Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Wednesday, April 13, 2011

Oueraand by die Laerskool


As daar nou een ding is wat jy nie mis in ons plattelandse dorpie nie, amper net so belangrik soos 'n kaartjie Loftus toe, dan is dit Oueraand by die Laerskool. Ons dorp het twee laerskole. Die een is die wenners. Die ander een het baie gekrimp, en baie van karakter verander die afgelope twee jaar. Ons skool is die wenners. 


Oueraand is 'n baie belangrike gebeurtenis in die sosiale lewe van ons dorp. Dan trek al die mammies baie mooi aan. Want al die ander mammies gaan daar wees, en mooi aantrek. Dit moet darem lyk of ons onlangs in Menlyn was, en die kredietkaart kon darem nog so paar aankopies uitstaan. Dit is altyd belangrik vir 'n mamma om jonk, en sexy, in ons dorp te lyk. Dit moenie lyk soos Ouma wat oueraand toe gekom het nie! 

Pappie kom in sy two-tone hemp en kortbroek, met sy hoërskoolrugbykouse in sy Hitec stapskoene. Darem in skoon klere, wil darem ook nou nie lyk asof jy nou net van die plaas af ontsnap het nie. Want almal gaan daar wees. Hier verenig ons, soos wat kerk en politiek dit nie kan doen nie. Net die way-out ouens is nie daar nie, die heel heiliges home-school, en die baie baie regses se kinders in die CVO skool. Die res van die normale spektrum vergader getrou in die skoolsaal, ryk en arm, mooi en lelik, vet en maer, hier is ons almal net ouers van ons hart se punt- daardie bloedjies wat uit ons vlees voortgekom het en dapper die grootmenswêreld begin nader storm. 

'n Laerskool oueraand begin betyds. (Geen Afrikatyd hier nie, party ouens moet nog 90 km terugry oor lelike plaaspaaie. Nadat hulle eers by die Spur was om fees te vier oor boetie se punte.) 

Eers sal die skoolhoof hartroerend mooi open- dis elke keer baie motiverend, goed deurdag, met kosbare pitkos vir die siel. Daarna sal die Voorsitter van die Beheerliggaam baie, baie dankie sê vir al die ouers wat wel hulle moerduur skoolfonds op datum hou- die nuwe klaskamers kon gebou word, en pre-fab was toe goedkoper as steen en sement. Die nuwe rekenaarsentrum is ook op datum gebring.  Nie meer daardie modelle wat Noag vir navigasie in die ark gebruik het nie- ons is nou al tot by Windows 7 op die platteland!  (Ek hoop dis wat hulle bedoel het, party dae wonder ek of Windows XP nie party se idee van op datum is nie?)

Daar word aan ons verduidelik presies hoe die eerste kwartaal se punte bereken is. Dit is met KONTinue EVAluasie gedoen, elke toets is verskriklik belangrik. En boetie moet ook nie vanaand sê more moet die taak ingehandig word nie- die minimum is 'n week tyd, die eerste dag daarna verloor jy twee punte, die tweede dag ook, en die derde dag kry jy KOL. Niks. Nada. Zero. Zip. As ons die beginsel presies verstaan, word ons op die onderwysers in hulle klaskamers losgelaat. Daar sit hulle gereed in hulle forte, verskans agter dik pakke leêrs teen die aanval wat binnekort van kompeterende ouers op hulle geloots gaan word. 

Tot hier het my aand baie mooi verloop. Maar julle moet een ding mooi verstaan: Bileam se donkie het vier vulletjies, een merrie en drie hingsies. Die merrie is in matriek- die hemel alleen weet hoe sy deurkom, en hoe sy haar kamer oorleef, maar op 'n manier vorder sy. Ouboet leef vir rugby, en die kerk se eiendomskommissie moenie te vinnig in sy kamer instap nie- hy is mal oor Roxy Louw se fotos in die FHM (pappie ook, maar ons sê dit nie te hard nie, netnou hoor die ouderlinge!)

Hingsie nommer 3 is die groot bekommernis. Ons stap in sy klaskamer in. En kry sy rapport. Hy het 88% vir bestuurswetenskappe! En 71% vir gewone wetenskap. Maar die Afrikaans- 42%. Sy wiskunde- 40%.  Dadelik begin ek die prentjie kry- eendag gaan Sparky 'n wonderlike bestuurder wees in 'n wetenskaplike rigting, wat f-ol van somme maak gaan weet, en in swak Afrikaans mense gaan rondorder... 
Boetie leef glo net vir krieket, stel so nou en dan belang in die eerste rugbyspan, waar hy reserwe heelagter is. Hy is 'n dromer in die klas, baie lief vir meisies, en beslis aandagafleibaar. Hy sal in 'n toets vergeet waar hy is, sy gedagtes sal op ander lekker plekke rondhardloop, en dan te laat onthou van die paar vragies waarvoor hy eintlik daar was. 

Kleinboet is weer baie pligsgetrou- die enigste van die vier met 'n akademiese verantwoordelikheidsin. Sy punte lyk baie mooi, hy is baie omgekrap oor die 78% wat hy vir Afrikaans gekry het, hy glo hy kan baie beter. 

Terug na nommer 3 en die oueraand- Nou die dag was ek en my ma in Stellenbosch by ons bure van kindertyd. Die tannie onthou dat ek nooit geloop het nie, maar gehardloop het waar ek wou wees. Ek het nie hekke oopgemaak nie, ek het bo-oor gespring. My ma onthou 'n Juffrou du Plessis, wat in die Laerskooloueraand gesê het ek was die stoutste kind in die skool. Ek onthou self my boekhou-onderwyser, wat vir my gesê het: "Donkie- jy gaan eendag net 'n straatveër word."
As ek vandag terugkyk na my roemryke skoolloopbaan, dan was ek verseker aandagafleibaar en Ritelinloos. Daar was altyd 'n skootjie depressie êrens in die agtergrond. En wragtag, die meeste onderwysers het my verveel. Baie, baie mense het vir my op oueraande gesê ek gaan dit nie maak na skool nie. 

Soos ek hier sit, is daar 'n Meestersgraad in Teologie, met Lof, teen die muur. In 'n trek na ons huidige huis het iemand my dekaansmedalje gesteel vir die beste M.TH student. (Ek glo nie ek gaan hom vervang nie, ek weet, en dis genoeg!)  Ek sê dit waaragtag nie om te spog nie. Ek sê dit om vir Sparky te sê: My kind- hulle moere! Daar gaan 'n dag in jou lewe kom wat jy gaan ontdek waarvoor jy gemaak is. En dan gaan niks in die lewe jou keer nie! Geen bliksem het die reg om vir jou te sê jy gaan dit nie maak nie! 

My liewe seun, jou pa is baie lief vir jou, met jou 40 % in wiskunde en al! (Moenie nou al uitvind dat jou pa in een roemryke toets in Hebreeus 'n volle 9% verwerf het nie...) Al is jy nooit 'n akademiese reus nie, al sit jy vir altyd op die eerstespan reserwebank, al word jou droom van Protea krieketspeler dalk nie waar nie- jy is my seun, jy is my naamgenoot, jy is perfek vir my, en ek sal altyd agter jou staan. Jy sal altyd die beste JY wees, en dit is al wat vir my saakmaak. Ek is baie trots op jou, al was dit my vaderlike plig om jou netnou so bietjie uit te *** in die studeerkamer. 

Vanaand, in ons gemeenskap, is 'n pa en ma wat verlede week twee seuntjies moes begrawe na 'n lorrie oor hulle gery het. 'n Lewende, gesonde, dromer van 'n kind is 'n hemelse seëning. Hy is vir ons baie meer as die somtotaal van al sy punte!
 

3 comments:

  1. Die prentjie wat jy van 'n oueraand op die platteland skilder kan netsowel hier in ons dorp wees want selfs oorsee tof die mamma's vreeslik op en die pappa's van SA dra hulle two-tone hempies - ons sien die Saffers myle ver :-)
    My middelste seun is ook 'n dromer waar die juffrou gese het ons moet nooit hoe punte van hom verwag nie, en vandag swot hy in Bloem nadat hy 'n internasionale matriek met 5 A's geslaag het. Ek glo dat baie keer het die kinders net die regte onnie nodig om daai vonk vir die "slegte" vak te laat spark.

    ReplyDelete
  2. Haai, hierdie keer laat my rekenaar my toe om te "comment". Lyk my ek het in my besige week baie gemis hier by die donkie!!
    Die ete (hierbo) lyk HEERLIK!! Glad nie na 'n vervanbetaaldagete nie!!
    Hierdie juffrou se hart lê ook by nr 3. Ek het nog altyd 'n sagte plek vir die kinders gehad wat dit nie maklik het nie. Maar hy doen dan so goed in die wetenskappe, dis vreemd dat die wiskunde nie ook daar in die hoë kringe is nie.
    Dankie, jy teken die prentjie van die oueraand UITSTEKEND!

    ReplyDelete
  3. Dogter? Wonder hoe sy matriek deur gan kom met amper 5 onderskeidings hmmmm?

    ReplyDelete