Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Tuesday, March 15, 2011

Carboloading in die Kaap voor die Argus

Daar is 'n baie belangrike wetenskaplike beginsel wat geld vir enige atleet wat aan 'n "ultra-event" deelneem. Dit is die beginsel van Carbo Loading. Kyk, dié ding werk nou eintlik so: Volgens professor Tim Noakes kan 'n sportman se liggaam net 'n sekere tyd lank funksioneer op die beskikbare energie wat wel binne daardie spesifieke liggaam geberg is.  As jy byvoorbeeld getrou jou Corn Flakes en Hasiemelk geëet het voor 'n groot sportgeleentheid, dan gaan dit jou net X aantal ure hou- gewoonlik dalk so 90 minute, afhangende van jou graad van fiksheid, jou liggaamsmassa, jou krag per kilogram "power to weight ratio" en derglike fisika reëls- alles duidelik meetbaar in laboratoriumtoestande in die Sportsinstituut van Suid- Afrika.  Jou negentig minute is nie lank genoeg om 'n sportgeleentheid soos die Pick 'n Pay Cape Argus Fietswedren te wen nie, die wenner vanjaar het dit in 2 uur 32 minute voltooi. Wat beteken dat hy nie alleenlik op Corn Flakes en Hasiemelk kon funksioneer nie. Erens moes die energie aangevul word.  En ons almal weet deesdae dat Sportdieëtkunde 'n reuse, multibiljoenrand industrie is. Vra maar net vir die plaaslike rep van USN.  

Die vraag waaroor die goue medalje draai, is hoe die wenner van die Argus van sy 90 minute Corn Flake Rush  gevoed kan word tot by 2h32 minute. 'n Baie meer indrukwekkende vraag sou egter steeds blyk te wees hoe Bileam se donkie, met sy 120 kg lyf, en sy beplande 6 ure Argus, genoeg energie bymekaar kan maak om wel die wenstreep in Groenpunt te haal. 'n Mediese vraagstuk van epiese proporsies, sou ek dink. 

Wel, volgens Professor Tim Noakes is daar iets soos glukogeen in die bloedstroom van die gemiddelde atleet. 'n Sekere aantal energie word uit goed geselekteerde kos gekry, volgens 'n fyn uitgewerkte formule. In Bruce Fordyce se boek: Comrades Marathon, word dit as volg aangedui: Twee weke voor die tyd moet die atleet ophou om koolhidrate in te neem- dis nou pap en sous, brood, rys, pasta en al derglike dinge. In hierdie week word die liggaam geforseer om soveel as moontlik proteïen in te neem. Dis nou daardie uitmuntende voedselsoorte wat so erg deur dieëtkundiges afgekraak word- naamlik ROOIVLEIS. Eet jou steaks en jou skaaptjops. Soveel soos wat jy wil hê. Tim Noakes en Bruce Fordyce het so gesê- en wie is ek om nou met hulle te stry? Maar 'n week voor die groot item ruil die rolle om. Nou los jy die proteine en eet soveel as moontlik koolhidrate- pasta sonder romerige sous, pap sonder sous, aartappel sonder botter... Dit stoor dan glukogeen in jou bloedstroom, wat jou in staat stel om baie langer in enige ultra- sportgebeurtenis te kan volhard, tot by die wenstreep. Natuurlik sal jy ook langs die roete die energie effens moet aanvul met Energade, Powerade of steroide, en Gel en Gu van 'n slymerige aard, afgesluk deur 500 ml skoon H2O per halfuur.   En daar, liewe wenners van die toekoms, het julle die suksesresep om 'n 2h32 Argus te ry met jou fiets, om die Comrades in 5h21 te hardloop, of die Midmarmyl in 20 minute te swem. Soos die byskrif in die artikels in Mens Health in fynskrif byvoeg: individuele resultate mag verskil... 

Nou die gevallestudie: Bileam se donkie is 'n 44 jarige manlike atleet, met super-atletiese liggaamsbou, dalk so klein bietjie aan die dik kant, maar wat is 20 kg nou tussen vriende- dis skaars 'n goeie Karooskaap se gewig! Hy het hom nou nie skuldig gemaak aan die ander groot sonde van die "ultra-event", naamlik "overtraining" nie. Nee, ons gevallestudie het nie meer as 40 km op 'n slag geoefen nie, en 'n paar weke se oefening weens 'n verskeidenheid van goeie en minder goeie redes gemis. 

Dis die dag voor die Argus van 2011. Bileam se donkie het drie weke laas pasta geëet. Bloedglukogeenvlakke- minimaal. Wegspringtyd- 24 ure weg. Hoe sal ons vriend gevoed wees vir die wenstreep in 'n aanvaarbare tyd- voordat hy Woensdag moet terugvlieg met Kulula.com? 

Ontbyt: Volg 'n gebalanseerde, hoë proteïen ontbyt saam met sy baie fikse, atletiese vriende, by Ons Huisie in Bloubergstrand. Neem twee tot drie filterkoffies saam met die twee eiers, vyf repies spek, boerewors, hashbrown, sampioene en ter wille van koolhidrate- slap tjips. Dis hulle twee in aksie op hierdie foto- 12 Maart 2011 by Ons Huisie. 

Teen half-elf het die personeel van Ons Huisie ons vriendelik begin wys daarop dat daar ook ander kuierplekke in die Kaap is om ons wedrenstrategie te beplan. Ons verskuif toe maar na Eden on the Bay toe, na 'n volgende wonderlike plek. Hier kon ons behoorlik Carbo Load, met koolhidrate voorsien deur ene Mnr Hansa- dit was baie lekkerder as Powerade, met apologie aan die Coca Cola Bottling Company. Hier kon ons elkeen ons glukogeenvlakke aanvul met 1.5 liter hoë kwaliteit moutekstrak, wat bekend daarvoor is dat dit die innemer daarvan met ongekende krag en moed vul. Ons het sommer dadelik kans gesien om te gaan wegspring, aangesien die Suid-Ooster op daardie stadium afwesig was in die kaap. 

Daar het ook 'n belangrike ooginstellingsoefening plaasgevind. Kyk, dit is al van die vroegste tye af bekend dat visie uiters belangrik is om jou doel te bereik. Die manier waarop jy na 'n probleem kyk, bepaal al klaar in welke mate jy sukses sal behaal, aldan nie. Verstaan?  In elk geval, die newe-effek van moutekstrak is 'n oormatige vog-opbou in die urinêre stelsel. Vir die optimale funksionering van die menslike nier is dit wenslik dat voorvermelde vog gereeld afgeskei sal word. In die vertrek wat in die sportslaboratorium vir hierdie doel opsy gesit is, het ons die volgende gekry om oor na te dink, diep te mediteer en te filosofeer. Ek deel dit graag met u, die enkele leser van my intellektuele blog. Die volgende prent is opbouend, en stimulerend bevind deur die paneel van deskundiges wat daarna gekyk het. Indien die naam van die sportslaboratorium by Eden on the Bay in Bloubergstrand wel sigbaar daarop verskyn, mag sekere geldelike donasies aan Bileam se Donkie se opvoedkundige trust wel in orde gevind word. Oordeel asseblief self na deeglike oorweging van hierdie inspirerende visuele hulpmiddel:


Die enkele gereelde leser van Bileam se Donkieblog sou haarself kon afvra: Hoe het hierdie verhaal van moed en sportmanskap hom verder uitgespeel? Wel, na hierdie sessie van Carboloading was die drie potensiële wenners van die 2011 Argus effens moeg, en het na hulle onderskeie woonplekke vertrek om te gaan uitrus, terwyl hulle diep dankbaar en tevrede was met 'n uiters sinvolle oggend. 

Bileam se Donkie het nog twee troues die middag saam met 'n leraarsvriend meegemaak buite Darling en langs Klub Mykonos in Langebaan. Daarna was daar 'n Rumparty by die pastorie. Die aand se diëet het bestaan uit Heineken se bekende groen bottel Carbo Loading moutsap, en 'n paar stukke mediumsagte kruisskyf (Rumpsteak, idiot!) en skaapkottelette uit die Karoo. Met ander woorde, Bileam se Donkie se Carboloading was presies, lynreguit die teenoorgestelde soos deur Professor Tim Noakes en Bruce Fordyce voorgestel. 

Die volgende oggend teen skemer het Bileam se donkie vertrek op sy 17e Argus. Hoe het dit dan gegaan, mag my enkele leser dalk wonder? Buitengewoon goed, dankie vir die vraag!  Bileam se Donkie het gegewe sy oefeningsgeskiedenis, sy massa tot kragratio, sy uitstekende Carboloading bereken dat hy 6 ure sou neem om hierdie taak te voltooi. Maar dit het geblyk, met die genade van Bo, die wind genadig van agter, ten spyte van die Carbo Loading, dat hierdie tyd met 27 minute oorskat was. 

Bileam se donkie kondig met trots aan dat hy sy 17e Argus agtereenvolgend voltooi het in 'n tyd van 5h33. Spesiale erkenning word gegee aan Chris Britz, wat hierdie metode van Carbo loading so met toewyding oor jare gedemonstreer het, en as 'n goeie mentor gedien het in die toepassing daarvan. 

Baie dankie dat u, my enkele leser, se aandagspan tot hier gestrek het. Nou is ek vaak en moeg. Tot Argus no 18 se inskrywing op 1 September 2011 aanbreek...





2 comments:

  1. Hartlik geluk met jou tyd wat 'n hele halfuur vinniger was as beplan. Dit wil gedoen wees!!! MOET die carbo-loading wees!!
    Ek wat glad nie 'n atleet is nie, het op my dae halfmarathons gedraf. Was van die laastes wat ingekom het. Maar die vetste wat ek ooit geword het, was met die Carbo-loading voor die tyd. Soveel sjokolade kan vir GEEN mens goed wees nie!
    Terloops. My man en seun het die Argus gery. Op verskillende tye weggespring, nooit saamgery nie. Hulle eindtyd was op die sekonde gelyk. Ek dink dis 1 uit 'n miljoen gevalle wat so iets sal gebeur.

    ReplyDelete