Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Sunday, May 1, 2011

Die vyf beste koffieshops in my lewe

Potchefstroom se Café  Fiori
Met die ekonomie wat so erg kan druk, is daar baie vreugdes wat nie gebeur nie.  Met agt jaar se universiteitsopleiding kan ek niks nuwer as my 9 jaar oue bakkie, of my 11 jaar oue motorfiets bekostig nie. Albei is vrek stadig, en eintlik is ek baie lief vir spoed- Top Gear is dan my gunsteling TV reeks!  Ander vreugdes is ook nie elke dag beskikbaar nie, al is 'n man gelukkig getroud.

Daarom bly 'n goeie koffieshop die een ding in my lewe wat ek my laaste paar sent sal uitgee in.  Dis die plek waar ek en Mevrou gaan gesels as ons dik die moer in is vir mekaar. Of wanneer ons verlief voel en sommer net wil wegglip van die kinders af. Dis die een sosiaal aanvaarbare plek waar die dominee gesien mag word in ons gemeenskap. Ek is al aangespreek deur die ouderlinge oor ek soms alleen in die aand in die Italiaanse restaurant gesit en 'n Draught drink en slap tjips eet het- ek belowe! Ek kom van huisbesoek af, mammie is vroeg bed toe, ek is eensaam en honger- bier en tjips het die ding gedoen. Maar Dominee moet net nie alleen gesien word in die restaurant nie- dis te veel vir party mense om hulle dominee daar te sien...  As my vrou by is, is dit glo orraait. Hierdie dae in my lewe sal ook verby gaan... Ek kan nie wag om die stoudste oom in die ouetehuis eendag te wees nie...

In elk geval, ek dwaal af. In Koffieshops het ek al van my wonderlikste tye in die lewe beleef. Mense het al vir my die wonderlikste verhale uit hulle lewe gedeel rondom 'n koppie koffie. Ek het al dikwels ook alleen daar gaan sit, as ek 'n bui beleef. Moerig. Hartseer. Gemoedsbekakking (is dit nie 'n pragtige Nederlandse woord vir depressief nie?) Partykeer sit ek net daar met die dag se koerant, net om my kop skoon te kry- die Beeld help nie daarvoor nie. Gelukkig het een koffieshop gratis Wifi- dis nou pret om daar te sit en met almal te kommunikeer wat nie werksverwante kennisse is nie- soos julle! 

Daar is die afgelope paar jaar 'n groot verbetering aan die malls se koffieshops. Ek is baie lief vir Mugg & Beane. Bodemlose koffie met 'n moerse lemonandpoppieseedmuffen, nadat ek 150 km gery het om 'n siek mens in die stad se hospitale te gaan besoek. Cappucinos is ook fantasties, en ek is baie dankbaar teenoor Kobus Wiese vir sy bydrae tot die koffiebedryf, veral by 'n paar hospitale. Die een franchise wat nog kort in ons land is Starbucks- ek weet daar is een in Sandton, maar my ouderlinge dink dit is net wyle Lolly Jackson en the Ranch wat daar is, so ek kom nie daar nie. Dit kan glo sleg vir 'n dominee se reputasie wees om in Teazers gesien te word- as ek soveel *** optel in 'n Italiaanse restaurant, wat sal die vonnis wees by Teazers? Seker publieke kastrasie en teregstelling.  Ek wonder skielik net- hoe is Teazers se koffie? Weet iemand dalk? Maar Franchises tell ook nie vir hierdie gesprek nie, want Mugg & Beane is dieselfde van die Kollonade tot by die Kaapse Waterfront. Uistekend, maar dieselfde.

My gunsteling koffiedrinkplekke is daardie plekke wat iemand se droom was, en iets van hulleself weergee. Unieke plekke, elkeen met hulle eie tikkie individualiteit.  En my top vyf gaan more weer anders lyk, dis net soos ek op hierdie oomblik voel.

1. Café Fiorri in Potchefstroom- oor ek eergister daar was. Ons stop gereeld daar op pad na Skoonma se huis toe. Individuele plek, met die interessantste kamers op die eerste vloer, waar jy met jou vriende julle eie hoekie kan kry, en privaat kan kuier. Soos op hierdie foto- lekker gesellig! Mooi kunswerkies, eie atmosfeer. 

  2. "Die lady se Suitcase" net voor Klein Kariba op die pad tussen Warmbad en Nylstroom. Hulle spesialiseer in geroeste look kaggelkakkies, maar hulle het 'n baie lekker kondensmelk koffie in blikbekers. 'n Lekker stop op 'n motorfietstrippie.

3. Café Anton in Swakopmund- die uitsig is uitstekend oor die pier, en die Apfelstrudel is uitstekend!  Ek weet hy is nie in die liewe Republiek nie, maar my gat jeuk vir 'n ver biketrip! 

4. Die Pepper Tree in Philadelfia in die Kaap. Uitstekende plaaswerf opset, die diens is uitstekend. Hier moes ek net die laaste keer wat ek daar was, my hart sit en uithuil- iets wat nie baie gereeld gebeur met my kliphart nie. 

5. Evita se Perron in Darling- vir daardie Boere atmosfeer van destyds, die fyn spot, en die heerlike melktert.


Ek kan aan nog 100 goeie koffieshops dink, maar ek kan nie altyd hulle name onthou nie. Hulle is in die GPS in my kop gestoor. Maar ek wil graag vir jou die geleentheid gee om by te dra tot die lys.

Die liefde vir filterkoffie met bruinsuiker kom van my ma se mense af. Haar twee oujongkêrel broers was albei baie lief vir goeie koffie, en het altyd dit besit, al het hulle niks anders gehad nie. Die jongste een is in 1993 vermoor in Durban. Die ander een is vanmiddag half vyf aan kanker oorlede.

'n Kovsie op die PUK kampus en dit is nie Intervarsity nie!

Vanoggend was vir Bileam se Donkie baie traumaties. Lank lank gelede, toe die Dooie See nog siek was, was ek en my goeie vrou Kovsies gewees. (In die ou, ou dae was dit Universiteit Kollege van die Oranje Vrystaat- UKOVS, in die volksmond het dit Kovsies geword en so sal dit seker bly tot Malema president van Oranië is). Dit was sulke wonderlike tye- daardie vry by Mooimeisiesfontein, pizza en rooiwyn op Euwelheuwel, eksamentye in Junie se koue in die Callie Humansaal- groot tye!

En elke jaar in Augustus, het daardie migrasie plaasgevind wat net deur die wildebeeste in die Serengeti oortref word.  Die jaarlikse Intervarsity tussen die Kovsies en die Pukke, een jaar in Bloem, een jaar in Potch.  Die legende lui mos dat daardie wit perd teen Naval Hill in Bloemfontein sy voet stamp as 'n student stout is. As die Pukke daar is, dan klink dit of hy die July hardloop! Ek het een van die langste kursusse geloop op Universiteit. Ek was drie keer in Potchefstroom. Daar by die PU vir CHO- Chips, Hamburgers en Owerspel, as ek reg onthou. Van die akademiese deel van die Puk het ons nooit kennis geneem nie, ek het vandag eers uitgevind dat hulle toe ook klaskamers gehad het. Ons het daar by die Potch dam oorgebly, geborg deur Pa of Castle Lager. Een legendariese jaar het Reitz se manne (daardie beroemde koshuis wat so in die werkers se kos piepie)  'n Labrador laat wegraak. Na 'n paar rumme kon die een plaasseun nie meer onderskei tussen 'n skaap en 'n hond nie, albei lyk seker maar dieselfde op die spitbraai.   Ek onthou daar was ook soms so 'n effense oorlog op die rugbyveld tussen Dopper en Gatjieponder fakulteite. Jy sou kon sê ons het fakulteit vir mekaar gehad. Maar gewoonlik het ons darem mekaar gevind oor die nagmaalwyn na die tyd.

Ek het net nooit gedink Potch is 'n ernstige plek om te oorweeg vir studies nie. Tot die klein merrie in my huis aangekondig het sy wil soontoe gaan. En so het ek en my goeie vrou, en die oudste vandag opgeruk na die vyand se vesting. Daar is so studentewinkel wat die studerendes aanmoedig om tog hulle Maroon en goud streeptruie te koop, anders word hulle dalk met Kovsies verwar. Ek wou eers iets brom van die rekord van Intervarsities in my dae- dat die Puk beter sou doen om net punte aan te stuur, maar dit lyk tog asof daar iets aan die gebeur is in die Puk se sport.

In elk geval, nadat daar plegtig uit die Ou vertaling Bybel geopen is, (lyk my dit bly maar die Dopperhemel) het die Rektor so bietjie gespog en genooi. Daarna het so 'n  mooi Studenteraadsmeisie gepraat- baie motiverend, ek kan net nie onthou wat sy gesê het nie. Daarna is ons losgelaat op die kampus. En die kampus pas sommer op die Rooi Plein van Kovsies in, so klein is dit!

Ons het die regte fakulteit gevind, en daar het ek iets gebrom van hier gaan fakulteit vir jol wees, hier gaan jy ernstig moet wees. (Nou nog nie vir die klein merrie gesê haar punte is myle beter as haar pa se matriekpunte nie!) Studies is baie ernstiger as in my dae, want hierdie keer gaan ek moet betaal. Met die hulp van Absa, jou vriend deur dun en dun.

Nou die dag nog het ek uiteindelik die ses jaar hardepad klaargemaak op Universiteit. Dit voel soos gister. Maar wat het intussen gebeur? Die meisies op die Puk is nog net so mooi. Maar die manne is almal seuntjies! Wat gaan aan?

Januarie gaan daar alweer 'n nuwe fase in die Bileamhuis aanbreek. Die eerste een verlaat die huis. Middelboet wil klaar sussie se kamer hê. My bek is groot oor tienermeisies wat asseblief binnekort die huis moet verlaat dat daar weer stilte en netheid kan neerdaal op ons huis. Maar vandag het ek gesien- soos Johan van Wyk altyd in die Volksblad in daardie pragtige stad met die slegte rugby geskryf het: HKGK. Inderdaad, Johan, inderdaad...


Ns- Ek moes nou gesit en preek maak het vir more, maar ek moes eers gou hierdie van my hart af kry. Die res van die gesin is by skoonma, en ek is lonely, oh so lonely... Weet julle wat 'n kênvroet preek is?

Wednesday, April 27, 2011

Vryheidsdag- Tyd vir Brothers in Arms- Dire Straits!

http://www.youtube.com/watch?v=jhdFe3evXpk

Dit is Vryheidsdag. Vandag dink die ANC aan hulle maatjies wat saam poskantore opgeblaas het en landmyne op plaaspaaie geplant het.

Eendag, lank lank gelede, het ek ook in die naam van Vryheid my hare verloor, en in 'n bruin speelpakkie ingeklim. Vandag word ons baie daarvoor gekritiseer dat ons in die Weermag was. Destyds het ons nie regtig 'n keuse gehad nie, behalwe 'n vier jaar tronkstraf en 'n kriminele rekord as alternatief.

Daar is iets baie wonderlik vir 'n man aan die Broederskap van oorlog.  Daar is iets wat 'n man graag wil ervaar om aan 'n groep te behoort, wat groter as die individu is.

Ek het Tom Hanks se reeks Band of Brothers baie op televisie geniet. En daarin vertel die ou veterane van die 101st Airborne dat hulle nie geveg het omdat hulle die vyand gehaat het nie. Hulle het dit gedoen om hulle buddies se lewens te beskerm in kontaksituasies. Daar was 'n groter prentjie, die vyand moes oorwin word. Maar in die onmiddelike klein omgewing het dit gegaan om mekaar te help en mekaar te beskerm. In oorlog is verhoudings tussen manne gesmee wat dikwels sterker as broers se liefde vir mekaar is. In oorlogsituasies was jy afhanklik van iemand anders, jy moes hulle met jou lewe vertrou, omdat jy nie altyd oral kon kyk nie.

Maar soos in Dire Straits se wonderlike lied is daar ook 'n tyd wat dit verby gaan. Daar kom 'n dag wat die soldaat nie meer in uniform is nie, wat die bomme nie meer rondom jou bars nie. Daar kom 'n tyd om huis toe te gaan. Die wyse ou Prediker het dit gesê dat daar 'n tyd vir oorlog is, en 'n tyd vir vrede.  Jesaja het gepraat van swaarde wat ploegskare word.

Die hartseer is dat nie almal huis toe kom na 'n oorlog nie. Daar is in elke oorlog die mense wat alles opoffer, en nooit weer hulle geliefde in die arms kan neem nie. Het jy die fliek Passchendaele gesien? Ek het op daardie slagveld van die 1e Wêreldoorlog rondgeloop, en die Geallieërde begraafplaas besoek. (Fotos onder). Honderdeduisende mense lê daar begrawe. By die Menin hek van Ieper is die name van nog honderdeduisendes wat net eenvoudig so opgeblaas is, dat niks gevind is om begrawe te word nie.
Ook 'n hele klomp Suid-Afrikaners. Dood. Einde van die prent. Game Over. Anders as in die Playstation kan jy nie oor begin nie.

Nog honderde duisende soldate het na die twee Wêreldoorloë nie heel huis toe gekom nie. Op Gallipolli en Verdun, by Alamein en Monte Casino (nie die dobbelplek nie!) op Omaha en Iwo Jima het ouens se bene en arms en oë agtergebly. Baie was nooit weer fisies heel nie. Nog baie meer was psigies nooit weer heel nie. In die eerste Wêreldoorlog is duisende manne vir lafhartigheid geskiet, manne wat so bomskok opgedoen het dat hulle weggehardloop het. Baie ander het aan bomskok gelei, dit is eers later as Post Taumatiese Stress sindroom beskryf, en toe verstaan almal skielik beter...

Ons land het sy eie kwota manne wat Brothers in Arms was, aan albei kante van die geveg. Ons almal het vriende verloor. By Fort Klapperkop is die name van die "vryheidsvegters" wat gesterf het. In die militêre basisse is (was?) ererolle van hulle wat vir volk en vaderland gesneuwel het.  Maar daar is baie, baie meer stukkende oorlewende Broers. Manne wat bene en arms verloor het in landmyn ontploffings. Ouens wat seergekry het  met Buffels wat rol. Daar is die manne wat soos seuntjies gehuil het daardie eerste aande van basiese opleiding, wat van daardie dag af gedink het hulle is nie goed genoeg om soldaat te wees nie. Dit het 'n gat in hulle ontwikkeling as man gelaat...
Daar is die ystermanne wat nie die keurings kon slaag vir die Rekkies en die Valskermbataljon nie.
Daar is manne wat ander mense moes doodskiet. Party voel vandag skuldig oor dit so lekker was om 'n lewe te neem. Ander onthou dit met die grootste walging. PArty gaan terug Angola toe om jammer te sê, om 'n verlore stuk van homself weer te gaan vind.

Ja, baie Broers het iets verloor in oorlog. Daardie basiese stukkie onskuld. Daardie iets wat ons laat kop optel, en dink ons kan iets positiefs vir iemand anders beteken.Party voel nog steeds skuldig dat hulle oorleef het.
Baie manne het liggaamlik teruggekom van oorlog af, maar geestelik is hulle nog op die slagveld. Skrik in die nag vir harde geluide. Baie wantrouig teenoor hulle naaste. Vir sommige is daardie mooi stuk van hulle menswees so weg, dat hulle die pyn van oorlewing met drank en pille probeer verdoof. Die manne se verhoudings kry swaar, die vrouens in hulle lewe byt dikwels die spit af.  So baie manne begeer dat die nagevolge van kontaksituasies net weer kan weggaan uit hulle lewens uit. En tog is daar nog steeds broers wat deur die wrede bitch van oorlog terugverlei word- daardie manne wat "veiligheidswerk" in Irak gaan doen. Die oorlog los hulle nooit. Die rush van adrenalien, die reuk van kruit en bloed word 'n verslawing wat hulle net nie meer kan los nie. As die dood elke dag saam met jou loop, word hy later 'n goeie vriend.

Dit is Vryheidsdag. Die oorlog is verby. Die Broers kan almal huis toe kom, en aangaan met hulle lewens.

Dan is daar 'n klein snotkop soos Julius Malema wat sê Afrika berei sy jeug voor vir oorlog. En hy dreunsing dat hy ons graag wil doodmaak. En dis net 'n stukkie kultuur. Meneer Malema, daar is nog 'n paar broers oor wat KAN oorlog maak! Daardie tipe woorde help nie vir die gesondword wat almal in hierdie land nodig het nie!!! Moenie die dier van oorlog wakker maak, en dink niemand gaan seerkry nie.

Mag daar nou werklik 'n tyd van vrede kom, sodat ons saam hierdie mooi land kan opbou.

Maar te veel mense hou aan oorlog praat. Miskien was George Santayana reg toe hy in 1922 gesê het: "Only the dead have seen the end of war." Ek hoop hy is verkeerd. Maar daar is altyd nog 'n dom bliksem wat nie 'n idee het nie, wat dink dit is baie romanties om iemand te skiet.

Die uiteinde van oorlog- niemand weet dalk eers wie jy was nie!




'n Klein gedeeltetjie van die Passchendaele Gealliërde begraafplaas. Brothers in Arms vir altyd.  Ek is eerder in my vrou se arms, dankie!