Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Tuesday, July 12, 2011

'n Grillerige storie, nie vir sensitiewe kykers bedoel nie...

In ons huis is ons redelik geseënd met goeie gesondheid. Maar daar is soms net iets wat 'n mens net nie meer met 'n Disprin of 'n goeie dosis kasterolie kan regmaak nie. Aftreksels van sekere soorte diere-uitskeidings help ook nie vir alles nie, en ek sien ook nie meer kans vir die Middeleeuse gebruik van bloedlating nie.  Om hierdie rede behoort die pastorie wel aan 'n mediese fonds. Ek voel skuldig daaroor, want soos Jacobs koffie kan nie almal dit bekostig nie. Maar ek sien ook nou nie kans om vir die Kubaanse dokter by HF te gaan sit vir 'n week met elke klein probleempie nie. Dis nou maar tipies- ons dominees het soms iets beter om te doen as om 'n week in 'n ry by die provinsiale hospitaal te sit... (Ekskuus, ek spot nou iemand, wat graag my blog se kommentaar oorneem. Ek het eintlik geweldig baie deernis met mense wat in daardie posisie is, en dit is nie maklik om so van die Kubaan afhanklik te wees, en nooit te weet of hy nie dalk jou mangels met jou blindederm gaan verwar met sy Spaanse verstaan van jou Boertjie Engels nie.)

Ons het nou weer een van daardie mediese situasies in die huis gehad, wat ek en die loodgieter nie kan regmaak met tang en bloudraad nie. Die oudste merrietjie het verstand gekry. En toe begin die tande wat daarmee gepaard gaan, oppak. Sy het nou al vir 'n geruime tyd gekla van groot hoofpyne en woeste tandpyn. Ek weet hierdie kind van my is regtig baie hardegat, sy kan BAIE pyn vat.  Sy aard na haar ma. Ek kan nie eens in 'n duwweltjie trap sonder ernstige medisinale toediening nie. (KWV 5 jaar oud... askies, soms koop ons so bietjie beter as Klippies en Coke...)  In elk geval, ek weet sommige mense se verstandtande word sommer met die tang in die tandarts se stoel getrek. Nie myne nie, en ook nie my dogter s'n nie. My eie verstandtande het drie jaar gelede baie skielik opgepak. En ek het die wonderlike voorreg gehad dat my verstandtande dwars onder die goeie tande groei. Die tandarts het my al jare gewaarsku dat hoofpyne daarvandaan kom, en dat as ek 'n harde stamp op die kakebeen vat, my kakebeen baie maklik kan breek. En dit gebeur redelik gereeld tydens huisbesoek dat die nie-Jacobs drinkers van koffie my teen die kakebeen slaan, so dit was 'n ernstige beroepsveiligheidsgevaar wat aangespreek moes word.

My vier verstandtande lê toe ook mooi dwars oor die senuwees wat daar loop. Gevolglik, toe ek dit moes laat verwyder, was dit 'n spesialis se werk. Wat dit baie netjies gedoen het. Dit was die eerste keer in my lewe sedert daardie roemryke dag van my geboorte dat ek in 'n hospitaal was, en narkose moes kry. Dit het nie te sleg afgeloop vir my nie. Maar ek het daarna die heerlike voorreg gehad om neuralgie op te doen (ontsteking van daardie senuwees wat boodskappe van tandpyn brein toe sou neem, indien die brein nog in werkende toestand was...)  Hierdie neuralgie was loshande die seerste ding wat ek ooit oorgekom het. Dit voel maar net asof iemand 'n rooiwarm mes die hele tyd in daardie senuwees indruk in 'n mens se kakebeen. En al wat daarvoor gehelp het, was morfieninspuitings. Party mense hallusineer daarvan. Ek het dit nou geniet- dis so lekker om wolkies te rangeer daar bo in die lug. Ek kan verstaan dat Eugene Marais so aan dié goed verslaaf geraak het.

So gebeur dit mos nou dat die oudste toe presies dieselfde posisie van verstandtande by my geërf het. Daar is regtig baie goeie bewyse geneties gesproke dat sy my kind is...  So trek ons toe ook gister in daar by die goeie katolieke hospitaal oorkant die Spar waar Jac de Priester altyd sy Sally Williams Nougat koop. Dogter is heel gespanne, maar nie te veel nie, dis haar derde keer ooit in hierdie hospitaal- sy was ook daar vir gromets in die ore, en vir die verwydering van 'n geboortevlek toe sy klein was. Ma is 'n veteraan van hospitale, na vier kinders ken sy die storie baie goed. En pa is wit geskrik. Die feit dat my eie ma 'n teatersuster was, is nie geneties aangegee nie.

Op die bestemde tyd is sussie in die teater ingestoot. Ons het maar in Wiesenhof ('n koffieshop in 'n private hospitaal- sorry!) gaan Vis en tjips eet. Toe in daardie Spar gaan Sally Williams Nougat koop. En toe ons terug in die kamer kom, is sussie klaar daar, dit het toe vinniger as myne geneem. Maar toe vat dit mos eers 'n rukkie vir die narkose om uit te werk. Daardie pyp wat die narkotiseur insit, maak mos maar baie seer. Ek vermoed dis 'n boorgatpyp van die narkotiseur se plaas af, want hulle maak regtig seer. Ewas moet maar sê... Sussie drink gallonne water, want die keel en die mond is BAIE seer van die begin af. En die pynpille moet nog inskop.

Uiteindelik is sussie met die rolstoel tot by die bakkie geneem.Sy sit voor langs my, want sy word vinnig in die beste van tye karsiek.  Ons is na Ouma se huis toe om die boeties op te laai. Nou wil ons maar so vinnig as moontlik uit die stad uit kom, en haar by haar eie bed by die huis kry. Dit is so kwart voor vyf, lekker in spitsverkeer in. My moed sak sommer in my skoene, want my kind het baie seer.

Ons het net so uit Ouma se meenthuiskompleks uitgetrek, om na die naaste snelweg toe te ry. Hier moet die sensitiewe kykers nou eerder na Anha se blog toe skuif...
toe sussie in my bakkie oorkook, hier reg langs my. Katte skiet. En dis waar ek wens ek so goed soos sy kon spotprente teken. Hierdie episode was waarskynlik baie snaaks vir die spitsverkeer se mense...

Toe ons by my Ma se huis weg is, het die drie boeties baklei, niemand wil agter in die canopy sit nie. Almal wil voor sit, maar ons is net te veel mense vir ons dubbelkajuit bakkie.

Dit het toe gistermiddag in Lynnwoodweg gebeur, in spitsverkeer. Sussie kook oor. Pa trek dadelik van die pad af, spring uit, en kook ook oor agter die bakkie. Sorry- gross- ek weet! Ek het net hierdie een ding so lank as wat ek kan onthou: As iemand naar word, word ek saam naar. Ek kan dit nie help nie. As ek naar ruik, dan word ek naar. Ek was nooit goed met babadoeke nie. Enige sulke liggaamlike uitwerpings by watter opening ook al vang my. Dis hoekom ek nie my familie se mediese tradisie kon voortsit nie.  En ek wou so graag 'n ginekoloog word!

In elk geval, toe ek klaar maak voor die helfte van Pretoria se laggende inwoners, sien ek al drie seuns sit agter in die bakkie. En lag saam vir my, die klein bliksems! Hulle het deur die bakkie se agterruit in die Canopy ingespring toe sussie daar voor begin sleg voel.  Ek kan eenvoudig nie terugklim in daardie bakkie nie. My liewe vrou kan al hierdie dinge hanteer, en sy bestuur maar terug na my ma se meenthuis toe. Terwyl ek terugstap in Lynnwoodweg af. Terwyl ek die hele tyd steeds rukbewegings hier binne voel... Heelwat later het ek ook daar by Ouma se blyplek uitgekom. Sussie het reeds gebad, en in die bed geklim. Vroulief het die bakkie binne uitgewas- ek skuld haar ten minste 'n uiteet in 'n restaurant, nie net uit die blikkie boeliebeef uit nie. En 'n heerlike warm borrelbad, en 'n glasie vonkelwyn (JC le Roux, nie Moët et Chandon nie...)

Ons het toe maar gisteraand oorgeslaap in die groot en bose stad. Vanoggend het ons uiteindelik sonder verdere voorval huis toe gery. Maar ek verstaan dit nie- so ver ons in Lynnwoodweg afry, wys mense vinger na ons redelik unieke kleur bakkie, en begin histeries te giggel... Dis om van naar te word.

No comments:

Post a Comment