Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Friday, May 27, 2011

'Cause I'm leaving, on a Jetplane...

Liewe vriende, this is it! Vandag is die dag. Die reis het vier jaar gelede al begin toe my goeie vriend in die kaap my een aand na 'n CAmino bekendstelling toe gevat het. En toe het ek net kennis geneem, en gewonder wanneer gaan hy. Ek kan mos nie stap nie, ek kry altyd blase onder my voete, die rugsak is deur die duiwel self uitgevind, dit gaan te duur wees, as my motorfiets petrol in het sal ek eerder soontoe ry... verskonings verskonings verskonings. Net nie ek nie.

Tot ek verlede jaar skielik agtergekom het die ouderdom bekruip my, soos 'n luiperd maak met 'n pasgebore rooiboklammetjie, jy kan net niks teen die bliksem doen nie. Skielik sien ek my pa as ek in die spieël kyk. Die tannies in die gemeente begin opmerkings maak van hoe wys ek nou begin lyk. (wat de hel beteken dit???) En die oudste kind moet einde 2011 uit die huis uit gaan. Gesien in die lig van 'n blog of twee terug, lyk dit tans na nie 'n slegte idee nie. Maar wanneer jou kinders begin huis verlaat, lui 'n klokkie êrens wat verskriklik hard begin skree: jy word nou oud! En soms is dit nog 'n slegte idee. Ek werk ook in 'n ouetehuis met mense, en daardie fase wat almal uitgedra word en voor die televisie geparkeer word vir al e-tv se heruitsendings van ou sepies- jong, ek vrek liewer op my motorfiets as om ooit daar te kom. Jy weet, daar waar 'n man 'n halwe viagra moet begin drink om nie jou skoene nat te piepie nie.

En verlede jaar het die saadjie begin opkom: gaan stap daardie Camino, so veel van hom as wat jy kan inpas. Breek vir 'n slag uit die groef uit, gaan doen iets avontuurliks waaroor jy die ander ou omies eendag langs die piskrip kan vertel as dit so ure vat om watertjies te passeer met die knypende prostraat. Die frustrasieklier.

Daarom het ek daardie raad gevolg van: die verskil tussen 'n droom en 'n reis is 'n vliegkaartjie. Flight Centre se moer, dis baie goedkoper om self op die internet te koop, as deur hulle. Ek vlieg lekker Lufthansa vanaand- ek hoop daai Duitser agter die stokke het goed geslaap, en dat vandag nie die dag is wat hy weggeraap word, soos Hal Lindsey al voorspel het in die 70's nie- die gelowige vlieënier word weggeraap, en die res van die passasiers gil al die pad ondertoe nie. Nee, dit gaan nie vandag gebeur nie. Ek hoop ook Ahmed the Suicide Bomber is eerder saam met Malema op Ethiopian Airways op pad om Gaddafi te gaan besoek.   Ek wil nie weer op 'n Vrydag met Egypt Air in Kaïro aankom nie. Laas keer toe dit gebeur, toe kyk almal na my, en val op die grond neer op sulke klein matjies, en buig voor my. Soveel waardering kan ek nie hanteer nie.

Soos die dinge nou staan, is ek more en Sondag in Madrid, en Maandag vat ek die pad met die trein of bus Leon toe. Sal Dinsdagaand by die Roomse gevaar se huisies begin slaap, en Woensdagoggend begin werk aan die blase op my voete. Ek is steeds skytbang, want dit begin na groot werk klink om 'n rugsak oor die berge te dra.

Maar nou ja, dis my eie skuld, so ek gaan die beste daarvan maak. Gisteraand het ek mooi vir mamma en die kinders tot siens gesê. Ons het pizza en Coke gehad, ek en mamma het die vier nefies besoek. Daarna het ons vir die kinders smarties op die grasperk gaan uitgooi...  Het darem ses ure se slaap ingekry voordat die opwinding te groot begin raak het, en ek die rugsak uitgepak het, en weer ingepak het. Kyk of die yskas nie dalk ook êrens kan in nie. Maar die laptop wil net nie...

So, ek hoop daar gaan kans wees om so nu en dan met julle te kommunikeer. Dalk kan ek êrens by 'n internet kafee vashaak, en bietjie sê waar ek is, en hoeveel blase daar op my voete is.  Hoe tapas nou eintlik proe, en hoe die bier is.  As dit nou nie so dikwels gebeur nie, hou goeie moed, as die Duitser nie weggeraap word nie is ek weer rondom die 25e Junie op die lug, by die huis.  Baie dankie vir julle vriendskap die afgelope twee maande, daar is nogal wonderlike mense versteek onder die litnet bloggers.

Mooi bly, en lewe voluit daar waar jy met jou lewensreis op pad is!
Die Donkie
Onderwerpe:  camino  

4 comments:

  1. Mag nie begeer nie, mag nie jaloers wees nie?
    Ek sal my linker knater opoffer om saam te stap.
    Lees vanoggend hierdie raak op :
    http://blogs.litnet.co.za/StellenSmit/pad-van-hier-af
    Kry jou skoene, kry jou sak my vriend die pad is lank.
    Daar is 'n berg daar voor, hy's hoog, die tipe wat honde laat tjank.
    Pak 'n broodjie, pak 'n biltong as die honger pla, pak maar 'n koffie en 'n watertjie wat ons saam kan dra.

    Kom die klippe, kom die sand, die wind, die stof die reen...
    Ek is seker daar is Iemand wat ons spoor sal seen.
    Kom die die berg se steil, die voetpad wat al minder word.
    Ek is vas oortuig ons vriendskap maak die roete kort.

    Mooi nê!

    ReplyDelete
  2. Hoop jy kom met baie antwoorde terug!!!

    ReplyDelete
  3. Mtatazela en skoonsus, ekskuus, het eers nou vir die eerste keer van Spanje af weer hier gekyk, dankie, dit was lekker! Het Bileam ook op Litnet geskryf, en vir die tyd in Spanje net daar, asook op my eie naam blog. Sal binnekort weer terug wees hier.

    ReplyDelete