Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Friday, March 25, 2011

Die Kerk- hoe de hel het ons hier uitgekom?

Eendag lank lank gelede het ons Here Jesus hier op aarde God se liefde kom uitleef. Hy het vir ons kom wys hoe ware liefde lyk. Hy het homself kom opoffer, sodat gewone mense deel van God se huisgesin kan word.  Die plek waar Hy dit gedoen het, was baie insiggewend. Nie in Rome, waar die setel van wêreldmag van die dag geleë was met die keiser se teenwoordigheid nie. Ook nie in Griekeland, waar die vorige wêreldryk gesetel was, met al die eeue se kulturele erfenis nie. Die Seun van God word mens in Betlehem in Juda, daar in ‘n gehawende, warm stowwerige stukkie nêrens in die agterstrate van die Romeinse Ryk. Maar strategies, juis waar die groot kontinente van Asië, Afrika en Europa bymekaar kom, so sentraal om ‘n boodskap wêreldwyd te stuur.

Die boodskappers is net so ‘n vreemde keuse. Nie die koninklike magsdaers van Rome of selfs plaaslike regering in Jerusalem nie. Nie die filosowe en wyse here van Athene nie. Nie die Joodse Hoëpriester, of die Joodse Raad, of die Skrifgeleerdes of Fariseërs- die kerklike leiers van destyds nie. Die Seun van God wil die wêreld verander, en Hy kies om dit deur die ongeleerde mense van destyds te doen. Vissermanne wat nie hulle eie name kan skryf nie. Tollenaars wat deur elke regdenkende mens gehaat word vir hulle korrupte praktyke. Dokters, wat omtrent net bloed kon laat, en obskure boererate kon pleeg in die naam van mediese wetenskap. Politieke heethoofde soos Simon die Fanatikus. En vir die grap- sy grootste vyand, Saulus van Tarsis, wat sy bes probeer om die kerk van Jesus uit te roei. Gewone mense, vol gebreke, groot karakterfoute, min geleerdheid, nog minder status in die samelewing. Vir hierdie mense demonstreer Jesus ‘n alternatiewe lewenswyse, waarin die eie Ek opgeoffer word in diens van God en die naaste. En wanneer Jesus klaarmaak met sy bediening hier op aarde, dan vertrou Hy  daardie gehawende groepie mense toe om sy boodskap te gaan vertel tot in die uithoeke van die wêreld. En het hulle dit nie gedoen nie, ten koste van hulleself! Van die oorspronklike twaalf kry net Johannes dit reg om oud te word, en van natuurlike oorsake dood te gaan. Al die ander sterf voortydig wrede dode,  vir hulle geloof. Geloof was duur, dit het hulle alles gekos.

Maar die boodskap verander die wêreld. Van die begin af kom groepies gelowiges bymekaar, en help mekaar om God se liefde te verstaan, en dit met mekaar te deel. Hulle gee om vir mekaar, hulle deel selfs besittings met mekaar sodat almal ‘n kans het om in ‘n vyandige omgewing te oorleef. Die groot uitdaging is om mekaar te dien, soos Jesus hulle geleer het toe Hy hulle voete gewas het.

Die boodskap het al verder oor die wêreld versprei. Oral oor die wêreld begin klein gemeentetjies ontstaan, wat in gelowiges se huise bymekaar kom, saam aanbid, saam dien, saam uitreik om hulle boodskap van liefde met ander te deel. En so groei die kerk van twaalf na ‘n paar honderdduisend teen die einde van die 2e eeu na Christus. “En die Here het daagliks mense toegevoeg tot die gemeente…”

Intussen was daar Konstantyn, die eerste “gelowige” Romeinse keiser, wat die Christendom  die amptelike staatsgodsdiens gemaak het. Die kerk het politieke mag gekry. Die kerk kon begin om mense te beoordeel, en selfs tereg te stel! Glo jy my nie? Google net die Spaanse Inkwisisie. Lees die verhaal van die kruistogte…

In die kerk het die taal onverstaanbaar geword vir die gewone ou. Die boodskapper van God se liefde is nie meer die eenvoudige visserman wat Jesus liefhet nie, maar die priester wat die antieke taal van Rome kan praat. Hierdie priester kom staan tussen God en sy gelowiges, en sê vir hulle wat sê die Here, volgens hom en sy kerk se tradisie. Uitdeler van Goddelike genade vir die onbewuste “leke”.

Toe kom ‘n ou met die naam Martin Luther in opstand daarteen. Na baie sielswroeging kom hy uit by ‘n klompie waarhede, wat hy teen die kerkdeur van Wittenberg vasspyker. ‘n Mens word deur genade alleen gered, nie deur ‘n klomp geld te betaal of genoeg goeie dinge te doen nie. Net deur geloof in Jesus word jy deel van God se familie, sy kerk. God se Woord is die bron van geloof, belangriker as die kerklike tradisie.   EN so begin Martin Luther ‘n nuwe tradisie, wat die Bybel weer beskikbaar stel vir die gewone lidmaat. Gelowiges kan weer in ‘n persoonlike verhouding met God lewe, sonder dat ‘n priester alles vir hulle moet doen.  ‘n Kerk vir wie dit kernbelangrik is om altyd te bly reformeer- om meer en meer te word soos die kerk wat die Here Jesus graag in hierdie wêreld wil gebruik.  Maar skielik is daar Gereformeerdes en Katolieke wat in God glo, maar nie van mekaar hou nie.

Draai die wêreld nog so paar keer om sy as, breek die 21e eeu aan. Een van die weergawes van God se kerk op aarde is die Nederduitse Gereformeerde gestalte daarvan. Nederduits, want ons geestelike wortels lê in die Germaanse wortels- Duits en Hollands. Gereformeerd, want ons hou nie van die Katolieke nie, ons het groot geword met die waarskuwing teen die “Roomse gevaar”.

Ons tradisie sê dat die Bybel vir ons belangriker as ons kerklike tradisie is.  Ons sê dat Jesus alleen ons Middelaar is na God toe, ons het nie Maria of priesters nodig om vir ons in te  tree nie.

Omdat die Bybel vir ons belangrik is, is ons kerk so dinamies en lewenskragtig as die eerste Jerusalem gemeente in Handelinge 2. Vir elke gelowige is die Woord die fondament waarop ons ons lewens bou. Ons elkeen leef voluit vir die Here. Die kerk is die plek waar jy, in die taal van jou hart, die Here kan eer deur musiek, kuns, koordanse… Die kerk is ook die plek waar ons onvoorwaardelik lief is vir ons naaste, soos Jesus ons beveel het…  Ons behoort nie aan die kerk om gedien te word nie, maar om deur ons diens die wêreld stelselmatig te verander in die Koninkryk van God, waar liefde heers… Al hierdie dinge is in die Bybel…- maar is dit in die kerk?

In ons land was dit goeie Afrikanertradisie om aan een van die  “susterskerke”  te behoort- (wat niks met mekaar te doen wil hê nie, dit het  iets met kelkies en gesange te doen!) Solank jou lidmaatskap op datum was, het dit darem mooi gelyk op getuigskrifte, op keurrade en in werksonderhoude.
Ons hou nie van die Roomse Katolieke kerk nie, en tog volg ons hulle voorbeeld so getrou na!
As jy nie dink tradisie is belangriker as die Woord nie,  gaan karring net aan ‘n plattelandse gemeente se kerkmusiek. Ons almal weet mos dat die mees geïnspireerde musiek ooit in die 16e eeu in Duitsland en Holland was.  Daardie geheiligde musiek, soos deur Bach en ander uitgedink- dit is verseker die tipe musiek waarna die Here graag luister. Maar ons almal weet dat daar niks goed uit Australië kan kom nie- los maar musiek soos Hillsong en Michael W Smith eerder uit, dit val vreemd op die gereformeerde oor. Mense jonger as 40 moet maar net leer om van kerklike musiek te hou, aangesien dit nie deel uitmaak van hulle alledaagse lewenswêreld nie.

As jy dink dat die beginsel van die priester as uitdeler van Goddelike genade nie lewendig en wel is nie, praat met die plattelandse gemeente oor huisbesoek. As die dominee nie die afgelope twaalf maande by my aan’t huis was nie, dan stel die kerk nie in my belang nie. Ek wil die dominee in my huis sien, dan sal hy my in die huis van die Here sien. As hy nie my kom bedien nie, dan dien ek ook nie die gemeente met my bydrae nie.
En so het lidmaatskap op die platteland stadig as sulks verander:
Elkeen wil graag gedien word, maar niemand wil meer dien nie. Die kerk moet almal in nood help, maar iemand anders sal die geld daarvoor moet uithaal. Dominees moet 70% onbetrokke lidmate se alies gereeld blinklek om tog by te woon, en by te dra, dan klop die syfers, en is almal baie gelukkig.
Efesiërs 4:12- rus die gelowiges toe vir hulle dienswerk- Nee dominee, daai is die taal van die charismatiese kerke, die heppie kleppies, die wederdopers. Nee dominee, hier by ons is ons nie die Liggaam van Christus nie. Ons het nie genadegawes om ander mee te dien nie. Nee, dominee, ons is die kudde, jy is die Herder, en ons betaal jou om ons te besoek.
Nee, dominee, ons het nie ‘n bediening nie- jy is die Bedienaar. Jy kan agt honderd mense se harte elkeen baie goed ken, by elkeen se nood uitkom, seker maak elkeen is gered, gesond en gelukkig in die gemeente.

Dominee, wat se nonsens is hierdie kleingroepbediening nou weer? Jy preek Sondag, en vertel ons hoe die Here ons wil dra en troos. Jy kuier by ons as ons siek is. Jy trou ons, jy bedien aan ons brood en wyn, jy gooi die laaste grond op ons.

Die Bybel vertel: 
Die kerk is bedoel om te versprei deur eenvoudige mense, vol van die krag van die Heilige Gees, vol van die liefde van die Here, ook vir mekaar. En dit het nog altyd die wêreld verander- gelowiges wat liefhet en dien. Dan voeg die Here mense by sy gemeente.

Dominee, waarom het ons so lanklaas ‘n volwasse doop gesien? Dominee, waarom krimp ons kerk se finansies so? Dominee, hoekom word ons kerk so leeg? Dominee? Dominee…

Pastoor, ons like jou tent. Pastoor, ons like jou musiek. Pastoor, dis so lekker in die selgroep. Daar waar ek in die NG Kerk was, wou niemand my ooit toelaat om dinge so te beleef nie…  




1 comment: