Vandag was ek in NG Gemeente Moreletapark se restaurant. In die restaurant is hierdie pragtige kunswerk van my!
Hy is vir net R300 te koop! Ek het nie vandag geld by my gehad nie, maar ek dink ek moet 'n plan maak om hom te gaan koop, dit sal nogal baie mooi in die studeerkamer lyk!
Prophet
Prophet, or Talking Ass?
Thursday, May 19, 2011
Tuesday, May 17, 2011
Tempest Fugit- die tyd vlieg
Of eerskomende Saterdag, of 21 Desember 2011, of êrens in 2029 het die uurglas vir die mens uitgeloop. Dis nie wat ek as dominee van die grootste susterskerk sê nie. Dis wat my liewe blogvriende wild en wakker oor skryf op die oomblik.
Party ouens spot. Ander probeer vinnig sondetjies toesmeer of bely. Nog ander gaan probeer om vir die ANC te stem. Dalk help dit om oom Jaap Z se raad te volg?
Ek, die dominee, slaap nog steeds rustig. As die einde kom, dan kom dit. As dit nie kom nie, dan wil ek voluit lewe. Nie uit vrees vir die asteroide wat ons gaan tref 21 Desember 2012 of 2029 nie. Nie vir die taxi wat bo-oor my wil jaag as ek op my motorfiets in die groot en bose stad Pretoria dit waag om siek mense te gaan besoek nie. (Ha-ier harabbiem.... die woorde waarmee Ninevé in Jona beskryf word- vir die wat alles graag in Hebreeus wil hê. ) Ek wil nie in vrees lewe vir wat 'n Malema alles met ons land kan aanvang nie. Ook nie wat die volgende idiotiese witwolf tipe met 'n vuurwapen kan aanvang nie. Ek wil nie in vrees lewe dat ek nou 'n ketter is omdat die Wes-Kaapse Sinode die Belhar belydenis aanvaar het nie. Ek wil net lewe. En in die lewe wat ek hier op aarde het, wil ek graag 'n positiewe verskil in ander mense se lewe maak.
Die een ding wat egter waar is, is dat tyd uitloop. Elkeen van ons het net 'n bepaalde tyd op hierdie aarde. Dit kan Saterdag klaarmaak, of eers oor 70 jaar. Maar ek en jy is sterflik. Die dood wag vir elkeen van ons. Niemand is op die oomblik ouer as 114 jaar in hierdie wêreld nie. Ons elkeen word ouer in ons liggame- elke jaar neem die kragte so bietjie af. Elke jaar vat dit so bietjie meer van my om te oefen vir die Argus. Elke jaar is dit so bietjie moeiliker (nee, wag, dit was die sedoos se skuld...)
Een van die mooi ou gesange sê: "ure, dae, maande, jare, gaan soos skadus stil verby, niks wat met die loop van jare, onveranderlik kan bly..." met die mooi woorde van Psalm 103, die beeld van veldblomme in die woestyn, wat daarop volg.
Iemand het op 'n muur in New York se moltreintonnels die woorde gegrafiti: "Death is life's way to stop everything happening at once..." Dalk is die teenoorgestelde eerder waar- die dood wat oor elke mens se skouer loer, bring ons in aksie om soveel as moontlik met ons lewe te doen, want hy is eintlik kort en gaan vinnig verby.
Daarom, liewe gemeente, mag ons nie uitstel om goed te doen nie! In die Christelike geloof is "vandag" baie belangrik. Jesus leer ons bid vir vandag se brood. Hy sê ons moenie bekommer oor die dag van more nie, vandag sorg die Here vir sy kinders (soek dit self in Matteus 6 en 7). Vandag is ook die dag van redding, sê die Ou Testament...
Wat ek met my liewe blog vriende wil deel: daar is net soveel dae en soveel geleenthede om voluit te lewe. So baie geleenthede is net eenmalig. Ander kan so dikwels opduik, en as jy dit nie gebruik nie, raak dit saggies weg soos reënwater wat in die sand wegsyfer. Jy kry geleenthede met jou lewensmaat om goed te doen, om die klein dingetjies reg te doen, om hom of haar te dien met jou menswees. Die Kaapse Sinode was reg- die man is nie die hoof van die huis nie. Vir die gelowige lesers- Efes 5:21 sê in my woorde: Omdat julle Jesus liefhet, dien mekaar... Vir die ongelowige lesers- as jou verhouding net oor jouself gaan, is jy 'n poepol en besig om jou gat te sien- op 'n dag is dit weg. Capisce? Ouers kry geleenthede om kinders te begelei op die pad na grootword. Dit is veronderstel om 'n wonderlike avontuur te wees, wat jy elke dag saam met jou kind verbaas kan staan oor hoe wonderlik die lewe, die heelal, die wetenskap (ja, Neander, jy lees reg!) die kuns en 'n geloof wat nie op oordeel nie, maar op liefde gebou is. Daar is geleenthede elke dag. Maar jy kan so baie van hulle mis deur jou eie belange en jou eie Ek, dat jy die kosbaarste dinge heeltemal kan mis. Die dood wat vir elkeen van ons wag, kom waarsku dat tyd vir elkeen van ons uitloop, en op 'n dag is dit verby. Het jy darem gedroom? Het jy soms 'n droom vir jouself waargemaak? Het jy soms van jouself gegee, sodat iemand anders se drome waar kan word?
Ek dink Jeanne het eendag vertel van 'n ander geloof wat aan die anderkant van die dood vir elke mens sou vra: het jy joy in jou lewe gehad, en het jy joy aan ander gebring? Dit is ook 'n waarde wat ek as Christen heeltemal onderskryf. Ek verstaan die vraag in ons geloof: Het jy werklik liefgehad? Soveel so dat jy jouself opgeoffer het?
Die Sandkorreltjies loop. Nou gaan ek Bybelstudie hou saam met 'n groepie dames van 60-90 jaar, en ons gaan dit geniet om saam oor die Here se liefde in sy liefdesbrief te lees. Mense wat heelwat ouer as ek is, verryk my lewe so ongelooflik met hulle liefde. Daar is ook ander... lees van my ander blogs soos Gatvol. Maar ek kan ook kies hoe ek die geleenthede gaan gebruik, en gaan reageer op elke mens. Mag jou dag geseënd wees, en mag jy vandag iets positiefs vir iemand anders beteken!

Sunday, May 15, 2011
Die wonderlike broederskap van die motorfietswêreld
Vanoggend het ons na 'n plattelandse dorpie toe gery, waar hulle Hoërskool 'n motorfiets breakfast-run aangebied het. Ek het dit net weer verskriklik baie tussen die motorfiets broers en susters geniet.
Die een ding wat so wonderlik is in hierdie wêreld, is dat jy nie op 'n sekere manier moet wees om in te pas nie. Nou ja, jy moet 'n motorfiets hê, en die mense gaan vir jou lag as jy met 'n scootertjie daar aankom. Maar verder, as jy dit met daardie motorfiets op die oop pad kan waag, is jy deel van ons. Ons sal onder mekaar spot oor die verskillende brand- names. Harleys is altyd vir ou ooms wat nie meer self kan regkom nie. As jy 'n Harley ry, is daar waarskynlik fout met jou prostraat. BMW's is vir juppies. Of ou has-beens. Ons ouens met Italiaanse fietse kan nogal snobisties lyk- veral as dit die Ducati brand dra (ek ry die ANDER Italiaanse fiets, nie Vespa nie!) Die Japannese superfietse word gereeld met mekaar vergelyk. En al lyk ons asof ons nie belang stel nie, hoor ons graag van ervarings anderkant die 300 km/h zone. Daar is die cruisers, die superbikers en die duallers. En elke groep is met trots verteenwoordig op so 'n breakfast run. As dit op twee wiele is, en self aangedrewe is, dan is jy my broer of my suster.
Daar is ouens met die nuutste fietse, hopelik gaan die BMW 1000 RR se foto êrens voor die 21 Mei wederkoms laai. Vinnige goed, jaloerse kyke, maar tog gun ons jou dit. As jy die geld het, geniet dit. Daar is ook arm ouens, (soos ek) wie se fietse ouer as 'n dekade is. Daar is mense wat op interessante maniere hulle wiele aan die rol hou. Hulle is net so deel van die broederskap soos mnr Harley of Mnr 1000RR. Dalk verdien hulle selfs nog meer respek! Hierdie fiets hierbo het die lewe begin as 'n Moto Guzzi, êrens in Italië. En het ek nou lekker met die eienaars gesit en gesels vanoggend! Die oorspronklike enjin wou net nie meer nie. Hy wou elke 10 000 km nuwe ringe hê, nes wyle tannie Liz Taylor op haar dae. En eendag het die trotse eienaar genoeg gehad. Hy het die italiaanse ingenieursvernuf se trots uitgeruk, en seker van 'n krans gaan afgooi. Toe het hy 'n Dayhatsu Charade se enjin geneem, en dit aangepas tot dit in sy raam kon inpas. Ook 'n 3 silinder, dit lyk net so effens anders as jy die punte daar agter die groot lugfilter kan sien uitsteek. So het 'n simpel karretjie se enjin deel geword van 'n man se droommasjien. Die eienaar sê hy kan tot 200 km/u haal, maar is op sy gemaklikste op 150 km/u. Hy trek stadig weg, soos 'n Dayhatsu, maar as hy eers op spoed is, kan hy kaap toe ry.
En dit is wat ek van die motorfietswêreld bewonder. Daar is nie nog so 'n fiets in die wye ganse wêreld soos hierdie Guzzi nie, en tog is die eienaar net so deel soos die res van ons. Elkeen wat hunker na die vryheid van die oop pad, elkeen wat nie omgee om soms nat te reën nie, elkeen wat in die spitsverkeer lag vir die mense in hulle metaalboksies, hulle is familie. Party is regtig kunstig ingekleur deur die tattoo parlor, ander is dominees undercover soos ek. (Die tattoo kom nader!)Enige beroep is welkom, enige inkomstegroep, enige ras, veral vrouens is baie welkom, kinders kan soms geskok wees, plattelandse gemeentetannies met houdings moet eerder wegbly.
As jy val, sal jou broers jou ophelp. As jy bier het, sal jou broers jou help opdrink. As jy eensaam is, sal jou broers vir jou vir 'n spin vat. As jy weird is, sal jou broers jou aanvaar, want elkeen is tog mos maar uniek? As jy 'n poepol is, sal jou broers jou uitsorteer, as jy vriendelik is, sal jy baie vriende hê. Langs die pad groet ons mekaar, al ken ons mekaar nie. Dis nou behalwe daardie manne van Morelethapark, hulle groet niemand nie want hulle is rykgatte... Die res van ons voel tuis by mekaar.
En dis hierdie tipe ervarings wat 'n mens nodig het om mens te kan wees, en te voel die lewe is die moeite werd.
Friday, May 13, 2011
EK soek ‘n nuwe donkiekar- hoe nou gemaak?
Die lewe bly darem net vol keuses. En partymaal is daar heeltemal te veel opsies. Gestel ons het nou in die ou Oos-Duitsland gebly. Dan het iemand met my kwalifikasies ‘n fiets gery van Peoples Democratic Bicycle Factory #43, voorheen bekend as die Treblinka Konsentrasiekamp. Daar was dan twee opsies: met of sonder ‘n klokkie. Standaard in swart. Het ek nou wel ‘n doktorsgraad in ruimtefisika gehad, het die opsies al heelwat verbeter- dan kon ‘n mens ‘n Trabant gekoop het. ‘n Mens het selfs ‘n paar opsies daarop gehad. Die De Luxe model het uitgekom met ‘n standaard 10 pond hamer, waarmee ‘n mens die carburettor geslaan het as hy nie wil vat in die 9 1/2 maande Oos Duitse winter nie. ‘n Verdere luukse was dat hy dan ook verf op gehad het. Jy het ‘n keuse gehad tussen Kruschev Kapoen ( daardie mengsel tussen pampoen en… jy verstaan…) en Stalin Seesiek- so blouerige groenerige mengsel. Die standaard model het net in een kleur uitgekom- Gagarin se Geroeste Metaal. Dit het vanself gebeur wanneer die motortjie uit die fabriek uitry, en sy naakte staal die suurreën vir die eerste keer ontmoet het- Rustic Rusty.

In die Democratic Peoples Republic of Azania, viva Comrade Malema, viva, het ons egter baie meer keuses. As ‘n mens nou swart was, met ten minste standerd 4 op jou naam, en jy het vriende gehad wat vernoem is na ‘n melkgebasseerde drankie in die Wimpy, dan het jy gewoonlik ‘n hele paar luukse motors gehad, een by elke huis vir mamma, en een by elke huis vir jouself- 20 S klas Mercedesse, of 7 reeks BMWs.
As jy sy Mini-me was, viva Comrade Malema, viva,het jy agt swart Range Rovers gehad, Een vir jou en jou nuutste squeeza, en sewe vir die manne met die swart pakke, wit hemde en rooi dasse. Dalk nog een net vir al die magasyne van hulle gunne ook.
As ‘n mens egter wel op universiteit was, en wit is, en ‘n vervoertoelaag het, dan lyk sake bietjie anders. Eers belas die regering ‘n mens op 100% van jou vervoertoelaag. Jy hou 57% daarvan oor. Dan belas hulle jou petrol- nog 20% van jou vervoertoelaag weg. 37% oor. Nou moet jy ‘n kar gaan koop. ‘n Nuwe een het dadelik ‘n emissionstax, wat glad nie gebruik word om besoedeling te bekamp nie, nee, daar word plaaslongdrops op Viljoenskroon daarmee gebou. Jy moet die “emissions” ruik wat daar uit kom! Op jou nuwe kar vat die staat nog 14% BTW- jy het nou 23% oor van jou vervoertoelaag. Maar jy moet budget vir die Gauteng tolskandaal, wat nog R2000 per maand gaan vat van jou vervoertoelaag, of te wel 25% daarvan. Jy het nou -2% van jou vervoertoelaag om ‘n kar mee te gaan koop. Die enigste voertuig wat dalk nog bekostig kan word, is die bicycle model 7 uit die People’s Democratic Republic of China se Bicycle factory #43 aan die buitewyke van Beijing. Vir ‘n paar rand ekstra gee die China Shop jou ‘n klokkie, wat gewaarborg is om te hou tot jy by die voordeur van die winkel uitstap.
Om welke rede Bileam se DOnkie se nuuste voertuig nou tien jaar oud is, met 200000 km op die klok. Sou ek nou wel ‘n nuwe voertuig kon bekostig, is daar ‘n klein probleempie. Wat koop ek?
Ek benodig iets met wiele waarmee ek in die gemeente kan rondjaag. Verkieslik iets goedkoops, met ‘n diensplan tot op 120 000 km, wat darem 500 000 km op die enjin sal gee, teen 4 l/ 100 km. Daar moet ses mense inpas, en vir die basaar moet daar vleis in groot hoeveelhede vervoer kan word. Dit moet ‘n helse hoë grondvrye hoogte hê om by die boere op die wildsplase uit te kom, en ‘n lae dak om by die ouetehuis se “boom” deur te kan kom. Dit moenie te luuks wees nie, dan dink die gemeente ek kry te veel geld. Dit moenie te armlastig lyk nie, dan stop die spietkops my by elke padblokkade as hulle my met oom Robert se mense verwar.
Elke motorhandelaar in ons dorp raak skielik weg as hulle my by die voordeur sien instap. As ek uitstap, hoor ek hoe die verkoopsmanne histeries begin te giggel. Ek is so effens verward op die oomblik, en weet nie wat om te besluit nie. Kan jy my dalk raad gee?
Thursday, May 12, 2011
Die komplot van Felix Astera teen die ganse mensdom...
Ek was vanoggend by my tandarts. Hierdie besoek is vooraf gegaan deur baie gemoedswroeging, want ek is een van daardie mense wat so vrees uitstraal teenoor 'n tandarts, dat dit hulle selfmoordsyfer opjaag. Dis glo baie gevaarlik om 'n tandarts te wees- selfmoord is 'n ernstige beroepsrisiko. Maar myne het dit nog nie oorgekom nie, anders sou ek dit dalk vanoggend agtergekom het.
In elk geval, my tandarts het een kyk na die gebreekte tand gegee, en toe sy kop meewarig geskud. "Hierdie gaan jou baie seerder maak as vir my," het hy gesê. Toe het daar allerhande inspuitings en gasmaskers toegeslaan op my vreesbevange liggaam daar in die gat bo kop sitposisie in die stoel. My tandarts se stoel lyk nog nie soos die Spur se sitplekke nie. Dis ook nie so lekker ervaring soos 'n Draught en hammie in die Spur nie. En baie, baie duurder! In elk geval- ek pass toe maar uit van al die vreemde chemikalië wat deur my are spoel. 'n Mens sou dit kon beskryf deur te sê dat ek vanuit die helder wit lig in die donker tonnel inbeweeg het...
Ek is vaagweg bewus daarvan dat iemand oor my leuen, en my heen en weer deur die gesig klap. Dis die tandarts wat klaar is met sy argeologiese opgrawings in my agtertand. Ek moet nou wakker word en loop, daar sit nog baie mense in sy spreekkamer om aan sy Mercedes en Wildsplaas te betaal. In elk geval, ek strompel daar uit, val in my bakkie in, en jaag huis toe. Gelukkig ken die dorp se spietkop my, hy weet as ek jaag is daar 'n groot krisis in die gemeente, meestal in my eie huis.
Toe ek by die huis kom, het die lewe begin terugkom in my mond. Ek het toe maar op die bed gaan lê, totdat die wêreld vir 'n slag ophou om so vinnig te draai. Ek weet ons moet teen 29 km/s om die son kom, en 365 1/4 rotasies voor Oujaarsaand 24h00 voltooi, anders is 'n jaar mos nie meer 'n jaar nie, en gaan niemand meer weet wanneer verjaar hulle of is dit Krismis nie.
![]() |
| Einstein die Kat |
Die kat, Einstein, foto hierbo, kyk my so met meegevoel aan. En skielik praat hy. Ek jok regtig nie nou nie! Ek het my doodgeskrik. Die kat sê vir my: "Jy lyk sleg, né!" Ek sê vir hom- "jy is 'n mooi een om te praat! Gelukkig sit ek nie my eie gat en lek in die son soos jy nie!" Die kat kry so verleë glimlag om sy mondhoeke. Maar hy laat hom nie afsit nie, eintlik hou hy nogal van my- ek koop vir hom Pedigree katkos. HY sê vir my dat hy iets op die hart het om met my te deel, wat sy eie lewe en myne in gevaar stel. Ek dog dis dalk 'n rotplaag in die dak, wat die builepes weer gaan laat opvlam. Ek wil hom net vra wat hy daaromtrent gaan doen, toe sien ek hy lyk ernstig. Hy moet die volgende met my deel, sê hy.
Stephen Hawkins was toe reg gewees. Daar bestaan inderdaad iets soos paralelle heelalle. Einstein (dis nou my kat, nie Albert nie) vermoed dat Hawkins se kat ook iets uitgelap het. Soms raak katte baie lief vir mense, en dan praat hulle uit. Maar meestal sal hulle net optree asof ons nie bestaan nie. Behalwe wanneer die yskas oopgaan. Ek gaap van verbasing. Hoe ken Einstein vir Stephen Hawkins, en wat weet hy van paralelle heelalle? Ek weet dan nie eers iets daarvan nie?
'n Paralelle heelal (universe) is 'n hipotetiese (net vir ons- 'n hipotese bly dit totdat dit bewys of die teendeel bewys is, dan is dit 'n feit of 'n mite) selfonderhoudende realiteit wat saam met die ervaarde realiteit saambestaan. Dalk is my vertaling effens kreupel. Einstein het hieroor geskryf op Wikipedia terwyl ek geslaap het en my rekenaar aan vergeet het: "A parallel universe or alternative reality is a hypothetical self-contained, separate reality coexisting with one's own. " In hierdie alternatiewe heelal is die basiese natuurwette anders, daar is nie relativistiese beperkings nie, en die spoed van lig kan oortref word, aldus Einstein. Uit wat Einstein graag vir my wil vertel, is daar 'n paralelle heelal aan ons s'n, wat net deur 'n enkele kwantumgebeure van ons af geskei word. Dieselfde tipe dinge gebeur meestal dieselfde in verskillende wêrelde. Maar in hierdie paralelle heelal, genaamd Felix Astera (die Kat-ster konstellasie) is die huiskat die kroon van die skepping. In daardie heelal hou huiskatte mense aan as troeteldiere. "Onthou jy wat het jy met my knaters gedoen, Bileam? In daardie heelal het ek... " Ek val hom dringend in die rede- sekere goed wil 'n man nie hoor nie.
"Nou wat wil jy vir my vertel, Einstein- wat is so dringend dat jy jou lewe in gevaar stel vir my?" Die kat kyk my met ou, wyse oë aan. 'n Ligte glimlag speel om sy mondhoeke. "Ek wil jou waarsku- julle is in gevaar! Jy moet voorbereid wees daarop."
Die kat begin my die hele storie vertel. Die planetestelsel rondom die Kat-Ster het 'n groot krisis begin beleef. Hulle weergawe van die asteroide Toutatis wat ons aarde gaan tref op 21 Desember 2012 op die Suidpool (google dit, kyk self!), het deur die gravitasie van hulle son van wentelbaan verander, en teen hulle derde planeet gebots. Dit het die wentelbaan van hulle planeet baie effentjies verander. Maar met die miniatuur gradeverskil van hulle wentelbaan het hulle planeet se ellips om die son jaar na jaar, bietjie vir bietjie, na die son toe begin indraai. Stadigaan is hulle planeet besig om al nader aan die son te beweeg. Temperature styg elke 1000o jaar met 1 graad Celsius. Binnekort sal dit egter by hulle soos op ons Mars begin word, te warm vir water om 'n vloeistof te bly, en plante sterf uit, hulle verdroog letterlik soos die son nader kom.
Die katte se wetenskaplikes is baie ver voor die menslike wetenskap. Hulle het meer as 8000 jaar gelede al uitgevind van paralelle heelalle, en ons s'n ontdek. Hulle het ook uitgevind van 'n ander dimensie van tyd, wat reis tussen die heelalle moontlik maak deur 'n sogenaamde "worm-hole". Waar is hulle heelal? Dis wat ons nog nie kan verstaan met ons wetenskap en ons konsepte van lengte, breedte en hoogte nie. Daar is 'n vierde dimensie, tyd, en 'n vyfde dimensie, wat ons nie eers in ons tale met woorde kan beskryf nie. Dis by ons, en terselfdertyd aan die ander kant van die heelal. Die portaal van hierdie worm-hole is die Sfinks by die piramides net buite Kaïro. (Dis hoekom dit die lyf van 'n kat het, en die kop van 'n mens. Verstaan jy? Obviously nie!)
Vier duisend jaar gelede het hulle 'n afvaardiging katte na ons wêreld toe gestuur met die opdrag: gaan vermeerder, vul die aarde, en rapporteer terug aan ons. As die mensdom op sy weerloosste is, kan hulle baie maklik oorgeneem word met 'n vinnige staatsgreep.
Dis waarmee die katte die afgelope vier duisend jaar besig is. Die katte het so vermeerder dat byna elke huis in die wêreld 'n verteenwoordiger van Felix Astera in hulle huis akkomodeer. Die kat steur hom nie veel aan sy "eienaar" nie, want eintlik besit hy reeds op papier die huis, die inhoud en die mense. Hy is wel afhanklik van die kos wat ons hom gee, en sal so nou en dan 'n muis van om ons te laat dink dat daar n doel aan sy teenwoordigheid in ons huis is .
Die probleem met die katspesies wat op aarde voorkom, is dat dit verouderde tegnologie is. Die kat se pels is so ontwerp om van ons son se strale om te skakel in elektriese energie. Dit help die kat om vir so ongeveer 14 jaar te kan opereer, voordat sy sisteme ingee en hy ophou funksioneer. Daarom lê die kat graag in die son. Hy herlaai sy batterye. Die foto-elektriese eienskappe van die pels word nog deur water bedreig, omdat dit sulke ou tegnologie is, is dit baie vatbaar vir kortsluitings. Daarom sal katte so ver moontlik water vermy. As jy 'n kat sien wat van bad hou, moet jy ekstra versigtig wees, dis 'n nuwer weergawe, wat baie meer gevaarlik as die ouer modelle is. Wanneer 'n mens 'n kat streel, dan word ekstra energie opgewek. Die kat maak 'n hoorbare vibrasiegeluid. Ons mense is gekondisioneer om te dink dat die kat die aandag baie geniet, wat veroorsaak dat ons langer aanhou streel. Wat in werklikheid gebeur is dat die wrywing op die pels sekere statiese energie opwek, genoeg om die kat se interne kommunikasietoerusting (vermom om soos 'n linkernier te lyk) aktiveer, en dan word kort, bondige sit-reps na Felix Astera gestuur.
Die katte weet dat die aarde teen 21 Desember 2012 'n radikale verandering gaan beleef. Die Mayas se katte, en Nostradamus s'n, het dit per ongeluk uitgelek. Een of twee Hollywood grootkoppe se katte het ook per ongeluk iets laat val terwyl hulle base hoog was op kokaïene- dis waar rolprente soos 2012 en Next vandaan kom.
Daar is nie veel wat ons daaraan kan doen nie. Maar Einstein wou net gehad het ek moet weet. Want op 22 Desember 2012 word ek sy troeteldier in hierdie heelal.
Ek weet dit klink heeltemal na net 'n storie. Maar as die mensdom betyds gewaarsku is, kan Nasa dalk nog iets doen daaraan, soos daai fliek wat Bruce Willis vir daai lelike ou van Aerosmith wat op American Idols is, se pragtige dogter en ons almal red, deur 'n gat in die asteroide met 'n olieboor te gaan boor. As iemand vir oom Jaap Zuma persoonlik ken, of weet hoe om met die Withuis te kommunikeer, moet hulle asseblief hierdie inligting aanstuur! Dit sal dalk nodig wees om die Obamas se kat net eers te elimineer wat sekere inligting van hulle af weghou. (hierdie woorde het nou net die FBI se triljoende dollar rekenaar diep onder die aarde onder Washington DC geaktiveer, en in Amerikaanse Engels vertaal. Die pos sal binne minute verdwyn, soos reeds met Litnet en Blogger vanoggend gebeur het.)
As ek binnekort ook verdwyn, moet julle weet waar dit vandaan kom. Die beste raad is om nou dadelik te gaan en 'n kat te gaan skiet. Julle is gewaarsku, maak gereed, die einde is op pad!
Wednesday, May 11, 2011
Kerkraadsvergadering- die lelikste woord in Afrikaans!
Van my eerste dag as jong domineetjie in 'n gemeente was dit die een ervaring van die kerk wat ek nog nooit kon verstaan nie. Kerkraadsvergadering.
Kom ons gaan kyk na die oorsprong. Op 'n dag het Jesus van Nasareth daar langs die See van Galilea geloop, en 'n paar vissermanne gesien. Hy het hulle op die naam geroep, en gesê: "Kom, volg My!" Later het daar nog so 'n windverwaaide tollenaar bygekom, 'n politieke fanatikus (Malema van 30 n.C!) 'n geldgierige wolf. 'n twyfelaar. Soos die beweging gegroei het, het al meer mense deel geword daarvan- eers die straatvroue en bedelaars. Melaatses, kreupeles en blindes, wat by Jesus genesing ontvang het. En hierdie groepie het vir drie jaar saam met Jesus deur die land beweeg, en mense se lewens kom aanraak met liefde en aanvaarding. Ek lees nêrens van 'n vergadering daar nie. Toe spyker die goeie mense Jesus aan 'n kruis vas. Dit was nie goeie vergaderingsprosedure nie, en beslis nie kerklik korrek om die Seun van God dood te maak nie. Maar Jesus het die dood oorwin, en daarmee 'n nuwe lewe vir elke mens moontlik gemaak. Toe gaan Hy huis toe, om vir sy pelle plek gereed te maak. En Hy stuur die Heilige Gees, om die klomp slapgatte nuwe moed te gee, sodat hulle kan vertel van die nuwe lewe en hoop wat in hulle is. En skielik het die manne verander- hulle wat weggehol het toe Jesus gekruisig is, het skielik nuwe moed gehad, om in lewensgevaar iets anders te vertel as wat die wêreld of die kerk van daardie dae graag wou hoor.
Hulle het gegaan, en die wêreld gaan vertel dat Jesus die Here is. Die kere wat hulle bymekaar gekom het, sien ons in die Bybel, was gekenmerk deur saam eet en saam bid. En so het die Here sy kerk gebou. Tot in Konstantyn se tyd so 3 eeue later. Skielik het die kerk fênsie geword, en mag gekry. Skielik het alles in die geloof baie formeel begin word. Geboue, getalle en geld het belangrik geword. Sukses is daaraan gemeet. Verhoudings was nie meer so belangrik nie. En deur die jare, eeue en millenia heen het dit so gebly- getalle, geboue en geld (Stephan Joubert se term, nie myne nie!) Die bose drie-eenheid van die kerk.
Martin Luther het gesê die kerk moet weer verstaanbaar vir die gewone ou wees. Die Bybel moet in sy taal wees. En Martin Luther het 'n paar major changes gemaak aan die kerk, waarvoor ek wel baie dankbaar is. Maar hy het dalk nie ver genoeg gegaan om weer die "amp van die gelowige" te herstel nie.
Ek verstaan die kerk as 'n klomp mense wat saam opgewonde is oor Jesus, en die verskil wat Hy in ons alledaagse lewe maak. Mense wat deur die Heilige Gees nuut gemaak is, om vol liefde, vreugde, vrede, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing te wees. En wanneer daar dan leiers gekies word, dan is Geesvervulde manne en vroue saam besig om in nederigheid die pad te soek waarop die Here sy kerk wil lei, om 'n verskil te maak in hierdie wêreld.
Nou die realiteit. Hier voor my langs die rekenaar in die koffieshop lê 'n pak papier, halfpad so dik soos my Bybel. Dit is die Sakelys vir vanaand se Kerkraadsvergadering. Dit begin met die Notule van die vorige vergadering. En die notule van die Buitengewone- baklei-oor- geld vergadering van die kerkraad. Dan is daar die verslae van verskeie kommissies, wat dalk nie noodwendig iets gedoen het die afgelope kwartaal nie, maar tog baie woorde en papier gebruik om te sê wat alles gedoen sou kon word, indien daar wel geld beskikbaar was. Daar is 'n lys van mense wat graag in ons gemeente wil inskakel, omdat hulle gatvol vir hulle dominee en kerkraad is. Dan is daar 'n lys van mense wat graag uit ons gemeente wil uitgaan, omdat hulle gatvol vir my en ons kerkraad is. Ring a ringa rosies...
Om vanaand voorsitter van die kerkraad te wees, moet ek my Kerkorde goed ken. Ek moet vergaderingsprosedure goed onder die knie hê. Almal moet gehoor kan word, maar nie te veel nie. Almal kry een spreekbeurt op elke agendapunt, sodat ons nie more middag eers huis toe gaan nie. Vanaand is ons Broer en Suster, en ek is Broer Voorsitter.
Op 'n punt van orde, Meneer die Voorsitter, wat het geword van dissipels wat saam met Jesus langs die See van Galilea sit, en saam om die kampvuur, vis in die hand, besluit waarheen ons volgende wil gaan? Meneer die Voorsitter, hoekom word so baie bome opgekap vir al die papier wat ons weer gaan genereer, maar verskil maak in die gemeenskap- dit is nie eers 'n A5 blaadjie vanaand nie.
Broer Finansieële Voorsitter, verduidelik weer hoe ons so ver onder begroting met die inkomste is? Broer Gemeentebediening- verduidelik hoe die duur dominees beter aangewend kan word deur nog beter en meer huisbesoek te gaan doen- as die dominee eers daar was, sal die mense betaal! Suster Jeugbediening- waar is al die kinders deesdae? Ons moet die kinders aanspreek, dan sal die ouers weer kerk toe kom. Broer Bazaar- hoeveel beeste gaan daar wees vir die Bazaar? Julle moet asseblief saamwerk, die hele derde kwartaal gaan opgeslurp word om 'n goeie Basaar te hou, dan kan die boeke dalk klop.
Broer leer en aktueel, weet jy dat die Wes-Kaapse Sinode vandag oor die Belydenis van Belhar praat? Bel vir wie?
Broer Voorsitter, hier is heeltemal te veel mense wat buite die eg spyker in hierdie gemeenskap! Daardie ou daar oorkant jou is in geen kerk nie, hy suip soos 'n vis, sy ouma het gebel, gaan spreek hom aan!
Ek tel die dae af. Nog tagtig normale kerkraadsvergaderings voor ek kan aftree. Tagtig keer se stadig doodgaan. En dit kan so anders wees!
Broer Voorsitter, hoekom hoor niemand jou as jy sê hierdie skippie wil nie meer float nie?
My droomhuis in Skotland...
Dins 10 Mei 2011, 21:15
Daar is seker baie huise wat sou kon aanspraak maak op die titel: Droomhuis.
Daar is daardie lawwe monstrositeite op MTV se Cribbs en ander "lifestyle of the rich and fatap"- tipe programme. Daardie huise wat selfs 'n tv in die kleinste kamertjie het, vir die kere wat jy die ringsitting op witbank moet bywoon.
As ek die Argus so amper klaarmaak, dan dondereer ek gewoonlik daar deur Clifton, Bantry Bay en sulke plekke van my fiets af as ek sien watter huise bou mense, en watse seeuitsig daar van hulle nederige aardse tentwoning moet wees. As daar nou nog net 'n Aston Martin Vantage in die R4 milj-enkel-garage-uitgekap- in- die- rots kon staan, dan kan baie mense lekker droom.
Daar is die een huis wat baie gereeld in my gedagtes opkom. Ek het in 2006 in Skotland gaan probeer om heel te word, sodat ek nie 156 grein lood onnodig mors nie. Die lewe het alle sin verloor. Ek het al voorheen geblog oor hierdie ervaring van heelword.
Terwyl Modderkoekie na haar nuwe grond in Skotland gaan kyk het, het haar fotos my weer aan 'n baie wonderlike ervaring laat dink, ten midde van die donkerste tye van my lewe. Ek was aanvanklik alleen by 'n heelwordsentrum naby Huntly in Skotland. 'n Baie geseënde, wonderlike mens het uit sy sak betaal dat my liewe vrou enkele dae later by my kon aansluit, om deel te word van die pad na genesing.
Dit was November in Skotland. Dit was herfs. En in die natuur was daar die ongelooflikste palet van kleure. Oordadige rooi, geel, oranje op elke boom geverf. Dit was baie, baie koud, al het die sneeu nog nie gekom nie. Die dae was baie kort, en die ligintensiteit baie laag- elke foto moes baie lang lensopeninge kry om sinvol te wees.
Ek en my vrou het die een dag gaan stap. Sommer net gaan stap. Ek het nog bronchitis gehad, en my longe uitgehoes. Maar ons het die paadjies gevat. Skotland is 'n baie, baie ou land. En daar was die ongelooflikste ervaring van heel word, van sommer net genesing ervaar in die stap. Op hierdie seerste dag van my gesondwordproses het ek van my mees kosbare fotos geneem.
Baie naby die een piepklein dorpie het ek en my vrou voor hierdie huis gaan staan. Daar was niemand tuis nie, dit was seker iemand se naweekplekkie. Maar daardie huis het skielik die simbool geword van alles wat ek so graag in my lewe wou hê. Al wat ek wou hê, is 'n huisie soos hierdie, wat myne is. In 'n plek waar niemand in die aand deur die venster gaan klim met 'n mens om my vir my selfoon te vermoor nie. 'n Plek waar ek nie eers die gordyne hoef toe te trek as ek nie daar is nie. Ek sou bitter verbaas wees as daardie voordeur gesluit was.
In my geestesoog het ek die huisie gesien soos wat hy 'n maand later waarskynlik sou lyk. Met 'n laag sneeu oor, wat alles kom bedek. Met 'n warm vuur in die kaggel. Met die vrou van my drome in my arms voor daardie kaggel, toegewikkel in 'n lekker dik kombers, terwyl ons 'n glasie rooi sherrie drink. En met hierdie prentjie in my kop het ek besluit om die lewe weer 'n kans te gee. En die lewe het besluit om my weer 'n kans te gee. Die lewe het sy onderste draaipunt gemaak, daarvandaan kon dit net beter. Skielik was daar weer 'n pad om te loop. 'n Nuwe brug om oor te steek.
My geliefde het die hele pad saam met my gestap, al het dit haar 'n baie groot emosionele prys gekos. Ek hoop ek kan eendag vir haar so 'n huisie gee, waar ons saam kan woon, met 'n kaggel wat brand in die winter, met 'n warm kombers en 'n glasie rooi sherrie. In 'n plek waar ons veilig kan wees, sonder lede van die bevolking wat ons dood wil hê, net omdat ons wit is, en kerkmense wat ons weg wil hê.
Ek dink baie dae aan daardie huisie in Skotland. Ek ken nie die mense aan wie dit behoort nie. Dalk het hierdie huisie 'n totaal ander verhaal wat hy vir iemand anders vertel. Dalk is ek verkeerd om so baie aan 'n besoek aan 'n eenvoudige huisie te koppel. Maar somtyds droom ek nog...

Subscribe to:
Posts (Atom)