Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Saturday, April 2, 2011

Ou karre gaan scrapyard toe, waarheen gaan gescrapte dominees?

VAn kleins af het ek 'n groot liefde daarvoor om deur 'n Scrapyard te stap. Om al daardie goeters te sien wat mense mee klaar gemaak het, en weggegooi het uit hulle lewens uit weg. Van kleins af het ek potensiaal in die scrap gesien. Ek het altyd gewonder hoe kan 'n mens nuwe waarde toevoeg aan hierdie verworpe stukke yster. Ek het gewens ek kan sweis en plak. Sommer nuwe lewe in so 'n wrak blaas, 'n kunswerk maak wat daardie ysterhart sommer weer warm sal laat klop.So nou en dan het ek gewaag om 'n stuk scrap huis toe te smokkel. Maar eers het my ma, en my vrou het later die tradisie voortgesit, dat dit baie vinnig weer verdwyn, terug na waar sulke stukke roes seker maar hoort. Ek kan nie mooi sweis nie. En Ma, en Vroulief, kyk nie met dieselfde oë as ek na afvalyster nie.

In Standerd 9 kom die groot keuse: Wat moet ek vir 'n beroep doen? Waar kan ek 'n verskil maak. En weet julle wat- soos in die Scrapyard het ek dieselfde gevoel gekry as ek na baie mense gekyk het. Sommiges was soos nuwe motors, blink, vinnig, gesogd. Maar baie, baie ander het êrens langs die lewenspad afgetrek, finaal tot stilstand gekom, en dadelik begin roes. Die hartseer is dat so baie mense dood is, en eers baie jare later finaal die gees gee en begrawe word. En met my nuutgevonde geloof het ek gedink: daar kan ek 'n verskil maak! Daar is soveel seer mense. Die een ding wat nodig is, is dat hulle weer liefde beleef. Iemand wat omgee. Iemand wat potensiaal in hulle sien, en met so bietjie sweis en plak hulle help om weer aan die gang te kom. Ek het gedink- dis ek daai! EK kan daar wees, ek kan help. Ek kan liefhê, ek kan omgee.

Dit is 27 jaar verder van daardie roemryke dag in Standerd 9 toe ek besluit het ek wil 'n Dominee word om mense te help. Ek het nooit gedink dat die "predikantsamp"  'n sekere "status" op die platteland sou hê nie. Ek het die Bybel gelees dat 'n mens soos Jesus wou dien. Ek sou nooit kon dink in Standerd 9 dat mense die dominee op 'n "pedestal" sal plaas, juis om jou op 'n afstand te hou nie. Maar die dominees is nie onskuldig in hierdie stand van sake nie. Ek sou nie kon droom dat mense titels en togas sou gebruik om belangrik te klink, en mooi afgeronde woorde soos Jerusalem met soveel gevoel te kan sê nie.

Ek het nie geweet dat daar 'n dag sou kom dat die kerk net totaal irrelevant sou raak vir die gemiddelde mens nie. Ek het nie geweet dat mense groter troos sou soek by Jack Daniëls as by Dominee Bileam nie. Ek het baie naïef geglo ek kan 'n verskil maak.

Vanoggend voel ek ook gereed vir die Scrapyard. Ek voel totaal irrelevant. Stephan Joubert en Leonard Sweet se Perfekte Storm het my ook getref, en ek sink. Hierdie golwe van Postmodernisme, Post-Christendom en die Plat aarde (lees die boek, dis goed vir jou!) het die hele kerklike wêreld getref. Net hier, in ons dorpie, is die mense salig onbewus daarvan. Dit wat jy nie weet of erken nie, kan mos niks aan jou doen nie? Soos kanker.  Hier op die platteland glo die ouderlinge nog dat ons net weer die kerk se "basics" soos in 1950 goed genoeg moet doen, dan sal alles weer regkom. Doen net weer huisbesoek by almal, Dominee, dan sal almal weer kerk toe kom, nie net die 27% wat wel nog Sondagoggend kom nie. Doen huisbesoek, Dominee, dan sal meer as 24% mense weer geld in die bordjie gooi, dan kan ons jou weer goed betaal, dat jy weer gemaklik jou kinders se skoolfonds kan betaal.

Ek is moeg om huisbesoek te doen. Ek is moeg om by mense te gaan kuier, wat regtig nie 'n saak met my of die kerk het nie, dalk nie eers met die Here self nie. Met 'n groot gemeente bars dit om binne 'n twee jaar tydperk deur almal te werk, en by elkeen se huis uit te kom. Een besoek in twee jaar! Daarop wil die ouderlinge die kerk bou? In hierdie wêreld van facebook, twitter, MXit, waar kommunikasie onmiddelik is?
Ek gaan doen huisbesoek, die liewe mense van Boshoffstraat 50 voel baie skuldig, en kom die eerste Sondag  getrou kerk toe. Hulle gooi 'n koevertjie in die sakkie. Plig afgehandel. Volgende Sondag kom hulle weer, maar dis moeiliker. En die Sondag daarna verslaap hulle. En die Sondag daarna vergeet hulle.  Tot oor twee jaar, wanneer ek daar instap, en hulle skielik met rooi gesigte hulle beloftes onthou...

En in daardie tyd wat ek huisbesoek gedoen het, het ek die mooiste Bosveld sonsondergang saam met my vrou gemis. Ek het dit gemis om saam met my seuns bal te skop (seuns wat op die kerkterrein langs my huis verbied is, behalwe as hulle kerk toe gaan op Sondag. My eie kinders voel nie welkom by die kerk nie!)
Louis l'Amour het gesê dat sekere dinge se permanente invloed so groot is soos om jou vinger in die water te druk, en dan weer uit te trek. Huisbesoek is so in mense se geestelike lewe- eenmalige opwinding as jy gelukkig is, met geen blywende effek nie.

Ek is al so lank in hierdie pragtige plattelandse dorp. En hier is regtig wonderlike mense hier. Ek ken almal. Ek ken hulle honde se name. Ek weet van die aambei-operasies, en die ingroei toonnaels. Ek het al die gemeentebouprogramme probeer-  soos Twaalf Sleutels en Three Colours. Ek het Getroue Getuies en EEIII probeer. Nou probeer ons Gestuurde Gemeentes. En ek kry nie 'n kerngroep van 8 toegewyde mense uit 'n gemeente van 1600 mense bymekaar nie vir die GG span nie! Ek het al die evangelies deurgepreek, en wonder elke Saterdag, soos nou, wat om more met die Here se gelowige volk te deel. Soos die een ou dominee so mooi gesê het in sy boek (was dit Isak de Villiers?) Dit is Saterdagaand, moreoggend wil die gemeente hoor: So spreek die Here... en ek sit en druk gaatjies op 'n skoon papier...  (iets soos dit- dis wat ek onthou!)

Ek is opgelei om vir een firma te werk. Net een.  En in daardie firma word dominees met 'n spoed uitgehaal. Een is in die amp gestuit oor hy op facebook 'n like knoppie gedruk het! 'n Baie goeie vriend is ge"fire" oor hy nie wou saamgaan met finansiële wanpraktyke in die Moedergemeente van 'n groot dorp nie. Kan glo nie die gemeente "Tot stigting dien nie"- Artikel 13 van die kerkorde. Wanneer is ek so moeg dat ek nie meer my gemeente "tot stigting kan dien nie"? Wanneer lees die Ringsbroers hierdie blog, en fire my? Artikel 13- dien nie tot stigting nie. Of as hulle meer polite wil wees- Artikel 12- ons kan jou nie meer bekostig nie.

 Daar is geen ander werk wat ek met my Meestersgraad kan doen wat ek van weet nie. Ek was wel eendag lank lank gelede 'n uitstekende busbestuurder. Maar ek is blank, middeljarig, en oorgekwalifiseerd. As ek met my vriende in die bediening gesels, sit hulle in dieselfde bootjie. Kyk ek na die Kerkbode se advertensies, sien ek dieselfde storie in elke gemeente van die NG Kerk. Die Storm tref, en almal soek net beter dominees. Raak van die huidige een ontslae, daar is nog baie waar hy vandaan kom, daar uit die kerk se drie engeltjiefabrieke uit.

Ek sou so graag meer tyd saam met my gesin wou spandeer. Ek sou so graag elke sonsonder saam met my vrou wou wees, en ek sou so graag betaaldag opgewonde wou wees om ordentlik vir my gesin te kan sorg. Ek sou so graag vir my vrou 'n baie meer nuwe kar wou koop as haar 15 jarige wrak. Ek kan nie.

My wiele val af, en ek is besig om van die pad af te trek. Waar gaan al die dominees heen wat op 'n dag gekies het om uit die bediening te bedank? Hoe sorg hulle vir hulle gesinne? Watter werke doen hulle nou? Is hulle gelukkiger as in die pastorie? Ek wens daar was 'n webwerf waar hierdie oudkollegas kon raad gee.

Een van die skuldige plesietjies is dat ons darem nog in die laaste dae is van 'n DSTV kontrak. Op Discovery is daardie wonderlike program van Overhaulin', waar ene Chip Foose ou wrakke neem, en dit beter as nuwes maak. Die eienaars is altyd so opgewonde om te sien watter potensiaal daar toe al die tyd in hulle ou skedonkies was. Ek het gedog die kerk het daardie funksie met mense, en Jesus is die Meester wat mense beter as hulle potensiaal maak. Ek glo nog steeds in daardie Jesus, en sy potensiaal ontsluitingsvermoë.


Maar ek beleef die kerk as die "Crushers", wat die laaste bietjie lewe uit my sal pers, en my dan eenkant sal gooi. Soos daardie aangrypende brief van 'n pastoriekind in die kerkbode einde Maart 2011. Al die jare het haar pa met haar geraas oor die verbruik van krag en water in die huis, om geld te spaar vir die gemeente. En toe hy die dag aftree, na sy mediese fonds afgetrek is, het hy R1400 om van te lewe. Na al die jare wat hy saans huisbesoek gedoen het- is dit wat oor is. 'n Vinger uit die water getrek...

Waar is die geloofsgemeenskap wat werklik ernstig is oor om Jesus lief te hê, en mekaar te dien? Waar is daardie kerk wat omgee en stukkende mense wil heelmaak? Hoekom is Overhaulin' soveel beter as die kerk?

Die Rustang voor
Nadat Chip Foose met hom klaar is...




2 comments:

  1. Daar is my comment weg!
    Ek wens ek kon nou my arms om jou en jou vrou kom sit en julle sommer net troos.
    Julle moedig my so fantasties aan. Daarom wil ek vra: Byt asb vas!
    Ek lees die briewe in die kerkbode en is baie bekommerd oor die stand van sake. Dit gaan nie goed met die finansies van die kerk nie en nog 'n hele paar ander sakies ook.
    As julle 'n wegbreek soek en kan kom tot aan die suidste punt van Afrika, kontak my. (Des vakansie kan dalk lol, maar anders....)

    ReplyDelete
  2. Op die comment wat weg is, het ek ook oor huisbesoek geskryf.
    Ek is mos 'n plattelander. Jammer jong, maar huisbesoek is maar vir ons belangrik. Meer nog vir ons wat op die plase woon. Hoekom, weet ek nie!!???? Dit maak dalk nie 'n verskil aan dié wat kerklos is nie, maar vir die ander gee dit 'n warm gevoel om die hart.

    ReplyDelete