Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Tuesday, April 19, 2011

Die Skrikwekkendste plek waar ek nog ooit was! Saal 42, Weskoppies.




Ek was vanoggend vir die eerste keer in my lewe in Weskoppies! Ek moes vir 'n jong man uit ons gemeente daar gaan kuier.  Ek het in Bloemfontein gestudeer, en ons het wel 'n week of twee in Oranje Hospitaal praktiese werk gedoen. Maar ek het dit heeltemal vergeet.

Gisteraand vra die bekommerde ma my om asseblief by haar seun te gaan inloer. En ek weet, ek weet, ons maak baie keer grappies oor Weskoppies.

Vanoggend het ek daar opgedaag. Nou moet ek begin soek na die betrokke saal. En die gevoel wat ek die hele tyd kry, is daardie Schindler's List gevoel van Auschwitz. Selfs op die padtekens is die bordjie heel bo-aan die "Mortuary!"
Iemand wat daar werk, gaan dalk hierdie blog lees, en baie seergemaak voel. Daar is waarskynlik baie toegewyde personeel, wat regtig met groot passie na die mense omsien.  As dit so is- baie baie dankie! Jy is 'n beter mens as ek!

Net na die hek is daar 'n gebied wat baie sterk toegespan is, dit lyk regtig soos 'n maksimum sekuriteit tronk. Dit is seker ook- die mense wat hulle mal hou in hofsake word mos dikwels vir dertig dae soontoe gestuur vir Psigiatriese Observasie.
Bietjie verder aan staan 'n hele klomp sale dolleeg. Dis seker nie meer polities korrek om mal te wees in die Nuwe Suid-Afrika nie. Die breë samelewing het mos maar 'n klap van die windmeul weg.

Maar hierdie plek op die foto het my vanoggend verskriklik bang gemaak. Dit het regtig gevoel soos 'n toneel uit 'n riller rolprent. Hierdie is die ou saal 42. Hy staan leeg, met hierdie pragtige tuin daar voor. Kakiebosse. Ander onkruide. Lang gras. Dit was bewolk met reën vandag. En ek het dalk te veel rolprente gekyk in my lewe. Ek het enige oomblik verwag daar gaan 'n swerm vlermuise daar uitvlieg. Of 'n Zombie met 'n byl in die hand daar uitstorm.

Dit is vir my verskriklik erg om te dink aan al die menslike tragedies wat dalk in hierdie saal afgespeel het. Hoeveel mense het hier gelê wat alle hoop in die lewe verloor het? Hoeveel ouens het eerder hulle eie droomwêreld geskep, as om die harde realiteit van die alledaagse lewe te moet deurstaan? Hoeveel mense het oor die jare hier gelê, en nie meer die verskil tussen lewe, nagmerrie en dood kon onderskei nie? Hoeveel leë gebede het hier teen die dak vasgeslaan? Hoeveel mense het in die nag gehuil, geskree en gekerm?

Hierdie plek het vir my gelyk soos my prentjie van die hel- 'n plek waar daar geen liefde oor is nie, waar daar nie hoop is nie, waar daar geen rede is om te oorleef nie. Niks om na uit te sien nie. Nêrens heen om te gaan nie.

Ek is regtig jammer as ek op iemand se tone trap met hierdie blog. Die menslike nood wat ek in 'n paar minute daar aanskou het, het my totaal ontstel en van my voete af geslaan.
Dit sit nie in my om in so 'n plek te werk nie. Ek was so goddankbly toe ek by daardie hek kon uitry na 'n paar minute se besoek. Wat wel baie mooi was, was al die duifies wat by die graansilos by die hek kom kos soek...

2 comments:

  1. Snaaks dat ons 'gewone' mense selde vir selfs 'n oomblik stop om aan die 'uitgeworpenes' te dink. Hoe sterk is sterk genoeg om nie deur iets/iemand geknak of gebreek te word nie, wat is dit wat ons vrywaar van waansin, mag ons deur die genade so iets gespaar bly.

    ReplyDelete
  2. Dankie dat jy wel gegaan het toe die bang ma vir jou gevra het. Al was dit baie moeilik. Gelukkig is daar mense wat wel geroep word en die moed het om in sulke plekke te werk. Ek dink ook nie ek sou kon nie.

    ReplyDelete