Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Tuesday, April 12, 2011

Die Glipsie


Net omdat Maankind gevra het- een stukkie uitpraat wat ek seker vergewe sal word...

Die een ding wat ek begeer, en op my Bucket List is, is om eendag die motor van my drome splinternuut te kan koop. Ek is gewoond daaraan dat my voertuie gewoonlik al vyf jaar en 150 000 km agter die rug het teen die tyd dat hulle by my kom bly.  Net ingeval Maankind 'n miljoenêr met te veel geld is- op die oomblik is die droommotor 'n Hilux 3l Diesel dubbelkajuit, met 'n Carryboy Canopy op, en ek is baie vervelig- ek hou van Glacier White! Hierdie voertuig  maak net baie sin vir die wêreld waarin ek woon. Maar as 'n Biljoenêr nou sou lees- 'n Bugatti Veyron Supersport is die eintlike droom! Hy kos net $15 milj meer as die standaard ou Veyron'tjie. 

In elk geval- ek het een keer in my lewe dit reggekry om 'n nuwe motor te koop. Ek het my baie getroue ou Camry 220 Si ingeruil op... wag vir dit... 'n splinternuwe Toyota Tazz 1300! Sonder radio, aircon en kragstuur. Want- het ek vroom geredeneer- ons Here Jesus het met 'n donkie gery, dan kan ek mos ook! Die tweede rede was dat dit al was wat ek nuut kon bekostig met 8 jaar se Universiteitsopleiding agter my naam- ek het ook 'n Meestersgraad. Die Tazz het wel redelik vinnig 'n goeie klankstelsel gekry. En hy was Glacier White gewees!  En dit was al. 
2004 Model Tazz- splinternuut gekoop.

Die Tazz het darem soos 'n nuwe kar geruik vir die eerste week. Dit het bietjie gehelp. 
So na die eerste week moes ek my kinders by die kleuterskool gaan aflaai. Ek was geklee in 'n pak klere, want ek moes daardie oggend iemand begrawe. Toe ek die kinders afgelaai het, het een van die dames in my gemeente oorkant die pad gestaan, en baie ongemaklik gelyk. Hierdie dame is van die edele beroep: motorveiligheidsopsienersbeampte- of te wel: karwag. Ek stop so by haar, en vra wat is fout. Sy vra baie mooi of ek haar nie asseblief gou huis toe kan neem nie. En soos 'n goeie dominee betaam, doen ek dit toe ook. 

Net so voor haar huis begin ek skielik die onaardse reuk ruik, amper iets soos die demone van die hel, of 'n baie ernstige babadoek. Nou kyk, julle kan my vrou maar vra- die een ding wat ek nog nooit, ooit ooit kon hanteer nie, was om 'n baba se doek te ruil nie. Ek word dadelik naar as dit gebeur. Ek het ook al my kinders se alies in die agterplaas met 'n tuinslang afgespuit uit selfverdediging. Ek kan nie stront hanteer nie!!!

In elk geval, ek laai die dame by haar huis af. En toe sy opstaan, sien ek dit- daar waar sy gesit het, lê die bruin plassie ***! Op my nuwe voertuig se sitplek. Sy sê niks, hol net in die huis in. En ek? Ek het gelukkig nie ontbyt geëet nie. Met 'n maag wat al die pad opgooikrampe maak, jaag ek huis toe. Ek staan in my kerkpak, en spuit my nuwe kar se passasiersitplek met die tuinslang af. Maar daardie reuk kom nie uit nie. Ek het kerk toe gery, en in ons kerk se binneplein die Tazz laat staan, met al vier die deure en die agterdeur wyd oop, terwyl ek plegtig binne vir Tannie X begrawe.  Na kerk het ek na 'n vriend toe gery, wat 'n matwas-besigheid gehad het. En ek het by hom gepleit- "maak nie saak wat jy my vandag vra nie- hierdie *** reuk moet vandag uit my kar uit!" 

Naasteliefde kan 'n mens soms duur kos. My nuwe kar het nooit weer nuut geruik nie. Hy was toe ook 'n donkie, en ek het hom maande later maar ingeruil op 'n 4 jaar oue Corolla met kragstuur en aircon. 
Op die oomblik ry ek 'n 9 jaar oue bakkie rond. Daardie nuwe Hilux sal baie welkom wees as hy die dag opdaag! (Sit net vir my Melville & Moon waterdigte sitplekoortreksels ook in, asseblief?)

2 comments: