Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Saturday, May 7, 2011

Ouers langs die plattelandse rugbyveld- nie vir sensitiewe kykers nie!


Moet hierdie een maar op die anonieme blog sit, anders gaan ek geblissem word in onse dorpie...

Het jy al ooit gesien hoe emosionele saak is skolerugby? Dit begin daar voorskools met die bulletjierugby, waar daar spesiale dae is waar die jong mannetjies rugby kan pleeg. Een rugbyveld word in vier opgedeel- die kantlyn word wenstrepe, en die kwartlyne en middellyn word nuwe kantlyne. Dan draf daar  'n klomp seuntjies met dieselfde trui op van die een kant, en 'n  klomp seuntjies met ander truie van die anderkant. Die fluitjie blaas, en skielik sit jy met 'n groot losskrum in die middel van die veld. Dit gryp en los, skop en slaan, huil en spoeg. Sulke woorde het jy nooit daar verwag nie! En dis net die mammies langs die veld. Op die veld gaan dit amper net so erg.

En so vorder Boetie in sy rugbyloopbaan, daar vanaf sy roemryke begin in die bulletjiefase (noem hulle dit in die Kaap windjie- fase en in Natal die guppy-fase? Is dit die katjies in die Vrystaat- ek was so lanklaas hier weg ek weet nie, kan iemand help?)  Ek onthou toe my oudste nog in daardie fase  was, het een van die ouens in die  huidige o-19 Bloubulle as standerd 5 seun die skoolhoof gehelp om af te rig. Hy het die seuntjies voor 'n wedstryd herinner om te "fokus" en "die oog op die bal te hou." My laaitie het nie geweet wat "fokus" beteken nie. Dit het vir hom soos verskriklike vloek geklink.  Maar toe hy drie was, het ek ook eendag vir hom gesê hy moet sy oog op die bal hou. En dadelik het hy die tennisbal in sy hand teen sy oog geplaas- gehoorsame seun! Ek wens die Bloubulle wil daardie lessie leer!

Deur die Laerskool heen is die mammies die hele tyd langs die veld. En daar tree hulle heeltemal anders op as in die kerk. 'n Mens gaan hulle nie more herken as dieselfde dames as vandag nie. Nie waar hulle bloedjies bloei nie!

Vandag was Hoërskoolrugby in ons ou dorpie. Die aartsvyande het kom kuier. En hulle is vanjaar weer baie sterker as ons op die rugbyveld. Behalwe nou die onder 16 span, waar ons skool gewen het toe die wedstryd weens geweldadige spel gestop is. Ek vermoed dit was 'n tegniese uitklophou. Dit gebeur mos maar in 'n seun se lewe. Op 16 bruis die testosteroon deur 'n man se are, en dit wat jy nie kan vry nie, wil jy slaan. Laat nou dertig van hulle op dieselfde stukkie aarde los op mekaar, en gooi 'n ovaalvormige stuk leer tussen hulle in. En plaas so paar honderd baie aantreklike jong dames met sulke kort netbalrompies daar langs die veld. Hoe verwag hulle dat daar nie moeilikheid gaan wees nie?

Maar goed- terug by die ouers. Met hierdie groot industriële dorp se ouers soek ons nie skoor nie. Doodgewoon omdat daar BAIE meer van hulle is as ons. Iemand by ons gaan dalk net seerkry. Gewoonlik sit die verskillende skole se ouers weerskante van die veld, so 'n mens hoor nie so mooi as iemand anders iets skree van ruk af jou kind se kop, en moenie dat hy ly nie.

Met een van ons ander buurdorpe, baie naby, en net so groot soos ons (dorp en skool) is dit 'n ander storie, veral by hulle. Daar het verskeie ouers al in die koerante beland. Selfs 'n gesiende dokter van daardie dorp is al uitgewys vir vuilspel langs die veld. Dominees en dokters slaan nie aan ander ouers nie. Maar soms vergeet ons- seker ook maar mens, né Dok...
Die opmerkings langs die veld bly egter altyd baie interessant. Van Melkbosstrand tot by Messina skree ouers seker maar dieselfde dinge vir hulle toekomstige Springbokke op die veld:
"Die bal- die bal"- ja, ons almal vermoed daar was een, voor daai dik stut van die buurdorp hom ingesluk het...
"Clean, clean"- dit gebeur in 'n losskrum wanneer jou neus per ongeluk teen die opposisie se slot se foefenjols vasgedruk word, en jy vermoed dat hy dalk 'n ander onderbroek nodig het.
"Pass die bal!"- dit kom gewoonlik Noord van die Jukskeirivier voor, van ouers wat gereeld op Loftus kom, en Mnr Bostick Olivier in aksie sien. Hy, en talle ander, moet gewoonlik deur 'n pappie herinner word dat die bal nie nou al saam met hom huis toe kan gaan nie. Erens in die verte is 'n langverlore ou met 'n nommer 14, en dié se mammie, wat dit so pas geskree het, wil darem een keer ook haar kind in aksie sien voor die Grim Reaper opdaag om haar te kom vat.
"Knock! Knock"  Hierdie is gewoonlik om vir die ref 'n grappie te vertel, gewoonlik omdat hy so ernstig lyk as hy daar met sy dun wit beentjies op die veld ronddraf, so ver weg van sy geliefde Engelse letterkunde klas af.
"Ref"- dis gewoonlik die onnoselste ou in die gemeenskap, wat nog nooit 'n rugby reëlboek in sy lewe gesien het nie. Hy is gewoonlik erg bysiende, en baie  bevooroordeeld teen die span wat die meeste ouers op die pawiljoen het. Hy is of 'n jong onderwysertjie wat nog nat agter die ore is, of iemand anders wat niks beter met sy Saterdagoggende kan doen nie .  Hy is gewoonlik skaars fiks genoeg om sewentig minute rond te hardloop, en vang ook ander onnoselhede aan op die veld.
"Maak oop jou oë, ref!" 'n hele paar van hierdie manne is berugte slaapwandelaars. Dit is soms nodig om hulle te help ontwaak, sodat hulle nie dalk seerkry as hulle skielik in die middel van 'n rugbyveld wakker skrik nie. Dit is gewoonlik 'n baie bedagsame ding om te sê langs onse rugbyveld.
"Tackle"- dit kan verskeie dinge beteken. Die eerste en sterkste moontlikheid is dat die skreeuer na sy visvangtoerusting verwys. In ons provinsie het al die toeskouers gewoonlik 'n Hiluxbakkie met blou knaters aan, en visvanggoeters op die dak. Visvang is dalk so bietjie gewilder nog as rugby, want daar is meer tyd vir drink, en gewoonlik gebeur daar minder dinge rondom jou om die drank te laat mors. Jou "Fishing Tackle" is gewoonlik 'n redelike fris persentasie van jou maandelikse inkomste, en daarom baie belangrik om langs die rugbyveld te noem, net om seker te maak die ander ouens weet jy het ook.
"Tackle" kan ook in dieselfde sin gebruik word as "Block & ..." en is daardie apparaat waarmee die ou Ford se enjin uitgehys word, om daai drieliterenjin weer reg te maak.  As jy hulp nodig het met die uithys van 'n enjin, en jy het nie die regte gereedskap nie, dan is dit wat jy skree. Gewoonlik is die kans goed met al die manne daar by die rugby dat iemand se kans sien om jou te help na die game. Dit gaan gewoonlik 'n sixpack kos.
"Los my kind!" In ons gemeenskap kan dit nogal gereeld gehoor word, en dit is baie belangrik om dit te sê. Die meeste is neefs, maak nie saak van watter dorp af hulle kom nie. Daar is selfs heelwat wat halfbroers kan wees. En daarom, voordat dit te liefdevol op die veld begin lyk, is dit goeie raad om mekaar eerder uit te los.  Dit word soms ook gehoor as een van die slotte met sy toks se skerp studs besig is om trampolien te spring op jou kind se kop. Die rede waarom die staking van aktiwiteite aangevra word, is al is dit waar dat "chicks digs scars"  is die dokter op die dorp se naweektariewe redelik hoog om oop wonde toe te werk. Daardie geld kon eerder 'n hele paar bottels Klippies gekoop het, wat baie meer sinvolle aanwending van jou staatstoelae behels.
"Vlagman jou dief!" Die vlagman is amper soos die ref, hy hol net  langs die veld en nie op die veld nie. Sy misdaadgeskiedenis is gewoonlik erg onder verdenking, maar dit kan ook verwys na 'n episode toe hy ses jaar oud was in 'n winkel soos Jan Twak s'n. Op die platteland het die mense lang geheues. Dit word nog steeds teen een familie in ons dorp gehou dat hulle mense "Joiners" in die Boere-oorlog was- al is dit al vyf geslagte terug.
"Jou ma...!" gewoonlik maak dit die mense in ons gemeenskap baie kwaad. Die rede daarvoor is omdat die moeder onder bespreking  'n baie gerespekteerde stut in die dorpspan is, en niemand mors met ons rugbyhelde nie!

Julle kan gerus maar help om te sê wat die ouers daar in julle omgewing  langs die veld aanvang. Ek kan nie op die oomblik  nog onthou nie, want gewoonlik as ek so vir die mammas begin giggel, dan dink die manne ek lê by hulle vrouens aan. Dan moet ek gewoonlik eers rou steak op my oë gaan sit om wel my gemeente die volgende oggend te kan raaksien as ek oor die sonde van die mensdom vir hulle moet preek.

Thursday, May 5, 2011

Die ou oom op die BMW sonder sy sidecar

In my studiejare het die groot verliefdheid oorgekook in 'n huwelik. Nee, ons moes nie, ons wou! In my vyfde jaar is ons getroud. Maar ek het hierdie ding sien kom. En so moes ek 'n manier vind om my bruid te huisves, en nog steeds my ses jaar studies te hanteer.  Om te trou en te studeer het 'n man geld nodig. Meer as wat Gapsa se voorganger, Volkskas, bereid was om te leen in daardie dae met die 25% rentekoerse. Die een oplossing in ons klas was dat baie van ons munisipale busse in spitstyd vir die Munisipaliteit van Bloemfontein gaan bestuur het. Ek sal daardie storie op 'n ander dag vertel.  Ek wou net hierdie enetjie vinnig met julle deel.

Ek bestuur een middag laat die laaste bus van Hoffmannplein af- ek kan nie eers meer onthou roete hoeveel nie. Maar daar in die middestad kom so 'n ou omie, met 'n baie ou swart BMW motorfiets aangery. (Min of meer soos op die foto hieronder). En hy kom stop reg langs my. Ek kyk vir die omie, want ek is van die kraamsaal af al 'n groot motorfiets fanatikus, en hierdie was regtig 'n mooi opgepaste ou masjien, wat nog so mooi purr soos daardie ou Boxerenjins mos maar doen.

Maar terwyl ek vir die oom kyk, gebeur 'n vreemde ding. Die oubaas sit glad nie sy voet neer by die rooi robot nie. Stadig begin hy omkantel, tot hy ordentlik (ekskuus, goeie kerkmense, daar is nie 'n gepaste ander woord nie!) neerbliksem hier reg langs my bus se voorwiel. Ek sit dadelik die bus se handrem op, en spring uit om hom te help. Hy het nog so 'n eerste wêreldoorlog leer vlieëniershelmet opgehad, met daardie groot stofbrille wat daarby pas. En agter die bril staan sy oë wyd orent. Wit geskrik nes ek. Ek help hom om die aansienlike gewig weer regop te tel, en dié keer die staander behoorlik uit te stoot dat die waardige ou BMW regop kan bly staan.

Ek vra die oom wat het nou so pas hier voor my jong, onskuldige oë afgespeel, want ek voel regtig getraumatiseerd (pas die vorige jaar Sielkunde 3 gepass, sien!)
Nee, sê die oom- eintlik het sy BMW 'n "sidecar", wat hy daardie oggend afgehaal het om mooi te laat restoureer. En by die robot het hy eintlik net vergeet die sidecar is afgehaal...




Foto gesteel op http://motorcycles-2009.blogspot.com/p/bmw-motorcycles-2001-bmw-motorcycles.html

Tuesday, May 3, 2011

Lekkerkry blog

Wynvlieg sê ek praat te lank, en my vrou sê ek praat gevaarlike goed. Maar die vorige een vanoggend was darem my mees gelese blog so ver.  Paar mense het gevra: hoekom het ek gekies om 'n dominee te word. Party dink ek is mal, ander weet dit...

Maar daar is 'n paar redes hoekom ek deur ses jaar se aanvanklike studie bly volhard het. Weet julle hoe lank is ses jaar op universiteit! Dit raak lewenslank. En later nog twee vir 'n meestersgraad net om bietjie meer te probeer verstaan. Graad met lof. Mission Failed. Ek verstaan nog minder.

Maar daar is 'n paar vreugdes wat ek ook uit die pastorie uit met julle kan deel.

1. Dis vir my baie lekker om baie tyd te spandeer aan lees!  Dit kos my baie geld in 'n maand om boeke te koop, maar dit bly baie lekker dat dit deel van my werk kan wees. Dit is vir my so lekker om mense ook te kan leer, om hulle toe te rus om hulle lewensreis beter te verstaan, om met meer hoop en minder skuldgevoelens te kan leef. Ek help mense om vrede met God, mekaar en hulleself te vind. Ek is nie een van daardie vuur en swael predikers nie, niemand is nog ooit in die hemel in geoordeel nie. Die liefde kan soveel meer brue bou, en verhoudings herstel. Ja, ek het ook Dawkins en Hitchens gelees- het jy al Lee Strobel se Case for the real Jesus gelees? Ja, ek lees ook wetenskaplikes, en sommiges is ook gelowiges soos Francis Collins se uitstekende boek: The Language of God. Hy is die "vader van die menslike genoom." die bekroonde wetenskaplike wat die menslike DNA ontrafel het dat dit verstaan kan word, en 'n gelowige wat God se vingerafdrukke in die DNA van 'n mens raaksien.  Ek wil nie op hierdie blog in lang debatte oor wetenskap versus godsdiens betrokke raak nie. Ek vertel my stories hier vir die mense wat dit graag wil lees, en sê net hier ek hou van lees.

2. Ek beleef wonderlike oomblikke saam met mense op hulle lewensreis. Ek geniet dit baie om met verloofde paartjies 'n pad te stap, en hulle dan te trou- dis vir my baie spesiaal. Dit is vir my 'n wonderlike ervaring om babas te doop (Sorry Charismatiese vriende- dis rerig lekker!) Dit is lekker om saam met mense vreugdes in die lewe te deel- saam te bid vir deurbrake in hulle beroepe of persoonlike reis, en dit gebeur.

3. Ek is daar vir mense in hulle seer.  Ek beleef baie hartseer saam met mense. Ek was vanmiddag, op die vakansiedag.  by 'n jong man waar sy twee oujongnooi- tannies in 'n motorongeluk was, een is dood, een is baie kritiek in die hospitaal. Hierdie mense het vir hom persoonlik al so baie beteken, dis 'n swaar slag dat hulle op so manier aan die einde van 'n lewensreis saam gekom het.
Ek is daar wanneer iemand sterwend is, om saam met hom of haar die laaste paar treë van die lewenspad te gee. Ek is die een wat hulle bel as iemand ernstig siek is, nadat die mediese mense met hom klaar is. Ek is die een wat vir mense 'n laaste diens gee, om hulle te help onthou, na hulle dood.  Ek beleef soveel hartseer saam met mense elke dag, en dit maak my soms baie depressief. Maar daar is ook 'n geweldige groot vreugde in om mense so te kan dien, om so vertrou te word met mense se intieme oomblikke en ervarings langs die lewenspad. Ek is die een wat soms net vir 'n uur of twee langs jou sal sit, en jou hartseer saam met jou beleef, sonder om 'n woord te sê.

4. Ek geniet tog die verhouding met mense baie!  Al kan ek nie in so 'n groot gemeente elke jaar by elkeen uitkom nie, is daar tog iets wonderliks om by mense te gaan kuier, en hulle eie unieke stukkie menswees te beleef. Dit is so lekker om na mense se stories te luister- waar hulle vandaan kom, waar hulle vandag op hulle reis is, waarna hulle uitsien, en waarmee hulle worstel. Moet net nie vir my sê ek moet twintig huise 'n week besoek om 'n regmerkie langs elkeen se naam te sit nie. Ek stel nie in huise belang nie, ek loop 'n pad met mense. En daar is sulke uiteenlopende mense, wat die lewe net soveel interessanter maak. Daarom kan ek dit nie hanteer as vooroordele of oordele mense in 'n boksie druk, en hulle afskryf omdat hulle nie in die vormpie pas wat ons dink reg is nie.

5. Ek werk flexityd, en kan my eie dag redelik beplan.  Al word daar baie vrae gevra deur sekere kerkraadslede, kan ek my week redelik inkleur soos ek hom graag wil hê. Ja, my dae is soms lank, soos 'n Dinsdag wat 08h00 begin met die finale voorbereiding vir 9- 10h00 se bybelstudie. Daarna siekebesoeke tot twaalf, 'n pastorale opvolg tot een, van twee tot vier admin, pastorale gevalle, dalk 'n vinnige koffie met 'n leier, en dan die riller- 16h00 tot 21h00 huisbesoek!  Dae kan baie lank raak, so baie mense het aandag nodig, en wat my doodmaak is alles en almal wat ek nie by uitkom nie. So baie mense wat gereeld sê: "Dominee, jy het my vergeet." Maar ja, ek kan my week redelik self beplan, en so nou en dan afsprake skuif om my kinders se sport te gaan kyk, of mammie vir 'n vinnige koffie êrens te vat. Die een ding wat ek geniet, is dat ek nie sommer voor 09h00 iemand hoef te gaan sien nie. Daarom, in die tye wat ek nie verwoed oefen vir die Argus nie (dis net JAnuarie en Februarie, na die Argus gaan die fiets in sy winterslapie tot Desember) , kan ek soms met net effense skuldgevoelens eers 08h00 opstaan. Dit maak op vir die kere wat ek 03h00 op 'n wintersoggend ouetehuis toe ontbied word vir iemand wat dink hulle gaan dood, maar dalk net te veel koffie gedrink het die vorige aand en nou hartkloppings kry.

6. Soms gebeur daar iets wonderliks op vergaderings! Maar net soms- die meeste is sieldodend. Die uitsondering is wanneer daar skielik nuwe idees, nuwe kreatiwiteit, nuwe hoop kom. As iemand skielik visie begin kry, en verstaan waarheen ek graag op pad wil wees, is dit baie lekker!

7. Sommige mense se lojaliteit maak al die verskil.  Daar is baie mense wat ons beroep deesdae spot. Daar is ouens wat nie my blog sal lees nie, omdat hulle niks van enige dominee hou nie. Ek verstaan dit, ek het ook 'n paar dominees in my lewe al ontmoet, party is regte poepolle! In sekere mense se oë is ek seker ook een.  Maar daar is ook die dierbare mense wat my aanvaar soos wat ek is. Mense wat regtig vir my en my gesin lief is en omgee. Mense wat soms sien as ek moeg is, mense wat soms net baie mooi dankie sê vir iets wat ek vir hulle beteken het. Een opregte dankie wis baie ongevraagde aanvalle uit!

8. Ek bly in 'n reuse groot huis, wat ek nooit self in my beroep sou kon bekostig nie. Ek is baie dankbaar vir die pastorie, al het dit sekere nadele soos ouderlinge wat soms aanmerkings maak oor hoe die tuin in stand gehou word. Die huis is 'n bate van die gemeente, en hulle probeer deesdae die huis in 'n redelike toestand hou.

Ek het aanvanklik gedink ek gaan niks te sê hê nie. Hier is tog agt redes wat my nog laat aanhou.

Ten slotte- mense, dominees is soos ander mense, al besef die meeste dit dalk nie self nie. Ons het ook unieke persoonlikhede. Nie almal van ons wil altyd vuur en swael spoeg, en mense veroordeel nie. Nie almal van ons lol met klein seuntjies nie. Ons word baie gestereotipeer in die flieke en in die opinies van mense op blogs.
Ek hou ook van fliek, van braaivleis saam met vriende, ek neem ook soms 'n dop (KWV 5 jaar oud op die ys, of Windhoek Draught, dankie!) Ek is mal oor my motorfiets, en oor rallies wat ek anoniem bywoon. Ek ry graag fiets, al is ek die stadigste ryer in die dorp. Ek neem graag fotos. En ek lees graag jou blog. Al kan jy soms so totaal anders as ek dink oor iets, is dit vir my baie interessant.  Ek het baie vyande, maar ek het baie meer vriende. Mense maak my lewe hel. Maar mense gee my ook hemelse ervarings. Dankie dat jy geluister het vandag.

Monday, May 2, 2011

Gatvol blog


'n Hele paar van my blog vriende het speelgoed uit die kot uitgegooi oor die naweek. Ek wil ook maar- dan voel ek dalk ook beter, en later kan ek hierdie blog dalk weer uitvee.  Soos ek hier sit, is ek baie, baie gatvol. Net 'n paar redes:

  1. Geen privaatheid in my lewe nie- Ek het net-nou 12 km gaan stap ter voorbereiding vir die Camino. Na 10km is ek gewoonlik warm, en begin stywerig voel. 'n Mens is dan in 'n lekker ritme, wat 'n mens dan moet hou tot by die huis. So 2 km van die huis af, buite die dorp, jaag een van die gemeente se "dames" skielik met haar Shitty Golf tot langs my, en trek die handbriek op dat daar net stofwolke spat. Vir die volgende 45 minute KKNK sy oor haar ma haar uit die huis wil uitsit, en haar seun haar 'n hoer noem. En ek staan in die son, en knik instemmend, en wens ek kan net loop om tuis te kom.  Dieselfde ding het al baie gebeur as ek met die fiets oefen vir die Argus- die boere-omies sien my 25 km uit die dorp uit, en raak lus om met hulle dominee te gesels. Hulle kom nie tot die punt nie, en as hulle weer lekker verder ry, het my spiere styf geword van die ontydige lang staan.  Maar die beste was toe ek nog 'n jong dominee was. In ons dorpie is die huise se deure nog nie altyd gesluit nie.  Ek het die vorige nag baie lank langs 'n sterfbed gesit, tot die persoon se laaste vlug vertrek het hemel toe. Ek het baie vroeg die oggend vir die eerste keer in die bed geklim. En toe ek so net na sewe my oë oopmaak, staan 'n gemeentetannie in die slaapkamer se deur, sy wou net graag vir dominee iets kom vra.
  2. Alewige opmerkings oor ek so duur kos.  'n Dominee se pos is 'n duur ding om te onderhou. Dit lyk skrikwekkend dat twee dominees in 'n gemeente die helfte van die begroting kos. Die bedrae wat ons Cost to Company beloop, lyk na 'n baie, baie goeie salaris. Vir dié wat nog steeds wil kla- ek het agt jaar universiteitsopleiding, wat baie honderde duisende rande gekos het. Ek kry nie 'n sent ekstra vir my meestersgraad nie. Ek is omtrent op dieselfde salarisskaal as 'n kaptein in die polisie. Van my vriende wat na skool polisie toe is, trek al by die kolonelrang verby. As dit jou beter laat voel, na my vervoertoelaag afgetrek is vir die voertuigpaaiement, my brandstof en versekering, vat ek so R8 000 per maand huis toe. Waarvan die skool dadelik R800 per kind wil hê, per maand. Ek kla nie oor my salaris en pakket nie, ek is net so moeg vir die alewige stories oor dit. Ek werk baie dae, soos elke liewe Dinsdag, 14 ure. Op vakansiedae het ek nog steeds siekebesoeke en krisisse. Ek spring elke keer hemelhoog as my foon lui, omdat 'n mens nooit weet watter trauma of ramp aan die ander kant van die lyn wag om hanteer te word nie.
  3.  Die verwagtinge van mense-  Ons gemeente is op pad na 1700 mense toe, met twee leraars. Elkeen van die 1700 verwag dat ek onmiddelik op hulle naam hulle sal kan groet as ek hulle skielik in die Pick 'n Pay raakloop. Die buurgemeente se 1800 mense verwag dit ook in ons dorp- dat ek hulle ook moet ken! En al die ouers by die twee laerskole, en al die ouers in die Hoërskool. Sorry- ek is nie in staat om al 10 000 blankes van ons dorp onmiddelik op die naam te ken nie! Dan verwag die 800+ mense in my gedeelte van die gemeente dat ek ook onmiddelik alles van hulle persoonlike omstandighede af moet weet. Ek moet dadelik weet as hulle siek is. Ek moet rampe in die hele uitgebreide familie ken, en help hanteer- dominee weet mos nou van my vrou se neef op Koekenaap wat so moeilikheid het met die burgemeester se sekretaresse se skoonseun... Ai, hoe kon dominee vergeet het!
  4. Al die bosprofete wat beter as ek weet.   Ek het weer in hierdie week so geval gehad. Erens is altyd een of ander ou wat skielik 'n wonderlike openbaring ontvang dat die hele kerk van die eerste Pinksterdagpreek af, deur al die denominasies heen tot vandag toe almal heeltemal verkeerd was en op pad hel toe is. Die polisiesersantjie het onder die boom gesit, en skielik hierdie groot visioen gesien van hoe die kerk eintlik veronderstel was om te lyk- aan die hand van een teksversie in Levitikus. Of die oud Koevoetlid wat skielik wil kom vertel dat almal wat nie groot gedoop is nie, nie aan die Here behoort nie. Of die rondreisende ou met sy karavaan wat almal wil wys hoe die einde van die tyd nou eintlik lyk met sy Powerpoint show oor sy verstaan van Openbaring. (Die einde het intussen klaar aangebreek, en hier is ek nog steeds, glad nie weggeraap nie!) Of verlede week se profeet, wat by 'n pasgetroude egpaartjie gewoon het vir sy besoek in ons dorp. En vir die vroutjie vertel hoe hy ook so graag 'n vrou net soos sy wil hê. En toe trek sy sak en pak saam met hom, want die Here het mos so gesê!  Ons stap jare met mense 'n pad, 'n pad van versorging en omgee, en dan hardloop hulle saam met die eerste bosprofeet in 'n rigting. En dit het hoeveel keer in ons dorpie gebeur- eers daag daar 'n profeet met 'n nuwe leer op, en dan is die kerk nie meer reg nie, en dan begin getroue mense wegbly, en skielik is daar 'n boskerk, en as die oorspronklike profeet aanbeweeg, dan val die boskerk in duie, want dit was op die mens gebou.
  5. Die mense wat die kerk se finansies bestuur, bestuur die kerk.  Geheimpie- dis nie die dominee wat die tjeks teken, of die beleid bepaal in die meeste gemeentes nie. Hier by ons is daar weer 'n groot botsing aan die uitbroei. Vir jare lank probeer ek mense wegkry van die herder- kudde model. Jy weet, daardie een wat die dominee die Groot Induna in die kerk is, daar op sy heilige troontjie. Dominee se woord is wet, dominee alleen weet alles, dominee alleen kan alles doen, en die res van ons betaal hom om dit te doen, en klap hande as hy dit goed doen, of gooi klip as hy *** aanjaag!  Vir jare al lees ek in die Nuwe Testament dat die kerk 'n liggaam is, waar elke gelowige 'n unieke plekkie het, om hulleself uit te leef. Ek lees dat my werk is om gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk.  Na al die jare in die platteland is daar nog steeds net 28% van die mense wie se name op die kerk se boeke is, wat enigsens iets bydra of iets probeer doen om kerk te wees. Die wêreld se ekonomiese insinking tref nou die kerk. Raai wat is die heilige finansiesbroers se antwoord? Dominee moet meer huisbesoek doen! Ons soek 'n lys van al die mense wat dominee hierdie week gesien het. As die herder werk, sal die geld reg wees!  Hoe gaan ek ooit weer vrymoedig met mej Y gesels oor haar seer van molestering, as sy weet ek moet dit aan die kerkraad rapporteer???!!! Ek kan nie. Ek is teen 180 km per uur op pad na 'n doodloopstraat, en ek sien geen ander uitdraaipad nie. 
  6. Ek is gatvol oor my eie kinders op die kerkterrein verbied is, behalwe tydens eredienste! Ek woon langs die kerk, op die terrein.  Ek het 'n hele paar seuns, wat nogal besig en woelig kan wees. Maar nie lelik stout nie. Die jongste en sy vriend het eendag oor die gedenkmuur se heining geklim om binne te speel- seker lekker oorlogplek so tussen al die dooie mense. Op 'n ander dag het 'n paar van hulle op die een gebou se dak geklim om te sien hoe die dorp van bo af lyk. In die proses het hulle moddermerke teen die mure gelos. En iemand het van die besproeiingstelsel se sproeiers afgebreek op die terrein. (Ek weet daardie koppe is by ons hardewarewinkel 10 vir R12,00) Ons kry 'n opdrag van die broers- die kinders word die terrein belet, want hulle het R800 se skade gemaak (wat die koste van 'n opgradering op die besproeiingstelsel was, nie die actual skade nie!) Hulle moes die mure gaan was, wat ek heeltemal mee saamgestem het. En nou is hulle nie welkom in die week op die kerkterrein nie.
  7. Mense is hel. Jean Paul Sartre het dit gesê. En ek stem meer en meer saam daaroor! Sluit nou by punt 3 aan. Almal is reg in hulle eie oë. Elkeen het sy eie musieksmaak, en alles anders is verkeerd. As mense ander verwagtinge as ek het, moet hulle eerder na die AGS (of APK) toe gaan!  Ek kan baie mooi begrafnisdienste hou, dis een van my min sterk punte. Dan sal die tannies van ander dorpe altyd kom sê hoe goeie dominee ek is, nie soos daardie pateet daar by hulle kerk nie. Dan weet ek my gemeentetannies sê waarskynlik dieselfde van my op ander plekke. Die prys van mense is nie veel werd nie!  Ek kan mense soms onbeskaamd sit en afluister in koffieshops en malls. Die ouer geslag, en sekere persoonlikheidstipes is so vol van hulle eie opinies- as ons dinge net op hulle manier sou doen, sou daar nooit moeilikheid gewees het nie. So dink hulle. Ek kan aan niks erger dink as so 'n wêreld nie.
  8. Die kerk se tribunaal kom uit die hel uit!  As mense vermoed 'n dominee in ons kerkgenootskap was stout, dan kan hulle hom by die ring gaan aankla. Die ring verwys dit dan na die sinode se tribunaal, wat dit dan hanteer en 'n finale uitspraak maak.  'n Predikant in Sinodale diens, en enkele "regskenners"- dominees sit daarop, met 'n paar ferocious ouderlinge. Uit die manier wat twee van my goeie vriende die afgelope ruk deur hierdie tribunaal behandel is, maak my nog verder lus om te gaan toerbusse bestuur in Europa vir 'n lewe. Koud, klinies, genadeloos.  Die kerk is die enigste weermag wat sy eie gewondes skiet. Daar is nou 'n nuwe eenheid om dominees uit te haal.  Die kerk se eie SS.  Hierdie pos gaan waarskynlik my job kos as dit ooit in die verkeerde hande beland met my regte naam by. Maar ek is bereid om dit onder my eie naam op die volgende Sinodesitting te sê- die manier waarop een van my klasmaats behandel is deur die kerk, is skokkend! Die kerk gaan op sy moer kry in die Hooggeregshof, en ons almal gaan daarvoor betaal.
  9. Dogmas in plaas van liefdesgemeenskap- baie mense in die kerk is net begaan daaroor om reg te glo. Hulle sal doodmaak om hulle standpunt te verdedig. Van Jesus se opdrag om mekaar lief te hê, dat die wêreld kan glo, is daar nie baie sigbaar nie. En daarom het die kerk nie regtig 'n sterk getuienis in die samelewing nie. In die kerk moet jy altyd versigtig wees, die Here se kindertjies het skerp tanne en kan seer byt.  Veral die voorbidders kan baie seer byt as jy nie heilig genoeg voorkom as dominee nie.
  10. Prestasiemeting-  Party wil so graag ons prestasievlakke meet in die bediening. En nie om ooit 'n prestasiebonus te kry nie. Dit sou ongehoord wees, dan geld die reël van "nie omdat ons dit verdien nie, net uit genade." Maar sommige kerkraadslede het 'n alewige hang-up of die dominee sy salaris (- nee, die kerk gebruik die woord "traktement"- hulle trakteer jou eintlik net,) werd is. Stephan Joubert praat van die bose driemanskap van geboue, getalle en geld. Meet die dominee se sukses. Hoeveel mense het jy gesien, dominee? Hoeveel ure hierdie week? Hoekom preek jy nie beter, dat die kerk weer kan vol raak soos in die ou dae nie?
Broer Ouderling, het jy al Stephan Joubert en Leonard Sweet se boek gelees: Die Perfekte Storm? Die Titanic is besig om te sink, en julle wil KKNK oor die beddens nog opgemaak moet word. Fritz Gaum maak sekere mense die hoenders in met die vraag van sy nuuste boek: Gaan die NG Kerk nog by die Oordeelsdag bestaan?  As daar nie major change kom in die institusionele karakter van die kerk nie, wens ek die kerk 'n sagte heengaan toe.  Die wêreld het nie nog reëls en regulasies en organisasies nodig nie, die wêreld het die liefde van Jesus nodig.  As die kerk nie daardie dienskneg gestalte en liefde uitleef nie, het hy nie bestaansreg nie.

Fynskrif- KKNK is in ons huisgesin die term vir k**, kla en kerm.

Sunday, May 1, 2011

Die vyf beste koffieshops in my lewe

Potchefstroom se Café  Fiori
Met die ekonomie wat so erg kan druk, is daar baie vreugdes wat nie gebeur nie.  Met agt jaar se universiteitsopleiding kan ek niks nuwer as my 9 jaar oue bakkie, of my 11 jaar oue motorfiets bekostig nie. Albei is vrek stadig, en eintlik is ek baie lief vir spoed- Top Gear is dan my gunsteling TV reeks!  Ander vreugdes is ook nie elke dag beskikbaar nie, al is 'n man gelukkig getroud.

Daarom bly 'n goeie koffieshop die een ding in my lewe wat ek my laaste paar sent sal uitgee in.  Dis die plek waar ek en Mevrou gaan gesels as ons dik die moer in is vir mekaar. Of wanneer ons verlief voel en sommer net wil wegglip van die kinders af. Dis die een sosiaal aanvaarbare plek waar die dominee gesien mag word in ons gemeenskap. Ek is al aangespreek deur die ouderlinge oor ek soms alleen in die aand in die Italiaanse restaurant gesit en 'n Draught drink en slap tjips eet het- ek belowe! Ek kom van huisbesoek af, mammie is vroeg bed toe, ek is eensaam en honger- bier en tjips het die ding gedoen. Maar Dominee moet net nie alleen gesien word in die restaurant nie- dis te veel vir party mense om hulle dominee daar te sien...  As my vrou by is, is dit glo orraait. Hierdie dae in my lewe sal ook verby gaan... Ek kan nie wag om die stoudste oom in die ouetehuis eendag te wees nie...

In elk geval, ek dwaal af. In Koffieshops het ek al van my wonderlikste tye in die lewe beleef. Mense het al vir my die wonderlikste verhale uit hulle lewe gedeel rondom 'n koppie koffie. Ek het al dikwels ook alleen daar gaan sit, as ek 'n bui beleef. Moerig. Hartseer. Gemoedsbekakking (is dit nie 'n pragtige Nederlandse woord vir depressief nie?) Partykeer sit ek net daar met die dag se koerant, net om my kop skoon te kry- die Beeld help nie daarvoor nie. Gelukkig het een koffieshop gratis Wifi- dis nou pret om daar te sit en met almal te kommunikeer wat nie werksverwante kennisse is nie- soos julle! 

Daar is die afgelope paar jaar 'n groot verbetering aan die malls se koffieshops. Ek is baie lief vir Mugg & Beane. Bodemlose koffie met 'n moerse lemonandpoppieseedmuffen, nadat ek 150 km gery het om 'n siek mens in die stad se hospitale te gaan besoek. Cappucinos is ook fantasties, en ek is baie dankbaar teenoor Kobus Wiese vir sy bydrae tot die koffiebedryf, veral by 'n paar hospitale. Die een franchise wat nog kort in ons land is Starbucks- ek weet daar is een in Sandton, maar my ouderlinge dink dit is net wyle Lolly Jackson en the Ranch wat daar is, so ek kom nie daar nie. Dit kan glo sleg vir 'n dominee se reputasie wees om in Teazers gesien te word- as ek soveel *** optel in 'n Italiaanse restaurant, wat sal die vonnis wees by Teazers? Seker publieke kastrasie en teregstelling.  Ek wonder skielik net- hoe is Teazers se koffie? Weet iemand dalk? Maar Franchises tell ook nie vir hierdie gesprek nie, want Mugg & Beane is dieselfde van die Kollonade tot by die Kaapse Waterfront. Uistekend, maar dieselfde.

My gunsteling koffiedrinkplekke is daardie plekke wat iemand se droom was, en iets van hulleself weergee. Unieke plekke, elkeen met hulle eie tikkie individualiteit.  En my top vyf gaan more weer anders lyk, dis net soos ek op hierdie oomblik voel.

1. Café Fiorri in Potchefstroom- oor ek eergister daar was. Ons stop gereeld daar op pad na Skoonma se huis toe. Individuele plek, met die interessantste kamers op die eerste vloer, waar jy met jou vriende julle eie hoekie kan kry, en privaat kan kuier. Soos op hierdie foto- lekker gesellig! Mooi kunswerkies, eie atmosfeer. 

  2. "Die lady se Suitcase" net voor Klein Kariba op die pad tussen Warmbad en Nylstroom. Hulle spesialiseer in geroeste look kaggelkakkies, maar hulle het 'n baie lekker kondensmelk koffie in blikbekers. 'n Lekker stop op 'n motorfietstrippie.

3. Café Anton in Swakopmund- die uitsig is uitstekend oor die pier, en die Apfelstrudel is uitstekend!  Ek weet hy is nie in die liewe Republiek nie, maar my gat jeuk vir 'n ver biketrip! 

4. Die Pepper Tree in Philadelfia in die Kaap. Uitstekende plaaswerf opset, die diens is uitstekend. Hier moes ek net die laaste keer wat ek daar was, my hart sit en uithuil- iets wat nie baie gereeld gebeur met my kliphart nie. 

5. Evita se Perron in Darling- vir daardie Boere atmosfeer van destyds, die fyn spot, en die heerlike melktert.


Ek kan aan nog 100 goeie koffieshops dink, maar ek kan nie altyd hulle name onthou nie. Hulle is in die GPS in my kop gestoor. Maar ek wil graag vir jou die geleentheid gee om by te dra tot die lys.

Die liefde vir filterkoffie met bruinsuiker kom van my ma se mense af. Haar twee oujongkêrel broers was albei baie lief vir goeie koffie, en het altyd dit besit, al het hulle niks anders gehad nie. Die jongste een is in 1993 vermoor in Durban. Die ander een is vanmiddag half vyf aan kanker oorlede.

'n Kovsie op die PUK kampus en dit is nie Intervarsity nie!

Vanoggend was vir Bileam se Donkie baie traumaties. Lank lank gelede, toe die Dooie See nog siek was, was ek en my goeie vrou Kovsies gewees. (In die ou, ou dae was dit Universiteit Kollege van die Oranje Vrystaat- UKOVS, in die volksmond het dit Kovsies geword en so sal dit seker bly tot Malema president van Oranië is). Dit was sulke wonderlike tye- daardie vry by Mooimeisiesfontein, pizza en rooiwyn op Euwelheuwel, eksamentye in Junie se koue in die Callie Humansaal- groot tye!

En elke jaar in Augustus, het daardie migrasie plaasgevind wat net deur die wildebeeste in die Serengeti oortref word.  Die jaarlikse Intervarsity tussen die Kovsies en die Pukke, een jaar in Bloem, een jaar in Potch.  Die legende lui mos dat daardie wit perd teen Naval Hill in Bloemfontein sy voet stamp as 'n student stout is. As die Pukke daar is, dan klink dit of hy die July hardloop! Ek het een van die langste kursusse geloop op Universiteit. Ek was drie keer in Potchefstroom. Daar by die PU vir CHO- Chips, Hamburgers en Owerspel, as ek reg onthou. Van die akademiese deel van die Puk het ons nooit kennis geneem nie, ek het vandag eers uitgevind dat hulle toe ook klaskamers gehad het. Ons het daar by die Potch dam oorgebly, geborg deur Pa of Castle Lager. Een legendariese jaar het Reitz se manne (daardie beroemde koshuis wat so in die werkers se kos piepie)  'n Labrador laat wegraak. Na 'n paar rumme kon die een plaasseun nie meer onderskei tussen 'n skaap en 'n hond nie, albei lyk seker maar dieselfde op die spitbraai.   Ek onthou daar was ook soms so 'n effense oorlog op die rugbyveld tussen Dopper en Gatjieponder fakulteite. Jy sou kon sê ons het fakulteit vir mekaar gehad. Maar gewoonlik het ons darem mekaar gevind oor die nagmaalwyn na die tyd.

Ek het net nooit gedink Potch is 'n ernstige plek om te oorweeg vir studies nie. Tot die klein merrie in my huis aangekondig het sy wil soontoe gaan. En so het ek en my goeie vrou, en die oudste vandag opgeruk na die vyand se vesting. Daar is so studentewinkel wat die studerendes aanmoedig om tog hulle Maroon en goud streeptruie te koop, anders word hulle dalk met Kovsies verwar. Ek wou eers iets brom van die rekord van Intervarsities in my dae- dat die Puk beter sou doen om net punte aan te stuur, maar dit lyk tog asof daar iets aan die gebeur is in die Puk se sport.

In elk geval, nadat daar plegtig uit die Ou vertaling Bybel geopen is, (lyk my dit bly maar die Dopperhemel) het die Rektor so bietjie gespog en genooi. Daarna het so 'n  mooi Studenteraadsmeisie gepraat- baie motiverend, ek kan net nie onthou wat sy gesê het nie. Daarna is ons losgelaat op die kampus. En die kampus pas sommer op die Rooi Plein van Kovsies in, so klein is dit!

Ons het die regte fakulteit gevind, en daar het ek iets gebrom van hier gaan fakulteit vir jol wees, hier gaan jy ernstig moet wees. (Nou nog nie vir die klein merrie gesê haar punte is myle beter as haar pa se matriekpunte nie!) Studies is baie ernstiger as in my dae, want hierdie keer gaan ek moet betaal. Met die hulp van Absa, jou vriend deur dun en dun.

Nou die dag nog het ek uiteindelik die ses jaar hardepad klaargemaak op Universiteit. Dit voel soos gister. Maar wat het intussen gebeur? Die meisies op die Puk is nog net so mooi. Maar die manne is almal seuntjies! Wat gaan aan?

Januarie gaan daar alweer 'n nuwe fase in die Bileamhuis aanbreek. Die eerste een verlaat die huis. Middelboet wil klaar sussie se kamer hê. My bek is groot oor tienermeisies wat asseblief binnekort die huis moet verlaat dat daar weer stilte en netheid kan neerdaal op ons huis. Maar vandag het ek gesien- soos Johan van Wyk altyd in die Volksblad in daardie pragtige stad met die slegte rugby geskryf het: HKGK. Inderdaad, Johan, inderdaad...


Ns- Ek moes nou gesit en preek maak het vir more, maar ek moes eers gou hierdie van my hart af kry. Die res van die gesin is by skoonma, en ek is lonely, oh so lonely... Weet julle wat 'n kênvroet preek is?

Wednesday, April 27, 2011

Vryheidsdag- Tyd vir Brothers in Arms- Dire Straits!

http://www.youtube.com/watch?v=jhdFe3evXpk

Dit is Vryheidsdag. Vandag dink die ANC aan hulle maatjies wat saam poskantore opgeblaas het en landmyne op plaaspaaie geplant het.

Eendag, lank lank gelede, het ek ook in die naam van Vryheid my hare verloor, en in 'n bruin speelpakkie ingeklim. Vandag word ons baie daarvoor gekritiseer dat ons in die Weermag was. Destyds het ons nie regtig 'n keuse gehad nie, behalwe 'n vier jaar tronkstraf en 'n kriminele rekord as alternatief.

Daar is iets baie wonderlik vir 'n man aan die Broederskap van oorlog.  Daar is iets wat 'n man graag wil ervaar om aan 'n groep te behoort, wat groter as die individu is.

Ek het Tom Hanks se reeks Band of Brothers baie op televisie geniet. En daarin vertel die ou veterane van die 101st Airborne dat hulle nie geveg het omdat hulle die vyand gehaat het nie. Hulle het dit gedoen om hulle buddies se lewens te beskerm in kontaksituasies. Daar was 'n groter prentjie, die vyand moes oorwin word. Maar in die onmiddelike klein omgewing het dit gegaan om mekaar te help en mekaar te beskerm. In oorlog is verhoudings tussen manne gesmee wat dikwels sterker as broers se liefde vir mekaar is. In oorlogsituasies was jy afhanklik van iemand anders, jy moes hulle met jou lewe vertrou, omdat jy nie altyd oral kon kyk nie.

Maar soos in Dire Straits se wonderlike lied is daar ook 'n tyd wat dit verby gaan. Daar kom 'n dag wat die soldaat nie meer in uniform is nie, wat die bomme nie meer rondom jou bars nie. Daar kom 'n tyd om huis toe te gaan. Die wyse ou Prediker het dit gesê dat daar 'n tyd vir oorlog is, en 'n tyd vir vrede.  Jesaja het gepraat van swaarde wat ploegskare word.

Die hartseer is dat nie almal huis toe kom na 'n oorlog nie. Daar is in elke oorlog die mense wat alles opoffer, en nooit weer hulle geliefde in die arms kan neem nie. Het jy die fliek Passchendaele gesien? Ek het op daardie slagveld van die 1e Wêreldoorlog rondgeloop, en die Geallieërde begraafplaas besoek. (Fotos onder). Honderdeduisende mense lê daar begrawe. By die Menin hek van Ieper is die name van nog honderdeduisendes wat net eenvoudig so opgeblaas is, dat niks gevind is om begrawe te word nie.
Ook 'n hele klomp Suid-Afrikaners. Dood. Einde van die prent. Game Over. Anders as in die Playstation kan jy nie oor begin nie.

Nog honderde duisende soldate het na die twee Wêreldoorloë nie heel huis toe gekom nie. Op Gallipolli en Verdun, by Alamein en Monte Casino (nie die dobbelplek nie!) op Omaha en Iwo Jima het ouens se bene en arms en oë agtergebly. Baie was nooit weer fisies heel nie. Nog baie meer was psigies nooit weer heel nie. In die eerste Wêreldoorlog is duisende manne vir lafhartigheid geskiet, manne wat so bomskok opgedoen het dat hulle weggehardloop het. Baie ander het aan bomskok gelei, dit is eers later as Post Taumatiese Stress sindroom beskryf, en toe verstaan almal skielik beter...

Ons land het sy eie kwota manne wat Brothers in Arms was, aan albei kante van die geveg. Ons almal het vriende verloor. By Fort Klapperkop is die name van die "vryheidsvegters" wat gesterf het. In die militêre basisse is (was?) ererolle van hulle wat vir volk en vaderland gesneuwel het.  Maar daar is baie, baie meer stukkende oorlewende Broers. Manne wat bene en arms verloor het in landmyn ontploffings. Ouens wat seergekry het  met Buffels wat rol. Daar is die manne wat soos seuntjies gehuil het daardie eerste aande van basiese opleiding, wat van daardie dag af gedink het hulle is nie goed genoeg om soldaat te wees nie. Dit het 'n gat in hulle ontwikkeling as man gelaat...
Daar is die ystermanne wat nie die keurings kon slaag vir die Rekkies en die Valskermbataljon nie.
Daar is manne wat ander mense moes doodskiet. Party voel vandag skuldig oor dit so lekker was om 'n lewe te neem. Ander onthou dit met die grootste walging. PArty gaan terug Angola toe om jammer te sê, om 'n verlore stuk van homself weer te gaan vind.

Ja, baie Broers het iets verloor in oorlog. Daardie basiese stukkie onskuld. Daardie iets wat ons laat kop optel, en dink ons kan iets positiefs vir iemand anders beteken.Party voel nog steeds skuldig dat hulle oorleef het.
Baie manne het liggaamlik teruggekom van oorlog af, maar geestelik is hulle nog op die slagveld. Skrik in die nag vir harde geluide. Baie wantrouig teenoor hulle naaste. Vir sommige is daardie mooi stuk van hulle menswees so weg, dat hulle die pyn van oorlewing met drank en pille probeer verdoof. Die manne se verhoudings kry swaar, die vrouens in hulle lewe byt dikwels die spit af.  So baie manne begeer dat die nagevolge van kontaksituasies net weer kan weggaan uit hulle lewens uit. En tog is daar nog steeds broers wat deur die wrede bitch van oorlog terugverlei word- daardie manne wat "veiligheidswerk" in Irak gaan doen. Die oorlog los hulle nooit. Die rush van adrenalien, die reuk van kruit en bloed word 'n verslawing wat hulle net nie meer kan los nie. As die dood elke dag saam met jou loop, word hy later 'n goeie vriend.

Dit is Vryheidsdag. Die oorlog is verby. Die Broers kan almal huis toe kom, en aangaan met hulle lewens.

Dan is daar 'n klein snotkop soos Julius Malema wat sê Afrika berei sy jeug voor vir oorlog. En hy dreunsing dat hy ons graag wil doodmaak. En dis net 'n stukkie kultuur. Meneer Malema, daar is nog 'n paar broers oor wat KAN oorlog maak! Daardie tipe woorde help nie vir die gesondword wat almal in hierdie land nodig het nie!!! Moenie die dier van oorlog wakker maak, en dink niemand gaan seerkry nie.

Mag daar nou werklik 'n tyd van vrede kom, sodat ons saam hierdie mooi land kan opbou.

Maar te veel mense hou aan oorlog praat. Miskien was George Santayana reg toe hy in 1922 gesê het: "Only the dead have seen the end of war." Ek hoop hy is verkeerd. Maar daar is altyd nog 'n dom bliksem wat nie 'n idee het nie, wat dink dit is baie romanties om iemand te skiet.

Die uiteinde van oorlog- niemand weet dalk eers wie jy was nie!




'n Klein gedeeltetjie van die Passchendaele Gealliërde begraafplaas. Brothers in Arms vir altyd.  Ek is eerder in my vrou se arms, dankie!