Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Friday, April 22, 2011

Breek die brood, en die by steek jou...

Gisteraand het ons 'n baie mooi aand beleef. Ons het die Donderdag waarin Jesus die nagmaal ingestel het, gevier. Voor in die kerk was ons reuse groot kruis van sleeperhout, met 'n wynrooi lap daaroor gedrapeer. Dit het op die nagmaaltafel gestaan. Daar was net kerslig in ons groot kerkgebou gewees. In die agtergrond het Taizé musiek saggies gespeel.

Soos mense ingekom het, het elkeen 'n blaadjie gekry met inligting. Hulle moes na 'n kers toe beweeg, alleen, saam met 'n geliefde, saam met hulle gesin of omgeegroep, saam met vriende, net soos hulle wou. Dan het hulle kans gekry om rustig deur die kruisigingsverhaal van Johannes 19 te lees. Op die digitale projektor het skyfies gehardloop van verskillende tonele van die lydingsweg van Jesus. Hulle kon net rustig ontspan, in 'n sagte, gewyde atmosfeer. En wanneer hulle gereed was, het hulle een- een, in gesinne of groepe na vore gekom. Ek of my kollega het voor in die kerk gestaan, by die nagmaaltafel.

Ons het harde toastbrood gemaak, om die hardheid van Jesus se lydingsweg voor te stel. Dit het ons gebreek, en aan elkeen persoonlik bedien. Ons het baie slegte (studente sal moontlik nie saamstem nie!) Tassieswyn gebruik om die bittere lydingsbeker voor te stel. Dit het ons ook aan elkeen persoonlik bedien. Daarna het ons hulle geseën met die Korintiërs seëngroet oor hulle name uitgespreek. Dit was regtig aangrypend mooi.

Dié stukkie wil ek net met julle deel. Toe ek nog so een stukkie toast vat, en plegtig breek, toe begin daardie stuk brood soos vuur te brand in my hande. Nee, ek is nie Moses nie, dit was nie 'n Epifanie nie (persoonlike verskyning van God nie). In daardie gewyde oomblikke het 'n by op die brood beland, en toe ek hom raakvat, toe eet hy my op die duim. Dit het verskriklik gebrand. Maar ek is in die middel van 'n gewyde oomblik, ek kan nie nou "Ag ***"  skree nie. Hou my gesig reguit, maak klaar met die bediening aan die gesin, en wink toe my kollega nader om te kom oorvat.  Ek hardloop huis toe en kry anti- histamien, salfies, pleisters en al derglike dinge uit die noodhulpkassie uit.  Soms toon ek allergiese reaksie op bysteek, soms nie. Gisteraand was dit net deksels seer, met so paar oomblikke se lekker hartkloppings.

Nou my groot vraag vanoggend: Toe ek nagmaal bedien, steek 'n by my. Wat het verkeerd gegaan?

  • Die Charismatiese broers sal dalk sê dis oor daar sonde in my lewe is- dalk oor ek nog so bietjie kan vloek.
  • Ds Pieter Fourie sal dalk sê dit was 'n demoon, maar ek sal nie waag om die like knoppie op facebook te druk oor daardie een nie.
  • My byeboer vriend sal sê dit was 'n kaapse by, wat die Verroea virus vrygespring het (Neander moet maar die spelling tjek op dié een :-) )
  •  My Roomse broers sal sê dis oor ek nie die voorgeskrewe heilige ronde koekie gebruik het, wat eers met heilige water besprinkel is nie. 
  • Calvyn sou sê dis oor ek in sonde ontvang en gebore is.
  • Martin Luther sou sê dis oor daar 'n kruis by die nagmaaltafel was.
  • My dolerende (reg gespel dié keer, N?) broers sou gesê het dis oor daar net kerse in die kerk was- werke in die duisternis verrig.
  • My Dopper broers sou gesê het dis oor mense dalk saam gebid het, nie elkeen in hulle eie binnekamer nie.  
  • Aartsbiskop Desmond Tutu sou gesê het dis omdat ons twee brode daarvoor gebruik het, en nie een vir die armes gegee het nie.
  • Allan  Boesak sou die brood gesteel het, en dan op televisie oor die by geween het.
  • My Hindoevriende sou bekommerd wees oor die by wat intussen gesterf het- wie was dit in hulle vorige lewe, en wanneer kom hulle in 'n beter toestand terug om weer te probeer vir Nirvana.
  • My Moslemvriende sou omgekrap gewees het omdat daar Joodse eienaars in die bakkery is wat die brood gebak het, en die brood kosher is maar nie noodwendig halaal nie. Die suicide bomber is op pad...
  • My Joodse vriende sou weer gedink het dis oor ek nie besny is nie en aan heilige kosher brood vat, wat die noodlot my so tref.
  • Jacob Zuma het 'n navraag gestuur: Wat is ons transformasieplan om meerderheidsbelang oor te dra aan die getal swart broodeters? Saam met 'n huweliksuitnodiging vir die meestal swart by om sy 8e huwelikseremonie in Waterkloof by te woon.  
  • Cosato wil weet of die bakkery BEE Compliant was, anders verdien ek om gesteek te word.
  •  Julius Malema het gedreunsang: kill the Boer breaking the bread, little brother bee! Maar hy het darem tyd gevat om die vakmanskap agter ons mooi houtkruis te bewonder. 
  • Lady Gaga het 'n song aangestuur: "You were born to BEE this way!"
  • Steppenwolf het dit verbeter met: "Born to BEE wild!"
  • Die Japannese ambassade het laat weet ek moenie so tekere gaan nie, dinge lyk baie erger by hulle.
  • my pagan vriende het laat weet: "Be the bee!" (sorry modderkoekie!)
  • My Top Gear vriende het laat weet: "F*** the Bee- get better wiper blades!"
  • My US Marine Corps vriende het via facebook laat weet: "Be all YOU can bee! - Kill the little f*****r!
  •  PETA het laat weet hulle prokureur is op pad, ek het daardie by se reg om te lewe ernstig geskend met my onnadenkende gevroetel met hom.
  • Lollie Jackson se medium het na middernag laat weet: Lollie sê: as 'n man 'n stekie kan kry, is hy baie gelukkig!

En ek? Watter teologiese sin maak ek uit hierdie ervaring?
'n By het my gesteek toe ek nagmaal bedien het. Life goes on...
Wat dink jy?

1 comment:

  1. Dalk het die by ook die gewyde oomblik geniet, en toe vat jy per ongeluk sy stukkie brood!!
    Of dalk is dit 'n stuitige by wat wou sien of jy jou "pose" sal hou in die gewyde oomblik.!!

    ReplyDelete