Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Sunday, May 1, 2011

'n Kovsie op die PUK kampus en dit is nie Intervarsity nie!

Vanoggend was vir Bileam se Donkie baie traumaties. Lank lank gelede, toe die Dooie See nog siek was, was ek en my goeie vrou Kovsies gewees. (In die ou, ou dae was dit Universiteit Kollege van die Oranje Vrystaat- UKOVS, in die volksmond het dit Kovsies geword en so sal dit seker bly tot Malema president van Oranië is). Dit was sulke wonderlike tye- daardie vry by Mooimeisiesfontein, pizza en rooiwyn op Euwelheuwel, eksamentye in Junie se koue in die Callie Humansaal- groot tye!

En elke jaar in Augustus, het daardie migrasie plaasgevind wat net deur die wildebeeste in die Serengeti oortref word.  Die jaarlikse Intervarsity tussen die Kovsies en die Pukke, een jaar in Bloem, een jaar in Potch.  Die legende lui mos dat daardie wit perd teen Naval Hill in Bloemfontein sy voet stamp as 'n student stout is. As die Pukke daar is, dan klink dit of hy die July hardloop! Ek het een van die langste kursusse geloop op Universiteit. Ek was drie keer in Potchefstroom. Daar by die PU vir CHO- Chips, Hamburgers en Owerspel, as ek reg onthou. Van die akademiese deel van die Puk het ons nooit kennis geneem nie, ek het vandag eers uitgevind dat hulle toe ook klaskamers gehad het. Ons het daar by die Potch dam oorgebly, geborg deur Pa of Castle Lager. Een legendariese jaar het Reitz se manne (daardie beroemde koshuis wat so in die werkers se kos piepie)  'n Labrador laat wegraak. Na 'n paar rumme kon die een plaasseun nie meer onderskei tussen 'n skaap en 'n hond nie, albei lyk seker maar dieselfde op die spitbraai.   Ek onthou daar was ook soms so 'n effense oorlog op die rugbyveld tussen Dopper en Gatjieponder fakulteite. Jy sou kon sê ons het fakulteit vir mekaar gehad. Maar gewoonlik het ons darem mekaar gevind oor die nagmaalwyn na die tyd.

Ek het net nooit gedink Potch is 'n ernstige plek om te oorweeg vir studies nie. Tot die klein merrie in my huis aangekondig het sy wil soontoe gaan. En so het ek en my goeie vrou, en die oudste vandag opgeruk na die vyand se vesting. Daar is so studentewinkel wat die studerendes aanmoedig om tog hulle Maroon en goud streeptruie te koop, anders word hulle dalk met Kovsies verwar. Ek wou eers iets brom van die rekord van Intervarsities in my dae- dat die Puk beter sou doen om net punte aan te stuur, maar dit lyk tog asof daar iets aan die gebeur is in die Puk se sport.

In elk geval, nadat daar plegtig uit die Ou vertaling Bybel geopen is, (lyk my dit bly maar die Dopperhemel) het die Rektor so bietjie gespog en genooi. Daarna het so 'n  mooi Studenteraadsmeisie gepraat- baie motiverend, ek kan net nie onthou wat sy gesê het nie. Daarna is ons losgelaat op die kampus. En die kampus pas sommer op die Rooi Plein van Kovsies in, so klein is dit!

Ons het die regte fakulteit gevind, en daar het ek iets gebrom van hier gaan fakulteit vir jol wees, hier gaan jy ernstig moet wees. (Nou nog nie vir die klein merrie gesê haar punte is myle beter as haar pa se matriekpunte nie!) Studies is baie ernstiger as in my dae, want hierdie keer gaan ek moet betaal. Met die hulp van Absa, jou vriend deur dun en dun.

Nou die dag nog het ek uiteindelik die ses jaar hardepad klaargemaak op Universiteit. Dit voel soos gister. Maar wat het intussen gebeur? Die meisies op die Puk is nog net so mooi. Maar die manne is almal seuntjies! Wat gaan aan?

Januarie gaan daar alweer 'n nuwe fase in die Bileamhuis aanbreek. Die eerste een verlaat die huis. Middelboet wil klaar sussie se kamer hê. My bek is groot oor tienermeisies wat asseblief binnekort die huis moet verlaat dat daar weer stilte en netheid kan neerdaal op ons huis. Maar vandag het ek gesien- soos Johan van Wyk altyd in die Volksblad in daardie pragtige stad met die slegte rugby geskryf het: HKGK. Inderdaad, Johan, inderdaad...


Ns- Ek moes nou gesit en preek maak het vir more, maar ek moes eers gou hierdie van my hart af kry. Die res van die gesin is by skoonma, en ek is lonely, oh so lonely... Weet julle wat 'n kênvroet preek is?

3 comments:

  1. Het simpatie met jou met jou dogter wat op Potch jou "vyand" wil swot. My twee oudstes het altwee hulle ma se "fav" geignoreer en op Kovsies gaan swot. Gelukkig wil die baba volgende jaar Stellenbosch toe.

    ReplyDelete
  2. Ag dankie tog! My seuns het hulle ouers se voetspore gevolg en Maties toe gegaan! Wat sou tog anders van hulle word?
    en volgende jaar (sluk) gaan my dierbaarste laaste laatlam ook MATIES toe. sluk. Knop, uit my keel uit!
    Daar is darem net een universiteit. :)

    ReplyDelete