Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Sunday, April 3, 2011

Negentig nie uit nie...

Saterdagoggend het ek en my goeie vrou die voorreg gehad om 'n gemeentetannie se negentigste verjaarsdag partytjie by te woon. En dit was hartroerend mooi!

Die besondere dame is nou al vir jare in 'n rolstoel, nadat haar heup gebreek het en nie weer wou aangroei nie. Dit het gemaak dat sy vir jare net in haar huis gekluister was. Dit is nou te sê haar liggaam. Want hierdie wonderlike mens se gees en gedagtes word nie vasgekluister nie. Sy is steeds op hoogte met wat in die wêreld aangaan, sy weet beter as die meeste mense wat in haar gemeente aangaan, en sy het 'n ellelange lys mense vir wie sy elke dag bid. Sy het nooit die voorreg gehad om self kinders te hê nie. Maar sy ken haar oorlede susters se agterkleinkinders elkeen op die naam, en laat hulle baie spesiaal voel op hulle verjaarsdag.

Toe Tannie Nelsie in die Vrouefederasiesaal ingestoot word, het ons vir haar die Here se seën toegesing. Haar ou Dominee, self nou een en tagtig, was die seremoniemeester. En hy het die vermoë om atmosfeer te skep, en mense baie spesiaal te laat voel. Ek moes die gebed waarneem, waar ek vir haar aan die Here opdra. Daarna het familie en vriende huldeblyke gelewer. En Tannie Nelsie het, ten spyte van haar gesondheid, steeds 'n vol saal mense getrek. Dit blyk dat haar "stokperdjie mense is". Sy is lief vir mense. Sy stel opreg belang in mense. Sy gee om wat van elkeen word.  .

Daar was sulke uiteenlopende mense wat kom hulde bewys het. Haar dokter, haar prokureur, haar oogkundige. 'n Afgetrede apteker wat onthou hoe sy blomme gestuur het toe hy sestig jaar gelede die een bekende Apteek in die dorp oopgemaak het. Verskeie familielede wat van baie ver af gekom het, soos haar suster se oudste kleindogter, self al 'n ouma, wat kom eer betoon het. Bure wat op verskillende tye en plekke langs haar gewoon het.

  Teen die een muur was 'n uitstalling met foto's van tannie Nelsie se lewe. Sy as 'n klein dogtertjie, seker 88 jaar gelede, saam met haar pa. Sy as 'n tiener by Durban se strand in 1945. Haar troudag. Saam met haar twee susters, hulle was die beroemde Drie Susters wat saamgewoon het na hulle mans se dood. Ek het die oudste en die jongste al jare terug begrawe, maar tannie Nelsie staan nog sterk.

Die versameling mense was vir my baie interessant. Daar was die een prim en propper tannietjie wat fotos geneem het van almal, en almal dadelik rondgeshunt het om ons te kry presies waar sy ons wil hê. Daar was die Hollandse tannietjie wat iemand se woonstelingang toegeparkeer het, en toe gekraai het van die lag toe hulle die wit Opel se eienaar soek. "Dei Kaa Kaa- ja, dit is tog ons motor..." Daar was die tannie met die baie groot bolla se opregte woorde vir tannie Nelsie. Daar was nie so baie omies nie- op 'n sekere ouderdom gee die manne net moed op en gaan hemel toe, lank voor die dames. 'n Man het ook sy rus nodig. Soos die ou tannie mos op die oom se grafsteen aangebring het: "Rus in vrede- tot ons weer ontmoet!"

En ek dink dit is wat mooi is in die lewe: Iemand wat liefde uitleef sonder om terug te verwag. Iemand wat opreg omgee, sonder enige bybedoelings. Ware liefde kan nooit oorwin word nie. Toe tannie Nelsie negentig word, kon ons die erkenning vir haar gee. So dikwels hoor mense nooit dat hulle vir ander kosbaar was nie.  Dit was kosbaar om te sien hoeveel die oggend vir haar beteken het. Opregte mense soos sy maak die lewe vir my die moeite werd. Dankie, tannie Nelsie, wens daar was baie meer mense soos jy!

1 comment:

  1. Mag ons ook so mooi oud word... en nog steeds dien op daardie ouderdom, soos sy!

    ReplyDelete