Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Friday, May 20, 2011

Skotland en Magersfontein, o Magersfontein

Behalwe nou vir die verbande boek van Etienne le Roux wat die Hertzogprys gewen het in 1979, was daar regtig so 'n ligte ou skermutselingtjie tussen die Boere en die Britte op 11 Desember 1899. Dit het 'n hele paar ouens se Kersfees en Eeuveranderingpartytjies geruïneer.  Die Slag van Magersfontein was veral vir die Black Watch Regiment van Skotland nie pret nie. Lord Methuen het hulle beveel om met gevelde bajonette op die Boeremagte se loopgrawe te marsjeer, wat hulle met groot dapperheid gedoen het. Methuen was egter so effentjies onnosel om dit te beveel, want die Boeremagte was ingegrawe in loopgrawe (wat een of ander ander onnosele ou die idee van loopgrawe gegee het vir die 1e Wêreldoorlog. Die 2e Regiment van die Black Watch het swaar verliese gely.

Generaal Wauchope het 'n briljante nagmars in die Soedan gehad tydens die slag van Omdurman, (in 1898)  en het dieselfde taktiek hier in Suid-Afrika probeer. Dit was 'n ligte ou glipsie. Van die ouens in die loopgrawe het geweet hoe om 'n Mauser 7x 57 mm te hanteer. Hulle het verder die Boeremagte wakker gemaak, maar nie beseer nie, met liddietbomme uit die artillerie, wat agter die Boeremagte geval het (hulle was toe heelwat nader as wat die Engelse vermoed het). Die Engelse en veral Skotse regimente het begin marseer voor sonop, en teen dagbreek was hulle in netjiese rye opgelyn, so 370 m van die Boereposisies, toe die Boere begin vuur het. Ene Majoor Benson het Wauchope teen sy strategie gewaarsku, maar hy het geantwoord: "... I'm afraid my men will lose direction. I think we will go a little further."  generaal Wauchope was een van die eerste mense wat in hierdie veldslag gesterf het.  Vir 'n wyle was die Skotte vasgekeer deur akkurate Mauservuur, totdat die Coldstream Guards en Gordon Highlanders as versterkings opgedaag het.  Die Grenadier Guards het 'n omsingelingsbeweging van die Boeremagte gestuit. So het die Highlanders die hele dag in die son gelê en dekking slaan, totdat 'n Boer met 'n wit vlag na hulle toe gery het en toestemming gegee het dat hulle mediese spanne hulle gewondes van die slagveld kon verwyder. Hier was nog soveel beter maniere tussen vyande as in die 1e Wêreldoorlog. 'n Britse vlootkanon het die skietstilstand later verbreek. Dié keer is 'n Engelsman met 'n wit vlag oor na die Boere toe om om verskoning te vra- die een offisier het nie gehoor van die skietstilstand nie, (is hy dan doof?)  Die Boere se kanonne het om 17h30 vir die eerste keer daardie dag op die Britse magte  begin vuur, en Methuen het sy magte teruggetrek om by die Modderrivier kamp te hergroepeer die volgende oggend.
Die Black Guard het die meeste slagoffers vir die Slag van Magersfontein gehad, met 303 offisiere en manskappe as slagoffers vir die dag. Wauchope se lyk is 180m van Genrl Cronjé se loopgraaf gevind.
Die omstandighede in die Modderrivier kamp het later tot uitbreek van Tifuskoors gelei, en soos die Britse soldate na Bloemfontein toe teruggetrek het, is tussen 10 000 en 12000 van hulle met die siekte getref, wat tot 1200 sterftes gelei het.

Een van die Black Watch se manskappe het hierdie gediggie geskryf oor die dag:
"Such was the day for our regiment,
Dread the revenge we will take.
Dearly we paid for the blunder
A drawing-room General's mistake.

Why weren't we told of the trenches?
Why weren't we told of the wire?
Why were we marched up in column,
May Tommy Atkins enquire…"

Private Smith, December 1899.

Vir al hierdie manskappe wat van die Black Guard gesneuwel het in die Suid-Afrikaanse oorlog, is hierdie standbeeld in Edinburgh opgerig. Nee, jy mag nie inloer om te kyk wat word onder 'n kilt gedra nie.

En ja, die Britte het Magersfontein gewreek by Paardeberg, waar Generaal Piet Cronjé met 4017 man oorgegee het. Die oubaas wou nie na Generaal Koos de la Rey de la Rey, sal jy die Boere kom lei, de la Rey, de la Rey luister nie, en het die hele familie saamgevat in die ossewa vir sy oorloggie.  Toe Kitchener opdaag, het hy so waar as wragtag 'n laer met sy waens gemaak, soos in Bloedrivier faam. Sy laer is uitmekaar geskiet deur die Britse artillerie, iets wat die Zoeloes nie by Bloedrivier gehad het nie. So het die held van Majuba sy alie gesien. En die gang van die oorlog gedraai.

Ek is nou nie een van daardie ouens wat graag die Vierkleur wil terughê nie. Ek haat ook nie die Engelse nie. Die Boere-oorlog bly vir my 'n baie interessante stuk geskiedenis, en die ordentlikheid wat daar in hierdie oorlog was, tot die Britte die konsentrasiekampe en die Scorched Earth beleid begin het, was opmerklik.  Dit was net interessant toe ek en vroulief in Edinburgh rondstap, en op hierdie standbeeld afkom, om die geskiedenis weer te gaan oplees.

2 comments:

  1. Die koninkryk van die hemele het naby gekom.
    God het jou lief. Lees jou Bybel.

    ReplyDelete
  2. dankie Patmos Pete, en die Here het jou ook lief. Die Koninkryk het alreeds begin kom, toe Jesus die dood oorwin het, dit is begin verkondig toe die Heilige Gees uitgestort het, en die kerk is steeds besig om die boodskap te verkondig dat Jesus die Here is, en ek ook. Ek het na jou website gekyk, en ek verstaan nie presies hoe jy met die Bybel werk nie. Judas wat Petrus se seun sou wees? Come- on! Een uit sewe ouens in Israel was Simon, en niemand het vanne gehad nie. Jy sal ook daardie standpunt moet verduidelik van die duiwel se seuns wat kerke op elke straathoek het. Ek het nog nie so baie satanistiese kerke gesien nie.

    ReplyDelete