Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Monday, October 18, 2010

Oor die dood van 'n kind...

Jare lank sien ons hulle al daar staan: op die hoek van Hans Strijdom en Lynnwoodweg. Met ogies wat kliphard verstar as gevolg van die gom, met klere wat jare gelede al nie meer geskik sou wees vir vloerlappe nie. Elke middag staan hulle daar by die kruising, en kyk direk in  my oë in. Hulle wys met gepunte vingers dat hulle honger is. Soms staan hulle op hulle knieë op smeltende teer in die bloedige warm son. Maar ek gee niks nie, want hulle gaan net nog gom koop daarmee. En die staat vat in elk geval so hel baie belasting van my, dat daar êrens 'n maatskaplike werker met 'n plan moet wees vir hierdie straatkinders.

Saterdagaand is dit weer so. Daar is straatkinders in die kruising by Lynnwood en Hans Strijdom. Hoe weet ek dit? Want van baie ver af, anderkant Makro, kan ek die flitsende blou ligte sien. En soos ek  nader ry, lyk dit of die hele Boschkop en Garsfontein polisiestasies daar staan. "Padblokkade"- flits dit deur my kop. Maar nee- in die pad lê 'n bondeltjie. En soos ek verbyry, sien ek: 'n kind het seergekry!  Een van die gomsnuiwertjies lê in die kruising. En hy lê baie stil... Twee ure later ry ek weer daar verby. Daar is nog steeds polisievoertuie, met flitsende blou ligte. Die een baan is steeds gesluit vir verkeer.  Nou lê daar net 'n anonieme bondeltjie toegegooi onder 'n groot stuk foelie.  Daar steek twee klein, verslete tekkietjies onder die foelie uit. Die kind is dood...

Daardie seuntjie sal nooit weet hoe lekker dit is om 'n vrou vas te hou nie. Hy gaan nie aansit by 'n heerlike kersete saam met 'n familie wat vir hom lief is nie. Hy gaan nie eendag die droom waarmaak, en met 'n Harley op Roete 66 na L.A. toe ry nie. Hy gaan nie eendag Bungie van Stormsrivierbrug af nie.  Dalk het hy nie eers geweet dat 'n mens sulke drome kan droom nie. Dalk het hy maar net gedroom van iets meer as 'n ou televisieboks vir 'n dak, dalk het hy gewonder hoe voel dit om 'n nuwe boks Kentucky Fried Chicken net vir homself te hê, sonder dat iemand anders klaar al die lekker afgeëet het.  Dalk wou hy ook maar net een keer die woorde hoor: My seun, ek is lief vir jou- en ek is baie trots op die man wat jy besig is om te word.

Ek weet nie wat sy naam was nie. Ek weet nie waar hy gebore is nie, ek weet nie wie sy ouers was nie. Ek weet nie of hy ooit liefde in sy lewe ervaar het nie. Al wat ek weet, is dat die teerpad donners hard is, dat dit Saterdagaand baie koud was toe ek op my motorfiets daar verby is, en dat daardie kind baie, baie stil gelê het onder die emergency blanket waarmee hulle hom toegegooi het...

Monday, September 20, 2010

'n Liefde en Ywer vir sistematiese Huisbesoek...

NA soveel jare in die bediening in dieselfde gemeente begin ek soms wonder of 'n mens nog kan aanpas by 'n ander gemeente.  Soms is ek bang om te stagneer, en soms weet ek regtig nie meer wat om te preek op Sondag, wat ek nog nie voorheen al gedoen het nie. Ek is nou al deeglik bewus van my leemtes in my bediening, en daar is sekere dinge wat ek net nie in my het om vir 'n gemeente te bied nie.  Om Paulus aan te haal in die teks wat my oorspronklik tot die bediening geroep het: "Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom..."  (1 Korintiërs 2: 3)  Ja, ons glo dit is die Here wat oortuig, dit is die Here wat sy kerk hier op aarde bou.  In die proses gebruik Hy ook mense soos ek.

Nou, na meer as vyftien jaar in een gemeente, kyk ek met nuwe oë na die Kerkbode. Nie om die nuutste teologiese debat te volg nie, nee, eerder daardie voorlaaste bladsye binne die Teksbokse.

En dit is skrikwekkend! Iewers langs die pad het die kerk 'n baie georganiseerde besigheid geword. 'n Leraar is nie meer net iemand wat Jesus ontmoet het, en graag vir ander van Hom wil vertel nie. Nee, deesdae is hy veral beeldbouer van sy besigheid se plaaslike tak. Hy moet uitstekende organisatoriese vaardighede hê. Hy moet soomloos kan inskakel by die top sakemanne van die gemeenskap, om sy 1990 Corolla tussen hulle 2010 Mercs en BMW's te parkeer by die manne-ontbyt. Hy moet as kandidaad beskikbaar wees vir 'n hele battery psigometriese toetse, by die bedryfsielkundige broer wat deur die kerkraad vertrou word om die swakkes uit te dun. Hy moet die tale van mense en Engelse goed kan besig. Die geskikte kandidaad kan miskien nog regkom as hy 'n USB poort langs sy anale opening het, om goed met rekenaars te kan kommunikeer. Maar ons dominee moet liefs "wireless" wees, met 'n ver reikwydte. Hy moet alles vir almal in ons gemeenskap kan wees. En dit ook goed met rekenaartegnologie kan verduidelik.  Ons geskikte kandidaad beskik oor 'n baie Gereformeerde spiritualiteit, maar kan hom tog tuis voel in die geselskap van ander spiritualiteite. In die stad word verwag dat jy jou eie woonplek sal aanskaf, met 'n behuisingsubsidie, na belasting natuurlik, waarmee jy 'n ruim tweeslaapkamer woonstel kan huur. Terwyl jou kinders op universiteit is, sal Mevrou se professionele salaris julle darem seker deurhelp, of hoe? O, Mevrou is 'n onderwyseres? Sterkte broer!

Op die platteland mag Mevrou weer nie werk nie. Sy moet tuis wees, om Dominee en die gemeente se behoeftes te akkommodeer. Mevrou moet asseblief saamkom vir die onderhoud: ons wil darem sien of julle twee saam sal inpas by die "image" van ons gemeente!

En dan die towerwoorde in soveel (veral plattelandse gemeentes?) se advertensies: Ons geskikte kandidaad sal 'n liefde en ywer vir sistematiese huisbesoek aan die dag lê.
Gesels ek met die teologiese studente, sê hulle (By Pretoria, Bloemfontein sal waarskynlik anders sê, en niemand weet wat in Skelmbos aangaan nie!) die proffies sê: Huisbesoek werk nie.

My eie ervaring van 'n dekade en 'n half se getroue, sistematiese huisbesoek is ook: dit werk nie.
Die probleem wat dit in gemeentewees ingebring het, is daardie bekende prentjie in gemeentebou- kringe van lank lank gelede van die lang (eindelose) ry swaaie, waarop gemeentelede sit. En almal wag vir die dominee om hulle te kom "maak".  Die probleem van atrofie is dat voor 'n mens vreeslik verder gevorder het, het die eerstes lankal weer tot stilstand gekom.  Daardie een besoekie van Dominee tuis hou net so lank.

Ons is as kerk in die tyd van die Perfekte Storm (Stephan Joubert en Leonard Sweet onder andere...)
Ons word getref deur die grootste storm waarin irrelevansie die kerk kelder. Daar moet nuut gedink word hoe om die goeie nuus van Jesus met die wêreld te deel. Die beste metodes bly interpersoonlike kontak. Die Bybel ken die antwoorde, bv Efesiërs 4:12 waarin  'n leraar toeruster word vir ander, sodat hulle hul eie dienswerk kan gaan doen. Daar is sekere aande van die week nodig om leiers toe te rus. Daar is ander aande van die week nodig om mense bymekaar te kry in sinvolle kleingroep byeenkomste, sodat hulle saam God se liefde kan beleef, mekaar kan versorg, en uitbeweeg om 'n verskil in die wêreld te gaan maak.  Verder het 'n leraar ook tye in die aand nodig vir pastorale versorging van seer, werkende mense. En net so nou en dan het die leraar 'n gesin, en 'n kind wat sukkel op skool, en 'n oueraand waar wysheid gevra moet word.

Die model vir sistematiese huisbesoek werk baie goed in die klein plattelandse gemeentetjie, waar daar maksimum 200 lidmate is. Dan ken almal mekaar, en die dominee ken almal.
Is die gemeente egter in die finansiële posisie om die minimum leraars te bekostig, en vir elkeen die maksimum hoeveelheid lidmate toe te ken, dan raak dit moeilik.  Hoe kom 'n dominee van vlees en bloed, wat gereelde vergaderings met diensgroepe moet lei, wat betrokke moet wees om 'n kleingroep bediening aan die gang te kry, wat sekere aande van die week opsy moet sit vir pastoraat, huwelikskategese, doopkategese, sukkelende huwelikke... nog steeds redelik gereeld uit by meer as 800 mense?

Vir sekere mense is 'n jaarlikse besoek veels te min. Daar is mense wat verontreg voel as die dominee nie ten minste kwartaalliks by hulle uitkom nie. Vir andere is maandeliks veels te min. Dit is hierdie liewe tannies wat jou kruisig met die woorde: "Dominee, jy het my vergeet!"

Gebeur Huisbesoek wel die aand, dan verloop dit dikwels as volg: Broer wil eers gesels oor die stand van Springbokrugby, kwotas en spankeuses.  Suster wil net graag weet wie het nou eintlik daardie nuwe kanselkleed gemaak, en hoekom hang hy so skeef.  Die kinders se sertifikate word uitgestal: Kleinsus het 'n C+ by die ATKV se kunskompetisie gekry, en Boeta is sowaar kaptein van die 4e rugbyspan.
Soek 'n geestelike aanknopingspunt om die gesprek na meer heilige gebied te lei.

Broer- julle was bietjie lanklaas in die erediens opgemerk... Ja, Dominee, ons is maar moeg deesdae, hierdie lang ure (8-5, Maandag tot Vrydag) maak ons baie moeg.
Broer, ek wens dat ek vir jou kon sê dat ek vanoggend sewe-uur al by die biduur was. Nege uur het ek die Bybelstudie gehad, van tien tot twaalf by 'n klompie siekes uitgekom, van twaalf tot een vinnig deur die berg korrespondensie gewerk wat op my lessenaar lê. Een tot twee het ek darem saam met my gesin kon eet, twee tot half drie het ek op my bed gelê omdat ek self uit op my voete van moegheid is. Van drie tot tien is ek besig om sewe gesinne te sien, om die stand van Springbokrugby te bespreek, klagtes oor koeksisters aan te hoor, boeta en sussa se prestasies te prys, en dan vir julle 'n stukkie uit God's Woord te lees, uit daardie Bybel wat julle so diep onder die stof gaan uitgrawe het.  Ek gaan my bes doen om julle aan die Here op te dra, vir sy seën oor julle lewe te bid, veral vir julle finansies, sodat julle darem ook een van die 28% besoekpunte kan wees wat wel iets bydra in 'n maand.
Maar al hierdie dinge kan ek nie sê nie.

Ja, ek was gisteraand by julle huis. Ek gee vir julle om. Ek bid vir julle, en ek lees vir julle. Ek probeer om vir julle te inspireer om met blydskap voluit die Here te dien. Maar oor ses maande vertel julle weer vir almal dat ek nooit by julle aan huis kom nie...
Intussen hou my kinders nie baie van die kerk nie. Soms sien hulle die seer in my oë raak, wat ek nie vir hulle kan wegsteek nie. Soms wonder hulle hoekom iemand hulle pa so dringend op die aand van hulle verjaarsdag moet sien, en dan vir ure gesels oor 'n klein ongelukkigheid oor parkering by die kerk of derglike snert.

Waar is die advertensie van 'n gemeente wat graag lewend, dinamies kerk wil wees en 'n verskil wil maak waar God hulle geplaas het? Waar is die gemeente wat 'n leraar soek om saam met hulle die Here te kom dien, en hulle toerus, sodat hulle self die dienswerk in die gemeente kan doen? Waar is die gemeente wat erns maak met die baie, baie "mekaar" tekste in die Bybel, en nie net een professionele nar wil hê vir wie almal hande klap nie?  Is daar nog sulke gemeentes in die tradisionele kerke? Of is dit hoekom ons lidmate so in massas na die tentkerke toe stroom, om by 'n selgemeente te gaan inskakel waar hulle die pastoor net op Sondag sien, maar die res van die week die liefde en warmte van 'n kleingroep beleef?

Ek wil graag in 'n bediening wees waar ek nooit weer 'n huis hoef te besoek nie. Ek wil nooit weer die woord "besoekpunte" hoor nie. Ek sou so graag in 'n bediening wou wees waar dit gaan oor mense, oor verhoudings, oor saam soek na die Here se wil.  Waar ek nie alleen 800 mense moet bedien nie, waar ander gelowiges my ook soms bedien, wanneer ek moeg is, seer het, visie verloor...

Ja, ek het 'n groot liefde en ywer vir Huisbesoek. Dit is my motorfiets se naam...

Monday, August 23, 2010

Ierse en Walliese skytsregters kry eervolle vermelding.

Die Kunste Akademie vir Kultuur wil hiermee graag 'n buitengewone toekenning aan Walliese skyt-sregter Nigel Owens oorhandig vir hoogs vermeldbare optrede in die lyn van diens.

Die manier waarop hy meesterlik die fluitjie op Soccer City hanteer het in die Drie Nasies wedstryd tussen Suid-Afika en New Zealand verwys.

Van die begin van die wedstryd af kon 'n mens sien Mnr Owens het sake deeglik in beheer. Hy het die vermoë ontwikkel om anders te kyk wanneer iemand met 'n swart trui dalk 'n bal vorentoe laat val. Dié mense kom van verder suid, en dit kan wees dat gravitasie erger is daar aan die anale kant van die aardbol. Daarom moet hulle die voordeel van die twyfel kry, dis tog net regverdig. Verder kan 'n mens ook nie die geleentheid vir 'n pragtige drie verby laat gaan nie. Daarom kan dit net 'n optiese illusie wees dat die bal ontvanger voor die sender was- die hoek waarmee 'n mens op 'n rugbyveld kyk na die spel, kan tog misleidend wees.

Mnr Owens het gepaste respek vir die kaptein, ene mnr Ritchie McCaw. Dié is tog wyd bekend as 'n harde speler, dog eerbare man. Hy sal verseker nie van die kant van 'n losskrum inkom, of enigsens die bal se vloei uit genoemde skrum belemmer nie. As dit so sou wees, sou hy tog 'n geel kaart of sewe al vroeër in die seisoen opgetel het. Die feit dat die meeste van die ander Walliese en Ierse kollegas nog nie rede gesien het om geel, of selfs rooi te wys nie, wys dat Mnr Owens se opsomming van die spel inderdaad die korrekte interpretasie van die 901 reëls van moderne rugby is.

Mnr Owens verdien 'n spesiale vermelding vir posisionele spel. Die manier waarop hy meesterlik onder Schalk Burger beland het, het bygedra tot die kykers se genot, en beslis die dag meer aanskoulik gemaak.

Dis vir ons dus 'n besondere eer om aan mnr Nigel Owens die Donkiedrol van die Jaar toekenning te oorhandig. Ons wens hom en sy kollegas 'n baie geseënde opelyf toe, en dat daar nie te veel papierwerk by die Ontvanger van Ontlasting sal wees nie.

Sunday, June 20, 2010

Die vreemde droom

Ons het gisteraand van vakansie af teruggekom. Ek het nou vroegoggend wakker geword, met die vreemdste droom, wat ek graag wil neerskryf voordat dit weer verlore gaan.

Ek droom dat alles in my lewe skeefgeloop het. Op 'n manier het ek alles verloor wat ek oor die jare bymekaar gemaak het. EK dink nogal nie familielewe is daarby betrek nie- dit was nie deel van die droom nie. Maar ek het my beroep as predikant in 'n gemeente verloor. Daar was 'n groot stuk hartseer en verlies as basis van die droom.

Al wat ek oor het, is my gehawende Volkswagen Beetle, wat net- net op die pad is, maar olie mors oral waar hy gaan. En die enigste uitkoms vir ons finansies is om terug te gaan Weermag toe, ek onthou duidelik dat ek die rangtekens van 'n dienspligkapelaan dra. Na Negentien jaar is ek weer terug waar ek begin het- "square 1". Op 'n manier is daar 'n ou, gehawende tjello wat ek by iemand gekry het, wat moet teruggaan Weermag toe. Op die tjello staan gestempel: "Geskenk deur die Suiderkruisfonds. Vir gebruik op die grens..."

Die uniform sit vreemd aan my na al die jare. My hande is vol bagasie van goed wat ek nodig het. Maar in my agterkop onthou ek vaagweg dat ek sekere mense sal moet salueer as hulle verby kom. Ek, en die tjello, en die hande vol bagasie, sukkel deur die weermagbasis om in te klaar. Langs die pad ontmoet ek 'n ander ou, ook met pers rangtekens, maar dit klink of hy meer in 'n finansiële rigting is. Maar soos ek moet hy ook terug weermag toe gaan. Hy dra 'n klein viool in 'n pragtige tassie saam met hom rond.

EK en hy moet saam na die offisiersmenasie toe gaan met ons bagasie, die tjello en die viool. Maar die Beetle wil nie aan die gang kom nie. Later sit ons moedeloos buite die Beetle onder 'n boom- ons kan nêrens heen gaan nie. Ek hou die Suiderkruis tjello vas. En ek begin tokkel op die snare, soos op 'n kitaar. Druk, en speel met een vinger. Dit klink vir my mooi, dit breek die aaklige stilte in my hart. Maar my nuwe vriend, wat soos 'n nerd lyk met dik glase in sy bril, vra of hy maar mag. Hy vat die tjello, en begin dit instem. Dan neem hy sy viool se strykstok. EN skielik begin die mooiste musiek uit daardie tjello uit kom... Die hele basis se mense drom later saam om die stukkende Beetle, die dienspligkapelaan, die finansiële ou met die dik bril, en die mooiste musiek. "Bach" reken die een klerk. " Nee, dis Mozart" sê 'n ander blonde dame. Die generaal se vrou sê dat sy eerder dink dis Chopin. Dit was toe Bach se Cello Suite no 1 in G...

Met die samedromming om die Beetle stamp iemand 'n 2 liter Cokebottel sonder prop op die Beetle se dak om. Dit val in die Beetle, en begin al die bagasie vol klewerige, karamellerige gemors spuit. Alles is taai en vuil in die motor. EN ons moet die tjello inlaai, en self inklim om te ry. Maar alles is taai en vuil. En as die motor dan uiteindelik weer aan die gang kom, is dit wat in die lug hang, steeds die musiek. En die ou, verflenterde Suiderkruis tjello sing 'n warm Suid-Amerikaanse tango uit...

Tuesday, June 8, 2010

Die Ringsitting

Daar sit ons toe mooi in 'n sirkel, die hele dag lank. Ons is God se mense in ons gebied. Ons het die wysheid in pag, want daar is meer van ons bymekaar. Ons debatteer. Ons praat so mooi! Ons intonasie en ons stemtoon is afgerond, elke woord word gepoleer, en aangebied soos 'n skouperd. Ons lees baie papiere, party van hulle vertel ons eie storie. Daardie blinkgepoetste storie wat ons so graag wil hê ander mense moet glo van ons. Ons kyk powerpoint aanbiedings. Ons sien pyltjies gaan op, ander pyltjies gaan weer af. Ons spreek mekaar as broer en suster aan. Ons eet biltong en koeksisters.

Dan... die OOMBLIK! Iemand sê iets lelik. Trane vloei vrylik. Hoe kan die wêreld so wreed wees? Twee kollegas is in hulle moer... Die papiere ritsel, die stemtone styg, die planne raak op. Toemaar broers, volgende jaar lyk dit miskien beter... Kom ons stel dit uit vir volgende jaar, hierdie tyd. Dan sal ons weer mooi in 'n sirkel sit, die hele dag lank. Dan is ons weer God se mense in ons gebied. Dan het ons meer wysheid, dan praat ons weer so mooi. Miskien sal daar weer biltong en koeksisters wees...

Gaan dan heen, en sondig nie meer nie. Die Here seën ons...

Monday, May 31, 2010

Ons bloed is blou!

Saterdag 29 Mei 2010- die slag van Soweto.
Nee, het toe nie kans gesien om weer deur te ry nie. Ons het iets baie lekkerder beleef. So is 'n groep goeie vriende toe saam by een se huis, wat 'n dataprojektor en lekker klank het. Ons het saam die rugby geniet, party meer as ander. Dit het darem nie gelyk of daar enige Stormers was nie (anders was hulle goed under-cover!) Die Sharks onder ons was ook nie te luiddrugtig nie.

Wel, die wedstryd het toe mooi verloop, net jammer ons kon nie 'n goeie Habana/ Van der Heever tweestryd sien nie.
Na die rugby het ons baie lekker Sushi geëet- nogal in die Bosveld! Net om die ander kant van die wêreld ook te konsidireer, het ons Nachos ook geëet. DIt was toe 'n heel vreetsame aand, maar die dag is gewen deur Windhoek. Ek wil net baie dankie sê vir die manne daar in Yskorstraat in Windhoek, die Draught was heel aanvaarbaar, en het meegewerk tot 'n heerlike warm gloed toe die Bulle die wedstryd wen.

BAie dankie vir Sushimeester en al die ander goeie vriende, dit was nou 'n heerlike aand saam met julle!

Monday, May 24, 2010

Rugby in Soweto- die Realiteit

Saterdagoggend 10 uur- vier manne vertrek vol bravado van ons plattelandse dorpie af: ons gaan rugby kyk in SOweto! Ons gaan betyds wees! Half twaalf stop ons gou in die groot stad, om vinnig iets te eet. Ry 'n uur later- ons gaan betyds wees! Dis nog 63 km tot by Nasrec, sê die GPS. 32 minute onder normale omstandighede. Ons gaan betyds wees. Later nog net 2 km oor. En ons staan doodstil op die N1. EN luister na die radio. En wens ons was naby 'n toilet. Ons gaan betyds wees. 'n Uur later- 450 m in 1 uur gevorder. Ek moet 'n vinniger bakkie kry! Ons gaan... Sal die dames sien as ons hier langs die bakkie watertjies los? Nog 'n uur later- nog 750 m gevorder. Wil padwoede begin pleeg vir al die mense wat heel regs tot voor jaag, en dan hulle pad in die ry in forseer. As een van julle ooit hier lees: mag jou sagte dele ewiglik begin jeuk, en jou vingers in vishoeke verander! Gaan ons betyds wees? Dis 16h35- die wedstryd skop 17ho00 af, en ons in nog 10 km weg van Orlando Stadium. Ons moet nog die bakkie parkeer, en op 'n bus klim saam met 3 miljoen ander blou mense (Avatar?) Dog die stadion vat net 39 000.

Ons skarrel vir die busse, en raak weg van mekaar. Gelukkig het elkeen sy eie kaartjie. Uiteindelik op 'n bus. GAAN ONS BETYDS WEES??? Nou ja, uiteindelik plek gekry op ry Q 837, 20 minute in die wedstryd in.

Maar die Bulle het opgemaak daarvoor! Die bietjie wat ons van reg agter die doelpale kon sien, was baie mooi. Asemrowend! Die Bulle wen die semi-finaal teen die Crusaders 39-24. Nie so "kontroversieël" soos laas keer nie!
Tienuur die aand al by die huis gewees- heel nugter- hoe nou anders met 2 dominees en 'n landdros en 'n personeelbestuurder dan saam?

DIe donkievy vir die dag gaan vir die Metropolisie van Johannesburg vir hulle uitstekende hantering van die verkeer op die N1. Daar was groot sokker by Soccer City by Nasrec 4 uur, en die parkering vir Orlando Stadium se Park en Ride ook daar. Dit vat mos 'n rocket scientist om te dink daar gaan dalk net verkeersmense op die N1 se afdraai nodig wees om seker te maak almal bly in hulle bane. Al waar ons die manne met die houdings en darkies op hulle motorfietse gesien het, was soos vlieë om 'n drol toe die busse met die spelers verby gekom het.

Maar 'n goue DONKIEDROL vir die man in die bus wat sy Vuvuzela in my oor geblaas het. EK hoop die Proktoloog sukkel nou nog daar by Baragwanath om die plastiese pislelie uit sy alie uit te haal!

Alles in ag genome, was dit steeds 'n goeie dag. Gaan ek Saterdag weer Orlando toe vir die eindstryd? Nee, te veel van 'n goeie ding is ook nie goed nie! Sal maar die vleis en bier, vriende en chips nader trek, en dan doen ons dit by die huis.