Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Wednesday, May 19, 2010

'n Donkie word gebore/ an ass is born...

Geliefde Broeders en Susters

IN ons gelese teksgedeelte, naamlik Numeri 22, vind ons die wonderlike verhaal van die esel wat kon praat. Bileam word gehuur om die kinders van die Here te gaan vloek, maar die Here hou nie van die idee nie, en belet hom. Bileam ry tog met eersgenoemde esel om te gaan kyk wat aangaan. Soos my ma, en my ouma sou sê: Hy het nie ore nie! Wanneer die doodsengel in die pad staan, gereed met die swaard van oordeel, red die donkie drie maal vir Bielie. Maar drie keer word hy goed geraps. Dan praat die esel, en vra in Numeri 22:28 waarom Bielie hom so slaan. Was hy dan nie nog altyd 'n goeie dierasie nie, betroubaar en van hoë morele sedes? 'n Mens sou kon sê: van pragtige inbors...

Die les wat ons daaruit leer, geliefdes, is dat 'n mens soms hard geslaan word as jy die regte dinge probeer doen. Of, as jy &*& aanjaag, gaan die esel dit dalkies net vir jou sê. Partymaal het 'n donkie 'n beter oog vir die waarheid, as 'n profeet.

Op die platteland voel die dominee soms eensaam. Goeie vriende, en 'n ordentlike bottel rooiwyn om 'n kampvuur nie maklik bereikbaar nie. Om van die KWV op die ys nie te praat nie! 'n Donkie is mos maar geduldig, gedienstig en gedweë. En tog sou 'n dominee (ek haat daardie titel!) ook soms net êrens soos 'n donkie 'n spreekbeurt wou hê. Dis waar hierdie blog sy oorsprong vind. Al lees niemand behalwe my talentvolle, sexy vrou dit nie! Soos Bielie se donkie wil ek ok maar net ietsie sê, so nou en dan. Dalk verstaan ek ook nie altyd hoekom ek so hard gebliksem word nie. Daar is so baie dinge wat ek deesdae oor wonder. Daar is so min antwoorde.

Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël, en ons sien 'n raaiselagtige beeld. Dit sou soveel lekkerder wees om dit eerder op 'n satelietskottel te sien, en te verstaan...

1 comment:

  1. Nou ja, Oom Donkie Dominee. Dan kom los ek nou maar hier op die eerste pos van jou blog vir jou 'n kommentaartjie. Hier waar ek sien niemand anders een kom los het nie.
    Ek het nou jou blog van 2011 af reg deur terug gelees tot hier toe. En nou kom ek spoortjies los dat jy weet , ek was ook hier.

    En vet weet , Ek het empatie en simpatie en ek verstaan. Dalk beter as wat jy dink.

    So 'n los gedagtetjie of wat :

    Ek ken die Dominee wat predikant was op Philidelphia. Jan Mostert. Ken einltlik sy doger beter. Was saam met haar op Diensjaar vir Christus. Hy is nou 'n predikant op Amersvoort as ek reg onthou. Dalk is dit daar in jou omgewing ?

    Anyway....

    Dankie vir jou blog. Dankie dat jy jou gedagtes , hartseer , struggles hier kom uit-tik. Dis goed om te weet dat daar nog hier en daar dominees is wat regte mense ook is . Wag - kom ek refrase daai een. dis goed om te weet daar nog hier en daar dominees is wat bereid is om hulle mens wees te erken en wat probeer om die pad te vind tussen Christen wees en mens wees. So asof in die wereld (of dalk die kerk) die 2 van mekaar geskei en vervreemd is.

    Sterkte vir jou . Ek het 'subscribe' op jou blog en ek sien uit na die volgende aflewerings. Ek vermoed Anna F is jou vrou en ek het op haar blog ook ingeteken.
    As jy eendag in die Uitenhage PE area is - gooi my 'n boodskappie - dit sal lekker wees om te gaan koffie drink en vir die see te kyk en mens te wees .

    God bless.
    Adoonsie

    ReplyDelete