Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Wednesday, March 2, 2011

In biddende afhanklikheid soek ons saam na Superman...

Hiermee stel die weleerwaarde kerkraad van die Nederduitse Gereformeerde of Hervormde Kerk Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein in biddende afhanklikheid van die Here die volgende vakature bekend:

Leraar

Gemeenteprofiel: Ons is 'n klein plattelandse boerderygemeenskap, hoofsaaklik tabak en druiwe word hier by ons verbou. Die gemeente is versprei tussen 110 lidmate bo 64 in Huis Herfsblaar, 120 lidmate is versprei oor ons plaasgebied, waarvan die verste besoekpunt so ongeveer 169 km suid-suid oos van ons kerkgebou is. Daar is 31 kinders onder 18 in die gemeente, maar hulle is nooit tuis nie, want die naaste koshuise is by die naaste skole, daar in Doodgedrinkmetgoedkoopwitblitz, presies 249.5 km van die pastorie af. Daar is ook een baba op pad wat nog nie gedoop is nie, die vaderskap sal nog met DNA toetse bevestig word. Die suksesvolle kandidaad sal verwag word om na al die toepaslike tugprosedures die baba te doop êrens na geboorte.

Leraarsprofiel:
* Ons soek 'n jong, dinamiese manlike dominee, wat bereid is om op die beginskaal van die sinodale salarisskaal te begin dien. (Sien Vergoedingspakket onder...)
* Tien jaar se toepaslike ervaring sal as 'n sterk aanbeveling dien.
* Ons soek 'n gesinsman, want gesinne is vir ons baie belangrik. Die suksesvolle kandidaat se vrou (let wel nie man nie!) moet 'n professionele mens wees, met 'n kwalifikasie soos 'n dokter, apteker of C.A.
* Daar sal van die suksesvolle kandidaat se vrou verwag word om uiters betrokke te wees in die gemeente, en verkieslik nie te werk nie.
* As deel van die gesinsbediening moet die kandidaat oor nie minder nie as drie kinders besit nie. Hulle mag egter nie voor ouderdom 17 op die kerkterrein kom nie, behalwe tydens eredienste en jeugaksies, om enige breekskade te vermy. Hulle sal in elk geval van ouderdom 6-18 in die Koshuis wees.
* Ons wil graag iemand hê wat Skrifgetroue en dinamiese prediking van ons kansel af sal besig. Onderwerpe wat liefs vermy moet word, is sake soos vergifnis, naasteliefde, kerkhereniging, tabak en drankmisbruik. Om oor die onderdanige vrou te preek, mag gereeld gedoen word. Preke oor die kerklike en ouerlike tug is baie gewild in ons gemeenskap.
* Die suksesvolle kandidaat sal 'n baie sterk leier wees, wat dinamies leiding kan neem in die kerkraad, en by die Landboukoöperasie. Dinamiese leierskap sal getoets word in die mate wat die broer kan luister na ouderlinge ouer as 85 op die kerkraad.
* Die kandidaat sal 'n liefde en ywer hê vir sistematiese huisbesoek. Ons verwag dat daar kwartaalliks by elke huis besoek afgelê sal word. Onderwerpe wat gereeld aangeroep moet word, is die betaal van tiendes en die stand van Cheetah rugby. Daar mag onder geen omstandighede op die kerkraad se rekening gepraat word oor Bloubulrugby of veral WP nie.

Vergoedingspakket:

* Ons is bereid om tot die eerste kerf van die Salarisskaal van die Sinode van die Oranje Vrystaat van 1983 te betaal.
* 'n Ruim pastorie op die kerkterrein word beskikbaar gestel, en daar word verwag dat die Dominee tussen sy mense sal bly. Die daklek in die sitkamer is vir die dominee se rekening, ons sal mooi na die studeerkamer en die gastetoilet kyk.
* 'n Voertuigtoelaag is nie deel van die pakket nie, daarvoor sal ons voorsien in 'n doelmatige voertuig- ons beskik oor 'n 1973 Toyota Stout bakkie. Sy bande is in 2001 vervang, en sy battery in 2009. Die bakkie het nie 'n kappie nie, want net Dominee is in ons diens.
* Die Pastorie beskik oor 'n elektriese meterboks, en die eerste R100 per maand sal deur die kerkraad voorsien word. Water is gratis beskikbaar uit ons boorgat, sodra die ontkalking van die pype voltooi is.
* Daar is ongelukkig geen Internet toegang binne 'n 200 km radius nie, en aangesien net Cell C hier een strepie se opvangs het, en hulle so liberaal is, sal geen selfoontoelaag voorsien word nie. Telkom is wel beskikbaar as die lyne nie gesteel is nie. Die kerkraad sal instaan vir die helfte van die landlynkoste tot met 'n maksimum van R49 per maand.

Ons verwag van die hoopvolle kandidaat om op eie rekening, saam met sy eggenote, 'n preekbeurt en onderhoud waar te neem op 'n Sondag in Maart.  Die weleerwaarde kerkraad het ook onderneem om 'n Professionele Persoon in te vlieg van Bloemfontein af, wat Myers-Briggs, PF 16, die DISC profiel en die Neethling Breinfunksioneringsskaal sal afneem van die drie finale kandidate op die kortlys.

Indien u binne 12 maande nog nie van ons gehoor het nie, moet u aanvaar dat u aansoek onsuksesvol was. U moet dan aanbeweeg met u lewe, en biddend volhard, want ons plaas jaarliks hierdie advertensie in Die Kerkbode. Daar is iets fout met die dominees van vandag- hulle hou net nege maande hier by ons.
Die kerkraad behou die reg voor om geen aanstelling te maak nie, aangesien Ouderling Koekemoer se kleinseun gister gelegitimeer is.


Eendag, lank lank gelede was daar nog nie 'n Nederduitse Gereformeerde Kerk nie, en nie leraarsposte nie, en nie ouderlinge en diakens nie, en nie sistematiese huisbesoek nie.
Die Seun van God het na hierdie wêreld toe gekom, en verby al die weleerwaarde here, en hulle vergaderings, en hulle posisies gestap. Hy het gaan stilstaan by die Vissermanne, wat nie eens kon lees nie. En vir vier van hulle gesê: "Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak!"  En by die verdomde tollenaar, en nog 'n paar ander sondaars en straatvroue gaan staan, en met hulle sy Koninkryk begin. Hy het vir die eenvoudigstes, en die armes gaan sê: Julle sal my getuies wees wanneer die Gees van God oor julle kom, en julle sal gaan na Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld, met die eenvoudige boodskap dat Ek die Here is. Geleerdheid is nie 'n voorvereiste nie, liefde vir my, en die krag van die Gees sal die wêreld verander.


En twaalf mense het uitgegaan, en die wêreld binne drie eeue verander. Sonder Myers Briggs en meestersgrade en titels.
Ek het 'n Meestersgraad. Ek het 'n titel. Ek ken my Myers Briggs telling, my DISC profiel, my Neethling breinfunksietelling. En my gemeente is nog net so groot soos tien jaar gelede. En ons is nog steeds besig met presies dieselfde dinge- Basaar en Kerssangdiens is koning, die res van die jaar se datums verskil net van verlede jaar s'n. Ek wil so graag aansoek doen vir 'n ander beroep. Maar ek pas nêrens in die advertensies in nie. Almal soek Superman, niemand wil 'n eenvoudige profeet hê wat net graag vir Jesus en mense wil lief wees en glad nie 'n sterk leier is nie.


Ek kyk na die Kerkbode se vakature advertensies. Ek kyk na Jesus se woorde in die Bybel. En ek wil soos Tweety die geel kanarie in die grys kat se hande dit uitskree: "What went wong????"

2 comments:

  1. Ek voel vir jou!

    ReplyDelete
  2. Soos gesien in die advertensie van Aliwal Noord gemeente in die laaste Kerkbode voor hierdie datum...

    ReplyDelete