Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Friday, May 27, 2011

'Cause I'm leaving, on a Jetplane...

Liewe vriende, this is it! Vandag is die dag. Die reis het vier jaar gelede al begin toe my goeie vriend in die kaap my een aand na 'n CAmino bekendstelling toe gevat het. En toe het ek net kennis geneem, en gewonder wanneer gaan hy. Ek kan mos nie stap nie, ek kry altyd blase onder my voete, die rugsak is deur die duiwel self uitgevind, dit gaan te duur wees, as my motorfiets petrol in het sal ek eerder soontoe ry... verskonings verskonings verskonings. Net nie ek nie.

Tot ek verlede jaar skielik agtergekom het die ouderdom bekruip my, soos 'n luiperd maak met 'n pasgebore rooiboklammetjie, jy kan net niks teen die bliksem doen nie. Skielik sien ek my pa as ek in die spieël kyk. Die tannies in die gemeente begin opmerkings maak van hoe wys ek nou begin lyk. (wat de hel beteken dit???) En die oudste kind moet einde 2011 uit die huis uit gaan. Gesien in die lig van 'n blog of twee terug, lyk dit tans na nie 'n slegte idee nie. Maar wanneer jou kinders begin huis verlaat, lui 'n klokkie êrens wat verskriklik hard begin skree: jy word nou oud! En soms is dit nog 'n slegte idee. Ek werk ook in 'n ouetehuis met mense, en daardie fase wat almal uitgedra word en voor die televisie geparkeer word vir al e-tv se heruitsendings van ou sepies- jong, ek vrek liewer op my motorfiets as om ooit daar te kom. Jy weet, daar waar 'n man 'n halwe viagra moet begin drink om nie jou skoene nat te piepie nie.

En verlede jaar het die saadjie begin opkom: gaan stap daardie Camino, so veel van hom as wat jy kan inpas. Breek vir 'n slag uit die groef uit, gaan doen iets avontuurliks waaroor jy die ander ou omies eendag langs die piskrip kan vertel as dit so ure vat om watertjies te passeer met die knypende prostraat. Die frustrasieklier.

Daarom het ek daardie raad gevolg van: die verskil tussen 'n droom en 'n reis is 'n vliegkaartjie. Flight Centre se moer, dis baie goedkoper om self op die internet te koop, as deur hulle. Ek vlieg lekker Lufthansa vanaand- ek hoop daai Duitser agter die stokke het goed geslaap, en dat vandag nie die dag is wat hy weggeraap word, soos Hal Lindsey al voorspel het in die 70's nie- die gelowige vlieënier word weggeraap, en die res van die passasiers gil al die pad ondertoe nie. Nee, dit gaan nie vandag gebeur nie. Ek hoop ook Ahmed the Suicide Bomber is eerder saam met Malema op Ethiopian Airways op pad om Gaddafi te gaan besoek.   Ek wil nie weer op 'n Vrydag met Egypt Air in Kaïro aankom nie. Laas keer toe dit gebeur, toe kyk almal na my, en val op die grond neer op sulke klein matjies, en buig voor my. Soveel waardering kan ek nie hanteer nie.

Soos die dinge nou staan, is ek more en Sondag in Madrid, en Maandag vat ek die pad met die trein of bus Leon toe. Sal Dinsdagaand by die Roomse gevaar se huisies begin slaap, en Woensdagoggend begin werk aan die blase op my voete. Ek is steeds skytbang, want dit begin na groot werk klink om 'n rugsak oor die berge te dra.

Maar nou ja, dis my eie skuld, so ek gaan die beste daarvan maak. Gisteraand het ek mooi vir mamma en die kinders tot siens gesê. Ons het pizza en Coke gehad, ek en mamma het die vier nefies besoek. Daarna het ons vir die kinders smarties op die grasperk gaan uitgooi...  Het darem ses ure se slaap ingekry voordat die opwinding te groot begin raak het, en ek die rugsak uitgepak het, en weer ingepak het. Kyk of die yskas nie dalk ook êrens kan in nie. Maar die laptop wil net nie...

So, ek hoop daar gaan kans wees om so nu en dan met julle te kommunikeer. Dalk kan ek êrens by 'n internet kafee vashaak, en bietjie sê waar ek is, en hoeveel blase daar op my voete is.  Hoe tapas nou eintlik proe, en hoe die bier is.  As dit nou nie so dikwels gebeur nie, hou goeie moed, as die Duitser nie weggeraap word nie is ek weer rondom die 25e Junie op die lug, by die huis.  Baie dankie vir julle vriendskap die afgelope twee maande, daar is nogal wonderlike mense versteek onder die litnet bloggers.

Mooi bly, en lewe voluit daar waar jy met jou lewensreis op pad is!
Die Donkie
Onderwerpe:  camino  

Wednesday, May 25, 2011

Die demoniese invloed van esterogeen in die plattelandse pastorie... Die begin van my doktorale verhandeling.




Daai Kamperende manne het nou wel gesê ons gaan weggeraap wees/ in Oktober word/ met die volgende moontlike geleentheid wreed tot 'n einde kom/ saggies heengaan in ons slaap (skrap wat nie van toepassing nie en stuur 'n donasie).

Die ander dominee van Rant-en-Dal het in die sop beland oor alles die demone se skuld was, of nie is nie. Die Kaapse sinode het gesê jy moet nou self besluit of daar 'n duiwel is of nie. Die astronome sê asteroïde Toutatis tref ons 21 Desember volgende jaar, of nog 'n groter klip, Aphopis in 2029. (Dit gaan op 13 April 2029 plaasvind, donasies op die link hieronder asseblief mense, kyk of ons daardie klomp sissies by Family Radio se skamele $104 miljoen kan wen...)
Openbaringe sê die einde kom met vuur, en dan sal daar 'n geween en gekners van tande wees. En die astroloë sê waterdraers soos ek is slim en sexy, die res van julle is redelik in julle moer, want Venus beweeg verby die Ram onder die Bul se wakende oog, en die Tweeling is elders besig om nie meer 'n Maagd te wees nie.

Al hierdie dinge is redelik minieure verwikkelingtjies in vergelyking met die vreugde van om 'n tienerdame groot te maak.

Daar is twee esterogeenfabrieke in my huis. Moeder en dogter. En vanaand is oom niek en sy seweduisend demone weer los in die pastorie. (moet dit net nie vir die Ringskommissie van Krugersdorp sê nie, ek het nog so paar paychecks nodig voor die wegraping in Oktober). Soos ek hier sit, is ek redelik die hel in (moet dit ook nie vir oom Angus sê nie, ek sal weer beter word voor die volgende aartappeloes!) Ek probeer nog Oscar Wilde se raad volg, ek moet immers binne 48 uur land-uit vlug.  'n Man moet probeer voor bly. Jy moet jou aandele hoog hou. Maar nee, die demone het weer losgetrek in die huis. En nou is die jonge dame met haar se scooter die strate in, dik die bliksem in vir ma. En ma sit met opgepompte wange, dik die bliksem in vir sussie.  Ek en die boeties staar verslae na Australian Masterchef, ons verstaan nie hierdie dinge nie. Ons hou van vrede.

So as iemand êrens op die N1, vanaf Messina tot Melkbosstrand my dogter vanaand sien op haar scooter, sê vir haar haar pappie verstaan. Ek het ook so op my motorfiets rondgejaag as die storms hier binne woed. Deesdae skryf ek maar eerder blogs, petrol en agtertires raak te duur.
Hoe gaan julle haar herken? Wel, in die bui wat sy vanaand is, lyk sy so min of meer so:


Foto geleen by: http://www.geeks.co.uk/21282-newsbeats-from-la-la-land-7


Tuesday, May 24, 2011

Positiewe denke, die Ferrari en die vulkaan...

Adage vra netnou wat lees ons. Ek het vanmiddag klaargemaak met Robin Sharma se boek: "The Monk who sold his Ferrari." Ek weet hierdie boek gaan te geestelik wees vir party, te Boeddisties vir ander, en te cheesy vir sommiges. Maar ek het dit regtig geniet. Of te wel, ek het die 200 bladsye vinnig tussen gister en vandag in 'n A6 grootte sakboekie opgesom, dat ek in Spanje daaroor kan loop en dink.

Die een ding wat ek uit al my oordenkinge die afgelope ruk leer, is hoe geweldig belangrik die manier is waarop ons dink. En dan veral die manier waarop ons met onsself praat- die innerlike dialoog vir die literêre mense, die "self talk" vir ander soos ek.
Dis nogal waarmee die Ferrari storie begin- hoe ons gedagtewêreld soos 'n tuin is, wat goed bewerk moet word. Dit beteken, anha, dat ons nie te veel stront daarin moet toelaat nie...  Ek verstaan dit nie, want is dit nie juis die stront wat die tuin groen maak nie? Dis mos wat Keith Kirsten en daai Robertse tannie van die kruie gesê het: keep it organic, do it in the garden...?
In elk geval, as jy nou so mooi tuin het soos Keith en Antie Margaret, dan is jy daarop ingestel om die onkruid gereeld uit te trek.  En dit is die drift van wat baie van julle ook op my vorige pos voorgestel het.  'n Mens moet weer kyk hoe ek dink.

Ek is nogal bekommerd daaroor. Behalwe dat Tina die padwoede uitgewys het as iets verkeerd, en nie behulpsaam om sommige idiote net wakker te maak voor hulle iemand seermaak nie, is daar ook ander gedagtes wat maar gerus kan waai.  Ek is redelik geneigd daartoe om my eie beste vyand te wees. Ek gee dikwels nie eers iemand anders kans om iets sleg vir my te sê nie, ek doen dit sommer self. En dit blyk verkeerd te wees, volgens die Ferrarilose priester.  Daar mag in jou gedagtetuin geen onkruid groei nie. Niks negatiewe gedagtes nie. En as jy sou dwaal daarop, dan staan hulle vir 'n halfuur onder 'n yskoue waterval. Daar is net nie een van hulle (yskoue watervalle) naby my huis nie, sal die stort doen?

Nietemin ('n domineewoord wat die kollegas by Tukkies se engeltjiefabriek aanleer, hulle almal sê dit graag in hulle preke!), al sê die Boeddiste dit, sê die Bybel dit ook. Lyk my dis beproefde, eeue-oue waarhede. In die Bybel staan: "Wees veral versigtig wat in jou gedagtes aangaan, want dit bepaal jou hele lewe..."
Dit wat ons dink, is dit wat ons gaan doen. Dit wat ons 'n paar keer doen, word vir ons 'n gewoonte. En ons gewoontes het 'n reuse invloed op ons karakter, wie ons werklik is, en wat ons vir ander mense kan beteken.
Dit beteken, soos ek nou oor die goeters sit en dink, dat 'n mens sal moet aanleer om darem nie jou eie vyand te wees nie. Los dit maar vir skoonma.  Wanneer ons positiewe dinge dink, (sê iemand anders se boek onlangs vir my, lees ook so baie dat ek nie meer kan onthou nie, maar as dit joune is- thanks!) kan ons brein glo nie onderskei tussen die gedagtebeeld en die werklikheid nie. Neander moet maar help hoe dit werk- 'n mens se brein begin dan nuwe neurologiese paadjies bou om daardie droomkonsep waar te maak. Positiewe energie word gegenereer, wat 'n mens 'n baie beter kans gee om suksesvol jou droom te bereik. Maar as jou drome net nagmerries is, en jy sien altyd net die negatiewe en doom en gloom oral waar jy gaan (soos baie van my liewe mede-kerkmense!) dan gaan jy ook nooit self uit die gemors uit opstaan nie. Jy word jou gedagtes. Dis Zen en die Bybel wat so sê, en blykbaar het neurologie ook iets daarmee uit te waai.

In elk geval, ek wil graag my negatiewe gedagtes begin omsit in positiewes. Dis een van die goed wat die Ferrarilose Een gesê het- as jy in die openbaar 'n begeerte uitspreek om te verander, dan is die kans baie groter dat jy dit sal doen. Mense kan jou dan accountable hou vir jou wens. Ek wil nie meer vir elke oumens wat 40 voor my ry (sorry Tina en Maankind!) hardop of in my kop sê: jou stadige... donker Afrikaanse woorde... nie. Ek wil vriendelik waai  en verbysteek sonder om my wiele te spin. Jou dag moet sommer beter wees as ek jou verbysteek in die hoofstraat van Hermanus... of Heynertsburg... Ek wil nie dadelik meer die ergste verwag nie- soos verlede week toe die prokureur my soek en ek dadelik wonder wie wil my dagvaar nie. Dit was toe net my buurman in die meenthuiskompleks wat sy motorhuis wil toebou en almal se toestemming moet kry. Hoekom verwag ek altyd dadelik die ergste? Kon die prokureur nie net gebel het om te sê ek het toe regtig die Eurolotto gewen, en daar word 900 miljoen Britse Pond oorbetaal nie? En dan is dit net vir een maal nie TB Joshua in Nigerië se neef se nuutste 419 scam nie?

Ek sal nie meer dadelik dink die ergste gaan my tref nie. Ek gaan voluit leef, en 'n positiewe verskil maak in elke mens se lewe wat my pad kruis. Sommige f***** idiote se kommentaar gaan ek net ignoreer, (derde keer se deurgaan: dalk moet die Donkie eerder hier sê: Geliefde, andersdenkende, mileu-gestremde mede-aardbewoners, en potensiële vriende as ons mekaar net om 'n bottel rooiwyn kon ontmoet...), ander liewe vriende se kommentaar gaan my lewe verryk en my 'n beter mens maak.  Ek gaan meer tyd saam met my vrou spandeer. Ek gaan my kinders se eerste stappe na sukses saam met hulle vier.

Daar is net twee goed wat op die oomblik nog buite my bereik lê soos ek dit nou sien:
Ek weet nog nie hoe om vir my 'n Enzo Ferrari te koop, dat ek nie langer die Ferrarilose Priester is nie!
En kan iemand asseblief daardie donderse vulkaan in Ysland se bek toestop dat ek wel Vrydagaand Spanje toe kan vlieg en my een Bucket List droom kan waar maak op die Heilige Jakobus se weg?


Die Priester begeer hierdie Ferrari- is dit nie die sexyste lyne ooit nie, behalwe nou miskien 'n paar susters op aarde s'n? Foto êrens op die internet gesteel lank lank gelede as voorwerp van intense oortreding van die 9e gebod: Jy sal nie jou naaste se Enzo Ferrari begeer nie!

Ns. Ek het nie 'n idee hoe om Boeddis te spel nie, Lewies, en ek is nou heeltemal te lui om in die HAT dit te gaan opsoek. Die vorige keer het ek darem 'n aangename verrassing gekry met die woord vir 'n vierkantige klein seiltjie voor op 'n kleinerige seilvaartuig se boeg...
Ek dink nou moet ek my groentetuin gaan bewerk deur een van my vriende se rooiwyn te gaan help opsuip (vierde deurgaan; dalk sal dit mooier klink om te sê: Pastoraal verkeer rondom die edele vrug van die wingerdstok..." )

Friday, May 20, 2011

Skotland en Magersfontein, o Magersfontein

Behalwe nou vir die verbande boek van Etienne le Roux wat die Hertzogprys gewen het in 1979, was daar regtig so 'n ligte ou skermutselingtjie tussen die Boere en die Britte op 11 Desember 1899. Dit het 'n hele paar ouens se Kersfees en Eeuveranderingpartytjies geruïneer.  Die Slag van Magersfontein was veral vir die Black Watch Regiment van Skotland nie pret nie. Lord Methuen het hulle beveel om met gevelde bajonette op die Boeremagte se loopgrawe te marsjeer, wat hulle met groot dapperheid gedoen het. Methuen was egter so effentjies onnosel om dit te beveel, want die Boeremagte was ingegrawe in loopgrawe (wat een of ander ander onnosele ou die idee van loopgrawe gegee het vir die 1e Wêreldoorlog. Die 2e Regiment van die Black Watch het swaar verliese gely.

Generaal Wauchope het 'n briljante nagmars in die Soedan gehad tydens die slag van Omdurman, (in 1898)  en het dieselfde taktiek hier in Suid-Afrika probeer. Dit was 'n ligte ou glipsie. Van die ouens in die loopgrawe het geweet hoe om 'n Mauser 7x 57 mm te hanteer. Hulle het verder die Boeremagte wakker gemaak, maar nie beseer nie, met liddietbomme uit die artillerie, wat agter die Boeremagte geval het (hulle was toe heelwat nader as wat die Engelse vermoed het). Die Engelse en veral Skotse regimente het begin marseer voor sonop, en teen dagbreek was hulle in netjiese rye opgelyn, so 370 m van die Boereposisies, toe die Boere begin vuur het. Ene Majoor Benson het Wauchope teen sy strategie gewaarsku, maar hy het geantwoord: "... I'm afraid my men will lose direction. I think we will go a little further."  generaal Wauchope was een van die eerste mense wat in hierdie veldslag gesterf het.  Vir 'n wyle was die Skotte vasgekeer deur akkurate Mauservuur, totdat die Coldstream Guards en Gordon Highlanders as versterkings opgedaag het.  Die Grenadier Guards het 'n omsingelingsbeweging van die Boeremagte gestuit. So het die Highlanders die hele dag in die son gelê en dekking slaan, totdat 'n Boer met 'n wit vlag na hulle toe gery het en toestemming gegee het dat hulle mediese spanne hulle gewondes van die slagveld kon verwyder. Hier was nog soveel beter maniere tussen vyande as in die 1e Wêreldoorlog. 'n Britse vlootkanon het die skietstilstand later verbreek. Dié keer is 'n Engelsman met 'n wit vlag oor na die Boere toe om om verskoning te vra- die een offisier het nie gehoor van die skietstilstand nie, (is hy dan doof?)  Die Boere se kanonne het om 17h30 vir die eerste keer daardie dag op die Britse magte  begin vuur, en Methuen het sy magte teruggetrek om by die Modderrivier kamp te hergroepeer die volgende oggend.
Die Black Guard het die meeste slagoffers vir die Slag van Magersfontein gehad, met 303 offisiere en manskappe as slagoffers vir die dag. Wauchope se lyk is 180m van Genrl Cronjé se loopgraaf gevind.
Die omstandighede in die Modderrivier kamp het later tot uitbreek van Tifuskoors gelei, en soos die Britse soldate na Bloemfontein toe teruggetrek het, is tussen 10 000 en 12000 van hulle met die siekte getref, wat tot 1200 sterftes gelei het.

Een van die Black Watch se manskappe het hierdie gediggie geskryf oor die dag:
"Such was the day for our regiment,
Dread the revenge we will take.
Dearly we paid for the blunder
A drawing-room General's mistake.

Why weren't we told of the trenches?
Why weren't we told of the wire?
Why were we marched up in column,
May Tommy Atkins enquire…"

Private Smith, December 1899.

Vir al hierdie manskappe wat van die Black Guard gesneuwel het in die Suid-Afrikaanse oorlog, is hierdie standbeeld in Edinburgh opgerig. Nee, jy mag nie inloer om te kyk wat word onder 'n kilt gedra nie.

En ja, die Britte het Magersfontein gewreek by Paardeberg, waar Generaal Piet Cronjé met 4017 man oorgegee het. Die oubaas wou nie na Generaal Koos de la Rey de la Rey, sal jy die Boere kom lei, de la Rey, de la Rey luister nie, en het die hele familie saamgevat in die ossewa vir sy oorloggie.  Toe Kitchener opdaag, het hy so waar as wragtag 'n laer met sy waens gemaak, soos in Bloedrivier faam. Sy laer is uitmekaar geskiet deur die Britse artillerie, iets wat die Zoeloes nie by Bloedrivier gehad het nie. So het die held van Majuba sy alie gesien. En die gang van die oorlog gedraai.

Ek is nou nie een van daardie ouens wat graag die Vierkleur wil terughê nie. Ek haat ook nie die Engelse nie. Die Boere-oorlog bly vir my 'n baie interessante stuk geskiedenis, en die ordentlikheid wat daar in hierdie oorlog was, tot die Britte die konsentrasiekampe en die Scorched Earth beleid begin het, was opmerklik.  Dit was net interessant toe ek en vroulief in Edinburgh rondstap, en op hierdie standbeeld afkom, om die geskiedenis weer te gaan oplees.

Thursday, May 19, 2011

'n Bileam spesiale kunstoekenning!

Vandag was ek in NG Gemeente Moreletapark se restaurant. In die restaurant is hierdie pragtige kunswerk van my!

Hy is vir net R300 te koop! Ek het nie vandag geld by my gehad nie, maar ek dink ek moet 'n plan maak om hom te gaan koop, dit sal nogal baie mooi in die studeerkamer lyk!

Tuesday, May 17, 2011

Tempest Fugit- die tyd vlieg

Of eerskomende Saterdag, of 21 Desember 2011, of êrens in 2029 het die uurglas vir die mens uitgeloop. Dis nie wat ek as dominee van die grootste susterskerk sê nie. Dis wat my liewe blogvriende wild en wakker oor skryf op die oomblik.
Party ouens spot. Ander probeer vinnig sondetjies toesmeer of bely. Nog ander gaan probeer om vir die ANC te stem.  Dalk help dit om oom Jaap Z se raad te volg?

Ek, die dominee, slaap nog steeds rustig. As die einde kom, dan kom dit. As dit nie kom nie, dan wil ek voluit lewe. Nie uit vrees vir die asteroide wat ons gaan tref 21 Desember 2012 of 2029 nie. Nie vir die taxi wat bo-oor my wil jaag as ek op my motorfiets in die groot en bose stad Pretoria dit waag om siek mense te gaan besoek nie.  (Ha-ier harabbiem.... die woorde waarmee Ninevé in Jona beskryf word- vir die wat alles graag in Hebreeus wil hê. ) Ek wil nie in vrees lewe vir wat 'n Malema alles met ons land kan aanvang nie. Ook nie wat die volgende idiotiese witwolf tipe met 'n vuurwapen kan aanvang nie. Ek wil nie in vrees lewe dat ek nou 'n ketter is omdat die Wes-Kaapse Sinode die Belhar belydenis aanvaar het nie. Ek wil net lewe. En in die lewe wat ek hier op aarde het, wil ek graag 'n positiewe verskil in ander mense se lewe maak.

Die een ding wat egter waar is, is dat tyd uitloop. Elkeen van ons het net 'n bepaalde tyd op hierdie aarde. Dit kan Saterdag klaarmaak, of eers oor 70 jaar. Maar ek en jy is sterflik. Die dood wag vir elkeen van ons. Niemand is op die oomblik ouer as 114 jaar in hierdie wêreld nie. Ons elkeen word ouer in ons liggame- elke jaar neem die kragte so bietjie af. Elke jaar vat dit so bietjie meer van my om te oefen vir die Argus. Elke jaar is dit so bietjie moeiliker (nee, wag, dit was die sedoos se skuld...)

Een van die mooi ou gesange sê: "ure, dae, maande, jare, gaan soos skadus stil verby, niks wat met die loop van jare, onveranderlik kan bly..." met die mooi woorde van Psalm 103, die beeld van veldblomme in die woestyn, wat daarop volg.
Iemand het op 'n muur in New York se moltreintonnels die woorde gegrafiti: "Death is life's way to stop everything happening at once..."  Dalk is die teenoorgestelde eerder waar- die dood wat oor elke mens se skouer loer, bring ons in aksie om soveel as moontlik met ons lewe te doen, want hy is eintlik kort en gaan vinnig verby.

Daarom, liewe gemeente, mag ons nie uitstel om goed te doen nie! In die Christelike geloof is "vandag" baie belangrik. Jesus leer ons bid vir vandag se brood. Hy sê ons moenie bekommer oor die dag van more nie, vandag sorg die Here vir sy kinders (soek dit self in Matteus 6 en 7).  Vandag is ook die dag van redding, sê die Ou Testament...

Wat ek met my liewe blog vriende wil deel: daar is net soveel dae en soveel geleenthede om voluit te lewe. So baie geleenthede is net eenmalig. Ander kan so dikwels opduik, en as jy dit nie gebruik nie, raak dit saggies weg soos reënwater wat in die sand wegsyfer. Jy kry geleenthede met jou lewensmaat om goed te doen, om die klein dingetjies reg te doen, om hom of haar te dien met jou menswees. Die Kaapse Sinode was reg- die man is nie die hoof van die huis nie. Vir die gelowige lesers- Efes 5:21 sê in my woorde: Omdat julle Jesus liefhet, dien mekaar...  Vir die ongelowige lesers- as jou verhouding net oor jouself gaan, is jy 'n poepol en besig om jou gat te sien- op 'n dag is dit weg. Capisce?  Ouers kry geleenthede om kinders te begelei op die pad na grootword. Dit is veronderstel om 'n wonderlike avontuur te wees, wat jy elke dag saam met jou kind verbaas kan staan oor hoe wonderlik die lewe, die heelal, die wetenskap (ja, Neander, jy lees reg!) die kuns en 'n geloof wat nie op oordeel nie, maar op liefde gebou is.  Daar is geleenthede elke dag. Maar jy kan so baie van hulle mis deur jou eie belange en jou eie Ek, dat jy die kosbaarste dinge heeltemal kan mis. Die dood wat vir elkeen van ons wag, kom waarsku dat tyd vir elkeen van ons uitloop, en op 'n dag is dit verby.  Het jy darem gedroom? Het jy soms 'n droom vir jouself waargemaak? Het jy soms van jouself gegee, sodat iemand anders se drome waar kan word?

Ek dink Jeanne het eendag vertel van 'n ander geloof wat aan die anderkant van die dood vir elke mens sou vra: het jy joy in jou lewe gehad, en het jy joy aan ander gebring? Dit is ook 'n waarde wat ek as Christen heeltemal onderskryf. Ek verstaan die vraag in ons geloof: Het jy werklik liefgehad? Soveel so dat jy jouself opgeoffer het?

Die Sandkorreltjies loop. Nou gaan ek Bybelstudie hou saam met 'n groepie dames van 60-90 jaar, en ons gaan dit geniet om saam oor die Here se liefde in sy liefdesbrief te lees. Mense wat heelwat ouer as ek is, verryk my lewe so ongelooflik met hulle liefde. Daar is ook ander... lees van my ander blogs soos Gatvol.  Maar ek kan ook kies hoe ek die geleenthede gaan gebruik, en gaan reageer op elke mens.  Mag jou dag geseënd wees, en mag jy vandag iets positiefs vir iemand anders beteken!



Sunday, May 15, 2011

Die wonderlike broederskap van die motorfietswêreld



Vanoggend het ons na 'n plattelandse dorpie toe gery, waar hulle Hoërskool 'n motorfiets breakfast-run aangebied het.  Ek het dit net weer verskriklik baie tussen die motorfiets broers en susters geniet.

Die  een ding wat so wonderlik is in hierdie wêreld, is dat jy nie op 'n sekere manier moet wees om in te pas nie. Nou ja, jy moet 'n motorfiets hê, en die mense gaan vir jou lag as jy met  'n scootertjie daar aankom. Maar verder, as jy dit met daardie motorfiets op die oop pad kan waag, is jy deel van ons. Ons sal onder mekaar spot oor die verskillende brand- names. Harleys is altyd vir ou ooms wat nie meer self kan regkom nie. As jy 'n Harley ry, is daar waarskynlik fout met jou prostraat. BMW's is vir juppies. Of ou has-beens. Ons ouens met Italiaanse fietse kan nogal snobisties lyk- veral as dit die Ducati brand dra (ek ry die ANDER Italiaanse fiets, nie Vespa nie!)  Die Japannese superfietse word gereeld met mekaar vergelyk. En al lyk ons asof ons nie belang stel nie, hoor ons graag van ervarings anderkant die 300 km/h zone.  Daar is die cruisers, die superbikers en die duallers. En elke groep is met trots verteenwoordig op so 'n breakfast run. As dit op twee wiele is, en self aangedrewe is, dan is jy my broer of my suster.

Daar is ouens met die nuutste fietse, hopelik gaan die BMW 1000 RR se foto êrens voor die 21 Mei wederkoms laai. Vinnige goed, jaloerse kyke, maar tog gun ons jou dit. As jy die geld het, geniet dit. Daar is ook arm ouens, (soos ek) wie se fietse ouer as 'n dekade is. Daar is mense wat op interessante maniere hulle wiele aan die rol hou. Hulle is net so deel van die broederskap soos mnr Harley of Mnr 1000RR. Dalk verdien hulle selfs nog meer respek!  Hierdie fiets hierbo het die lewe begin as 'n Moto Guzzi, êrens in Italië. En het ek nou lekker met die eienaars gesit en gesels vanoggend! Die oorspronklike enjin wou net nie meer nie. Hy wou elke 10 000 km nuwe ringe hê, nes wyle tannie Liz Taylor op haar dae.  En eendag het die trotse eienaar genoeg gehad. Hy het die italiaanse ingenieursvernuf se trots uitgeruk, en seker van 'n krans gaan afgooi. Toe het hy 'n Dayhatsu Charade se enjin geneem, en dit aangepas tot dit in sy raam kon inpas. Ook 'n 3 silinder, dit lyk net so effens anders as jy die punte daar agter die groot lugfilter kan sien uitsteek. So het 'n simpel karretjie se enjin deel geword van 'n man se droommasjien. Die eienaar sê hy kan tot 200 km/u haal, maar is op sy gemaklikste op 150 km/u.  Hy trek stadig weg, soos 'n Dayhatsu, maar as hy eers op spoed is, kan hy kaap toe ry.

En dit is wat ek van die motorfietswêreld bewonder. Daar is nie nog so 'n fiets in die wye ganse wêreld soos hierdie Guzzi nie, en tog is die eienaar net so deel soos die res van ons. Elkeen wat hunker na die vryheid van die oop pad, elkeen wat nie omgee om soms nat te reën nie, elkeen wat in die spitsverkeer lag vir die mense in hulle metaalboksies, hulle is familie. Party is regtig kunstig ingekleur deur die tattoo parlor, ander is dominees undercover soos ek. (Die tattoo kom nader!)Enige beroep is welkom, enige inkomstegroep, enige ras, veral vrouens is baie welkom, kinders kan soms geskok wees, plattelandse gemeentetannies met houdings moet eerder wegbly.

As jy val, sal jou broers jou ophelp. As jy bier het, sal jou broers jou help opdrink. As jy eensaam is, sal jou broers vir jou vir 'n spin vat. As jy weird is, sal jou broers jou aanvaar, want elkeen is tog mos maar uniek? As jy 'n poepol is, sal jou broers jou uitsorteer, as jy vriendelik is, sal jy baie vriende hê.  Langs die pad groet ons mekaar, al ken ons mekaar nie. Dis nou behalwe daardie manne van Morelethapark, hulle groet niemand nie want hulle is rykgatte... Die res van ons voel tuis by mekaar.

En dis hierdie tipe ervarings wat 'n mens nodig het om mens te kan wees, en te voel die lewe is die moeite werd.