Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Friday, July 15, 2011

Pappie is die BAAS van hierdie huis...


Julle gaan iets anders hier kry as wat julle dalk gedink het. Maar daar is 'n sakie wat ek van my hart af wil kry. En ek gaan in die toekoms dalk nog baie daaroor skryf. En my eie vrou gaan dit onder my neus vryf, en sê dat ek dit ook nog nie regkry nie.

Ek wil net graag vir 'n slag 'n Donkiebol los oor die manier waarop manne vroue behandel...

Hierdie skrywe kom al 'n hele ruk saam met my, en hierdie sal seker ook nie die finale weergawe wees van wat ek wil sê nie.

Ek werk BAIE met mense se seer. Ek kry gereeld dames wat in my studeerkamer kom vertel van hulle seer. Mense van die stede kom trou ook graag hier in die Bosveld, en ek kry nogal heelwat van hulle wat my nader om hulle te trou. Waar dit moontlik is, geniet ek baie om 'n paar gesprekke met voornemende troupaartjies te hê. Ek hou daarvan om 'n geneagram saam met hulle te teken- 'n metode waar 'n mens hulle posisie in hulle gesin van oorsprong teken- en in die proses vertel hulle eintlik vir my hulle storie. So dikwels (deesdae meestal!) is dit mense se tweede huwelikke. En so dikwels is daar 'n BAIE seer storie oor hoekom dit hulle tweede huwelik is. Ek dink, as ek dit kon bekostig, sou ek graag verder wou studeer en voltyds in huweliksberading wou ingaan.

Maar in my blog het ek ook 'n paar baie goeie nuwe vriendinne ontmoet. 'n Paar van hulle het my al soveel vertrou dat ek iets van hulle lewensverhaal gehoor het. Party van hulle skryf baie openlik oor hulle seer - 'n duidelike teken dat daar al klaar genesing begin plaasvind het in hulle lewens. Ander se vertroue in my sal ek nooit skend deur hulle storie oor te vertel nie. Daarvoor is hulle vertroue te kosbaar vir my. Maar so baie seer wat ek mee te doen kry, kom terug na hierdie punt toe: die manier waarop manne optree. In hulle verhoudings, in hulle huwelikke, en wat my die meeste die bliksem inmaak, teenoor kinders.

So hier gaan ons:

Baie mense haal heel gelowig hierdie Bybelse verwysings aan, dat die man oor sy vrou moet heers. Daar is 'n groot kulturele probleem daarmee. In die Bybelse tye het die vrou geen regte, en geen status in die samelewing gehad nie. Dit was uit en uit 'n man se wêreld. Die algemene opinie, waaroor selfs my held Paulus soms baie primitief dink, is dat Eva die appel gebyt het, daarom het sy die sonde in die wêreld ingebring, daarom is die man die sterker geslag en die hoof van die huis.

Die kultuur van destyds (wat nog net so in die Midde-Ooste voortleef in streng Moslemlande!) is dat die vrou nie 'n sê het nie. Die man heers oor haar. Pappie het al die mag. Ek is nie besig om teen Moslems te diskrimineer nie, ek het die ervaring van 'n vrou wat net-net uit Saudi Arabië kon ontsnap van haar man, en haar kind omtrent moes uitsmokkel om hom steeds by haar te kan hê. 'n Vrou kan nie die land sonder haar man se toestemming verlaat nie, en hy kan deur bloot drie keer te sê "Ek skei jou!" skei van haar. En haar sonder enige heenkome op straat los, sonder beskerming van die reg. Dink maar net aan die simboliek van die Burka...

In Bybelse tye was 'n vrou se status net-net beter as 'n slaaf s'n, en dikwels effens laer as Pappie se geliefde hond s'n. Sy het geen regte gehad nie, geen stem nie, en daar was geen werksgeleenthede vir goeie vrouens nie. 'n Weduwee was altyd oorgelaat aan familie se genade, en 'n oujongnooi het nie bestaan nie, hulle is teen hulle sin in 'n gereëlde huwelik weggegee teen bargain pryse.

Baie manne het nog hierdie "Bybelse" siening van 'n vrou se plek. Dit is veral waar van die ouer geslagte, maar 'n mens kry nog jong buffels wat ook so dink. 'n Vrou sal onderdanig aan haar man wees. Sy sal maak wat hy sê. Sy sal hom dien, vir hom kos maak, die skottelgoed was, vir pappa die koerant en koffie aandra. Want dit is haar werk. En Pappa? Hy werk mos hard, hy sit op die stoep met die koerant en koffie, tot sy ete gereed is. Na aandete is dit die nuus, en dan is dit POMPTYD! Sodra sy die kinders net stil en in die bed het. 'n Goeie vrou is 'n dame in die openbaar, 'n bediende in die kombuis, en 'n slet in die bed, sê die ou grappie mos op die huweliksonthaal. Many a true word is spoken in jest... Ek sien baie dames wat so behandel is, 'n paar jaar later. Die kinders begin uit die huis uit gaan, en sy sien net nie meer kans vir daardie lui bliksem wat net voor die televisie lê, en dan wil pomp op aanvraag nie. Die sprokie het dit nie gemaak nie. Die lig is uit hulle oë uit. En dit is alles omdat pappa die BAAS van sy eie huis is.

Dis waar die onderdanige vrou so uit konteks uit geruk word. Gaan lees dit weer in Efesiërs 5. Vers 21 is die basis van drie verhoudings wat daarop volg. Die beginsel is: Uit eerbied vir Christus moet julle aan mekaar onderdanig wees. My vertaling op troues- omdat jy Jesus liefhet, dien mekaar! As daardie fondament nie daar is nie, val die res baie hard op jou kop inmekaar. Want die drie voorbeelde van die beginsel is: die huwelik- man en vrou wat mekaar dien. Ouerskap- ouers en kinders wat mekaar dien. En werkgewer en werknemer (baas en slaaf...) wat mekaar dien. Tradisioneel het ons in ons kultuur al drie heeltemal gemis...

Ons gesels vandag oor die huwelik. Omdat ons Jesus liefhet, dien ons mekaar- dis die fondament van 'n Christelike huwelik. In die Ou Testament het die vrou wel 'n Raw Deal gekry- die man sal oor haar heers, en sy sal na haar man hunker- Genesis 3. Maar Jesus het tog al daardie vloek op Hom geneem, en alles kom nuut maak. Die beste voorbeeld is sy hantering van vroue in die Bybel. Jesus wat met 'n Samaritaanse vrou van slegte reputasie praat by 'n put in Samaria in Johannes 4- kulturele grense heeltemal opgedonder! 'n man wat met 'n vrou praat, 'n Jood wat met 'n Samaritaan praat, 'n heilige Man wat met 'n sondaar praat... En haar vergewe, en haar 'n nuwe lewe gee... Jesus het die vrou in haar eer kom herstel. Ons sien dit in die voorkoms van vrouedissipels soos Maria Magdalena, Profete soos Priscilla... Kerkleiers soos Nimfa in Efese...

Lees bietjie Paulus verder- hier (in die kerk/ koninkryk van God) maak dit nie saak of iemand man of vrou is, Jood of Griek, slaaf of vry nie- hier is almal een! Hoekom preek ek so hier op my blog? Want dit is nie Christelik om te sê die man is die baas van sy vrou nie! As julle nie gelykes in julle verhouding is wat mekaar dien nie, dan is jy op pad na groot moeilikheid toe!

Die manne behandel so dikwels hulle vrouens soos bediendes. En dan skielik, as die kinders in die bed is, dan wil hy asemrowende seks hê van 'n doodmoë vrou (hierdie een gaan my vrou onder my neus vryf!!!) Menere, 'n vrou se kop werk nie so nie! 'n Man het 'n enkele gedagte nodig, en hy is reg vir aksie. 'n Vrou is soos die bank sonder oortrekkingsfasiliteite. Jy moet eers genoeg krediete opbou voordat jy 'n ontrekking kan maak! As jy 'n fenominale ervaring wil hê- dan gaan dit jou kos! Jy gaan haar soos 'n dame behandel. Jy gaan mooi met haar praat. Jy gaan haar help. Jy gaan ingestel wees op haar (soms onverstaanbare!) emosies. Jy gaan soms blomme koop, en tjoklits, maar nie te veel van laasgenoemde nie. Sy gaan weet dat sy jou eerste prioriteit is, bo jou pelle. En as sy veilig by jou voel, as sy geliefd voel, en nooit oor haar veiligheid hoef bekommerd te wees saam met jou nie, dan gaan jy soos 'n koning behandel word. Dink net bietjie mooi- hoe beskryf jy jou geliefde voor ander mense? Hoor hulle respek? Of is sy maar vir jou net soos jou ou kis BMW- iets wat gebruik word op sy tyd, maar nie iets om oor opgewonde te wees nie? Broers, in julle verhouding met 'n vrou gaan jy maai wat jy saai! Saai liefde, kry baie liefde terug. Saai respek, kry baie respek terug. Saai omgee, en kry meer as wat jy kan opgebruik terug. Maar boetie- saai ongeërgdheid, en kry 'n yskoue skouer terug. Behandel haar soos 'n buffel, en jy kon net sowel jou aan nekrofilie (gaan google dit!) skuldig maak.

'n Man het nie die reg om 'n vrou af te breek nie. Jy is daar om haar te dien. Om haar te help om die mens te word wat sy gemaak is om te wees. Haar lewe moet beter wees omdat jy daar is, jy is nie veronderstel om probleem nommer 1 te wees nie.

Ek staan by wat ek op my hoofblad sê- 'n man wat aan 'n vrou slaan, is laer as haaimis op die seebodem. As jy in my gemeente is, en jy slaan jou vrou, dan sal ek alles in my vermoë doen om haar te oortuig om van jou te skei. Want jy is besig om haar te vermoor. Fisies vat dit dalk lank. Geestelik het die optel van jou hand alreeds 'n kosbare deel van haar doodgemaak. Respek vir jou. Morsdood. En dit vat 'n buitengewone Godswonder om dit ooit weer reg te maak. Dit sit nie in jou broek nie.

Ek het nog baie hieroor te sê, maar my blogs is te lank. So- gaan dink daaroor!

Word vervolg...

2 comments:

  1. Bileam se donkie, well said. Niemand kan stry dat mans soms wil teruggaan na die Neanderdal tydperk nie. Die ander kant van die munt is dat hulle dan ge*&%#* gaan word as hulle nie socially acceptable gaan optree nie! Jou vrou is soos 'n duif wat jy in jou hand vashou. Styf genoeg sodat sy nie moet wegvlieg nie, maar nie so styf dat jy haar dooddruk nie...

    ReplyDelete
  2. Dit is werkilk wonderlik om so 'n blog te kan lees. Ek dink vrouens behoort hulle verwagtinge aan tepas. Ons het net een lewe. Spandeer dit saam met iemand wat alles is wat jy vir jouself wil he en niks minder nie. Moet nie so vinig trou nie en kies dan vir jouself die beste-beste lewensmaat. Een wat jou nooit soos 'n oulap sal behandel nie. Skei as jy nie gelukkig is nie. Jy is net een keer hier op die aarde.

    Ek dink dit beging by onsself. As jy gelukkig is met wie jy is sal jy nie onreg teenoor jouself dult nie. Nooit hoef jy te wonder of jy onderdanig aan jou man moet wees nie. Jou X chromosome het niks met die prys van eiers uit te waai nie. Twee mense in 'n verhouding dien mekaar onafhanklik van geslag. ONS MOET ONS KINDERS SO LEER!!! Anders keer ons hulle vas in geslags-ongelyke verhoudinge!

    Ek is verloof aan die ongelooflikste mens wat ek ken. Hy dien my soos ek hom dien. Saam is ons beter as appart. Maar ek is nie lucky nie. Ek het hom so gekies. Ons moet ons standaarde opstoot en meer verwag van ons lewensmaat alvorens ons trou. Sodoende verseker jy jou geluk in die toekoms.

    ReplyDelete