Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Tuesday, December 7, 2010

Poison Rally 2010- telling- Wille bikers 1- Christene 0

Tequila Sheila van Klerksdorp... en haar man. Eerlike mense!
In elke sirkusleeu se oë is daar soms nog 'n dowwe lig wat flikker. Net so nou en dan is daar die onthou, van 'n ander lewe... Vryheid?

Ja, die dominee het incognito na die Poison Rally toe gegaan. Die motorfiets se naam "Huisbesoek" is met swart insulation tape toegeplak, sodat niemand sou vermoed nie. Ek het so diep begeerte gehad om vir 'n slag weer tussen mense sonder maskers te wees. Nie net Dominee, en Broer en Suster te wees nie. Sommer net: "Hey jou bliksem op die swart bike... "

Ons dominees is so gewoond aan soet mense. Mense wat saggies poep, en altyd glimlag as die dominee naby is. En so het ek die heimlike begeerte gehad om weer te sien hoe mense werklik is, daar waar die toga en die titel onbekend is, waar ek net weer vir 'n slag ek kan wees.

Die eerste probleem het gekom toe ek op die kampterrein gearriveer het. Al die staanplekke is klaar opgeëis deur die klubs. 'n Mens slaan nie sommer jou tent enige plek op nie, dit is dalk net Vuilis van Germiston se Growlers se plek, waar hy altyd sy nes skrop. 'n Anonieme dominee op die verkeerde plek kan dalk net gedonner word- en wat sal die Son daarvan sê, om van Tant Koekie se bid en skinnerklub nie te praat nie!

So in die rondry, sonder my helmet, kyk 'n man van Krugersdorp so aandagtig na my. Hy en sy baie mooi vrou lê langs 'n Honda Transalp, en rook aandagtig hulle Hubbly. Omdat ek vir hom rustig lyk (kan die masker nie meer af nie??) nooi hy my om saam met hulle te kom kampeer. Sy kinders kom later met hulle tente. Maar ek is baie welkom, wie ek ook al mag wees, ek wat ook motorfietse like en daar is.  (Ek het verby ten minste twee Christelike klubs se koffietente gery, en verby gery. Ek was sonder heenkome, en julle het nie...

Ek het in twee dae optrede gesien, en woorde gehoor, wat dominees nie elke dag hoor en sien nie. En weet jy wat? Dit was lekker. Dit was eerlik. Dit was opreg.



Die hartseer is dat ons Sondagaand met die prysuitdeling verneem het dat daar deur die dag enkele sterfgevalle was. Die rumours was van vroegoggend af van iemand wat aan 'n hartaanval in sy tent dood is deur die nag. Verdere ouens het afgekom- en sommiges het dit nie oorleef nie.
René Changuion van die Bikers Church- CMA se nasionale president, het 'n baie aangrypende oomblik van stilte gelei. Hy het daarna uit die hart uit vertel van die Here se liefde vir Bikers, en is toegejuig deur 'n groot deel van die skare. Hy het Biker bybels uitgedeel onder die boom, en die res wat wou hê, genooi om na die CMA se koffietent toe te gaan.

Ek het ook na die koffietent toe gegaan. Daar was seker maklik 20 ouens in CMA colours. Onthou- CMA ouens mag glad nie drink nie, en is beskikbaar om ander bikers te help- dis waarvoor hulle staan. Ek het by die koffietent opgedaag, vir myself koffie gemaak, twee liedjies van Hillsong geluister, gevra waar om my polistyreen koppie weg te gooi, en toe maar weer gery. In hierdie tyd was ek die enigste nie-CMA lid in die tent. EN niemand het my gegroet en verwelkom nie!

Kort hierna het ek maar 'n brandewyntjie geneem, en toe per ongeluk neergebliksem. Dit was my eie fout. Maar as ek ongered was, en harder geval het, en niemand het met my gepraat nie?
Dit was die eerste keer in 24 jaar dat ek met 'n motorfiets geval het- ek het gedog ek het dit al ontgroei, en is beskerm deur Psalm 91?  En die bikers met die biere in die hande was die eerste ouens wat gehardloop het, nie om vir my onnoselgeit te lag nie, maar om werklik besorgd te vra of ek OK is. 

Ek het die rally baie geniet. Ek het dit geniet om te sien hoe baie mense kan suip en vloek, sonder om enige "sorry, dominee's" te sê. Ek het Little Annie se komiese stripshow baie geniet. Ek het die botteltjie KWV 5 jaar oud baie geniet. Ek het die ander bikers se passie vir hulle motorfietse baie geniet. Ek het die omgee vir mekaar onder bikers baie geniet. EK het die hulp waardeer van bikers toe ek hulp nodig gehad het. Maar ek het eensaam gevoel tussen die Christene...