Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Tuesday, May 24, 2011

Positiewe denke, die Ferrari en die vulkaan...

Adage vra netnou wat lees ons. Ek het vanmiddag klaargemaak met Robin Sharma se boek: "The Monk who sold his Ferrari." Ek weet hierdie boek gaan te geestelik wees vir party, te Boeddisties vir ander, en te cheesy vir sommiges. Maar ek het dit regtig geniet. Of te wel, ek het die 200 bladsye vinnig tussen gister en vandag in 'n A6 grootte sakboekie opgesom, dat ek in Spanje daaroor kan loop en dink.

Die een ding wat ek uit al my oordenkinge die afgelope ruk leer, is hoe geweldig belangrik die manier is waarop ons dink. En dan veral die manier waarop ons met onsself praat- die innerlike dialoog vir die literêre mense, die "self talk" vir ander soos ek.
Dis nogal waarmee die Ferrari storie begin- hoe ons gedagtewêreld soos 'n tuin is, wat goed bewerk moet word. Dit beteken, anha, dat ons nie te veel stront daarin moet toelaat nie...  Ek verstaan dit nie, want is dit nie juis die stront wat die tuin groen maak nie? Dis mos wat Keith Kirsten en daai Robertse tannie van die kruie gesê het: keep it organic, do it in the garden...?
In elk geval, as jy nou so mooi tuin het soos Keith en Antie Margaret, dan is jy daarop ingestel om die onkruid gereeld uit te trek.  En dit is die drift van wat baie van julle ook op my vorige pos voorgestel het.  'n Mens moet weer kyk hoe ek dink.

Ek is nogal bekommerd daaroor. Behalwe dat Tina die padwoede uitgewys het as iets verkeerd, en nie behulpsaam om sommige idiote net wakker te maak voor hulle iemand seermaak nie, is daar ook ander gedagtes wat maar gerus kan waai.  Ek is redelik geneigd daartoe om my eie beste vyand te wees. Ek gee dikwels nie eers iemand anders kans om iets sleg vir my te sê nie, ek doen dit sommer self. En dit blyk verkeerd te wees, volgens die Ferrarilose priester.  Daar mag in jou gedagtetuin geen onkruid groei nie. Niks negatiewe gedagtes nie. En as jy sou dwaal daarop, dan staan hulle vir 'n halfuur onder 'n yskoue waterval. Daar is net nie een van hulle (yskoue watervalle) naby my huis nie, sal die stort doen?

Nietemin ('n domineewoord wat die kollegas by Tukkies se engeltjiefabriek aanleer, hulle almal sê dit graag in hulle preke!), al sê die Boeddiste dit, sê die Bybel dit ook. Lyk my dis beproefde, eeue-oue waarhede. In die Bybel staan: "Wees veral versigtig wat in jou gedagtes aangaan, want dit bepaal jou hele lewe..."
Dit wat ons dink, is dit wat ons gaan doen. Dit wat ons 'n paar keer doen, word vir ons 'n gewoonte. En ons gewoontes het 'n reuse invloed op ons karakter, wie ons werklik is, en wat ons vir ander mense kan beteken.
Dit beteken, soos ek nou oor die goeters sit en dink, dat 'n mens sal moet aanleer om darem nie jou eie vyand te wees nie. Los dit maar vir skoonma.  Wanneer ons positiewe dinge dink, (sê iemand anders se boek onlangs vir my, lees ook so baie dat ek nie meer kan onthou nie, maar as dit joune is- thanks!) kan ons brein glo nie onderskei tussen die gedagtebeeld en die werklikheid nie. Neander moet maar help hoe dit werk- 'n mens se brein begin dan nuwe neurologiese paadjies bou om daardie droomkonsep waar te maak. Positiewe energie word gegenereer, wat 'n mens 'n baie beter kans gee om suksesvol jou droom te bereik. Maar as jou drome net nagmerries is, en jy sien altyd net die negatiewe en doom en gloom oral waar jy gaan (soos baie van my liewe mede-kerkmense!) dan gaan jy ook nooit self uit die gemors uit opstaan nie. Jy word jou gedagtes. Dis Zen en die Bybel wat so sê, en blykbaar het neurologie ook iets daarmee uit te waai.

In elk geval, ek wil graag my negatiewe gedagtes begin omsit in positiewes. Dis een van die goed wat die Ferrarilose Een gesê het- as jy in die openbaar 'n begeerte uitspreek om te verander, dan is die kans baie groter dat jy dit sal doen. Mense kan jou dan accountable hou vir jou wens. Ek wil nie meer vir elke oumens wat 40 voor my ry (sorry Tina en Maankind!) hardop of in my kop sê: jou stadige... donker Afrikaanse woorde... nie. Ek wil vriendelik waai  en verbysteek sonder om my wiele te spin. Jou dag moet sommer beter wees as ek jou verbysteek in die hoofstraat van Hermanus... of Heynertsburg... Ek wil nie dadelik meer die ergste verwag nie- soos verlede week toe die prokureur my soek en ek dadelik wonder wie wil my dagvaar nie. Dit was toe net my buurman in die meenthuiskompleks wat sy motorhuis wil toebou en almal se toestemming moet kry. Hoekom verwag ek altyd dadelik die ergste? Kon die prokureur nie net gebel het om te sê ek het toe regtig die Eurolotto gewen, en daar word 900 miljoen Britse Pond oorbetaal nie? En dan is dit net vir een maal nie TB Joshua in Nigerië se neef se nuutste 419 scam nie?

Ek sal nie meer dadelik dink die ergste gaan my tref nie. Ek gaan voluit leef, en 'n positiewe verskil maak in elke mens se lewe wat my pad kruis. Sommige f***** idiote se kommentaar gaan ek net ignoreer, (derde keer se deurgaan: dalk moet die Donkie eerder hier sê: Geliefde, andersdenkende, mileu-gestremde mede-aardbewoners, en potensiële vriende as ons mekaar net om 'n bottel rooiwyn kon ontmoet...), ander liewe vriende se kommentaar gaan my lewe verryk en my 'n beter mens maak.  Ek gaan meer tyd saam met my vrou spandeer. Ek gaan my kinders se eerste stappe na sukses saam met hulle vier.

Daar is net twee goed wat op die oomblik nog buite my bereik lê soos ek dit nou sien:
Ek weet nog nie hoe om vir my 'n Enzo Ferrari te koop, dat ek nie langer die Ferrarilose Priester is nie!
En kan iemand asseblief daardie donderse vulkaan in Ysland se bek toestop dat ek wel Vrydagaand Spanje toe kan vlieg en my een Bucket List droom kan waar maak op die Heilige Jakobus se weg?


Die Priester begeer hierdie Ferrari- is dit nie die sexyste lyne ooit nie, behalwe nou miskien 'n paar susters op aarde s'n? Foto êrens op die internet gesteel lank lank gelede as voorwerp van intense oortreding van die 9e gebod: Jy sal nie jou naaste se Enzo Ferrari begeer nie!

Ns. Ek het nie 'n idee hoe om Boeddis te spel nie, Lewies, en ek is nou heeltemal te lui om in die HAT dit te gaan opsoek. Die vorige keer het ek darem 'n aangename verrassing gekry met die woord vir 'n vierkantige klein seiltjie voor op 'n kleinerige seilvaartuig se boeg...
Ek dink nou moet ek my groentetuin gaan bewerk deur een van my vriende se rooiwyn te gaan help opsuip (vierde deurgaan; dalk sal dit mooier klink om te sê: Pastoraal verkeer rondom die edele vrug van die wingerdstok..." )

No comments:

Post a Comment