannie, wat dalk binnekort gaan sterf, wat nog met soveel liefde eerder wil hoor hoe dit met my en my gesin gaan, sy is nie vandag lus om oor haarself te kla nie.
Ek het vanoggend by ‘n 82 jarige oom in ons gemeente gaan kuier. Daar is longkanker by hom gediagnoseer, en dit lyk asof dit reeds versprei het. Hy moet more die onkoloog in Pretoria gaan sien.  Dan sal daar besluit moet word watter behandeling, indien enige, die pad vorentoe gaan wees.  Hierdie oom leef nie in ontkenning nie. Hy weet dit is ernstig, en dit gaan dalk die laaste skof van sy lewenspad wees wat nou aanbreek. Maar hy is tevrede daarmee.  Hy is steeds gelukkig.  Die lewe is steeds vir hom mooi, en hy gaan voluit leef tot by die einde.  Dit is vir hom belangrik om ‘n positiewe verskil in ander mense se lewens te maak, en daarmee wil hy aanhou tot by die einde.
Ek het vanoggend gaan kuier om hom te bemoedig vir die besoek aan die onkoloog. Ek het daar uitgestap, baie bemoedig dat ‘n mens nie oudword, of selfs kanker en die dood, hoef te vrees nie. ‘n Mens kan jou lewenspad met blymoedigheid bly stap, totdat jy eendag by jou wenstreep aankom. Selfs in die donkerste dieptes sal ons nie verdwaal nie, in die donkerste oomblikke is ons nooit alleen nie. En daar sal steeds elke dag oorgenoeg dinge wees om dankie voor te sê.
Ek moet vir julle sê: Neulende oumense kan my klaar maak. Maar mense wat in wysheid oor jare toegeneem het, wat deur hulle lewenservaring geslyp is, en gepoleer is, sulke mense maak dit weer lekker om my werk te kan doen.  Ek sal die pad saam met hierdie oom kan stap, tot by die einde van sy aardse reis. Ek sal langs sy sterfbed kan staan, en dit sal seker vir my meer beteken as vir hom.
Dit lyk vir my ons het nogal ‘n keuse oor wat van ons gaan word in die lewe. Ons kan kies of ons bitter ou mense gaan word. Of ons kan die res van ons lewe bly groei, en meer en meer vir ander beteken soos ons in wysheid toeneem.  Ek wil graag self kies vir die tweede opsie. Sekere mense maak daardie besluit soms baie moeilik.  Ek glo ek het ‘n keuse wie of wat ek gaan toelaat om my vreugde in die lewe te steel.  En niemand of niks is waardig om dit te doen nie…

Tuesday, July 12, 2011

'n Grillerige storie, nie vir sensitiewe kykers bedoel nie...

In ons huis is ons redelik geseënd met goeie gesondheid. Maar daar is soms net iets wat 'n mens net nie meer met 'n Disprin of 'n goeie dosis kasterolie kan regmaak nie. Aftreksels van sekere soorte diere-uitskeidings help ook nie vir alles nie, en ek sien ook nie meer kans vir die Middeleeuse gebruik van bloedlating nie.  Om hierdie rede behoort die pastorie wel aan 'n mediese fonds. Ek voel skuldig daaroor, want soos Jacobs koffie kan nie almal dit bekostig nie. Maar ek sien ook nou nie kans om vir die Kubaanse dokter by HF te gaan sit vir 'n week met elke klein probleempie nie. Dis nou maar tipies- ons dominees het soms iets beter om te doen as om 'n week in 'n ry by die provinsiale hospitaal te sit... (Ekskuus, ek spot nou iemand, wat graag my blog se kommentaar oorneem. Ek het eintlik geweldig baie deernis met mense wat in daardie posisie is, en dit is nie maklik om so van die Kubaan afhanklik te wees, en nooit te weet of hy nie dalk jou mangels met jou blindederm gaan verwar met sy Spaanse verstaan van jou Boertjie Engels nie.)

Ons het nou weer een van daardie mediese situasies in die huis gehad, wat ek en die loodgieter nie kan regmaak met tang en bloudraad nie. Die oudste merrietjie het verstand gekry. En toe begin die tande wat daarmee gepaard gaan, oppak. Sy het nou al vir 'n geruime tyd gekla van groot hoofpyne en woeste tandpyn. Ek weet hierdie kind van my is regtig baie hardegat, sy kan BAIE pyn vat.  Sy aard na haar ma. Ek kan nie eens in 'n duwweltjie trap sonder ernstige medisinale toediening nie. (KWV 5 jaar oud... askies, soms koop ons so bietjie beter as Klippies en Coke...)  In elk geval, ek weet sommige mense se verstandtande word sommer met die tang in die tandarts se stoel getrek. Nie myne nie, en ook nie my dogter s'n nie. My eie verstandtande het drie jaar gelede baie skielik opgepak. En ek het die wonderlike voorreg gehad dat my verstandtande dwars onder die goeie tande groei. Die tandarts het my al jare gewaarsku dat hoofpyne daarvandaan kom, en dat as ek 'n harde stamp op die kakebeen vat, my kakebeen baie maklik kan breek. En dit gebeur redelik gereeld tydens huisbesoek dat die nie-Jacobs drinkers van koffie my teen die kakebeen slaan, so dit was 'n ernstige beroepsveiligheidsgevaar wat aangespreek moes word.

My vier verstandtande lê toe ook mooi dwars oor die senuwees wat daar loop. Gevolglik, toe ek dit moes laat verwyder, was dit 'n spesialis se werk. Wat dit baie netjies gedoen het. Dit was die eerste keer in my lewe sedert daardie roemryke dag van my geboorte dat ek in 'n hospitaal was, en narkose moes kry. Dit het nie te sleg afgeloop vir my nie. Maar ek het daarna die heerlike voorreg gehad om neuralgie op te doen (ontsteking van daardie senuwees wat boodskappe van tandpyn brein toe sou neem, indien die brein nog in werkende toestand was...)  Hierdie neuralgie was loshande die seerste ding wat ek ooit oorgekom het. Dit voel maar net asof iemand 'n rooiwarm mes die hele tyd in daardie senuwees indruk in 'n mens se kakebeen. En al wat daarvoor gehelp het, was morfieninspuitings. Party mense hallusineer daarvan. Ek het dit nou geniet- dis so lekker om wolkies te rangeer daar bo in die lug. Ek kan verstaan dat Eugene Marais so aan dié goed verslaaf geraak het.

So gebeur dit mos nou dat die oudste toe presies dieselfde posisie van verstandtande by my geërf het. Daar is regtig baie goeie bewyse geneties gesproke dat sy my kind is...  So trek ons toe ook gister in daar by die goeie katolieke hospitaal oorkant die Spar waar Jac de Priester altyd sy Sally Williams Nougat koop. Dogter is heel gespanne, maar nie te veel nie, dis haar derde keer ooit in hierdie hospitaal- sy was ook daar vir gromets in die ore, en vir die verwydering van 'n geboortevlek toe sy klein was. Ma is 'n veteraan van hospitale, na vier kinders ken sy die storie baie goed. En pa is wit geskrik. Die feit dat my eie ma 'n teatersuster was, is nie geneties aangegee nie.

Op die bestemde tyd is sussie in die teater ingestoot. Ons het maar in Wiesenhof ('n koffieshop in 'n private hospitaal- sorry!) gaan Vis en tjips eet. Toe in daardie Spar gaan Sally Williams Nougat koop. En toe ons terug in die kamer kom, is sussie klaar daar, dit het toe vinniger as myne geneem. Maar toe vat dit mos eers 'n rukkie vir die narkose om uit te werk. Daardie pyp wat die narkotiseur insit, maak mos maar baie seer. Ek vermoed dis 'n boorgatpyp van die narkotiseur se plaas af, want hulle maak regtig seer. Ewas moet maar sê... Sussie drink gallonne water, want die keel en die mond is BAIE seer van die begin af. En die pynpille moet nog inskop.

Uiteindelik is sussie met die rolstoel tot by die bakkie geneem.Sy sit voor langs my, want sy word vinnig in die beste van tye karsiek.  Ons is na Ouma se huis toe om die boeties op te laai. Nou wil ons maar so vinnig as moontlik uit die stad uit kom, en haar by haar eie bed by die huis kry. Dit is so kwart voor vyf, lekker in spitsverkeer in. My moed sak sommer in my skoene, want my kind het baie seer.

Ons het net so uit Ouma se meenthuiskompleks uitgetrek, om na die naaste snelweg toe te ry. Hier moet die sensitiewe kykers nou eerder na Anha se blog toe skuif...
toe sussie in my bakkie oorkook, hier reg langs my. Katte skiet. En dis waar ek wens ek so goed soos sy kon spotprente teken. Hierdie episode was waarskynlik baie snaaks vir die spitsverkeer se mense...

Toe ons by my Ma se huis weg is, het die drie boeties baklei, niemand wil agter in die canopy sit nie. Almal wil voor sit, maar ons is net te veel mense vir ons dubbelkajuit bakkie.

Dit het toe gistermiddag in Lynnwoodweg gebeur, in spitsverkeer. Sussie kook oor. Pa trek dadelik van die pad af, spring uit, en kook ook oor agter die bakkie. Sorry- gross- ek weet! Ek het net hierdie een ding so lank as wat ek kan onthou: As iemand naar word, word ek saam naar. Ek kan dit nie help nie. As ek naar ruik, dan word ek naar. Ek was nooit goed met babadoeke nie. Enige sulke liggaamlike uitwerpings by watter opening ook al vang my. Dis hoekom ek nie my familie se mediese tradisie kon voortsit nie.  En ek wou so graag 'n ginekoloog word!

In elk geval, toe ek klaar maak voor die helfte van Pretoria se laggende inwoners, sien ek al drie seuns sit agter in die bakkie. En lag saam vir my, die klein bliksems! Hulle het deur die bakkie se agterruit in die Canopy ingespring toe sussie daar voor begin sleg voel.  Ek kan eenvoudig nie terugklim in daardie bakkie nie. My liewe vrou kan al hierdie dinge hanteer, en sy bestuur maar terug na my ma se meenthuis toe. Terwyl ek terugstap in Lynnwoodweg af. Terwyl ek die hele tyd steeds rukbewegings hier binne voel... Heelwat later het ek ook daar by Ouma se blyplek uitgekom. Sussie het reeds gebad, en in die bed geklim. Vroulief het die bakkie binne uitgewas- ek skuld haar ten minste 'n uiteet in 'n restaurant, nie net uit die blikkie boeliebeef uit nie. En 'n heerlike warm borrelbad, en 'n glasie vonkelwyn (JC le Roux, nie Moët et Chandon nie...)

Ons het toe maar gisteraand oorgeslaap in die groot en bose stad. Vanoggend het ons uiteindelik sonder verdere voorval huis toe gery. Maar ek verstaan dit nie- so ver ons in Lynnwoodweg afry, wys mense vinger na ons redelik unieke kleur bakkie, en begin histeries te giggel... Dis om van naar te word.

Tuesday, July 5, 2011

Australian Masterchef, that other naked guy and I…

Ek het ‘n werk wat maak dat ek ander tye as die meeste normale mense werk.  Ek is byna elke weeksaand van so vieruur tot na negeuur uit die huis uit, besig met vergaderings of om mense tuis te besoek. Dikwels bid ek vir kinders se mangeloperasies, tannies se spatare, of vir wysheid of die man daardie derdehandse Tatabakkie moet koop of nie. Dit kan nogal frustrerend raak!

Maar in die vakansietyd kry ek kans om bietjie saam met my gesin voor die televisie te parkeer. En in ons huis is dit nie 7e laan (bestaan die laan nog?) of Binneboudknypers nie. Nee, elke aand stiptelik om half sewe skakel ons oor na ‘n program uit die mees onverwagte oord- Australië! Nou weet ons almal daar het, buiten Nicole Kidman, nog nooit iets goeds uit Australië gekom nie. Maar hierdie program, gemaak deur die nageslag van uitgesoekte voorouers, is vir ons uitstekend! Australian Masterchef.  Dis vir ons een van die beste realiteitsprogramme ooit. Dit is nie naastenby so vennynig soos Idols nie, nie so voyeurfees soos Big Brother nie, en nie so uitgerek soos Survivor nie. In elke episode kry ons nuwe idees,  wat ons ook maar nooit gaan uitprobeer nie. Maar dit is fantasties om te sien wat alles moontlik is om met kos, en mensehande, en geduld, en ‘n moerduur kombuis reg te kry!

Veral toe die klompie nou Engeland toe was, en nog boonop vir Jamie Oliver daar raakloop en by hom leer kook, toe raak dit eers lekker. Ons hou van die Naakte Kok. Omdat hy so ooglopend geniet wat hy doen. Omdat hy nie ‘n saak het met die reëls van die spel nie, en altyd bereid is om iets nuuts te probeer.
En dan kan ek my boonop verkyk aan die Twee Hairy Bikers as hulle kosmaak…  Party ouens kyk Fashion TV vir hulle kieks, nog ander soek snaakse programme met arm meisies wat nie klere het nie,  om besig te bly.

Maar ek- sekere kosprogramme is vir my so lekker ontspannend!  Ek word verlei deur ‘n netjiese snit vleis, gestop met eksotiese kruie en speserye, aan die brand gesteek met ‘n duur dop. Ek wens so ‘n mens kon die eindproduk ruik. Ek wens so ek en my geliefde kon om ‘n tafel in ‘n wonderlike intieme klein restaurantjie sit, en om ‘n kers se lig daardie ontploffing van smake persoonlik ervaar! Terwyl Joshua Bell vir ons saggies op sy viool speel.

Ek wil nou graag van hierdie geleentheid gebruik maak om teenoor julle te bieg: ek is baie, baie lief vir lekker eet! Ongelukkig doen ek dit te veel, en daarom sukkel ek om soos Ryk Neethling te lyk in Jenna Clifford se posters. Ek is gewoonlik ook redelik tevrede met ‘n basiese braai, soos pap en wors, of een van verskillende snitte steak, met of sonder sous, met of sonder gebakte aartappel, altyd medium rare.
Maar ek is nie soos van die Vrystaatse boere wat ek net na Weermag bedien het in ‘n plattelandse gemeente nie. Ek ken van daardie manne wat elke liewe dag van sy lewe sy stukkie kookvleis, rys, en aartappels wil eet, miskien met boontjies en pampoen. Elke dag. Behalwe Vrydagaand wanneer hy by die dorpsklub kan staan met sy twotone hemp, rugbybroekie, rugbykouse en vellies. Daar braai hy dan sewe skaaptjops, laai die kas Castle van sy bakkie af, en geniet dit alles met ‘n enkele wit bun.  (Dis ook lekker op sy tyd!) Daar is ook van hulle wat regtig dink groente se doel is net garnering op ‘n bord.  Soos toe ek op Piet Plessies destyds vir ‘n onderhoud was, en die manne sê: “Hier eet ons net vleis, en as ons lus is vir groente, dan eet ons hoender…”

Ek is nie so nie.  Daar is wel sekere goed wat ek nie graag eet nie. Brussel sprouts, vanweë my ongelukkige ervaring in die skoolkoshuis in die koue Vrystaat sal nooit weer as kos kan klassifiseer nie. Sousboontjies was ook totaal uit, maar ek het in Spanje geleer om enige iets te eet wat energie kan gee vir die volgende dag…  Behalwe- daardie rioolreuk van ‘n vuil afval sal my nog steeds oortuig om ‘n dag te vas, eerder as om saam te eet! Daardie fotos van Maankind gister van sekere Oosterse geregte sal ek ook nie kan inkry nie, nie eers op Fear Factor as daar ‘n mijoen Rand op die spel is nie. Ek eet nie fetusse van enige aard nie, ook nie huisdiere soos hond of kat nie.  Goudvis en budjie kan dalk oorweeg word…

Ja, die een ding wat ek geniet, is om verskillende kosse uit te probeer. Dit was vir my ‘n regte treat toe my een baie goeie vriend my die dag aan sushi voorstel, saam met ‘n vars droë witwyn- nooit voorheen gedink ek kan van een van die twee hou nie. Ek het baie van Melide in Spanje se Pulpo gehou, (opgekookte, gekapte heel seekat.)  België se warme wafels, Istanbul se Beiti Kebabs by Doi Doi’s agter die Blou Moskee. En Durban se Brittania Hotel se Bunny Chows! Vars seekos by die Muisbosskerm by Lambertsbaai. Vlakvarkboud by Mabalingwe naby Warmbad.  Sulke geleenthede is hoogtepunte in my lewe! Ek droom nog daarvan om  ‘n Michelin ster restaurant te besoek, en ek droom van ‘n besoek aan  Reuben Riffel se restaurant in Franschhoek.

Kan ek self kos maak? In my ouerhuis het my pa die vleis gebraai, maar hy is nooit naby ‘n stoof in sy lewe opgemerk nie. Toe ek in Standerd 9 was, het ek die eerste keer met Potjiekos kennis gemaak. Ek het gesien hoe ‘n familievriend dit maak. En ek het die bestanddele onthou, maar nie die hoeveelhede nie.  Ek het by ‘n volgende geleentheid my eerste potjie gemaak: Stukkies beeskookvleis, aartappels, boontjies, wortels in goue pennies gesny, met ‘n sousie van blatjang, tamatiesous en worcestersous gemeng.  Die groot probleem het gekom met die speserye- ek kon nie onthou hoeveel kerrie om in te gooi nie. Toe gooi ek maar die hele pakkie extra strong Masala in! Ek het dit op brood bedien, maar my gaste het een na die ander met trane in die oë  verskoning gevra, met dringende dinge wat hulle elders moes gaan doen het. Toe moes ek maar self my eie potjie opeet- die trots van die tienerseun is legendaries. Maar daar was 2 liter melk nodig om weer gevoel in my mond terug te kry!
Vandag kan ek ‘n baie lekker vleisie braai. Ek het met my eerste salaristjek ooit my eerste Weber gekoop, en hom verlede jaar finaal opgebraai.  Ek kan basiese boerekos in die kombuis maak op die stoof, maar het nog nooit iets probeer bak nie.Ek kan ‘n redelike goeie potjie aanmekaar sit, en het al vir 600 mense in die gemeente op een slag ‘n Potjie voorberei.

Maar ek wens ek kan nog baie verbeter. As die Masterchef se mes so blits deur die wortels op die kapbord, dan wens ek dit was ek. Wanneer mense op televisie enige chefopleiding kry, dan begeer ek om ook daar te wees. Een van die grootste vreugdes in my lewe is om kos vir gaste op te skep, wat ek self vir hulle gemaak het. As ek Masterchef kyk, is my aanbieding nie naastenby op enige standaard nie. Maar as mense lekker eet aan my kos, dan blom ek!  Dalk moet ek en vroulief net so nou en dan een van die groot resepte neem en dit self probeer doen. Goeie vriende nooi, ‘n botteltjie diep rooi op die tafel kry, en kuier tot die son opkom.

Tuesday, June 28, 2011

Camino de Santiago stories hier...

Liewe drie vriende, ek kon nie in Spanje alles dubbeld doen soos altyd nie.

Omdat meer mense my blog op Litnet gelees het voor die trolleprobleem daar, het ek in Spanje op Litnet geskryf.  Net vir die inhoud van Spanje, kom kuier gerus by
 http://blogs.litnet.co.za/Bileamsedonkie


As die Caminostories klaar geskryf is, kom ek terug na hierdie as die primêre stal vir Bileam se Donkie, ek belowe!


Die Donkie is 'n wonderlike ding!

Friday, May 27, 2011

'Cause I'm leaving, on a Jetplane...

Liewe vriende, this is it! Vandag is die dag. Die reis het vier jaar gelede al begin toe my goeie vriend in die kaap my een aand na 'n CAmino bekendstelling toe gevat het. En toe het ek net kennis geneem, en gewonder wanneer gaan hy. Ek kan mos nie stap nie, ek kry altyd blase onder my voete, die rugsak is deur die duiwel self uitgevind, dit gaan te duur wees, as my motorfiets petrol in het sal ek eerder soontoe ry... verskonings verskonings verskonings. Net nie ek nie.

Tot ek verlede jaar skielik agtergekom het die ouderdom bekruip my, soos 'n luiperd maak met 'n pasgebore rooiboklammetjie, jy kan net niks teen die bliksem doen nie. Skielik sien ek my pa as ek in die spieël kyk. Die tannies in die gemeente begin opmerkings maak van hoe wys ek nou begin lyk. (wat de hel beteken dit???) En die oudste kind moet einde 2011 uit die huis uit gaan. Gesien in die lig van 'n blog of twee terug, lyk dit tans na nie 'n slegte idee nie. Maar wanneer jou kinders begin huis verlaat, lui 'n klokkie êrens wat verskriklik hard begin skree: jy word nou oud! En soms is dit nog 'n slegte idee. Ek werk ook in 'n ouetehuis met mense, en daardie fase wat almal uitgedra word en voor die televisie geparkeer word vir al e-tv se heruitsendings van ou sepies- jong, ek vrek liewer op my motorfiets as om ooit daar te kom. Jy weet, daar waar 'n man 'n halwe viagra moet begin drink om nie jou skoene nat te piepie nie.

En verlede jaar het die saadjie begin opkom: gaan stap daardie Camino, so veel van hom as wat jy kan inpas. Breek vir 'n slag uit die groef uit, gaan doen iets avontuurliks waaroor jy die ander ou omies eendag langs die piskrip kan vertel as dit so ure vat om watertjies te passeer met die knypende prostraat. Die frustrasieklier.

Daarom het ek daardie raad gevolg van: die verskil tussen 'n droom en 'n reis is 'n vliegkaartjie. Flight Centre se moer, dis baie goedkoper om self op die internet te koop, as deur hulle. Ek vlieg lekker Lufthansa vanaand- ek hoop daai Duitser agter die stokke het goed geslaap, en dat vandag nie die dag is wat hy weggeraap word, soos Hal Lindsey al voorspel het in die 70's nie- die gelowige vlieënier word weggeraap, en die res van die passasiers gil al die pad ondertoe nie. Nee, dit gaan nie vandag gebeur nie. Ek hoop ook Ahmed the Suicide Bomber is eerder saam met Malema op Ethiopian Airways op pad om Gaddafi te gaan besoek.   Ek wil nie weer op 'n Vrydag met Egypt Air in Kaïro aankom nie. Laas keer toe dit gebeur, toe kyk almal na my, en val op die grond neer op sulke klein matjies, en buig voor my. Soveel waardering kan ek nie hanteer nie.

Soos die dinge nou staan, is ek more en Sondag in Madrid, en Maandag vat ek die pad met die trein of bus Leon toe. Sal Dinsdagaand by die Roomse gevaar se huisies begin slaap, en Woensdagoggend begin werk aan die blase op my voete. Ek is steeds skytbang, want dit begin na groot werk klink om 'n rugsak oor die berge te dra.

Maar nou ja, dis my eie skuld, so ek gaan die beste daarvan maak. Gisteraand het ek mooi vir mamma en die kinders tot siens gesê. Ons het pizza en Coke gehad, ek en mamma het die vier nefies besoek. Daarna het ons vir die kinders smarties op die grasperk gaan uitgooi...  Het darem ses ure se slaap ingekry voordat die opwinding te groot begin raak het, en ek die rugsak uitgepak het, en weer ingepak het. Kyk of die yskas nie dalk ook êrens kan in nie. Maar die laptop wil net nie...

So, ek hoop daar gaan kans wees om so nu en dan met julle te kommunikeer. Dalk kan ek êrens by 'n internet kafee vashaak, en bietjie sê waar ek is, en hoeveel blase daar op my voete is.  Hoe tapas nou eintlik proe, en hoe die bier is.  As dit nou nie so dikwels gebeur nie, hou goeie moed, as die Duitser nie weggeraap word nie is ek weer rondom die 25e Junie op die lug, by die huis.  Baie dankie vir julle vriendskap die afgelope twee maande, daar is nogal wonderlike mense versteek onder die litnet bloggers.

Mooi bly, en lewe voluit daar waar jy met jou lewensreis op pad is!
Die Donkie
Onderwerpe:  camino  

Wednesday, May 25, 2011

Die demoniese invloed van esterogeen in die plattelandse pastorie... Die begin van my doktorale verhandeling.




Daai Kamperende manne het nou wel gesê ons gaan weggeraap wees/ in Oktober word/ met die volgende moontlike geleentheid wreed tot 'n einde kom/ saggies heengaan in ons slaap (skrap wat nie van toepassing nie en stuur 'n donasie).

Die ander dominee van Rant-en-Dal het in die sop beland oor alles die demone se skuld was, of nie is nie. Die Kaapse sinode het gesê jy moet nou self besluit of daar 'n duiwel is of nie. Die astronome sê asteroïde Toutatis tref ons 21 Desember volgende jaar, of nog 'n groter klip, Aphopis in 2029. (Dit gaan op 13 April 2029 plaasvind, donasies op die link hieronder asseblief mense, kyk of ons daardie klomp sissies by Family Radio se skamele $104 miljoen kan wen...)
Openbaringe sê die einde kom met vuur, en dan sal daar 'n geween en gekners van tande wees. En die astroloë sê waterdraers soos ek is slim en sexy, die res van julle is redelik in julle moer, want Venus beweeg verby die Ram onder die Bul se wakende oog, en die Tweeling is elders besig om nie meer 'n Maagd te wees nie.

Al hierdie dinge is redelik minieure verwikkelingtjies in vergelyking met die vreugde van om 'n tienerdame groot te maak.

Daar is twee esterogeenfabrieke in my huis. Moeder en dogter. En vanaand is oom niek en sy seweduisend demone weer los in die pastorie. (moet dit net nie vir die Ringskommissie van Krugersdorp sê nie, ek het nog so paar paychecks nodig voor die wegraping in Oktober). Soos ek hier sit, is ek redelik die hel in (moet dit ook nie vir oom Angus sê nie, ek sal weer beter word voor die volgende aartappeloes!) Ek probeer nog Oscar Wilde se raad volg, ek moet immers binne 48 uur land-uit vlug.  'n Man moet probeer voor bly. Jy moet jou aandele hoog hou. Maar nee, die demone het weer losgetrek in die huis. En nou is die jonge dame met haar se scooter die strate in, dik die bliksem in vir ma. En ma sit met opgepompte wange, dik die bliksem in vir sussie.  Ek en die boeties staar verslae na Australian Masterchef, ons verstaan nie hierdie dinge nie. Ons hou van vrede.

So as iemand êrens op die N1, vanaf Messina tot Melkbosstrand my dogter vanaand sien op haar scooter, sê vir haar haar pappie verstaan. Ek het ook so op my motorfiets rondgejaag as die storms hier binne woed. Deesdae skryf ek maar eerder blogs, petrol en agtertires raak te duur.
Hoe gaan julle haar herken? Wel, in die bui wat sy vanaand is, lyk sy so min of meer so:


Foto geleen by: http://www.geeks.co.uk/21282-newsbeats-from-la-la-land-7


Tuesday, May 24, 2011

Positiewe denke, die Ferrari en die vulkaan...

Adage vra netnou wat lees ons. Ek het vanmiddag klaargemaak met Robin Sharma se boek: "The Monk who sold his Ferrari." Ek weet hierdie boek gaan te geestelik wees vir party, te Boeddisties vir ander, en te cheesy vir sommiges. Maar ek het dit regtig geniet. Of te wel, ek het die 200 bladsye vinnig tussen gister en vandag in 'n A6 grootte sakboekie opgesom, dat ek in Spanje daaroor kan loop en dink.

Die een ding wat ek uit al my oordenkinge die afgelope ruk leer, is hoe geweldig belangrik die manier is waarop ons dink. En dan veral die manier waarop ons met onsself praat- die innerlike dialoog vir die literêre mense, die "self talk" vir ander soos ek.
Dis nogal waarmee die Ferrari storie begin- hoe ons gedagtewêreld soos 'n tuin is, wat goed bewerk moet word. Dit beteken, anha, dat ons nie te veel stront daarin moet toelaat nie...  Ek verstaan dit nie, want is dit nie juis die stront wat die tuin groen maak nie? Dis mos wat Keith Kirsten en daai Robertse tannie van die kruie gesê het: keep it organic, do it in the garden...?
In elk geval, as jy nou so mooi tuin het soos Keith en Antie Margaret, dan is jy daarop ingestel om die onkruid gereeld uit te trek.  En dit is die drift van wat baie van julle ook op my vorige pos voorgestel het.  'n Mens moet weer kyk hoe ek dink.

Ek is nogal bekommerd daaroor. Behalwe dat Tina die padwoede uitgewys het as iets verkeerd, en nie behulpsaam om sommige idiote net wakker te maak voor hulle iemand seermaak nie, is daar ook ander gedagtes wat maar gerus kan waai.  Ek is redelik geneigd daartoe om my eie beste vyand te wees. Ek gee dikwels nie eers iemand anders kans om iets sleg vir my te sê nie, ek doen dit sommer self. En dit blyk verkeerd te wees, volgens die Ferrarilose priester.  Daar mag in jou gedagtetuin geen onkruid groei nie. Niks negatiewe gedagtes nie. En as jy sou dwaal daarop, dan staan hulle vir 'n halfuur onder 'n yskoue waterval. Daar is net nie een van hulle (yskoue watervalle) naby my huis nie, sal die stort doen?

Nietemin ('n domineewoord wat die kollegas by Tukkies se engeltjiefabriek aanleer, hulle almal sê dit graag in hulle preke!), al sê die Boeddiste dit, sê die Bybel dit ook. Lyk my dis beproefde, eeue-oue waarhede. In die Bybel staan: "Wees veral versigtig wat in jou gedagtes aangaan, want dit bepaal jou hele lewe..."
Dit wat ons dink, is dit wat ons gaan doen. Dit wat ons 'n paar keer doen, word vir ons 'n gewoonte. En ons gewoontes het 'n reuse invloed op ons karakter, wie ons werklik is, en wat ons vir ander mense kan beteken.
Dit beteken, soos ek nou oor die goeters sit en dink, dat 'n mens sal moet aanleer om darem nie jou eie vyand te wees nie. Los dit maar vir skoonma.  Wanneer ons positiewe dinge dink, (sê iemand anders se boek onlangs vir my, lees ook so baie dat ek nie meer kan onthou nie, maar as dit joune is- thanks!) kan ons brein glo nie onderskei tussen die gedagtebeeld en die werklikheid nie. Neander moet maar help hoe dit werk- 'n mens se brein begin dan nuwe neurologiese paadjies bou om daardie droomkonsep waar te maak. Positiewe energie word gegenereer, wat 'n mens 'n baie beter kans gee om suksesvol jou droom te bereik. Maar as jou drome net nagmerries is, en jy sien altyd net die negatiewe en doom en gloom oral waar jy gaan (soos baie van my liewe mede-kerkmense!) dan gaan jy ook nooit self uit die gemors uit opstaan nie. Jy word jou gedagtes. Dis Zen en die Bybel wat so sê, en blykbaar het neurologie ook iets daarmee uit te waai.

In elk geval, ek wil graag my negatiewe gedagtes begin omsit in positiewes. Dis een van die goed wat die Ferrarilose Een gesê het- as jy in die openbaar 'n begeerte uitspreek om te verander, dan is die kans baie groter dat jy dit sal doen. Mense kan jou dan accountable hou vir jou wens. Ek wil nie meer vir elke oumens wat 40 voor my ry (sorry Tina en Maankind!) hardop of in my kop sê: jou stadige... donker Afrikaanse woorde... nie. Ek wil vriendelik waai  en verbysteek sonder om my wiele te spin. Jou dag moet sommer beter wees as ek jou verbysteek in die hoofstraat van Hermanus... of Heynertsburg... Ek wil nie dadelik meer die ergste verwag nie- soos verlede week toe die prokureur my soek en ek dadelik wonder wie wil my dagvaar nie. Dit was toe net my buurman in die meenthuiskompleks wat sy motorhuis wil toebou en almal se toestemming moet kry. Hoekom verwag ek altyd dadelik die ergste? Kon die prokureur nie net gebel het om te sê ek het toe regtig die Eurolotto gewen, en daar word 900 miljoen Britse Pond oorbetaal nie? En dan is dit net vir een maal nie TB Joshua in Nigerië se neef se nuutste 419 scam nie?

Ek sal nie meer dadelik dink die ergste gaan my tref nie. Ek gaan voluit leef, en 'n positiewe verskil maak in elke mens se lewe wat my pad kruis. Sommige f***** idiote se kommentaar gaan ek net ignoreer, (derde keer se deurgaan: dalk moet die Donkie eerder hier sê: Geliefde, andersdenkende, mileu-gestremde mede-aardbewoners, en potensiële vriende as ons mekaar net om 'n bottel rooiwyn kon ontmoet...), ander liewe vriende se kommentaar gaan my lewe verryk en my 'n beter mens maak.  Ek gaan meer tyd saam met my vrou spandeer. Ek gaan my kinders se eerste stappe na sukses saam met hulle vier.

Daar is net twee goed wat op die oomblik nog buite my bereik lê soos ek dit nou sien:
Ek weet nog nie hoe om vir my 'n Enzo Ferrari te koop, dat ek nie langer die Ferrarilose Priester is nie!
En kan iemand asseblief daardie donderse vulkaan in Ysland se bek toestop dat ek wel Vrydagaand Spanje toe kan vlieg en my een Bucket List droom kan waar maak op die Heilige Jakobus se weg?


Die Priester begeer hierdie Ferrari- is dit nie die sexyste lyne ooit nie, behalwe nou miskien 'n paar susters op aarde s'n? Foto êrens op die internet gesteel lank lank gelede as voorwerp van intense oortreding van die 9e gebod: Jy sal nie jou naaste se Enzo Ferrari begeer nie!

Ns. Ek het nie 'n idee hoe om Boeddis te spel nie, Lewies, en ek is nou heeltemal te lui om in die HAT dit te gaan opsoek. Die vorige keer het ek darem 'n aangename verrassing gekry met die woord vir 'n vierkantige klein seiltjie voor op 'n kleinerige seilvaartuig se boeg...
Ek dink nou moet ek my groentetuin gaan bewerk deur een van my vriende se rooiwyn te gaan help opsuip (vierde deurgaan; dalk sal dit mooier klink om te sê: Pastoraal verkeer rondom die edele vrug van die wingerdstok..." )

Friday, May 20, 2011

Skotland en Magersfontein, o Magersfontein

Behalwe nou vir die verbande boek van Etienne le Roux wat die Hertzogprys gewen het in 1979, was daar regtig so 'n ligte ou skermutselingtjie tussen die Boere en die Britte op 11 Desember 1899. Dit het 'n hele paar ouens se Kersfees en Eeuveranderingpartytjies geruïneer.  Die Slag van Magersfontein was veral vir die Black Watch Regiment van Skotland nie pret nie. Lord Methuen het hulle beveel om met gevelde bajonette op die Boeremagte se loopgrawe te marsjeer, wat hulle met groot dapperheid gedoen het. Methuen was egter so effentjies onnosel om dit te beveel, want die Boeremagte was ingegrawe in loopgrawe (wat een of ander ander onnosele ou die idee van loopgrawe gegee het vir die 1e Wêreldoorlog. Die 2e Regiment van die Black Watch het swaar verliese gely.

Generaal Wauchope het 'n briljante nagmars in die Soedan gehad tydens die slag van Omdurman, (in 1898)  en het dieselfde taktiek hier in Suid-Afrika probeer. Dit was 'n ligte ou glipsie. Van die ouens in die loopgrawe het geweet hoe om 'n Mauser 7x 57 mm te hanteer. Hulle het verder die Boeremagte wakker gemaak, maar nie beseer nie, met liddietbomme uit die artillerie, wat agter die Boeremagte geval het (hulle was toe heelwat nader as wat die Engelse vermoed het). Die Engelse en veral Skotse regimente het begin marseer voor sonop, en teen dagbreek was hulle in netjiese rye opgelyn, so 370 m van die Boereposisies, toe die Boere begin vuur het. Ene Majoor Benson het Wauchope teen sy strategie gewaarsku, maar hy het geantwoord: "... I'm afraid my men will lose direction. I think we will go a little further."  generaal Wauchope was een van die eerste mense wat in hierdie veldslag gesterf het.  Vir 'n wyle was die Skotte vasgekeer deur akkurate Mauservuur, totdat die Coldstream Guards en Gordon Highlanders as versterkings opgedaag het.  Die Grenadier Guards het 'n omsingelingsbeweging van die Boeremagte gestuit. So het die Highlanders die hele dag in die son gelê en dekking slaan, totdat 'n Boer met 'n wit vlag na hulle toe gery het en toestemming gegee het dat hulle mediese spanne hulle gewondes van die slagveld kon verwyder. Hier was nog soveel beter maniere tussen vyande as in die 1e Wêreldoorlog. 'n Britse vlootkanon het die skietstilstand later verbreek. Dié keer is 'n Engelsman met 'n wit vlag oor na die Boere toe om om verskoning te vra- die een offisier het nie gehoor van die skietstilstand nie, (is hy dan doof?)  Die Boere se kanonne het om 17h30 vir die eerste keer daardie dag op die Britse magte  begin vuur, en Methuen het sy magte teruggetrek om by die Modderrivier kamp te hergroepeer die volgende oggend.
Die Black Guard het die meeste slagoffers vir die Slag van Magersfontein gehad, met 303 offisiere en manskappe as slagoffers vir die dag. Wauchope se lyk is 180m van Genrl Cronjé se loopgraaf gevind.
Die omstandighede in die Modderrivier kamp het later tot uitbreek van Tifuskoors gelei, en soos die Britse soldate na Bloemfontein toe teruggetrek het, is tussen 10 000 en 12000 van hulle met die siekte getref, wat tot 1200 sterftes gelei het.

Een van die Black Watch se manskappe het hierdie gediggie geskryf oor die dag:
"Such was the day for our regiment,
Dread the revenge we will take.
Dearly we paid for the blunder
A drawing-room General's mistake.

Why weren't we told of the trenches?
Why weren't we told of the wire?
Why were we marched up in column,
May Tommy Atkins enquire…"

Private Smith, December 1899.

Vir al hierdie manskappe wat van die Black Guard gesneuwel het in die Suid-Afrikaanse oorlog, is hierdie standbeeld in Edinburgh opgerig. Nee, jy mag nie inloer om te kyk wat word onder 'n kilt gedra nie.

En ja, die Britte het Magersfontein gewreek by Paardeberg, waar Generaal Piet Cronjé met 4017 man oorgegee het. Die oubaas wou nie na Generaal Koos de la Rey de la Rey, sal jy die Boere kom lei, de la Rey, de la Rey luister nie, en het die hele familie saamgevat in die ossewa vir sy oorloggie.  Toe Kitchener opdaag, het hy so waar as wragtag 'n laer met sy waens gemaak, soos in Bloedrivier faam. Sy laer is uitmekaar geskiet deur die Britse artillerie, iets wat die Zoeloes nie by Bloedrivier gehad het nie. So het die held van Majuba sy alie gesien. En die gang van die oorlog gedraai.

Ek is nou nie een van daardie ouens wat graag die Vierkleur wil terughê nie. Ek haat ook nie die Engelse nie. Die Boere-oorlog bly vir my 'n baie interessante stuk geskiedenis, en die ordentlikheid wat daar in hierdie oorlog was, tot die Britte die konsentrasiekampe en die Scorched Earth beleid begin het, was opmerklik.  Dit was net interessant toe ek en vroulief in Edinburgh rondstap, en op hierdie standbeeld afkom, om die geskiedenis weer te gaan oplees.

Thursday, May 19, 2011

'n Bileam spesiale kunstoekenning!

Vandag was ek in NG Gemeente Moreletapark se restaurant. In die restaurant is hierdie pragtige kunswerk van my!

Hy is vir net R300 te koop! Ek het nie vandag geld by my gehad nie, maar ek dink ek moet 'n plan maak om hom te gaan koop, dit sal nogal baie mooi in die studeerkamer lyk!

Tuesday, May 17, 2011

Tempest Fugit- die tyd vlieg

Of eerskomende Saterdag, of 21 Desember 2011, of êrens in 2029 het die uurglas vir die mens uitgeloop. Dis nie wat ek as dominee van die grootste susterskerk sê nie. Dis wat my liewe blogvriende wild en wakker oor skryf op die oomblik.
Party ouens spot. Ander probeer vinnig sondetjies toesmeer of bely. Nog ander gaan probeer om vir die ANC te stem.  Dalk help dit om oom Jaap Z se raad te volg?

Ek, die dominee, slaap nog steeds rustig. As die einde kom, dan kom dit. As dit nie kom nie, dan wil ek voluit lewe. Nie uit vrees vir die asteroide wat ons gaan tref 21 Desember 2012 of 2029 nie. Nie vir die taxi wat bo-oor my wil jaag as ek op my motorfiets in die groot en bose stad Pretoria dit waag om siek mense te gaan besoek nie.  (Ha-ier harabbiem.... die woorde waarmee Ninevé in Jona beskryf word- vir die wat alles graag in Hebreeus wil hê. ) Ek wil nie in vrees lewe vir wat 'n Malema alles met ons land kan aanvang nie. Ook nie wat die volgende idiotiese witwolf tipe met 'n vuurwapen kan aanvang nie. Ek wil nie in vrees lewe dat ek nou 'n ketter is omdat die Wes-Kaapse Sinode die Belhar belydenis aanvaar het nie. Ek wil net lewe. En in die lewe wat ek hier op aarde het, wil ek graag 'n positiewe verskil in ander mense se lewe maak.

Die een ding wat egter waar is, is dat tyd uitloop. Elkeen van ons het net 'n bepaalde tyd op hierdie aarde. Dit kan Saterdag klaarmaak, of eers oor 70 jaar. Maar ek en jy is sterflik. Die dood wag vir elkeen van ons. Niemand is op die oomblik ouer as 114 jaar in hierdie wêreld nie. Ons elkeen word ouer in ons liggame- elke jaar neem die kragte so bietjie af. Elke jaar vat dit so bietjie meer van my om te oefen vir die Argus. Elke jaar is dit so bietjie moeiliker (nee, wag, dit was die sedoos se skuld...)

Een van die mooi ou gesange sê: "ure, dae, maande, jare, gaan soos skadus stil verby, niks wat met die loop van jare, onveranderlik kan bly..." met die mooi woorde van Psalm 103, die beeld van veldblomme in die woestyn, wat daarop volg.
Iemand het op 'n muur in New York se moltreintonnels die woorde gegrafiti: "Death is life's way to stop everything happening at once..."  Dalk is die teenoorgestelde eerder waar- die dood wat oor elke mens se skouer loer, bring ons in aksie om soveel as moontlik met ons lewe te doen, want hy is eintlik kort en gaan vinnig verby.

Daarom, liewe gemeente, mag ons nie uitstel om goed te doen nie! In die Christelike geloof is "vandag" baie belangrik. Jesus leer ons bid vir vandag se brood. Hy sê ons moenie bekommer oor die dag van more nie, vandag sorg die Here vir sy kinders (soek dit self in Matteus 6 en 7).  Vandag is ook die dag van redding, sê die Ou Testament...

Wat ek met my liewe blog vriende wil deel: daar is net soveel dae en soveel geleenthede om voluit te lewe. So baie geleenthede is net eenmalig. Ander kan so dikwels opduik, en as jy dit nie gebruik nie, raak dit saggies weg soos reënwater wat in die sand wegsyfer. Jy kry geleenthede met jou lewensmaat om goed te doen, om die klein dingetjies reg te doen, om hom of haar te dien met jou menswees. Die Kaapse Sinode was reg- die man is nie die hoof van die huis nie. Vir die gelowige lesers- Efes 5:21 sê in my woorde: Omdat julle Jesus liefhet, dien mekaar...  Vir die ongelowige lesers- as jou verhouding net oor jouself gaan, is jy 'n poepol en besig om jou gat te sien- op 'n dag is dit weg. Capisce?  Ouers kry geleenthede om kinders te begelei op die pad na grootword. Dit is veronderstel om 'n wonderlike avontuur te wees, wat jy elke dag saam met jou kind verbaas kan staan oor hoe wonderlik die lewe, die heelal, die wetenskap (ja, Neander, jy lees reg!) die kuns en 'n geloof wat nie op oordeel nie, maar op liefde gebou is.  Daar is geleenthede elke dag. Maar jy kan so baie van hulle mis deur jou eie belange en jou eie Ek, dat jy die kosbaarste dinge heeltemal kan mis. Die dood wat vir elkeen van ons wag, kom waarsku dat tyd vir elkeen van ons uitloop, en op 'n dag is dit verby.  Het jy darem gedroom? Het jy soms 'n droom vir jouself waargemaak? Het jy soms van jouself gegee, sodat iemand anders se drome waar kan word?

Ek dink Jeanne het eendag vertel van 'n ander geloof wat aan die anderkant van die dood vir elke mens sou vra: het jy joy in jou lewe gehad, en het jy joy aan ander gebring? Dit is ook 'n waarde wat ek as Christen heeltemal onderskryf. Ek verstaan die vraag in ons geloof: Het jy werklik liefgehad? Soveel so dat jy jouself opgeoffer het?

Die Sandkorreltjies loop. Nou gaan ek Bybelstudie hou saam met 'n groepie dames van 60-90 jaar, en ons gaan dit geniet om saam oor die Here se liefde in sy liefdesbrief te lees. Mense wat heelwat ouer as ek is, verryk my lewe so ongelooflik met hulle liefde. Daar is ook ander... lees van my ander blogs soos Gatvol.  Maar ek kan ook kies hoe ek die geleenthede gaan gebruik, en gaan reageer op elke mens.  Mag jou dag geseënd wees, en mag jy vandag iets positiefs vir iemand anders beteken!



Sunday, May 15, 2011

Die wonderlike broederskap van die motorfietswêreld



Vanoggend het ons na 'n plattelandse dorpie toe gery, waar hulle Hoërskool 'n motorfiets breakfast-run aangebied het.  Ek het dit net weer verskriklik baie tussen die motorfiets broers en susters geniet.

Die  een ding wat so wonderlik is in hierdie wêreld, is dat jy nie op 'n sekere manier moet wees om in te pas nie. Nou ja, jy moet 'n motorfiets hê, en die mense gaan vir jou lag as jy met  'n scootertjie daar aankom. Maar verder, as jy dit met daardie motorfiets op die oop pad kan waag, is jy deel van ons. Ons sal onder mekaar spot oor die verskillende brand- names. Harleys is altyd vir ou ooms wat nie meer self kan regkom nie. As jy 'n Harley ry, is daar waarskynlik fout met jou prostraat. BMW's is vir juppies. Of ou has-beens. Ons ouens met Italiaanse fietse kan nogal snobisties lyk- veral as dit die Ducati brand dra (ek ry die ANDER Italiaanse fiets, nie Vespa nie!)  Die Japannese superfietse word gereeld met mekaar vergelyk. En al lyk ons asof ons nie belang stel nie, hoor ons graag van ervarings anderkant die 300 km/h zone.  Daar is die cruisers, die superbikers en die duallers. En elke groep is met trots verteenwoordig op so 'n breakfast run. As dit op twee wiele is, en self aangedrewe is, dan is jy my broer of my suster.

Daar is ouens met die nuutste fietse, hopelik gaan die BMW 1000 RR se foto êrens voor die 21 Mei wederkoms laai. Vinnige goed, jaloerse kyke, maar tog gun ons jou dit. As jy die geld het, geniet dit. Daar is ook arm ouens, (soos ek) wie se fietse ouer as 'n dekade is. Daar is mense wat op interessante maniere hulle wiele aan die rol hou. Hulle is net so deel van die broederskap soos mnr Harley of Mnr 1000RR. Dalk verdien hulle selfs nog meer respek!  Hierdie fiets hierbo het die lewe begin as 'n Moto Guzzi, êrens in Italië. En het ek nou lekker met die eienaars gesit en gesels vanoggend! Die oorspronklike enjin wou net nie meer nie. Hy wou elke 10 000 km nuwe ringe hê, nes wyle tannie Liz Taylor op haar dae.  En eendag het die trotse eienaar genoeg gehad. Hy het die italiaanse ingenieursvernuf se trots uitgeruk, en seker van 'n krans gaan afgooi. Toe het hy 'n Dayhatsu Charade se enjin geneem, en dit aangepas tot dit in sy raam kon inpas. Ook 'n 3 silinder, dit lyk net so effens anders as jy die punte daar agter die groot lugfilter kan sien uitsteek. So het 'n simpel karretjie se enjin deel geword van 'n man se droommasjien. Die eienaar sê hy kan tot 200 km/u haal, maar is op sy gemaklikste op 150 km/u.  Hy trek stadig weg, soos 'n Dayhatsu, maar as hy eers op spoed is, kan hy kaap toe ry.

En dit is wat ek van die motorfietswêreld bewonder. Daar is nie nog so 'n fiets in die wye ganse wêreld soos hierdie Guzzi nie, en tog is die eienaar net so deel soos die res van ons. Elkeen wat hunker na die vryheid van die oop pad, elkeen wat nie omgee om soms nat te reën nie, elkeen wat in die spitsverkeer lag vir die mense in hulle metaalboksies, hulle is familie. Party is regtig kunstig ingekleur deur die tattoo parlor, ander is dominees undercover soos ek. (Die tattoo kom nader!)Enige beroep is welkom, enige inkomstegroep, enige ras, veral vrouens is baie welkom, kinders kan soms geskok wees, plattelandse gemeentetannies met houdings moet eerder wegbly.

As jy val, sal jou broers jou ophelp. As jy bier het, sal jou broers jou help opdrink. As jy eensaam is, sal jou broers vir jou vir 'n spin vat. As jy weird is, sal jou broers jou aanvaar, want elkeen is tog mos maar uniek? As jy 'n poepol is, sal jou broers jou uitsorteer, as jy vriendelik is, sal jy baie vriende hê.  Langs die pad groet ons mekaar, al ken ons mekaar nie. Dis nou behalwe daardie manne van Morelethapark, hulle groet niemand nie want hulle is rykgatte... Die res van ons voel tuis by mekaar.

En dis hierdie tipe ervarings wat 'n mens nodig het om mens te kan wees, en te voel die lewe is die moeite werd.




Friday, May 13, 2011

EK soek ‘n nuwe donkiekar- hoe nou gemaak?


Die lewe bly darem net vol keuses. En partymaal is daar heeltemal te veel opsies. Gestel ons het nou in die ou Oos-Duitsland gebly. Dan het iemand met my kwalifikasies ‘n fiets gery van Peoples Democratic Bicycle Factory #43, voorheen bekend as die Treblinka Konsentrasiekamp. Daar was dan twee opsies: met of sonder ‘n klokkie. Standaard in swart.  Het ek nou wel ‘n doktorsgraad in ruimtefisika gehad, het die opsies al heelwat verbeter- dan kon ‘n mens ‘n Trabant gekoop het. ‘n Mens het selfs ‘n paar opsies daarop gehad. Die De Luxe model het uitgekom met ‘n standaard 10 pond hamer, waarmee ‘n mens die carburettor geslaan het as hy nie wil vat in die 9 1/2 maande Oos Duitse winter nie. ‘n Verdere luukse was dat hy dan ook verf op gehad het. Jy het ‘n keuse gehad tussen Kruschev Kapoen ( daardie mengsel tussen pampoen en… jy verstaan…) en Stalin Seesiek- so blouerige groenerige mengsel. Die standaard model het net in een kleur uitgekom- Gagarin se Geroeste Metaal. Dit het vanself gebeur wanneer die motortjie uit die fabriek uitry, en sy naakte staal die suurreën vir die eerste keer ontmoet het- Rustic Rusty.
In die Democratic Peoples Republic of Azania, viva Comrade Malema, viva, het ons egter baie meer keuses. As ‘n mens nou swart was, met ten minste standerd 4 op jou naam, en jy het vriende gehad wat vernoem is na ‘n melkgebasseerde drankie in die Wimpy, dan het jy gewoonlik ‘n hele paar luukse motors gehad, een by elke huis vir mamma, en een by elke huis vir jouself- 20 S klas Mercedesse, of 7 reeks BMWs.
As jy sy Mini-me was, viva Comrade Malema, viva,het jy agt swart Range Rovers gehad, Een vir jou en jou nuutste squeeza, en sewe vir die manne met die swart pakke, wit hemde en rooi dasse.  Dalk nog een net vir al die magasyne van hulle gunne ook.
As ‘n mens egter wel op universiteit was, en wit is, en ‘n vervoertoelaag het, dan lyk sake bietjie anders. Eers belas die regering ‘n mens op 100% van jou vervoertoelaag. Jy hou 57% daarvan oor. Dan belas hulle jou petrol-  nog 20% van jou vervoertoelaag weg. 37% oor. Nou moet jy ‘n kar gaan koop. ‘n Nuwe een het dadelik ‘n emissionstax, wat glad nie gebruik word om besoedeling te bekamp nie, nee, daar word plaaslongdrops op Viljoenskroon daarmee gebou. Jy moet die “emissions” ruik wat daar uit kom! Op jou nuwe kar vat die staat nog 14% BTW- jy het nou 23% oor van jou vervoertoelaag. Maar jy moet budget vir die Gauteng tolskandaal, wat nog R2000 per maand gaan vat van jou vervoertoelaag, of te wel 25% daarvan. Jy het nou -2% van jou vervoertoelaag om ‘n kar mee te gaan koop.  Die enigste voertuig wat dalk nog bekostig kan word, is die bicycle model 7 uit die People’s Democratic Republic of China se Bicycle factory #43 aan die buitewyke van Beijing. Vir ‘n paar rand ekstra gee die China Shop jou ‘n klokkie, wat gewaarborg is om te hou tot jy by die voordeur van die winkel uitstap.

Om welke rede Bileam se DOnkie se nuuste voertuig nou tien jaar oud is, met 200000 km op die klok. Sou ek nou wel ‘n nuwe voertuig kon bekostig, is daar ‘n klein probleempie. Wat koop ek?
Ek benodig iets met wiele waarmee ek in die gemeente kan rondjaag. Verkieslik iets goedkoops, met ‘n diensplan tot op 120 000 km, wat darem 500 000 km op die enjin sal gee, teen 4 l/ 100 km. Daar moet ses mense inpas, en vir die basaar moet daar vleis in groot hoeveelhede vervoer kan word. Dit moet ‘n helse hoë grondvrye hoogte hê om by die boere op die wildsplase uit te kom, en ‘n lae dak om by die ouetehuis se “boom” deur te kan kom.  Dit moenie te luuks wees nie, dan dink die gemeente ek kry te veel geld. Dit moenie te armlastig lyk nie, dan stop die spietkops my by elke padblokkade as hulle my met oom Robert se mense verwar.
Elke motorhandelaar in ons dorp raak skielik weg as hulle my by die voordeur sien instap. As ek uitstap, hoor ek hoe die verkoopsmanne histeries begin te giggel. Ek is so effens verward op die oomblik, en weet nie wat om te besluit nie. Kan jy my dalk raad gee?

Thursday, May 12, 2011

Die komplot van Felix Astera teen die ganse mensdom...

Ek was vanoggend by my tandarts.  Hierdie besoek is vooraf gegaan deur baie gemoedswroeging, want ek is een van daardie mense wat so vrees uitstraal teenoor 'n tandarts, dat dit hulle selfmoordsyfer opjaag. Dis glo baie gevaarlik om 'n tandarts te wees- selfmoord is 'n ernstige beroepsrisiko.  Maar myne het dit nog nie oorgekom nie, anders sou ek dit dalk vanoggend agtergekom het. 
In elk geval, my tandarts het een kyk na die gebreekte tand gegee, en toe sy kop meewarig geskud. "Hierdie gaan jou baie seerder maak as vir my," het hy gesê. Toe het daar allerhande inspuitings en gasmaskers toegeslaan op my vreesbevange liggaam daar in die gat bo kop sitposisie in die stoel. My tandarts se stoel lyk nog nie soos die Spur se sitplekke nie. Dis ook nie so lekker ervaring soos 'n Draught en hammie in die Spur nie. En baie, baie duurder!  In elk geval- ek pass toe maar uit van al die vreemde chemikalië wat deur my are spoel. 'n Mens sou dit kon beskryf deur te sê dat ek vanuit die helder wit lig in die donker tonnel inbeweeg het... 
 Ek is vaagweg bewus daarvan dat iemand oor my leuen, en my heen en weer deur die gesig klap. Dis die tandarts wat klaar is met sy argeologiese opgrawings in my agtertand. Ek moet nou wakker word en loop, daar sit nog baie mense in sy spreekkamer om aan sy Mercedes en Wildsplaas te betaal.   In elk geval, ek strompel daar uit, val in my bakkie in, en jaag huis toe. Gelukkig ken die dorp se spietkop my, hy weet as ek jaag is daar 'n groot krisis in die gemeente, meestal in my eie huis. 
Toe ek by die huis kom, het die lewe begin terugkom in my mond. Ek het toe maar op die bed gaan lê, totdat die wêreld vir 'n slag ophou om so vinnig te draai. Ek weet ons moet teen 29 km/s om die son kom, en 365 1/4 rotasies voor Oujaarsaand 24h00 voltooi, anders is 'n jaar mos nie meer 'n jaar nie, en gaan niemand meer weet wanneer verjaar hulle of is dit Krismis nie.  
Einstein die Kat
Toe ek so op die bed gaan lê, kom die kinders se kat, Einstein, langs my lê. En wat nou gaan volg, is baie belangrike inligting wat asseblief aan Jaap Zuma en Barack Obama oorgelewer moet word, ons almal se lewens hang daarvan af.
Die kat, Einstein, foto hierbo, kyk my so met meegevoel aan. En skielik praat hy. Ek jok regtig nie nou nie! Ek het my doodgeskrik. Die kat sê vir my: "Jy lyk sleg, né!" Ek sê vir hom- "jy is 'n mooi een om te praat! Gelukkig sit ek nie my eie gat en lek in die son soos jy nie!" Die kat kry so verleë glimlag om sy mondhoeke.  Maar hy laat hom nie afsit nie, eintlik hou hy nogal van my- ek koop vir hom Pedigree katkos. HY sê vir my dat hy iets op die hart het om met my te deel, wat sy eie lewe en myne in gevaar stel. Ek dog dis dalk 'n rotplaag in die dak, wat die builepes weer gaan laat opvlam. Ek wil hom net vra wat hy daaromtrent gaan doen, toe sien ek hy lyk ernstig. Hy moet die volgende met my deel, sê hy.
Stephen Hawkins was toe reg gewees. Daar bestaan inderdaad iets soos paralelle heelalle. Einstein (dis nou my kat, nie Albert nie) vermoed dat Hawkins se kat ook iets uitgelap het. Soms raak katte baie lief vir mense, en dan praat hulle uit. Maar meestal sal hulle net optree asof ons nie bestaan nie. Behalwe wanneer die yskas oopgaan. Ek gaap van verbasing. Hoe ken Einstein vir Stephen Hawkins, en wat weet hy van paralelle heelalle? Ek weet dan nie eers iets daarvan nie? 
'n Paralelle heelal (universe) is 'n hipotetiese (net vir ons- 'n hipotese bly dit totdat dit bewys of die teendeel bewys is, dan is dit 'n feit of 'n mite) selfonderhoudende realiteit wat saam met die ervaarde realiteit saambestaan. Dalk is my vertaling effens kreupel. Einstein het hieroor geskryf op Wikipedia terwyl ek geslaap het en my rekenaar aan vergeet het: "A parallel universe or alternative reality is a hypothetical self-contained, separate reality coexisting with one's own. " In hierdie alternatiewe heelal is die basiese natuurwette anders, daar is nie relativistiese beperkings nie, en die spoed van lig kan oortref word, aldus Einstein. Uit wat Einstein graag vir my wil vertel, is daar 'n paralelle heelal aan ons s'n, wat net deur 'n enkele kwantumgebeure van ons af geskei word.  Dieselfde tipe dinge gebeur meestal dieselfde in verskillende wêrelde. Maar in hierdie paralelle heelal, genaamd Felix Astera (die Kat-ster konstellasie) is die huiskat die kroon van die skepping. In daardie heelal hou huiskatte mense aan as troeteldiere. "Onthou jy wat het jy met my knaters gedoen, Bileam? In daardie heelal het ek... " Ek val hom dringend in die rede- sekere goed wil 'n man nie hoor nie. 
"Nou wat wil jy vir my vertel, Einstein- wat is so dringend dat jy jou lewe in gevaar stel vir my?" Die kat kyk my met ou, wyse oë aan. 'n Ligte glimlag speel om sy mondhoeke. "Ek wil jou waarsku- julle is in gevaar! Jy moet voorbereid wees daarop." 
Die kat begin my die hele storie vertel. Die planetestelsel rondom die Kat-Ster het 'n groot krisis begin beleef. Hulle weergawe van die asteroide Toutatis wat ons aarde gaan tref op 21 Desember 2012 op die Suidpool (google dit, kyk self!), het deur die gravitasie van hulle son van wentelbaan verander, en  teen hulle derde planeet gebots. Dit het die wentelbaan van hulle planeet baie effentjies verander.  Maar met die miniatuur gradeverskil van hulle wentelbaan het hulle planeet se ellips om die son jaar na jaar, bietjie vir bietjie, na die son toe begin indraai. Stadigaan is hulle planeet besig om al nader aan die son te beweeg. Temperature styg elke 1000o jaar met 1 graad Celsius. Binnekort sal dit egter by hulle soos op ons Mars begin word, te warm vir water om 'n vloeistof te bly, en plante sterf uit, hulle verdroog letterlik soos die son nader kom. 
Die katte se wetenskaplikes is baie ver voor die menslike wetenskap. Hulle het meer as 8000 jaar gelede al uitgevind van paralelle heelalle, en ons s'n ontdek. Hulle het ook uitgevind van 'n ander dimensie van tyd, wat reis tussen die heelalle moontlik maak deur 'n sogenaamde "worm-hole". Waar is hulle heelal? Dis wat ons nog nie kan verstaan met ons wetenskap en ons konsepte van lengte, breedte en hoogte nie. Daar is 'n vierde dimensie, tyd, en 'n vyfde dimensie, wat ons nie eers in ons tale met woorde kan beskryf nie. Dis by ons, en terselfdertyd aan die ander kant van die heelal. Die portaal van hierdie worm-hole is die Sfinks by die piramides net buite Kaïro. (Dis hoekom dit die lyf van 'n kat het, en die kop van 'n mens. Verstaan jy? Obviously nie!)
Vier duisend jaar gelede het hulle 'n afvaardiging katte na ons wêreld toe gestuur met die opdrag: gaan vermeerder, vul die aarde, en rapporteer terug aan ons. As die mensdom op sy weerloosste is, kan hulle baie maklik oorgeneem word met 'n vinnige staatsgreep.
Dis waarmee die katte die afgelope vier duisend jaar besig is. Die katte het so vermeerder dat byna elke huis in die wêreld 'n verteenwoordiger van Felix Astera in hulle huis akkomodeer. Die kat steur hom nie veel aan sy "eienaar" nie, want eintlik besit hy reeds op papier die huis, die inhoud en die mense. Hy is wel afhanklik van die kos wat ons hom gee, en sal so nou en dan 'n muis van om ons te laat dink dat daar n doel aan sy teenwoordigheid in ons huis is . 
Die probleem met die katspesies wat op aarde voorkom, is dat dit verouderde tegnologie is. Die kat se pels is so ontwerp om van ons son se strale om te skakel in elektriese energie. Dit help die kat om vir so ongeveer 14 jaar te kan opereer, voordat sy sisteme ingee en hy ophou funksioneer. Daarom lê die kat graag in die son. Hy herlaai sy batterye. Die foto-elektriese eienskappe van die pels word nog deur water bedreig, omdat dit sulke ou tegnologie is, is dit baie vatbaar vir kortsluitings. Daarom sal katte so ver moontlik water vermy. As jy 'n kat sien wat van bad hou, moet jy ekstra versigtig wees, dis 'n nuwer weergawe, wat baie meer gevaarlik as die ouer modelle is. Wanneer 'n mens 'n kat streel, dan word ekstra energie opgewek. Die kat maak 'n hoorbare vibrasiegeluid. Ons mense is gekondisioneer om te dink dat die kat die aandag baie geniet, wat veroorsaak dat ons langer aanhou streel. Wat in werklikheid gebeur is dat die wrywing op die pels sekere statiese energie opwek, genoeg om die kat se interne kommunikasietoerusting (vermom om soos 'n linkernier te lyk) aktiveer, en dan word kort, bondige sit-reps na Felix Astera gestuur. 
Die katte weet dat die aarde teen 21 Desember 2012 'n radikale verandering gaan beleef. Die Mayas se katte, en Nostradamus s'n, het dit per ongeluk uitgelek. Een of twee Hollywood grootkoppe se katte het ook per ongeluk iets laat val terwyl hulle base hoog was op kokaïene- dis waar rolprente soos 2012 en Next vandaan kom. 
Daar is nie veel wat ons daaraan kan doen nie. Maar Einstein wou net gehad het ek moet weet. Want op 22 Desember 2012 word ek sy troeteldier in hierdie heelal. 
Ek weet dit klink heeltemal na net 'n storie. Maar as die mensdom betyds gewaarsku is, kan Nasa dalk nog iets doen daaraan, soos daai fliek wat Bruce Willis vir daai lelike ou van Aerosmith wat op American Idols is, se pragtige dogter en ons almal red, deur 'n gat in die asteroide met 'n olieboor te gaan boor.  As iemand vir oom Jaap Zuma persoonlik ken, of weet hoe om met die Withuis te kommunikeer, moet hulle asseblief hierdie inligting aanstuur! Dit sal dalk nodig wees om die Obamas se kat net eers te elimineer wat sekere inligting van hulle af weghou. (hierdie woorde het nou net die FBI se triljoende dollar rekenaar diep onder die aarde onder Washington DC geaktiveer, en in Amerikaanse Engels vertaal. Die pos sal binne minute verdwyn, soos reeds met Litnet en Blogger vanoggend gebeur het.)
As ek binnekort ook verdwyn, moet julle weet waar dit vandaan kom. Die beste raad is om nou dadelik te gaan en 'n kat te gaan skiet. Julle is gewaarsku, maak gereed, die einde is op pad! 

Wednesday, May 11, 2011

Kerkraadsvergadering- die lelikste woord in Afrikaans!

Hierdie is weer een van daardie vier dae in 'n jaar in my lewe. Dit werk presies net soos 'n vrou wat aan erge PMS ly. 'n Mens weet hier kom 'n gemors. 'n Mens weet ook jy kan niks daaraan doen nie. Dit gaan kom. Dit gaan jou van jou voete af slaan en soos 'n reuse golf oor jou spoel, jou teen die rotse vasslaan dat jy bloei, en dan gaan die haaie jou lewendig opeet. Gelukkig gebeur dit op die oomblik nie so baie soos PMS nie, maar dis amper net so gereeld. Vanaand is Kerkraadsvergadering.

Van my eerste dag as jong domineetjie in 'n gemeente was dit die een ervaring van die kerk wat ek nog nooit kon verstaan nie. Kerkraadsvergadering.

Graphic- Sherman Kuik

Kom ons gaan kyk na die oorsprong. Op 'n dag het Jesus van Nasareth daar langs die See van Galilea geloop, en 'n paar vissermanne gesien. Hy het hulle op die naam geroep, en gesê: "Kom, volg My!" Later het daar nog so 'n windverwaaide tollenaar bygekom, 'n politieke fanatikus (Malema van 30 n.C!) 'n geldgierige wolf. 'n twyfelaar. Soos die beweging gegroei het, het al meer mense deel geword daarvan- eers die straatvroue en bedelaars. Melaatses, kreupeles en blindes, wat by Jesus genesing ontvang het.  En hierdie groepie het vir drie jaar saam met Jesus deur die land beweeg, en mense se lewens kom aanraak met liefde en aanvaarding. Ek lees nêrens van 'n vergadering daar nie.  Toe spyker die goeie mense Jesus aan 'n kruis vas. Dit was nie goeie vergaderingsprosedure nie, en beslis nie kerklik korrek om die Seun van God dood te maak nie.  Maar Jesus het die dood oorwin, en daarmee 'n nuwe lewe vir elke mens moontlik gemaak. Toe gaan Hy huis toe, om vir sy pelle plek gereed te maak. En Hy stuur die Heilige Gees, om die klomp slapgatte nuwe moed te gee, sodat hulle kan vertel van die nuwe lewe en hoop wat in hulle is. En skielik het die manne verander- hulle wat weggehol het toe Jesus gekruisig is, het skielik nuwe moed gehad, om in lewensgevaar iets anders te vertel as wat die wêreld of die kerk van daardie dae graag wou hoor.

Hulle het gegaan, en die wêreld gaan vertel dat Jesus die Here is. Die kere wat hulle bymekaar gekom het, sien ons in die Bybel, was gekenmerk deur saam eet en saam bid.  En so het die Here sy kerk gebou. Tot in Konstantyn se tyd so 3 eeue later. Skielik het die kerk fênsie geword, en mag gekry. Skielik het alles in die geloof baie formeel begin word. Geboue, getalle en geld het belangrik geword. Sukses is daaraan gemeet. Verhoudings was nie meer so belangrik nie.  En deur die jare, eeue en millenia heen het dit so gebly- getalle, geboue en geld (Stephan Joubert se term, nie myne nie!) Die bose drie-eenheid van die kerk.

Martin Luther het gesê die kerk moet weer verstaanbaar vir die gewone ou wees. Die Bybel moet in sy taal wees. En Martin Luther het 'n paar major changes gemaak aan die kerk, waarvoor ek wel baie dankbaar is. Maar hy het dalk nie ver genoeg gegaan om weer die "amp van die gelowige" te herstel nie.

Ek verstaan die kerk as 'n klomp mense wat saam opgewonde is oor Jesus, en die verskil wat Hy in ons alledaagse lewe maak. Mense wat deur die Heilige Gees nuut gemaak is, om vol liefde, vreugde, vrede, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing te wees.  En wanneer daar dan leiers gekies word, dan is Geesvervulde manne en vroue saam besig om in nederigheid die pad te soek waarop die Here sy kerk wil lei, om 'n verskil te maak in hierdie wêreld.

Nou die realiteit. Hier voor my langs die rekenaar in die koffieshop lê 'n pak papier, halfpad so dik soos my Bybel. Dit is die Sakelys vir vanaand se Kerkraadsvergadering. Dit begin met die Notule van die vorige vergadering. En die notule van die Buitengewone- baklei-oor- geld vergadering van die kerkraad. Dan is daar die verslae van verskeie kommissies, wat dalk nie noodwendig iets gedoen het die afgelope kwartaal nie, maar tog baie woorde en papier gebruik om te sê wat alles gedoen sou kon word, indien daar wel geld beskikbaar was. Daar is 'n lys van mense wat graag in ons gemeente wil inskakel, omdat hulle gatvol vir hulle dominee en kerkraad is. Dan is daar 'n lys van mense wat graag uit ons gemeente wil uitgaan, omdat hulle gatvol vir my en ons kerkraad is. Ring a ringa rosies...

Om vanaand voorsitter van die kerkraad te wees, moet ek my Kerkorde goed ken. Ek moet vergaderingsprosedure goed onder die knie hê. Almal moet gehoor kan word, maar nie te veel nie. Almal kry een spreekbeurt op elke agendapunt, sodat ons nie more middag eers huis toe gaan nie. Vanaand is ons Broer en Suster, en ek is Broer Voorsitter.

Op 'n punt van orde, Meneer die Voorsitter, wat het geword van dissipels wat saam met Jesus langs die See van Galilea sit, en saam om die kampvuur, vis in die hand,  besluit waarheen ons volgende wil gaan? Meneer die Voorsitter, hoekom word so baie bome opgekap vir al die papier wat ons weer gaan genereer, maar verskil maak in die gemeenskap- dit is nie eers 'n A5 blaadjie vanaand nie.
Broer Finansieële Voorsitter, verduidelik weer hoe ons so ver onder begroting met die inkomste is? Broer Gemeentebediening- verduidelik hoe die duur dominees beter aangewend kan word deur nog beter en meer huisbesoek te gaan doen- as die dominee eers daar was, sal die mense betaal! Suster Jeugbediening- waar is al die kinders deesdae? Ons moet die kinders aanspreek, dan sal die ouers weer kerk toe kom. Broer Bazaar- hoeveel beeste gaan daar wees vir die Bazaar? Julle moet asseblief saamwerk, die hele derde kwartaal gaan opgeslurp word om 'n goeie Basaar te hou, dan kan die boeke dalk klop.
Broer leer en aktueel, weet jy dat die Wes-Kaapse Sinode vandag oor die Belydenis van Belhar praat? Bel vir wie?

Broer Voorsitter, hier is heeltemal te veel mense wat buite die eg spyker in hierdie gemeenskap! Daardie ou daar oorkant jou is in geen kerk nie, hy suip soos 'n vis, sy ouma het gebel, gaan spreek hom aan!

Ek tel die dae af. Nog tagtig normale kerkraadsvergaderings voor ek kan aftree. Tagtig keer se stadig doodgaan.  En dit kan so anders wees!

Broer Voorsitter, hoekom hoor niemand jou as jy sê hierdie skippie wil nie meer float nie?

My droomhuis in Skotland...

Dins 10 Mei 2011, 21:15     Daar is seker baie huise wat sou kon aanspraak maak op die titel: Droomhuis.
Daar is daardie lawwe monstrositeite op MTV se Cribbs en ander "lifestyle of the rich and fatap"- tipe programme. Daardie huise wat selfs 'n tv in die kleinste kamertjie het, vir die kere wat jy die ringsitting op witbank  moet bywoon.
As ek die Argus so amper klaarmaak, dan dondereer ek gewoonlik daar deur Clifton, Bantry Bay en sulke plekke van my fiets af as ek sien watter huise bou mense, en watse seeuitsig daar van hulle nederige aardse tentwoning moet wees.  As daar nou nog net 'n Aston Martin Vantage in die R4 milj-enkel-garage-uitgekap- in- die- rots kon staan, dan kan baie mense lekker droom.

Daar is die een huis wat baie gereeld in my gedagtes opkom. Ek het in 2006 in Skotland gaan probeer om heel te word, sodat ek nie 156 grein lood onnodig mors nie. Die lewe het alle sin verloor. Ek het al voorheen geblog oor hierdie ervaring van heelword.

Terwyl Modderkoekie na haar nuwe grond in Skotland gaan kyk het, het haar fotos my weer aan 'n baie wonderlike ervaring laat dink, ten midde van die donkerste tye van my lewe. Ek was aanvanklik alleen by 'n heelwordsentrum naby Huntly in Skotland. 'n Baie geseënde, wonderlike mens het uit sy sak betaal dat my liewe vrou enkele dae later by my kon aansluit, om deel te word van die pad na genesing.

Dit was November in Skotland.  Dit was herfs. En in die natuur was daar die ongelooflikste palet van kleure. Oordadige rooi, geel, oranje op elke boom geverf. Dit was baie, baie koud, al het die sneeu nog nie gekom nie. Die dae was baie kort, en die ligintensiteit baie laag- elke foto moes baie lang lensopeninge kry om sinvol te wees.

Ek en my vrou het die een dag gaan stap. Sommer net gaan stap. Ek het nog bronchitis gehad, en my longe uitgehoes. Maar ons het die paadjies gevat.  Skotland is 'n baie, baie ou land. En daar was die ongelooflikste ervaring van heel word, van sommer net genesing ervaar in die stap. Op hierdie seerste dag van my gesondwordproses het ek van my mees kosbare fotos geneem.

Baie naby die een piepklein dorpie het ek en my vrou voor hierdie huis gaan staan. Daar was niemand tuis nie, dit was seker iemand se naweekplekkie. Maar daardie huis het skielik die simbool geword van alles wat ek so graag in my lewe wou hê. Al wat ek wou hê, is 'n huisie soos hierdie, wat myne is. In 'n plek waar niemand in die aand deur die venster gaan klim met 'n mens om my vir my selfoon te vermoor nie. 'n Plek waar ek nie eers die gordyne hoef toe te trek as ek nie daar is nie. Ek sou bitter verbaas wees as daardie voordeur gesluit was.

In my geestesoog het ek die huisie gesien soos wat hy 'n maand later waarskynlik sou lyk. Met 'n laag sneeu oor, wat alles kom bedek. Met 'n warm vuur in die kaggel. Met die vrou van my drome in my arms voor daardie kaggel, toegewikkel in 'n lekker dik kombers, terwyl ons 'n glasie rooi sherrie drink. En met hierdie prentjie in my kop het ek besluit om die lewe weer 'n kans te gee.  En die lewe het besluit om my weer 'n kans te gee. Die lewe het sy onderste draaipunt gemaak, daarvandaan kon dit net beter. Skielik was daar weer 'n pad om te loop. 'n Nuwe brug om oor te steek.

My geliefde het die hele pad saam met my gestap, al het dit haar 'n baie groot emosionele prys gekos. Ek hoop ek kan eendag vir haar so 'n huisie gee, waar ons saam kan woon, met 'n kaggel wat brand in die winter, met 'n warm kombers en 'n glasie rooi sherrie. In 'n plek waar ons veilig kan wees, sonder lede van die bevolking wat ons dood wil hê, net omdat ons wit is, en kerkmense wat ons weg wil hê.

Ek dink baie dae aan daardie huisie in Skotland. Ek ken nie die mense aan wie dit behoort nie. Dalk het hierdie huisie 'n totaal ander verhaal wat hy vir iemand anders vertel. Dalk is ek verkeerd om so baie aan 'n besoek aan 'n eenvoudige huisie te koppel. Maar somtyds droom ek nog...

Monday, May 9, 2011

Die vreugdes van 'n eenvoudige lewe...



Foto:  http://astrangerintheland.blogspot.com/


Die afgelope ruk het ek baie gedink oor die lewe. Daar is so baie perspektiewe op lewe. So baie verskillende opinies en teorieë.  En ek luister graag op blogs na verskillende mense se sienings, sonder om in argumente te verval, want ek dink niemand van ons weet regtig soveel as wat ons dink ons weet nie.

Ek het die afgelope ruk deur redelike diep waters in my persoonlike lewe gegaan.  Die lewe slaan my ook maar soms gat oor kop, en vir  'n plattelandse dominee is daar nie altyd 'n skouer om op te huil nie.
In hierdie tyd het ek weer 'n keer uit die boek Prediker gelees vir myself, en by 'n hele paar geleenthede vir ander mense.(So uiteenlopend soos die VLU se provinsiale kongres en 'n motorfietsrally!)

Daar is so baie dinge wat 'n mens nie weet nie. Die Prediker sê dit ook, hy noem dit telkens 'n gejaag na wind- selfs om wysheid en kennis bymekaar te maak. Maar daar in Prediker 9: 4 en verder word 'n paar mooi dinge gesê.
Dit wat vir my baie beteken op die oomblik, is die beeld dat ons ons brood met vreugde moet eet, ons wyn met blydskap moet drink, ons hare olie, wit klere aantrek, en die lewe geniet met die vrou vir wie ons lief het.

Die een ding wat oor en oor vir my uitstaan, is dat die lewe se grootste vreugdes in die eenvoudige dinge lê. Om daagliks brood te hê om te eet. Om tyd te maak om dit te geniet. Om wyn te kan drink, en geniet (sorry, al julle Bible-bashing geheelonthouers!) Ek het netnou die vier nefies se botteltjie rooi oopgemaak, en 'n glasie geniet terwyl ek 'n klompie van my nuwe vriende en vyande se blogs gelees het. En dit verskaf my groot blydskap- die wyn, en die meeste blogs...Daar is 'n hele klomp van julle wat ek om 'n vuurtjie in die Bosveld sou wou ontmoet, en 'n glasie saam met julle drink.

Die beeld van olie in die hare en wit klere is die teenoorgestelde van om te treur, met as in die hare en geskeurde klere. Om jouself te versorg, en 'n keuse te maak om gelukkig te wees vandag. Ja, ek weet daar is verskillende soorte depressie- ek het ook een van hulle. Ek voel vanaand al weer baie melankolies, sonder enige rede. Miskien dalk tog die dood van familie en vriende, wat nou ernstig begin tref.  My beste vriend se huis wat gister sonder 'n moeder was vir die eerste keer, dit blixem my baie hard.  Maar ons het ook keuses in hoe ons kies om op te tree- 'n tyd om te lag, en 'n tyd om te treur- Prediker 3.

Om die lewe te geniet met die vrou wat ek liefhet- dit is baie maklik, na 21 jaar van getroude lewe. Ek is liewer vir haar nou as daardie mooi herfsoggend by die Klipkerk in Bloemfontein. Sy voel nie so lekker vanaand nie en het vroeg gaan lê. Ek verlang na haar, en vriende, en soveel ander dinge, en daar is nie 'n goeie boek om te lees nie...
Die vrou wat ek liefhet is die ma van my kinders. Ek was vier keer saam met haar in die kraamsaal. Ek het vier keer die wonder van geboorte gesien, al was die een keer die absolute angs van 'n noodkeiser (hy is nou 11 en niks fout nie, dankie dat jy vra!) Ek was twee keer magteloos buite die teater waar 'n skraap na 'n miskraam gedoen moes word. Ek het die wêreld se respek vir my vrou, en ek dink sy is die beste ma wat my kinders ooit kon hoop om te hê. Gister het ek vir haar 'n vinnige ontbyt in die bed gegee (muesli en jogurt, maroelasap en rooibostee) net voordat ek mos hardloop om vir die gemeente te gaan nagmaal bedien. Ek het na kerk vir haar middagete gemaak: alweer kerriehoenderpotjie (ek weet darem hoe om een of twee ander dinge ook te maak) met  gemengde groente, aartappels en rys. Met 'n botteltjie Robertsons rooi, en sjokelade mousse en vla vir poeding.Om saam met haar, en my kinders om 'n tafel op Moedersdag te sit, en almal lewe, en almal is gesond- dit is genade! Vir my is dit baie kosbaar. Dit maak my 'n ryk man.

Ek kom dit al hoe meer agter- hierdie is die dinge wat die lewe mooi maak. Om in die elke dag se bestaan die klein wonderwerkies te kan raaksien, en dit te geniet. Ons brood, ons wyn, en die liefde van ons lewe. Nou gaan ek nog 'n glasie skink, na die New College Oxford choir luister, en dan styf langs haar inkruip.  Mag jy ook geseënd wees!