Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Saturday, April 2, 2011

Ou karre gaan scrapyard toe, waarheen gaan gescrapte dominees?

VAn kleins af het ek 'n groot liefde daarvoor om deur 'n Scrapyard te stap. Om al daardie goeters te sien wat mense mee klaar gemaak het, en weggegooi het uit hulle lewens uit weg. Van kleins af het ek potensiaal in die scrap gesien. Ek het altyd gewonder hoe kan 'n mens nuwe waarde toevoeg aan hierdie verworpe stukke yster. Ek het gewens ek kan sweis en plak. Sommer nuwe lewe in so 'n wrak blaas, 'n kunswerk maak wat daardie ysterhart sommer weer warm sal laat klop.So nou en dan het ek gewaag om 'n stuk scrap huis toe te smokkel. Maar eers het my ma, en my vrou het later die tradisie voortgesit, dat dit baie vinnig weer verdwyn, terug na waar sulke stukke roes seker maar hoort. Ek kan nie mooi sweis nie. En Ma, en Vroulief, kyk nie met dieselfde oë as ek na afvalyster nie.

In Standerd 9 kom die groot keuse: Wat moet ek vir 'n beroep doen? Waar kan ek 'n verskil maak. En weet julle wat- soos in die Scrapyard het ek dieselfde gevoel gekry as ek na baie mense gekyk het. Sommiges was soos nuwe motors, blink, vinnig, gesogd. Maar baie, baie ander het êrens langs die lewenspad afgetrek, finaal tot stilstand gekom, en dadelik begin roes. Die hartseer is dat so baie mense dood is, en eers baie jare later finaal die gees gee en begrawe word. En met my nuutgevonde geloof het ek gedink: daar kan ek 'n verskil maak! Daar is soveel seer mense. Die een ding wat nodig is, is dat hulle weer liefde beleef. Iemand wat omgee. Iemand wat potensiaal in hulle sien, en met so bietjie sweis en plak hulle help om weer aan die gang te kom. Ek het gedink- dis ek daai! EK kan daar wees, ek kan help. Ek kan liefhê, ek kan omgee.

Dit is 27 jaar verder van daardie roemryke dag in Standerd 9 toe ek besluit het ek wil 'n Dominee word om mense te help. Ek het nooit gedink dat die "predikantsamp"  'n sekere "status" op die platteland sou hê nie. Ek het die Bybel gelees dat 'n mens soos Jesus wou dien. Ek sou nooit kon dink in Standerd 9 dat mense die dominee op 'n "pedestal" sal plaas, juis om jou op 'n afstand te hou nie. Maar die dominees is nie onskuldig in hierdie stand van sake nie. Ek sou nie kon droom dat mense titels en togas sou gebruik om belangrik te klink, en mooi afgeronde woorde soos Jerusalem met soveel gevoel te kan sê nie.

Ek het nie geweet dat daar 'n dag sou kom dat die kerk net totaal irrelevant sou raak vir die gemiddelde mens nie. Ek het nie geweet dat mense groter troos sou soek by Jack Daniëls as by Dominee Bileam nie. Ek het baie naïef geglo ek kan 'n verskil maak.

Vanoggend voel ek ook gereed vir die Scrapyard. Ek voel totaal irrelevant. Stephan Joubert en Leonard Sweet se Perfekte Storm het my ook getref, en ek sink. Hierdie golwe van Postmodernisme, Post-Christendom en die Plat aarde (lees die boek, dis goed vir jou!) het die hele kerklike wêreld getref. Net hier, in ons dorpie, is die mense salig onbewus daarvan. Dit wat jy nie weet of erken nie, kan mos niks aan jou doen nie? Soos kanker.  Hier op die platteland glo die ouderlinge nog dat ons net weer die kerk se "basics" soos in 1950 goed genoeg moet doen, dan sal alles weer regkom. Doen net weer huisbesoek by almal, Dominee, dan sal almal weer kerk toe kom, nie net die 27% wat wel nog Sondagoggend kom nie. Doen huisbesoek, Dominee, dan sal meer as 24% mense weer geld in die bordjie gooi, dan kan ons jou weer goed betaal, dat jy weer gemaklik jou kinders se skoolfonds kan betaal.

Ek is moeg om huisbesoek te doen. Ek is moeg om by mense te gaan kuier, wat regtig nie 'n saak met my of die kerk het nie, dalk nie eers met die Here self nie. Met 'n groot gemeente bars dit om binne 'n twee jaar tydperk deur almal te werk, en by elkeen se huis uit te kom. Een besoek in twee jaar! Daarop wil die ouderlinge die kerk bou? In hierdie wêreld van facebook, twitter, MXit, waar kommunikasie onmiddelik is?
Ek gaan doen huisbesoek, die liewe mense van Boshoffstraat 50 voel baie skuldig, en kom die eerste Sondag  getrou kerk toe. Hulle gooi 'n koevertjie in die sakkie. Plig afgehandel. Volgende Sondag kom hulle weer, maar dis moeiliker. En die Sondag daarna verslaap hulle. En die Sondag daarna vergeet hulle.  Tot oor twee jaar, wanneer ek daar instap, en hulle skielik met rooi gesigte hulle beloftes onthou...

En in daardie tyd wat ek huisbesoek gedoen het, het ek die mooiste Bosveld sonsondergang saam met my vrou gemis. Ek het dit gemis om saam met my seuns bal te skop (seuns wat op die kerkterrein langs my huis verbied is, behalwe as hulle kerk toe gaan op Sondag. My eie kinders voel nie welkom by die kerk nie!)
Louis l'Amour het gesê dat sekere dinge se permanente invloed so groot is soos om jou vinger in die water te druk, en dan weer uit te trek. Huisbesoek is so in mense se geestelike lewe- eenmalige opwinding as jy gelukkig is, met geen blywende effek nie.

Ek is al so lank in hierdie pragtige plattelandse dorp. En hier is regtig wonderlike mense hier. Ek ken almal. Ek ken hulle honde se name. Ek weet van die aambei-operasies, en die ingroei toonnaels. Ek het al die gemeentebouprogramme probeer-  soos Twaalf Sleutels en Three Colours. Ek het Getroue Getuies en EEIII probeer. Nou probeer ons Gestuurde Gemeentes. En ek kry nie 'n kerngroep van 8 toegewyde mense uit 'n gemeente van 1600 mense bymekaar nie vir die GG span nie! Ek het al die evangelies deurgepreek, en wonder elke Saterdag, soos nou, wat om more met die Here se gelowige volk te deel. Soos die een ou dominee so mooi gesê het in sy boek (was dit Isak de Villiers?) Dit is Saterdagaand, moreoggend wil die gemeente hoor: So spreek die Here... en ek sit en druk gaatjies op 'n skoon papier...  (iets soos dit- dis wat ek onthou!)

Ek is opgelei om vir een firma te werk. Net een.  En in daardie firma word dominees met 'n spoed uitgehaal. Een is in die amp gestuit oor hy op facebook 'n like knoppie gedruk het! 'n Baie goeie vriend is ge"fire" oor hy nie wou saamgaan met finansiële wanpraktyke in die Moedergemeente van 'n groot dorp nie. Kan glo nie die gemeente "Tot stigting dien nie"- Artikel 13 van die kerkorde. Wanneer is ek so moeg dat ek nie meer my gemeente "tot stigting kan dien nie"? Wanneer lees die Ringsbroers hierdie blog, en fire my? Artikel 13- dien nie tot stigting nie. Of as hulle meer polite wil wees- Artikel 12- ons kan jou nie meer bekostig nie.

 Daar is geen ander werk wat ek met my Meestersgraad kan doen wat ek van weet nie. Ek was wel eendag lank lank gelede 'n uitstekende busbestuurder. Maar ek is blank, middeljarig, en oorgekwalifiseerd. As ek met my vriende in die bediening gesels, sit hulle in dieselfde bootjie. Kyk ek na die Kerkbode se advertensies, sien ek dieselfde storie in elke gemeente van die NG Kerk. Die Storm tref, en almal soek net beter dominees. Raak van die huidige een ontslae, daar is nog baie waar hy vandaan kom, daar uit die kerk se drie engeltjiefabrieke uit.

Ek sou so graag meer tyd saam met my gesin wou spandeer. Ek sou so graag elke sonsonder saam met my vrou wou wees, en ek sou so graag betaaldag opgewonde wou wees om ordentlik vir my gesin te kan sorg. Ek sou so graag vir my vrou 'n baie meer nuwe kar wou koop as haar 15 jarige wrak. Ek kan nie.

My wiele val af, en ek is besig om van die pad af te trek. Waar gaan al die dominees heen wat op 'n dag gekies het om uit die bediening te bedank? Hoe sorg hulle vir hulle gesinne? Watter werke doen hulle nou? Is hulle gelukkiger as in die pastorie? Ek wens daar was 'n webwerf waar hierdie oudkollegas kon raad gee.

Een van die skuldige plesietjies is dat ons darem nog in die laaste dae is van 'n DSTV kontrak. Op Discovery is daardie wonderlike program van Overhaulin', waar ene Chip Foose ou wrakke neem, en dit beter as nuwes maak. Die eienaars is altyd so opgewonde om te sien watter potensiaal daar toe al die tyd in hulle ou skedonkies was. Ek het gedog die kerk het daardie funksie met mense, en Jesus is die Meester wat mense beter as hulle potensiaal maak. Ek glo nog steeds in daardie Jesus, en sy potensiaal ontsluitingsvermoë.


Maar ek beleef die kerk as die "Crushers", wat die laaste bietjie lewe uit my sal pers, en my dan eenkant sal gooi. Soos daardie aangrypende brief van 'n pastoriekind in die kerkbode einde Maart 2011. Al die jare het haar pa met haar geraas oor die verbruik van krag en water in die huis, om geld te spaar vir die gemeente. En toe hy die dag aftree, na sy mediese fonds afgetrek is, het hy R1400 om van te lewe. Na al die jare wat hy saans huisbesoek gedoen het- is dit wat oor is. 'n Vinger uit die water getrek...

Waar is die geloofsgemeenskap wat werklik ernstig is oor om Jesus lief te hê, en mekaar te dien? Waar is daardie kerk wat omgee en stukkende mense wil heelmaak? Hoekom is Overhaulin' soveel beter as die kerk?

Die Rustang voor
Nadat Chip Foose met hom klaar is...




Friday, March 25, 2011

Die Kerk- hoe de hel het ons hier uitgekom?

Eendag lank lank gelede het ons Here Jesus hier op aarde God se liefde kom uitleef. Hy het vir ons kom wys hoe ware liefde lyk. Hy het homself kom opoffer, sodat gewone mense deel van God se huisgesin kan word.  Die plek waar Hy dit gedoen het, was baie insiggewend. Nie in Rome, waar die setel van wêreldmag van die dag geleë was met die keiser se teenwoordigheid nie. Ook nie in Griekeland, waar die vorige wêreldryk gesetel was, met al die eeue se kulturele erfenis nie. Die Seun van God word mens in Betlehem in Juda, daar in ‘n gehawende, warm stowwerige stukkie nêrens in die agterstrate van die Romeinse Ryk. Maar strategies, juis waar die groot kontinente van Asië, Afrika en Europa bymekaar kom, so sentraal om ‘n boodskap wêreldwyd te stuur.

Die boodskappers is net so ‘n vreemde keuse. Nie die koninklike magsdaers van Rome of selfs plaaslike regering in Jerusalem nie. Nie die filosowe en wyse here van Athene nie. Nie die Joodse Hoëpriester, of die Joodse Raad, of die Skrifgeleerdes of Fariseërs- die kerklike leiers van destyds nie. Die Seun van God wil die wêreld verander, en Hy kies om dit deur die ongeleerde mense van destyds te doen. Vissermanne wat nie hulle eie name kan skryf nie. Tollenaars wat deur elke regdenkende mens gehaat word vir hulle korrupte praktyke. Dokters, wat omtrent net bloed kon laat, en obskure boererate kon pleeg in die naam van mediese wetenskap. Politieke heethoofde soos Simon die Fanatikus. En vir die grap- sy grootste vyand, Saulus van Tarsis, wat sy bes probeer om die kerk van Jesus uit te roei. Gewone mense, vol gebreke, groot karakterfoute, min geleerdheid, nog minder status in die samelewing. Vir hierdie mense demonstreer Jesus ‘n alternatiewe lewenswyse, waarin die eie Ek opgeoffer word in diens van God en die naaste. En wanneer Jesus klaarmaak met sy bediening hier op aarde, dan vertrou Hy  daardie gehawende groepie mense toe om sy boodskap te gaan vertel tot in die uithoeke van die wêreld. En het hulle dit nie gedoen nie, ten koste van hulleself! Van die oorspronklike twaalf kry net Johannes dit reg om oud te word, en van natuurlike oorsake dood te gaan. Al die ander sterf voortydig wrede dode,  vir hulle geloof. Geloof was duur, dit het hulle alles gekos.

Maar die boodskap verander die wêreld. Van die begin af kom groepies gelowiges bymekaar, en help mekaar om God se liefde te verstaan, en dit met mekaar te deel. Hulle gee om vir mekaar, hulle deel selfs besittings met mekaar sodat almal ‘n kans het om in ‘n vyandige omgewing te oorleef. Die groot uitdaging is om mekaar te dien, soos Jesus hulle geleer het toe Hy hulle voete gewas het.

Die boodskap het al verder oor die wêreld versprei. Oral oor die wêreld begin klein gemeentetjies ontstaan, wat in gelowiges se huise bymekaar kom, saam aanbid, saam dien, saam uitreik om hulle boodskap van liefde met ander te deel. En so groei die kerk van twaalf na ‘n paar honderdduisend teen die einde van die 2e eeu na Christus. “En die Here het daagliks mense toegevoeg tot die gemeente…”

Intussen was daar Konstantyn, die eerste “gelowige” Romeinse keiser, wat die Christendom  die amptelike staatsgodsdiens gemaak het. Die kerk het politieke mag gekry. Die kerk kon begin om mense te beoordeel, en selfs tereg te stel! Glo jy my nie? Google net die Spaanse Inkwisisie. Lees die verhaal van die kruistogte…

In die kerk het die taal onverstaanbaar geword vir die gewone ou. Die boodskapper van God se liefde is nie meer die eenvoudige visserman wat Jesus liefhet nie, maar die priester wat die antieke taal van Rome kan praat. Hierdie priester kom staan tussen God en sy gelowiges, en sê vir hulle wat sê die Here, volgens hom en sy kerk se tradisie. Uitdeler van Goddelike genade vir die onbewuste “leke”.

Toe kom ‘n ou met die naam Martin Luther in opstand daarteen. Na baie sielswroeging kom hy uit by ‘n klompie waarhede, wat hy teen die kerkdeur van Wittenberg vasspyker. ‘n Mens word deur genade alleen gered, nie deur ‘n klomp geld te betaal of genoeg goeie dinge te doen nie. Net deur geloof in Jesus word jy deel van God se familie, sy kerk. God se Woord is die bron van geloof, belangriker as die kerklike tradisie.   EN so begin Martin Luther ‘n nuwe tradisie, wat die Bybel weer beskikbaar stel vir die gewone lidmaat. Gelowiges kan weer in ‘n persoonlike verhouding met God lewe, sonder dat ‘n priester alles vir hulle moet doen.  ‘n Kerk vir wie dit kernbelangrik is om altyd te bly reformeer- om meer en meer te word soos die kerk wat die Here Jesus graag in hierdie wêreld wil gebruik.  Maar skielik is daar Gereformeerdes en Katolieke wat in God glo, maar nie van mekaar hou nie.

Draai die wêreld nog so paar keer om sy as, breek die 21e eeu aan. Een van die weergawes van God se kerk op aarde is die Nederduitse Gereformeerde gestalte daarvan. Nederduits, want ons geestelike wortels lê in die Germaanse wortels- Duits en Hollands. Gereformeerd, want ons hou nie van die Katolieke nie, ons het groot geword met die waarskuwing teen die “Roomse gevaar”.

Ons tradisie sê dat die Bybel vir ons belangriker as ons kerklike tradisie is.  Ons sê dat Jesus alleen ons Middelaar is na God toe, ons het nie Maria of priesters nodig om vir ons in te  tree nie.

Omdat die Bybel vir ons belangrik is, is ons kerk so dinamies en lewenskragtig as die eerste Jerusalem gemeente in Handelinge 2. Vir elke gelowige is die Woord die fondament waarop ons ons lewens bou. Ons elkeen leef voluit vir die Here. Die kerk is die plek waar jy, in die taal van jou hart, die Here kan eer deur musiek, kuns, koordanse… Die kerk is ook die plek waar ons onvoorwaardelik lief is vir ons naaste, soos Jesus ons beveel het…  Ons behoort nie aan die kerk om gedien te word nie, maar om deur ons diens die wêreld stelselmatig te verander in die Koninkryk van God, waar liefde heers… Al hierdie dinge is in die Bybel…- maar is dit in die kerk?

In ons land was dit goeie Afrikanertradisie om aan een van die  “susterskerke”  te behoort- (wat niks met mekaar te doen wil hê nie, dit het  iets met kelkies en gesange te doen!) Solank jou lidmaatskap op datum was, het dit darem mooi gelyk op getuigskrifte, op keurrade en in werksonderhoude.
Ons hou nie van die Roomse Katolieke kerk nie, en tog volg ons hulle voorbeeld so getrou na!
As jy nie dink tradisie is belangriker as die Woord nie,  gaan karring net aan ‘n plattelandse gemeente se kerkmusiek. Ons almal weet mos dat die mees geïnspireerde musiek ooit in die 16e eeu in Duitsland en Holland was.  Daardie geheiligde musiek, soos deur Bach en ander uitgedink- dit is verseker die tipe musiek waarna die Here graag luister. Maar ons almal weet dat daar niks goed uit Australië kan kom nie- los maar musiek soos Hillsong en Michael W Smith eerder uit, dit val vreemd op die gereformeerde oor. Mense jonger as 40 moet maar net leer om van kerklike musiek te hou, aangesien dit nie deel uitmaak van hulle alledaagse lewenswêreld nie.

As jy dink dat die beginsel van die priester as uitdeler van Goddelike genade nie lewendig en wel is nie, praat met die plattelandse gemeente oor huisbesoek. As die dominee nie die afgelope twaalf maande by my aan’t huis was nie, dan stel die kerk nie in my belang nie. Ek wil die dominee in my huis sien, dan sal hy my in die huis van die Here sien. As hy nie my kom bedien nie, dan dien ek ook nie die gemeente met my bydrae nie.
En so het lidmaatskap op die platteland stadig as sulks verander:
Elkeen wil graag gedien word, maar niemand wil meer dien nie. Die kerk moet almal in nood help, maar iemand anders sal die geld daarvoor moet uithaal. Dominees moet 70% onbetrokke lidmate se alies gereeld blinklek om tog by te woon, en by te dra, dan klop die syfers, en is almal baie gelukkig.
Efesiërs 4:12- rus die gelowiges toe vir hulle dienswerk- Nee dominee, daai is die taal van die charismatiese kerke, die heppie kleppies, die wederdopers. Nee dominee, hier by ons is ons nie die Liggaam van Christus nie. Ons het nie genadegawes om ander mee te dien nie. Nee, dominee, ons is die kudde, jy is die Herder, en ons betaal jou om ons te besoek.
Nee, dominee, ons het nie ‘n bediening nie- jy is die Bedienaar. Jy kan agt honderd mense se harte elkeen baie goed ken, by elkeen se nood uitkom, seker maak elkeen is gered, gesond en gelukkig in die gemeente.

Dominee, wat se nonsens is hierdie kleingroepbediening nou weer? Jy preek Sondag, en vertel ons hoe die Here ons wil dra en troos. Jy kuier by ons as ons siek is. Jy trou ons, jy bedien aan ons brood en wyn, jy gooi die laaste grond op ons.

Die Bybel vertel: 
Die kerk is bedoel om te versprei deur eenvoudige mense, vol van die krag van die Heilige Gees, vol van die liefde van die Here, ook vir mekaar. En dit het nog altyd die wêreld verander- gelowiges wat liefhet en dien. Dan voeg die Here mense by sy gemeente.

Dominee, waarom het ons so lanklaas ‘n volwasse doop gesien? Dominee, waarom krimp ons kerk se finansies so? Dominee, hoekom word ons kerk so leeg? Dominee? Dominee…

Pastoor, ons like jou tent. Pastoor, ons like jou musiek. Pastoor, dis so lekker in die selgroep. Daar waar ek in die NG Kerk was, wou niemand my ooit toelaat om dinge so te beleef nie…  




Tuesday, March 15, 2011

Carboloading in die Kaap voor die Argus

Daar is 'n baie belangrike wetenskaplike beginsel wat geld vir enige atleet wat aan 'n "ultra-event" deelneem. Dit is die beginsel van Carbo Loading. Kyk, dié ding werk nou eintlik so: Volgens professor Tim Noakes kan 'n sportman se liggaam net 'n sekere tyd lank funksioneer op die beskikbare energie wat wel binne daardie spesifieke liggaam geberg is.  As jy byvoorbeeld getrou jou Corn Flakes en Hasiemelk geëet het voor 'n groot sportgeleentheid, dan gaan dit jou net X aantal ure hou- gewoonlik dalk so 90 minute, afhangende van jou graad van fiksheid, jou liggaamsmassa, jou krag per kilogram "power to weight ratio" en derglike fisika reëls- alles duidelik meetbaar in laboratoriumtoestande in die Sportsinstituut van Suid- Afrika.  Jou negentig minute is nie lank genoeg om 'n sportgeleentheid soos die Pick 'n Pay Cape Argus Fietswedren te wen nie, die wenner vanjaar het dit in 2 uur 32 minute voltooi. Wat beteken dat hy nie alleenlik op Corn Flakes en Hasiemelk kon funksioneer nie. Erens moes die energie aangevul word.  En ons almal weet deesdae dat Sportdieëtkunde 'n reuse, multibiljoenrand industrie is. Vra maar net vir die plaaslike rep van USN.  

Die vraag waaroor die goue medalje draai, is hoe die wenner van die Argus van sy 90 minute Corn Flake Rush  gevoed kan word tot by 2h32 minute. 'n Baie meer indrukwekkende vraag sou egter steeds blyk te wees hoe Bileam se donkie, met sy 120 kg lyf, en sy beplande 6 ure Argus, genoeg energie bymekaar kan maak om wel die wenstreep in Groenpunt te haal. 'n Mediese vraagstuk van epiese proporsies, sou ek dink. 

Wel, volgens Professor Tim Noakes is daar iets soos glukogeen in die bloedstroom van die gemiddelde atleet. 'n Sekere aantal energie word uit goed geselekteerde kos gekry, volgens 'n fyn uitgewerkte formule. In Bruce Fordyce se boek: Comrades Marathon, word dit as volg aangedui: Twee weke voor die tyd moet die atleet ophou om koolhidrate in te neem- dis nou pap en sous, brood, rys, pasta en al derglike dinge. In hierdie week word die liggaam geforseer om soveel as moontlik proteïen in te neem. Dis nou daardie uitmuntende voedselsoorte wat so erg deur dieëtkundiges afgekraak word- naamlik ROOIVLEIS. Eet jou steaks en jou skaaptjops. Soveel soos wat jy wil hê. Tim Noakes en Bruce Fordyce het so gesê- en wie is ek om nou met hulle te stry? Maar 'n week voor die groot item ruil die rolle om. Nou los jy die proteine en eet soveel as moontlik koolhidrate- pasta sonder romerige sous, pap sonder sous, aartappel sonder botter... Dit stoor dan glukogeen in jou bloedstroom, wat jou in staat stel om baie langer in enige ultra- sportgebeurtenis te kan volhard, tot by die wenstreep. Natuurlik sal jy ook langs die roete die energie effens moet aanvul met Energade, Powerade of steroide, en Gel en Gu van 'n slymerige aard, afgesluk deur 500 ml skoon H2O per halfuur.   En daar, liewe wenners van die toekoms, het julle die suksesresep om 'n 2h32 Argus te ry met jou fiets, om die Comrades in 5h21 te hardloop, of die Midmarmyl in 20 minute te swem. Soos die byskrif in die artikels in Mens Health in fynskrif byvoeg: individuele resultate mag verskil... 

Nou die gevallestudie: Bileam se donkie is 'n 44 jarige manlike atleet, met super-atletiese liggaamsbou, dalk so klein bietjie aan die dik kant, maar wat is 20 kg nou tussen vriende- dis skaars 'n goeie Karooskaap se gewig! Hy het hom nou nie skuldig gemaak aan die ander groot sonde van die "ultra-event", naamlik "overtraining" nie. Nee, ons gevallestudie het nie meer as 40 km op 'n slag geoefen nie, en 'n paar weke se oefening weens 'n verskeidenheid van goeie en minder goeie redes gemis. 

Dis die dag voor die Argus van 2011. Bileam se donkie het drie weke laas pasta geëet. Bloedglukogeenvlakke- minimaal. Wegspringtyd- 24 ure weg. Hoe sal ons vriend gevoed wees vir die wenstreep in 'n aanvaarbare tyd- voordat hy Woensdag moet terugvlieg met Kulula.com? 

Ontbyt: Volg 'n gebalanseerde, hoë proteïen ontbyt saam met sy baie fikse, atletiese vriende, by Ons Huisie in Bloubergstrand. Neem twee tot drie filterkoffies saam met die twee eiers, vyf repies spek, boerewors, hashbrown, sampioene en ter wille van koolhidrate- slap tjips. Dis hulle twee in aksie op hierdie foto- 12 Maart 2011 by Ons Huisie. 

Teen half-elf het die personeel van Ons Huisie ons vriendelik begin wys daarop dat daar ook ander kuierplekke in die Kaap is om ons wedrenstrategie te beplan. Ons verskuif toe maar na Eden on the Bay toe, na 'n volgende wonderlike plek. Hier kon ons behoorlik Carbo Load, met koolhidrate voorsien deur ene Mnr Hansa- dit was baie lekkerder as Powerade, met apologie aan die Coca Cola Bottling Company. Hier kon ons elkeen ons glukogeenvlakke aanvul met 1.5 liter hoë kwaliteit moutekstrak, wat bekend daarvoor is dat dit die innemer daarvan met ongekende krag en moed vul. Ons het sommer dadelik kans gesien om te gaan wegspring, aangesien die Suid-Ooster op daardie stadium afwesig was in die kaap. 

Daar het ook 'n belangrike ooginstellingsoefening plaasgevind. Kyk, dit is al van die vroegste tye af bekend dat visie uiters belangrik is om jou doel te bereik. Die manier waarop jy na 'n probleem kyk, bepaal al klaar in welke mate jy sukses sal behaal, aldan nie. Verstaan?  In elk geval, die newe-effek van moutekstrak is 'n oormatige vog-opbou in die urinêre stelsel. Vir die optimale funksionering van die menslike nier is dit wenslik dat voorvermelde vog gereeld afgeskei sal word. In die vertrek wat in die sportslaboratorium vir hierdie doel opsy gesit is, het ons die volgende gekry om oor na te dink, diep te mediteer en te filosofeer. Ek deel dit graag met u, die enkele leser van my intellektuele blog. Die volgende prent is opbouend, en stimulerend bevind deur die paneel van deskundiges wat daarna gekyk het. Indien die naam van die sportslaboratorium by Eden on the Bay in Bloubergstrand wel sigbaar daarop verskyn, mag sekere geldelike donasies aan Bileam se Donkie se opvoedkundige trust wel in orde gevind word. Oordeel asseblief self na deeglike oorweging van hierdie inspirerende visuele hulpmiddel:


Die enkele gereelde leser van Bileam se Donkieblog sou haarself kon afvra: Hoe het hierdie verhaal van moed en sportmanskap hom verder uitgespeel? Wel, na hierdie sessie van Carboloading was die drie potensiële wenners van die 2011 Argus effens moeg, en het na hulle onderskeie woonplekke vertrek om te gaan uitrus, terwyl hulle diep dankbaar en tevrede was met 'n uiters sinvolle oggend. 

Bileam se Donkie het nog twee troues die middag saam met 'n leraarsvriend meegemaak buite Darling en langs Klub Mykonos in Langebaan. Daarna was daar 'n Rumparty by die pastorie. Die aand se diëet het bestaan uit Heineken se bekende groen bottel Carbo Loading moutsap, en 'n paar stukke mediumsagte kruisskyf (Rumpsteak, idiot!) en skaapkottelette uit die Karoo. Met ander woorde, Bileam se Donkie se Carboloading was presies, lynreguit die teenoorgestelde soos deur Professor Tim Noakes en Bruce Fordyce voorgestel. 

Die volgende oggend teen skemer het Bileam se donkie vertrek op sy 17e Argus. Hoe het dit dan gegaan, mag my enkele leser dalk wonder? Buitengewoon goed, dankie vir die vraag!  Bileam se Donkie het gegewe sy oefeningsgeskiedenis, sy massa tot kragratio, sy uitstekende Carboloading bereken dat hy 6 ure sou neem om hierdie taak te voltooi. Maar dit het geblyk, met die genade van Bo, die wind genadig van agter, ten spyte van die Carbo Loading, dat hierdie tyd met 27 minute oorskat was. 

Bileam se donkie kondig met trots aan dat hy sy 17e Argus agtereenvolgend voltooi het in 'n tyd van 5h33. Spesiale erkenning word gegee aan Chris Britz, wat hierdie metode van Carbo loading so met toewyding oor jare gedemonstreer het, en as 'n goeie mentor gedien het in die toepassing daarvan. 

Baie dankie dat u, my enkele leser, se aandagspan tot hier gestrek het. Nou is ek vaak en moeg. Tot Argus no 18 se inskrywing op 1 September 2011 aanbreek...





Wednesday, March 2, 2011

In biddende afhanklikheid soek ons saam na Superman...

Hiermee stel die weleerwaarde kerkraad van die Nederduitse Gereformeerde of Hervormde Kerk Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein in biddende afhanklikheid van die Here die volgende vakature bekend:

Leraar

Gemeenteprofiel: Ons is 'n klein plattelandse boerderygemeenskap, hoofsaaklik tabak en druiwe word hier by ons verbou. Die gemeente is versprei tussen 110 lidmate bo 64 in Huis Herfsblaar, 120 lidmate is versprei oor ons plaasgebied, waarvan die verste besoekpunt so ongeveer 169 km suid-suid oos van ons kerkgebou is. Daar is 31 kinders onder 18 in die gemeente, maar hulle is nooit tuis nie, want die naaste koshuise is by die naaste skole, daar in Doodgedrinkmetgoedkoopwitblitz, presies 249.5 km van die pastorie af. Daar is ook een baba op pad wat nog nie gedoop is nie, die vaderskap sal nog met DNA toetse bevestig word. Die suksesvolle kandidaad sal verwag word om na al die toepaslike tugprosedures die baba te doop êrens na geboorte.

Leraarsprofiel:
* Ons soek 'n jong, dinamiese manlike dominee, wat bereid is om op die beginskaal van die sinodale salarisskaal te begin dien. (Sien Vergoedingspakket onder...)
* Tien jaar se toepaslike ervaring sal as 'n sterk aanbeveling dien.
* Ons soek 'n gesinsman, want gesinne is vir ons baie belangrik. Die suksesvolle kandidaat se vrou (let wel nie man nie!) moet 'n professionele mens wees, met 'n kwalifikasie soos 'n dokter, apteker of C.A.
* Daar sal van die suksesvolle kandidaat se vrou verwag word om uiters betrokke te wees in die gemeente, en verkieslik nie te werk nie.
* As deel van die gesinsbediening moet die kandidaat oor nie minder nie as drie kinders besit nie. Hulle mag egter nie voor ouderdom 17 op die kerkterrein kom nie, behalwe tydens eredienste en jeugaksies, om enige breekskade te vermy. Hulle sal in elk geval van ouderdom 6-18 in die Koshuis wees.
* Ons wil graag iemand hê wat Skrifgetroue en dinamiese prediking van ons kansel af sal besig. Onderwerpe wat liefs vermy moet word, is sake soos vergifnis, naasteliefde, kerkhereniging, tabak en drankmisbruik. Om oor die onderdanige vrou te preek, mag gereeld gedoen word. Preke oor die kerklike en ouerlike tug is baie gewild in ons gemeenskap.
* Die suksesvolle kandidaat sal 'n baie sterk leier wees, wat dinamies leiding kan neem in die kerkraad, en by die Landboukoöperasie. Dinamiese leierskap sal getoets word in die mate wat die broer kan luister na ouderlinge ouer as 85 op die kerkraad.
* Die kandidaat sal 'n liefde en ywer hê vir sistematiese huisbesoek. Ons verwag dat daar kwartaalliks by elke huis besoek afgelê sal word. Onderwerpe wat gereeld aangeroep moet word, is die betaal van tiendes en die stand van Cheetah rugby. Daar mag onder geen omstandighede op die kerkraad se rekening gepraat word oor Bloubulrugby of veral WP nie.

Vergoedingspakket:

* Ons is bereid om tot die eerste kerf van die Salarisskaal van die Sinode van die Oranje Vrystaat van 1983 te betaal.
* 'n Ruim pastorie op die kerkterrein word beskikbaar gestel, en daar word verwag dat die Dominee tussen sy mense sal bly. Die daklek in die sitkamer is vir die dominee se rekening, ons sal mooi na die studeerkamer en die gastetoilet kyk.
* 'n Voertuigtoelaag is nie deel van die pakket nie, daarvoor sal ons voorsien in 'n doelmatige voertuig- ons beskik oor 'n 1973 Toyota Stout bakkie. Sy bande is in 2001 vervang, en sy battery in 2009. Die bakkie het nie 'n kappie nie, want net Dominee is in ons diens.
* Die Pastorie beskik oor 'n elektriese meterboks, en die eerste R100 per maand sal deur die kerkraad voorsien word. Water is gratis beskikbaar uit ons boorgat, sodra die ontkalking van die pype voltooi is.
* Daar is ongelukkig geen Internet toegang binne 'n 200 km radius nie, en aangesien net Cell C hier een strepie se opvangs het, en hulle so liberaal is, sal geen selfoontoelaag voorsien word nie. Telkom is wel beskikbaar as die lyne nie gesteel is nie. Die kerkraad sal instaan vir die helfte van die landlynkoste tot met 'n maksimum van R49 per maand.

Ons verwag van die hoopvolle kandidaat om op eie rekening, saam met sy eggenote, 'n preekbeurt en onderhoud waar te neem op 'n Sondag in Maart.  Die weleerwaarde kerkraad het ook onderneem om 'n Professionele Persoon in te vlieg van Bloemfontein af, wat Myers-Briggs, PF 16, die DISC profiel en die Neethling Breinfunksioneringsskaal sal afneem van die drie finale kandidate op die kortlys.

Indien u binne 12 maande nog nie van ons gehoor het nie, moet u aanvaar dat u aansoek onsuksesvol was. U moet dan aanbeweeg met u lewe, en biddend volhard, want ons plaas jaarliks hierdie advertensie in Die Kerkbode. Daar is iets fout met die dominees van vandag- hulle hou net nege maande hier by ons.
Die kerkraad behou die reg voor om geen aanstelling te maak nie, aangesien Ouderling Koekemoer se kleinseun gister gelegitimeer is.


Eendag, lank lank gelede was daar nog nie 'n Nederduitse Gereformeerde Kerk nie, en nie leraarsposte nie, en nie ouderlinge en diakens nie, en nie sistematiese huisbesoek nie.
Die Seun van God het na hierdie wêreld toe gekom, en verby al die weleerwaarde here, en hulle vergaderings, en hulle posisies gestap. Hy het gaan stilstaan by die Vissermanne, wat nie eens kon lees nie. En vir vier van hulle gesê: "Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak!"  En by die verdomde tollenaar, en nog 'n paar ander sondaars en straatvroue gaan staan, en met hulle sy Koninkryk begin. Hy het vir die eenvoudigstes, en die armes gaan sê: Julle sal my getuies wees wanneer die Gees van God oor julle kom, en julle sal gaan na Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld, met die eenvoudige boodskap dat Ek die Here is. Geleerdheid is nie 'n voorvereiste nie, liefde vir my, en die krag van die Gees sal die wêreld verander.


En twaalf mense het uitgegaan, en die wêreld binne drie eeue verander. Sonder Myers Briggs en meestersgrade en titels.
Ek het 'n Meestersgraad. Ek het 'n titel. Ek ken my Myers Briggs telling, my DISC profiel, my Neethling breinfunksietelling. En my gemeente is nog net so groot soos tien jaar gelede. En ons is nog steeds besig met presies dieselfde dinge- Basaar en Kerssangdiens is koning, die res van die jaar se datums verskil net van verlede jaar s'n. Ek wil so graag aansoek doen vir 'n ander beroep. Maar ek pas nêrens in die advertensies in nie. Almal soek Superman, niemand wil 'n eenvoudige profeet hê wat net graag vir Jesus en mense wil lief wees en glad nie 'n sterk leier is nie.


Ek kyk na die Kerkbode se vakature advertensies. Ek kyk na Jesus se woorde in die Bybel. En ek wil soos Tweety die geel kanarie in die grys kat se hande dit uitskree: "What went wong????"

Tuesday, March 1, 2011

Fix You van Coldplay se woorde

Fix You- Coldplay

When you try your best but you don’t succeed,
When you get what you want but not what you need,
When you feel so tired but you can’t sleep...
Stuck in reverse...

And the tears come streaming down your face,
When you loose something that you can’t replace,
When you love someone but it goes to waste,
Could it be worse?

Lights will guide you home,
And ignite your bones,
And I will try to fix you.

And high up above or down below,
When you’re too in love to let it go,
But if you never try you will never know,
Just what you’re worth...

Lights will guide you home,
And ignite your bones,
And I will try to fix you...

Tears stream down your face,
I promise you I will learn from my mistakes,
Tears stream down your face...
And I...

Lights will guide you home,
And ignite your bones,
And I will try to fix you...

Thursday, February 24, 2011

Donderdag oggend by die Pepper Tree


Daar sit ek toe Donderdag oggend by die Pepper Tree Art Stable en Coffee Shop in Philadelphia. Dit is 'n pragtige oggend in die Kaap. Die strand was nou net spierwit. Die water is mooi asuurblou. Dit is nie te warm nie, en nie te koud nie, net reg, soos Bababeer dit graag wou hê. Die Kaap is een van my heel gunsteling plekke in die ganse wêreld, en ek is baie lief vir Philadelphia.

Ek het so pas met 'n BMW 320 D gery, 'n fantastiese motor. En by die Koffieshop drink ek 'n heerlike koppie koffie, en eet 'n Appeltert met roomys. Dit klink soos 'n absoluut ideale dag in my lewe, en enige ander tyd sou dit wees.  Maar ek sit in trane, met 'n helse klont seer in my hart.

Jy sien, die BMW is een van my heel beste vriendinne se motor. En ek was so pas by Doves in Kaapstad om saam met my vriend vir die laaste keer vir haar tot siens gesê. Sy is Saterdag in 'n motorongeluk oorlede. Sy was een van die mooiste mense wat ek ooit geken het. Baie mooi van buite, nog baie mooier van binne. Sy het soveel liefde uitgestraal vir almal rondom haar. En vir die meer as twee dekades wat ons vriende was, het sy my altyd aanvaar net soos ek is, en altyd so welkom laat voel in haar huis.

Ek kon nie vanoggend my vriend alleen los in oomblikke soos hierdie nie. EK kon nie dat hy dit alleen moes regkry om die kis vir die laaste keer toe te maak, en alleen daar weg te stap nie. Maar bliksem, dit maak seer om iemand vir wie 'n mens so lief is, so in 'n kis te sien lê. En dit maak seer om 'n vriend se seer te sien, wat met sy hele wese vir sy vrou lief was, en vir die laaste keer op aarde in haar gesig vas te kyk.  Sy was nog steeds mooi, ten spyte van die seer wat die teerpad op haar gelos het.

Om vir my vriendin tot siens te sê vanoggend, was een van die heel seerste ervarings in my lewe. Om my vriend so te sien, is wragtag nie lekker nie. Die koffie het maar geswem in die trane heen. Die appeltert steek vas in my keel. Kom nie verby die knop nie. Daardie aaklige gevoel gaan nie weg nie.

Ons glo. Maar ons verstaan nie. Ons sien 'n dowwe spieëlbeeld, maar eintlik sien ons F****ol.  Ons het hoop. Maar vandag stink. Woorde is weg, emosie  kan 'n mens so hard bliksem. Dis al...

Tuesday, December 7, 2010

Poison Rally 2010- telling- Wille bikers 1- Christene 0

Tequila Sheila van Klerksdorp... en haar man. Eerlike mense!
In elke sirkusleeu se oë is daar soms nog 'n dowwe lig wat flikker. Net so nou en dan is daar die onthou, van 'n ander lewe... Vryheid?

Ja, die dominee het incognito na die Poison Rally toe gegaan. Die motorfiets se naam "Huisbesoek" is met swart insulation tape toegeplak, sodat niemand sou vermoed nie. Ek het so diep begeerte gehad om vir 'n slag weer tussen mense sonder maskers te wees. Nie net Dominee, en Broer en Suster te wees nie. Sommer net: "Hey jou bliksem op die swart bike... "

Ons dominees is so gewoond aan soet mense. Mense wat saggies poep, en altyd glimlag as die dominee naby is. En so het ek die heimlike begeerte gehad om weer te sien hoe mense werklik is, daar waar die toga en die titel onbekend is, waar ek net weer vir 'n slag ek kan wees.

Die eerste probleem het gekom toe ek op die kampterrein gearriveer het. Al die staanplekke is klaar opgeëis deur die klubs. 'n Mens slaan nie sommer jou tent enige plek op nie, dit is dalk net Vuilis van Germiston se Growlers se plek, waar hy altyd sy nes skrop. 'n Anonieme dominee op die verkeerde plek kan dalk net gedonner word- en wat sal die Son daarvan sê, om van Tant Koekie se bid en skinnerklub nie te praat nie!

So in die rondry, sonder my helmet, kyk 'n man van Krugersdorp so aandagtig na my. Hy en sy baie mooi vrou lê langs 'n Honda Transalp, en rook aandagtig hulle Hubbly. Omdat ek vir hom rustig lyk (kan die masker nie meer af nie??) nooi hy my om saam met hulle te kom kampeer. Sy kinders kom later met hulle tente. Maar ek is baie welkom, wie ek ook al mag wees, ek wat ook motorfietse like en daar is.  (Ek het verby ten minste twee Christelike klubs se koffietente gery, en verby gery. Ek was sonder heenkome, en julle het nie...

Ek het in twee dae optrede gesien, en woorde gehoor, wat dominees nie elke dag hoor en sien nie. En weet jy wat? Dit was lekker. Dit was eerlik. Dit was opreg.



Die hartseer is dat ons Sondagaand met die prysuitdeling verneem het dat daar deur die dag enkele sterfgevalle was. Die rumours was van vroegoggend af van iemand wat aan 'n hartaanval in sy tent dood is deur die nag. Verdere ouens het afgekom- en sommiges het dit nie oorleef nie.
René Changuion van die Bikers Church- CMA se nasionale president, het 'n baie aangrypende oomblik van stilte gelei. Hy het daarna uit die hart uit vertel van die Here se liefde vir Bikers, en is toegejuig deur 'n groot deel van die skare. Hy het Biker bybels uitgedeel onder die boom, en die res wat wou hê, genooi om na die CMA se koffietent toe te gaan.

Ek het ook na die koffietent toe gegaan. Daar was seker maklik 20 ouens in CMA colours. Onthou- CMA ouens mag glad nie drink nie, en is beskikbaar om ander bikers te help- dis waarvoor hulle staan. Ek het by die koffietent opgedaag, vir myself koffie gemaak, twee liedjies van Hillsong geluister, gevra waar om my polistyreen koppie weg te gooi, en toe maar weer gery. In hierdie tyd was ek die enigste nie-CMA lid in die tent. EN niemand het my gegroet en verwelkom nie!

Kort hierna het ek maar 'n brandewyntjie geneem, en toe per ongeluk neergebliksem. Dit was my eie fout. Maar as ek ongered was, en harder geval het, en niemand het met my gepraat nie?
Dit was die eerste keer in 24 jaar dat ek met 'n motorfiets geval het- ek het gedog ek het dit al ontgroei, en is beskerm deur Psalm 91?  En die bikers met die biere in die hande was die eerste ouens wat gehardloop het, nie om vir my onnoselgeit te lag nie, maar om werklik besorgd te vra of ek OK is. 

Ek het die rally baie geniet. Ek het dit geniet om te sien hoe baie mense kan suip en vloek, sonder om enige "sorry, dominee's" te sê. Ek het Little Annie se komiese stripshow baie geniet. Ek het die botteltjie KWV 5 jaar oud baie geniet. Ek het die ander bikers se passie vir hulle motorfietse baie geniet. Ek het die omgee vir mekaar onder bikers baie geniet. EK het die hulp waardeer van bikers toe ek hulp nodig gehad het. Maar ek het eensaam gevoel tussen die Christene...