Prophet

Prophet, or Talking Ass?

Wednesday, April 13, 2011

Oueraand by die Laerskool


As daar nou een ding is wat jy nie mis in ons plattelandse dorpie nie, amper net so belangrik soos 'n kaartjie Loftus toe, dan is dit Oueraand by die Laerskool. Ons dorp het twee laerskole. Die een is die wenners. Die ander een het baie gekrimp, en baie van karakter verander die afgelope twee jaar. Ons skool is die wenners. 


Oueraand is 'n baie belangrike gebeurtenis in die sosiale lewe van ons dorp. Dan trek al die mammies baie mooi aan. Want al die ander mammies gaan daar wees, en mooi aantrek. Dit moet darem lyk of ons onlangs in Menlyn was, en die kredietkaart kon darem nog so paar aankopies uitstaan. Dit is altyd belangrik vir 'n mamma om jonk, en sexy, in ons dorp te lyk. Dit moenie lyk soos Ouma wat oueraand toe gekom het nie! 

Pappie kom in sy two-tone hemp en kortbroek, met sy hoërskoolrugbykouse in sy Hitec stapskoene. Darem in skoon klere, wil darem ook nou nie lyk asof jy nou net van die plaas af ontsnap het nie. Want almal gaan daar wees. Hier verenig ons, soos wat kerk en politiek dit nie kan doen nie. Net die way-out ouens is nie daar nie, die heel heiliges home-school, en die baie baie regses se kinders in die CVO skool. Die res van die normale spektrum vergader getrou in die skoolsaal, ryk en arm, mooi en lelik, vet en maer, hier is ons almal net ouers van ons hart se punt- daardie bloedjies wat uit ons vlees voortgekom het en dapper die grootmenswêreld begin nader storm. 

'n Laerskool oueraand begin betyds. (Geen Afrikatyd hier nie, party ouens moet nog 90 km terugry oor lelike plaaspaaie. Nadat hulle eers by die Spur was om fees te vier oor boetie se punte.) 

Eers sal die skoolhoof hartroerend mooi open- dis elke keer baie motiverend, goed deurdag, met kosbare pitkos vir die siel. Daarna sal die Voorsitter van die Beheerliggaam baie, baie dankie sê vir al die ouers wat wel hulle moerduur skoolfonds op datum hou- die nuwe klaskamers kon gebou word, en pre-fab was toe goedkoper as steen en sement. Die nuwe rekenaarsentrum is ook op datum gebring.  Nie meer daardie modelle wat Noag vir navigasie in die ark gebruik het nie- ons is nou al tot by Windows 7 op die platteland!  (Ek hoop dis wat hulle bedoel het, party dae wonder ek of Windows XP nie party se idee van op datum is nie?)

Daar word aan ons verduidelik presies hoe die eerste kwartaal se punte bereken is. Dit is met KONTinue EVAluasie gedoen, elke toets is verskriklik belangrik. En boetie moet ook nie vanaand sê more moet die taak ingehandig word nie- die minimum is 'n week tyd, die eerste dag daarna verloor jy twee punte, die tweede dag ook, en die derde dag kry jy KOL. Niks. Nada. Zero. Zip. As ons die beginsel presies verstaan, word ons op die onderwysers in hulle klaskamers losgelaat. Daar sit hulle gereed in hulle forte, verskans agter dik pakke leêrs teen die aanval wat binnekort van kompeterende ouers op hulle geloots gaan word. 

Tot hier het my aand baie mooi verloop. Maar julle moet een ding mooi verstaan: Bileam se donkie het vier vulletjies, een merrie en drie hingsies. Die merrie is in matriek- die hemel alleen weet hoe sy deurkom, en hoe sy haar kamer oorleef, maar op 'n manier vorder sy. Ouboet leef vir rugby, en die kerk se eiendomskommissie moenie te vinnig in sy kamer instap nie- hy is mal oor Roxy Louw se fotos in die FHM (pappie ook, maar ons sê dit nie te hard nie, netnou hoor die ouderlinge!)

Hingsie nommer 3 is die groot bekommernis. Ons stap in sy klaskamer in. En kry sy rapport. Hy het 88% vir bestuurswetenskappe! En 71% vir gewone wetenskap. Maar die Afrikaans- 42%. Sy wiskunde- 40%.  Dadelik begin ek die prentjie kry- eendag gaan Sparky 'n wonderlike bestuurder wees in 'n wetenskaplike rigting, wat f-ol van somme maak gaan weet, en in swak Afrikaans mense gaan rondorder... 
Boetie leef glo net vir krieket, stel so nou en dan belang in die eerste rugbyspan, waar hy reserwe heelagter is. Hy is 'n dromer in die klas, baie lief vir meisies, en beslis aandagafleibaar. Hy sal in 'n toets vergeet waar hy is, sy gedagtes sal op ander lekker plekke rondhardloop, en dan te laat onthou van die paar vragies waarvoor hy eintlik daar was. 

Kleinboet is weer baie pligsgetrou- die enigste van die vier met 'n akademiese verantwoordelikheidsin. Sy punte lyk baie mooi, hy is baie omgekrap oor die 78% wat hy vir Afrikaans gekry het, hy glo hy kan baie beter. 

Terug na nommer 3 en die oueraand- Nou die dag was ek en my ma in Stellenbosch by ons bure van kindertyd. Die tannie onthou dat ek nooit geloop het nie, maar gehardloop het waar ek wou wees. Ek het nie hekke oopgemaak nie, ek het bo-oor gespring. My ma onthou 'n Juffrou du Plessis, wat in die Laerskooloueraand gesê het ek was die stoutste kind in die skool. Ek onthou self my boekhou-onderwyser, wat vir my gesê het: "Donkie- jy gaan eendag net 'n straatveër word."
As ek vandag terugkyk na my roemryke skoolloopbaan, dan was ek verseker aandagafleibaar en Ritelinloos. Daar was altyd 'n skootjie depressie êrens in die agtergrond. En wragtag, die meeste onderwysers het my verveel. Baie, baie mense het vir my op oueraande gesê ek gaan dit nie maak na skool nie. 

Soos ek hier sit, is daar 'n Meestersgraad in Teologie, met Lof, teen die muur. In 'n trek na ons huidige huis het iemand my dekaansmedalje gesteel vir die beste M.TH student. (Ek glo nie ek gaan hom vervang nie, ek weet, en dis genoeg!)  Ek sê dit waaragtag nie om te spog nie. Ek sê dit om vir Sparky te sê: My kind- hulle moere! Daar gaan 'n dag in jou lewe kom wat jy gaan ontdek waarvoor jy gemaak is. En dan gaan niks in die lewe jou keer nie! Geen bliksem het die reg om vir jou te sê jy gaan dit nie maak nie! 

My liewe seun, jou pa is baie lief vir jou, met jou 40 % in wiskunde en al! (Moenie nou al uitvind dat jou pa in een roemryke toets in Hebreeus 'n volle 9% verwerf het nie...) Al is jy nooit 'n akademiese reus nie, al sit jy vir altyd op die eerstespan reserwebank, al word jou droom van Protea krieketspeler dalk nie waar nie- jy is my seun, jy is my naamgenoot, jy is perfek vir my, en ek sal altyd agter jou staan. Jy sal altyd die beste JY wees, en dit is al wat vir my saakmaak. Ek is baie trots op jou, al was dit my vaderlike plig om jou netnou so bietjie uit te *** in die studeerkamer. 

Vanaand, in ons gemeenskap, is 'n pa en ma wat verlede week twee seuntjies moes begrawe na 'n lorrie oor hulle gery het. 'n Lewende, gesonde, dromer van 'n kind is 'n hemelse seëning. Hy is vir ons baie meer as die somtotaal van al sy punte!
 

Tuesday, April 12, 2011

Die Glipsie


Net omdat Maankind gevra het- een stukkie uitpraat wat ek seker vergewe sal word...

Die een ding wat ek begeer, en op my Bucket List is, is om eendag die motor van my drome splinternuut te kan koop. Ek is gewoond daaraan dat my voertuie gewoonlik al vyf jaar en 150 000 km agter die rug het teen die tyd dat hulle by my kom bly.  Net ingeval Maankind 'n miljoenêr met te veel geld is- op die oomblik is die droommotor 'n Hilux 3l Diesel dubbelkajuit, met 'n Carryboy Canopy op, en ek is baie vervelig- ek hou van Glacier White! Hierdie voertuig  maak net baie sin vir die wêreld waarin ek woon. Maar as 'n Biljoenêr nou sou lees- 'n Bugatti Veyron Supersport is die eintlike droom! Hy kos net $15 milj meer as die standaard ou Veyron'tjie. 

In elk geval- ek het een keer in my lewe dit reggekry om 'n nuwe motor te koop. Ek het my baie getroue ou Camry 220 Si ingeruil op... wag vir dit... 'n splinternuwe Toyota Tazz 1300! Sonder radio, aircon en kragstuur. Want- het ek vroom geredeneer- ons Here Jesus het met 'n donkie gery, dan kan ek mos ook! Die tweede rede was dat dit al was wat ek nuut kon bekostig met 8 jaar se Universiteitsopleiding agter my naam- ek het ook 'n Meestersgraad. Die Tazz het wel redelik vinnig 'n goeie klankstelsel gekry. En hy was Glacier White gewees!  En dit was al. 
2004 Model Tazz- splinternuut gekoop.

Die Tazz het darem soos 'n nuwe kar geruik vir die eerste week. Dit het bietjie gehelp. 
So na die eerste week moes ek my kinders by die kleuterskool gaan aflaai. Ek was geklee in 'n pak klere, want ek moes daardie oggend iemand begrawe. Toe ek die kinders afgelaai het, het een van die dames in my gemeente oorkant die pad gestaan, en baie ongemaklik gelyk. Hierdie dame is van die edele beroep: motorveiligheidsopsienersbeampte- of te wel: karwag. Ek stop so by haar, en vra wat is fout. Sy vra baie mooi of ek haar nie asseblief gou huis toe kan neem nie. En soos 'n goeie dominee betaam, doen ek dit toe ook. 

Net so voor haar huis begin ek skielik die onaardse reuk ruik, amper iets soos die demone van die hel, of 'n baie ernstige babadoek. Nou kyk, julle kan my vrou maar vra- die een ding wat ek nog nooit, ooit ooit kon hanteer nie, was om 'n baba se doek te ruil nie. Ek word dadelik naar as dit gebeur. Ek het ook al my kinders se alies in die agterplaas met 'n tuinslang afgespuit uit selfverdediging. Ek kan nie stront hanteer nie!!!

In elk geval, ek laai die dame by haar huis af. En toe sy opstaan, sien ek dit- daar waar sy gesit het, lê die bruin plassie ***! Op my nuwe voertuig se sitplek. Sy sê niks, hol net in die huis in. En ek? Ek het gelukkig nie ontbyt geëet nie. Met 'n maag wat al die pad opgooikrampe maak, jaag ek huis toe. Ek staan in my kerkpak, en spuit my nuwe kar se passasiersitplek met die tuinslang af. Maar daardie reuk kom nie uit nie. Ek het kerk toe gery, en in ons kerk se binneplein die Tazz laat staan, met al vier die deure en die agterdeur wyd oop, terwyl ek plegtig binne vir Tannie X begrawe.  Na kerk het ek na 'n vriend toe gery, wat 'n matwas-besigheid gehad het. En ek het by hom gepleit- "maak nie saak wat jy my vandag vra nie- hierdie *** reuk moet vandag uit my kar uit!" 

Naasteliefde kan 'n mens soms duur kos. My nuwe kar het nooit weer nuut geruik nie. Hy was toe ook 'n donkie, en ek het hom maande later maar ingeruil op 'n 4 jaar oue Corolla met kragstuur en aircon. 
Op die oomblik ry ek 'n 9 jaar oue bakkie rond. Daardie nuwe Hilux sal baie welkom wees as hy die dag opdaag! (Sit net vir my Melville & Moon waterdigte sitplekoortreksels ook in, asseblief?)

Saturday, April 9, 2011

Die mooi in die seer...


In 2006 het ek uitgebrand êrens langs die lewenspad.  Die grootste oorsaak daarvan was ekself gewees. Daar was net te veel bagasie wat langs die pad saamgekom het, sonder dat ek dit sien opbou het na 'n ondraaglike lot. Te veel dinge het ek gedink is agter gelaat, wat toe nie so was nie. Te veel onthou van sekere episodes uit my kinderdae. Te veel bagasie rondom my identiteit en selfbeeld. Te veel verkeerde maniere van dink oor my rol in my beroepslewe. Te veel meet van my eie suksesse (of gebrek daaraan!) deur die ondraaglike tirannie van my eie opinie.   Daar was so baie interne druk, en ek was my eie grootste vyand.

Saam met dit was daar ook 'n paar eksterne faktore. 'n Wyse man van die Fasiliteringskommissie van die Sinode het gesê dat die verhouding tussen gemeenteleiers  moet wees soos 'n hondjie wat op sy rug gaan lê, dat jy sy magie kan krap. Ek het dit probeer, en my magie gewys. Ek het gewaag om sekere van my seer te deel. En kort daarna het alles skeef geloop in 'n paar uiters belangrike verhoudings in ons gemeente. Mense wat ek gewaag het om met my lewe te vertrou, het skielik "vertrouensbreuke" met my ontwikkel, wat ons kerk uitmekaar geskeur het.  My persoonlikheid en my menswees het seker maar baie bygedra tot die ontploffing wat gevolg het.

Die spanning het net te veel geword om te dra, die golwe van moedeloosheid oor die rol wat van my verwag word, en wat ek glad nie kon wees nie, het ondraaglik geword. Waar die kerk 'n plek van liefde en genesing moes wees, het dit die bron van tydelike geestelike doodsheid vir my geword.

Gelukkig was daar in hierdie dae iemand in die kerk wat my raakgesien het. (Die Iemand kon nie in hierdie dae so maklik raakgesien word nie!) Die iemand het my lewe gered. Hy het aanbeveel dat ek gestuur word na 'n plek in Skotland wat spesialiseer in uitgebrande kerkleiers. Hy het die kerkraad daarvan oortuig, wat verseker 'n Godswonder was! En toe ek daar aangekom het, het ek gesien my vrou moes ook daar wees om die helingsproses te voltooi. Die iemand het vir haar uit sy eie sak uit 'n vliegtuigkaartjie gekoop, dat sy by my kon aansluit. Om my vrou binne twee dae te kry om vir die vier kinders alternatiewe akkomodasie te reël, in eksamentyd by haar skool af te kry, 'n vliegkaartjie te kry en binne 48 uur op Aberdeen se lughawe te wees, dit was 'n tweede Godswonder. (Iemand was toe regtig nie afwesig nie, ek kon Hom net nie sien of hoor deur die seer heen nie...)

Die plek van heelword word genoem Blairmore, naby Huntly in Skotland, so in die middel tussen Inverness en Aberdeen.  In hierdie luukste herehuis het 'n groepie gelowiges uit hulle pad uit gegaan om ons te dien. Ons is met soveel liefde ontvang, ons is bedien met die wonderlikste etes, met opbouende sessies, met gebedsbediening...  Hierdie sentrum kom uit 'n ander tradisie van die Christelike geloof as ek (die Ellel Genesingsbediening). Maar hulle het soveel moeite gedoen om Jesus se liefde prakties aan ons te bewys, dat dit werklik 'n lewensveranderende ervaring was.

Ek is so dankbaar teenoor daardie iemand, wat soveel uit sy eie sak betaal het om my te help red. Hy is intussen uit ons kerk uit om voltyds by 'n genesingsbediening aan te sluit. My dankbaarheid teenoor hom sal vir altyd daar wees.
Die daar wees het my in staat gestel om deur 'n nog moeiliker 2007 te volhard, tot nou in 2011, vyf jaar later. Ek is nog steeds hier... Maar ek is nie meer dieselfde nie...

Die foto hier bo is op een van die seerste dae in my lewe geneem. Dit bly een van my heel gunsteling fotos van alle tye.
Dit is geneem op 'n laat November herfsmiddag in Skotland. Die lig was baie effentjies, ek moes die sluiter lank ooplos om hierdie foto te kry.
Daar is 'n duidelike grens- aan die een kant is God se natuur, soos Hy dit wou plant. Aan die anderkant van die draad is die boer se weiding, soos hy die natuur makgemaak het. Daar is telefoondrade in sig, 'n kommunikasielyn wat oop is.
Die pad strek voor my uit, maar daar is 'n draai daar voor, na 'n onbekende plek. Ek weet tot vandag nie waarheen die onbekende pad strek nie.

Ek geniet die dynserige sonnetjie op my vel, en die koue herfslug wat in my nek blaas. Ek geniet die palet van verskillende herfskleure, wat hulle laaste glorie geniet voor die eerste sneeu begin val om uiteindelik alles in 'n swart en wit landskap te verander.  Ek geniet die vorms van die takke, die verskillende teksture wat sigbaar is. Ek geniet die vaal poeierblou lug, soveel sagter as die harde Bosveldse blou. Ek geniet die vlieserige wolkies, wat belofte van seisoensverandering en koue aankondig.  Ek geniet die stilte. Behalwe vir die fluistering van die wind in die takke is daar nie 'n enkele mensgemaakte geluid nie.

Ek weet nie waarheen ek op pad is nie. Maar ek is nou HIER. My vrou is aan my sy. Dit is nou mooi. En dit is genoeg...


Ns. Ek publiseer hierdie  op Bileam se Donkie, en nie die blog in my eie naam nie, want vyf jaar later is ek nog steeds in dieselfde gemeente, en ek wil nie weer ou wonde oopkrap wat intussen grootliks genees het nie. 

Friday, April 8, 2011

'n Persoonlike Openbaring van die HEL...

Liewe enkele Blogleser,

Bileam se Donkie is mos 'n Dominee van 'n Susterskerk, soos jy weet. En die een ding wat Bileam se donkie fassineer, is hoe my gemeentelede soms baie, baie vreemde goed kan lees, en vir soetkoek kan opeet. Die een ding wat ek glad nie verstaan  nie, is die mense se beheptheid met die hel. So nou en dan kom mense na my toe, baie opgewonde oor boeke wat hulle by die Aksiekampe opgetel het. En daar is 'n paar titels, soos Mary K. Baxter se Revelation of Hell,  23 Minutes in Hell van Bill Wiese (as hy teen Kobus Wiese geskrum het, sou hy die voorreg gehad het om 80 minute in die hel te wees!) , en selfs Choo Thomas se Heaven is so Real, waar dominees hel toe gaan as hulle gemeente nie gehoorsaam is nie.   Party hou ook baie van die apokriewe boek die Openbaring van Petrus, waar die hel as 'n groot poel stront voorgestel word, en mense in 'n eindelose ketting teen die rots opklim, induik in die poel in, uitswem en weer agter in die ry val, eindeloos. Al hierdie buite-Bybelse openbaringe van die hel is veronderstel om jou so skytbang te maak dat jy dadelik jou nonsens in die lewe los, en begin glo sodat jy die hel kan vryspring. Die hel is nie speletjies nie, dit is baie, baie erg, sê al hierdie boeke.

Bileam se donkie het nog altyd net geluister na al hierdie bangmaakstories. Sy verstaan van die Bybel sluit nie Fire and Brimstone in nie, as die liefde van Jesus en die nuwe lewe wat Hy met sy opstanding verdien het, nie genoeg is nie, dan is ons in elk geval in ons glorie in. Vrees vir die hel gaan niemand red nie. Tot vandag!

Dit het gebeur! Ek het vanoggend 'n visioen gesien! Ek het 'n Openbaring van die Hel persoonlik beleef. En nee, dit was nie 'n droom nie! Dit was ook nie die gevolg van te veel Klippies en Coke nie, die drie-uur vlug London toe het nog nie oor die pastorie se dak gekom nie.

Vanoggend, toe ek helder wakker was, het ek presies beleef hoe die HEL is. Dit het so gebeur:
Dominees moet deesdae huwelike in persoon by die Departement van Binnelandse Sake registreer. Omdat die Nigeriërs   dit regkry om mense te trou sonder dat hulle dit weet, het Binnelandse Sake "opgeskerp". (Glad nie rassisties bedoel nie, maar daar het nog wragtag niks goed  uit Nigerië gekom nie!) Nou moet die dominee met so helse dik pak vorms by Binnelandse Sake aankom, en sy vingerafdruk los op die glasskandeerdertjie. Dan is die huwelik sommer vinnig, met die druk van enkele knoppies, geregistereer. En wat dit baie lekker maak, is dat die Kerk se Parlementêre Kantoor dit met die Minister van Binnelandse Sake onderhandel het dat ons soos staatsamptenare behandel sal word- jy stap net eenvoudig tot voor by die toonbank, sit die vorms neer, en woerts- warts is jou werk daar afgehandel.  Klink te goed vir woorde.

Nou die Openbaring van Bileam se Donkie- my persoonlike visioen van die Hel.

Die Satan is 'n staatsamptenaar van die Suid- Afrikaanse Republiek, onder aanvoering van sy edele President Jacob Zuma, vir wie ons gereeld bid soos Romeine dit van ons vra. Die HEL is 'n kantoor van Binnelandse Sake. En vir die res van die ewigheid gaan jy probeer om 'n huwelik geregistreer te kry. Hier is 'n tipiese beeld van die hel...

Eers stap 'n mens by ons klein dorpie se plaaslike kantoor van Binnelandse Sake in, daar aan die agterkant van die Landdrosgebou. En daar, in die wagkamer wat so groot soos drie longdrops se binnekant is, sit daar twee honderd Zimbabweërs, en drie honderd donker Suid- Afrikaners en wag.  Die Zimbabweërs probeer Suid- Afrikaanse burgers word, sodat hulle met Regsteelende Aksie voor gebore Suid-Afrikaners kan werk kry. Die Suid-Afrikaanse Burgers (almal verlede week nog van Bulawayo en Harare) moet nou nuwe Identiteitsdokumente kry, seker voor die verkiesing, om almal ANC te kan stem- 'n beter lewe vir almal, eendag...  Dag vir dag val hulle in die tou om daar te kom sit, in die hoop om êrens voor die Wederkoms gehelp te word met wat hulle nodig het.

Agter die toonbank staan die agterkant van 'n klomp liaseerkabinette. Daar is 'n enkele opening, en daardeur kan 'n mens 'n tipiese moerse groot staatsdienslessenaar sien uitsteek, wat vol sulke bruin toevouleêrs gepak is. Agter die leêrs steek 'n baie, baie goed gevoede dame van etniese oorsprong uit, besig om in te lê in 'n Box KFC. By haar op die lessenaar sit 'n ander baie, baie goed gevoede dame van etniese oorsprong, met so 'n geel glimbaadjie wat sê- "Need help?- ask me"  Maar hierdie dame doen haar uiterste bes om oogkontak met die kliënte te vermy. Die een wat agter die toonbank moet help, het weggeraak. Ek vermoed dat sy 'n Christen was, en weggeraap is volgens Tim LaHaye se wonderlike boek- Left Behind. Dit is elfuur in die oggend, en almal is toilet toe, of op lunch, of weggeraap. Vir twintig minute staan Bileam se donkie eselagtig in daardie kantoor. Daar is geen teken van lewe aan die agterkant van die toonbank nie, maar die Staatspatoloog kom nie om die mense te verwyder nie.

Aan die anderkant van die toonbank is daar baie lewe. Die vlieë is gelok deur die reuk van KFC, en draai rond in die drie-longdropgrootte gebou. Daar is geen lugversorging nie, geen waaiers nie, en drie babas skree verwoed, terwyl twee ander hulle reeds stewige moeders se borste verder opblaas. Die Lifebuoy seep was lanklaas gesien, en Mum is te duur.

En daar het jy dit, liewe enkele leser. As jy in hierdie lewe *** aanjaag, is dit die ewigheid: Jy gaan dringend 'n dokument by Suid Afrika se Binnelandse Sake nodig hê. Daar gaan 500 mense voor jou in die ry staan, en die drie mense wat die werk moet doen, gaan F-ol vir jou voel. Jy druk voor niemand van etniese oorsprong in nie, jou blêrrie rassistiese Boer.  Dit gaan warm wees, dit gaan stink. En elke keer as jy naby die voorkant van die ry kom, gaan dit 15h45 wees en hulle gaan jou inlig dat jy more asseblief weer moet kom, want hulle gaan nou tjaila- moeg gewerk, verstaan? Batho Pele. Baai tot more, bring 'n barrel saam as jy vinniger gehelp wil word.

Bid vir die owerhede wat oor jou aangestel is, sodat ons rustig kan bly lewe, sê die Goeie Boek. Soms is dit baie, baie moeilik!

Wednesday, April 6, 2011

Bileam se Bucket List- Eerste gedagtes

As jy nog nie weet wat 'n Bucket List is nie, skaam vir jou! Het jy so waar as wragtag die beste movie van 2007 gemis? Gaan dadelik Blockbusters toe, en neem The Bucket List uit, van Jack Nicholson en Morgan Freeman. Vir nog meer bonuspunte- ry dadelik na die naaste Musica/ Top CD/ Look & Listen toe (al is dit 800 km ver, ry nou, dit gaan jou misrabele lewe baie verander, selfs die reis gaan jou goed doen uit jou klein wëreldjie uit!) en gaan koop hom vir jou. Weet jy, eendag gaan jy die emmer skop. Jy gaan die lepel in die dak steek. Jy gaan die tydelike met die ewige verwissel. Jy gaan deur die Jordaan. Jy gaan dooi. Hopelik gaan jy saggies heengaan in jou slaap. Jy gaan sterf. Mense gaan van jou praat die dag daarna as "oorle..." of "wyle..."  Gelukkig weet die meeste van ons nie presies wanneer en hoe laat daardie datum is nie. Maar hy is in elke mens se agterkop. Baie mense wonder elke oggend: Is vandag die dag? Die in die Hospitaal se ICU vat dit net baie ernstiger op as die eerstespan rugbyspeler van Hoërskool Piet Potgieter.

Die meeste van ons het nog so bietjie tyd voor die "Grim Reaper" gaan opdaag, met sy swart kleed en sy sekel. Of hopelik die mooiste engel, wat soos Meg Ryan lyk in City of Angels.  Die feit van die saak is, vandag is nie die sterfdag van 99.9 % van die bevolking nie, behalwe as Nasa nou rêrig daardie groot komeet wat teen 'n biljoen triljoen ziljoen ligjare per minuut van die Big Bang af op 'n botsingspad met die aarde is om ons om presies 17h41 GM+2 te tref en met ons almal soos die dinosaurusse te maak- dan is jy in jou ****, sorry. Very sorry. Maar ek dink nie vandag is daardie dag nie. 

Nou as jy nie beplan om vandag al dood te gaan nie, wat beplan jy om wel met jou lewe te doen voor daardie laaste hyg oor die wenstreep? Wat sou jy graag op jou Bucket List wou sit? 
Ek het al nommer 499 'n paar weke terug gepubliseer- 'n Besoek aan Hermanus. Dit is nou doodgetrek op my Bucket List, been there, done that, got the heart damage...

Ek sal die volgende paar weke bietjie meer daaroor dink, en dit dalk so bietjie rondskommel. Hier is so 'n voorlopige enetjie. Help dink, en Comment jou drome saam.

  1. Nadat ek die emmer geskop het, moet my vrou my deur die oond jaag, en die helfte van die assies by die see in Bloubergstrand gaan gooi, daar by die rotspoel tydens laagwater. Die ander helfte moet sy by Clifton se 4e strand gaan gooi, net omdat dit so mooi is daar. (As Jack bo-op die Himalajas in 'n Jêmblik kan wees, kan ek seker in die see gaan swem?)
  2. Ek wil graag op Ouderdom 96 die lepel in die dak steek as die nuwe jong blonde nursie so oor my buk en my laaste stuiptrekkende hoë bloeddruk te neem, en daardie bloesie val so effentjies oop, en dis te veel vir my bejaarde hart om te hanteer. 
  3. Alternatief op item 2- Ek wil graag op 96 'n reuse Harley Davidson besit, waarop ek nog net net met groot moeite kan klim. Ek moet die reputasie hê as die windgat oudste omie in die ouetehuis, en dan mag 'n munisipale bus van daardie tyd maar eendag per ongeluk oor my ry- ek sal baie heppie doodgaan op 'n motorfiets.
  4. Ek wil verskriklik graag my 50e huweliksherdinking met die vrou van my drome vier, saam met die vrou van my jeug, in die Blue Peter hotel in Bloubergstrand. (Ek is gelukkig, dis dieselfde mens in my geval!)
  5. Ek wil as ek oud genoeg is eendag daardie Harley van item 3 besit. Tot dan mag daar maar 'n paar BMW's in my garage staan. 
  6. Ek wil my dogter in die kerk in begelei op haar troudag, en die huwelikseremonie te lei.  
  7. Ek wil die eerste man in drie geslagte wees wat sy kleinkinders ontmoet in my gesin van oorsprong. 
  8. Saam met my vrou op die rand van die Grand Canyon staan.
  9. Eendag in die Stille Oseaan gaan swem, verkieslik by Waikiki strand
  10. My doktorsgraad doen, met 'n verhandeling wat die gang van die kerk verander.
  11. Die hele Camino de Santiago gaan stap van St Jean Pied de Port af, tot by Santiago, saam met my vrou. 
  12. 'n Pragtige drieslaapkamer huisie met 'n dubbele garage, en 'n studeerkamer, en 'n lapa op my naam hê, klaar afbetaal, in Filadelphia in die Wes-Kaap. 
  13. Saam met die bulle in Pamplona hardloop.
  14. 'n Formule 1 wedren in Monte Carlo gaan kyk. 
  15. Ek wil een keer in my lewe 'n aanprysingsertifikaat vir getroue diens kry- my huidige werkgewer het 10 jaar en 15 jaar se geleentheid gemis. 
  16. Ek wil graag een keer regte kreef eet.
  17. Om 'n boek te publiseer, wat meer as 1000 kopië verkoop. (dalk die gewone ou se boek oor Hooglied)
  18.  Route 66 in Amerika met 'n Harley te ry. 
  19. Ek sal 30 kilos ligter wil wees. 
  20. Ry 'n Argus saam met al my kinders. 
  21. Om 'n dag te besef ek het toe vrede met myself gemaak. 
  22. om 'n nuwe kar van my drome te koop.
  23. Om weer 'n Starbucks wit hot chocolate te drink
  24. Om in die Kaap 'n gemeente te kry wat my graag wil hê.
  25. Om 'n sub 4 ure Argus te ry. 
499. Besoek Hermanus

Ek weet nie hoeveel items sit 'n mens op 'n goeie Bucket List nie. 'n goeie een het seker baie dinge op wat jy graag wil doen om ander mense se lewens beter te maak. Myne het nie veel daarvan op nie, ek sal anderdag meer altruïsties begin dink, ek is op die oomblik net redelik in 'n "survival mode". 

Wat sou jy graag op jou Bucket List wou sit? 

Tuesday, April 5, 2011

Die absolute onaanvaarbaarheid van naaktheid!

Die volgende berig verskyn vandag op BBC se webwerf:

Gauguin painting in Washington DC attacked by woman

Two Tahitian Women, by Paul Gauguin
      Two TaitWomen is to be put back on display on Tuesday morning

A woman who attacked a painting by Paul Gauguin hanging in the National Gallery in Washington DC said the French artist was "evil", court records show.
Susan Burns pounded Two Tahitian Women and tried to rip it from a gallery wall on Friday, officials said.
The 1899 painting, which depicts two women's bare breasts, was behind a plastic cover and was unharmed.
She was charged with attempted theft and destruction of property and is being held pending a mental evaluation.
On Friday afternoon the accused slammed her hands against the plexiglass cover between the canvas and the frame.
'Beautiful, mysterious women' A museum security officer intervened and detained her.
Ms Burns, 53, from Virginia, told police she thought the painting should be burned, according to court records viewed by the Associated Press news agency.
"I feel that Gauguin is evil," she was quoted as telling police.
"He has nudity and is bad for the children. He has two women in the painting and it's very homosexual."
The 94cm by 75.4cm (37in by 30in) oil-on-canvas painting is on loan from the Metropolitan Museum of Art in New York.
It is expected to go back on display on Tuesday morning, National Gallery spokeswoman Deborah Ziska told the BBC.
The work depicts two serene, golden-skinned Tahitian women offering a bowl of flowers.
"The painting captures Gauguin's mythical idea of Tahiti as a paradise of beautiful, mysterious women," museum curators write.
The incident was the first act of vandalism at the museum since the 1970s, when over the course of about five years, one man destroyed a Renaissance-era chair and another defaced 25 works, including by Renoir and Henri Matisse, with a "sharp object", Ms Ziska said.


Wat is sekere mense so absoluut behep met naaktheid? Wat maak dat 'n mens in die naam van geloof of preutsheid of wat ook al, na 'n museum toe wil gaan en so 'n pragtige kunswerk wil vernietig?


Hoekom is daar altyd mense wat die naakte liggaam as iets walgliks wil sien? Hoekom is dit vir hulle altyd 'n objek van wellus? En hoe op aarde kom die dame uit by die standpunt dat dié twee nou lesbies sou wees?  Is hierdie optrede nie baie meer boos as wat sy gedink het die skildery sou wees nie?


Ek verstaan dit persoonlik glad nie! Het die Here nie die mens se liggaam gemaak nie? Het Hy dit nie BAIE goed gemaak nie?  Kan mense nie die mooi daarvan waardeer, soos in hierdie kunswerk van Gauguin nie- Dit is tog soos wat die mense in baie tropiese eilande aangetrek het sonder om skuldig te voel, en vol wellus te wees die hele dag lank.  Ek persoonlik sal eerder my kinders van sulke mense af wil weghou, as van sulke kunswerke.

Sunday, April 3, 2011

Negentig nie uit nie...

Saterdagoggend het ek en my goeie vrou die voorreg gehad om 'n gemeentetannie se negentigste verjaarsdag partytjie by te woon. En dit was hartroerend mooi!

Die besondere dame is nou al vir jare in 'n rolstoel, nadat haar heup gebreek het en nie weer wou aangroei nie. Dit het gemaak dat sy vir jare net in haar huis gekluister was. Dit is nou te sê haar liggaam. Want hierdie wonderlike mens se gees en gedagtes word nie vasgekluister nie. Sy is steeds op hoogte met wat in die wêreld aangaan, sy weet beter as die meeste mense wat in haar gemeente aangaan, en sy het 'n ellelange lys mense vir wie sy elke dag bid. Sy het nooit die voorreg gehad om self kinders te hê nie. Maar sy ken haar oorlede susters se agterkleinkinders elkeen op die naam, en laat hulle baie spesiaal voel op hulle verjaarsdag.

Toe Tannie Nelsie in die Vrouefederasiesaal ingestoot word, het ons vir haar die Here se seën toegesing. Haar ou Dominee, self nou een en tagtig, was die seremoniemeester. En hy het die vermoë om atmosfeer te skep, en mense baie spesiaal te laat voel. Ek moes die gebed waarneem, waar ek vir haar aan die Here opdra. Daarna het familie en vriende huldeblyke gelewer. En Tannie Nelsie het, ten spyte van haar gesondheid, steeds 'n vol saal mense getrek. Dit blyk dat haar "stokperdjie mense is". Sy is lief vir mense. Sy stel opreg belang in mense. Sy gee om wat van elkeen word.  .

Daar was sulke uiteenlopende mense wat kom hulde bewys het. Haar dokter, haar prokureur, haar oogkundige. 'n Afgetrede apteker wat onthou hoe sy blomme gestuur het toe hy sestig jaar gelede die een bekende Apteek in die dorp oopgemaak het. Verskeie familielede wat van baie ver af gekom het, soos haar suster se oudste kleindogter, self al 'n ouma, wat kom eer betoon het. Bure wat op verskillende tye en plekke langs haar gewoon het.

  Teen die een muur was 'n uitstalling met foto's van tannie Nelsie se lewe. Sy as 'n klein dogtertjie, seker 88 jaar gelede, saam met haar pa. Sy as 'n tiener by Durban se strand in 1945. Haar troudag. Saam met haar twee susters, hulle was die beroemde Drie Susters wat saamgewoon het na hulle mans se dood. Ek het die oudste en die jongste al jare terug begrawe, maar tannie Nelsie staan nog sterk.

Die versameling mense was vir my baie interessant. Daar was die een prim en propper tannietjie wat fotos geneem het van almal, en almal dadelik rondgeshunt het om ons te kry presies waar sy ons wil hê. Daar was die Hollandse tannietjie wat iemand se woonstelingang toegeparkeer het, en toe gekraai het van die lag toe hulle die wit Opel se eienaar soek. "Dei Kaa Kaa- ja, dit is tog ons motor..." Daar was die tannie met die baie groot bolla se opregte woorde vir tannie Nelsie. Daar was nie so baie omies nie- op 'n sekere ouderdom gee die manne net moed op en gaan hemel toe, lank voor die dames. 'n Man het ook sy rus nodig. Soos die ou tannie mos op die oom se grafsteen aangebring het: "Rus in vrede- tot ons weer ontmoet!"

En ek dink dit is wat mooi is in die lewe: Iemand wat liefde uitleef sonder om terug te verwag. Iemand wat opreg omgee, sonder enige bybedoelings. Ware liefde kan nooit oorwin word nie. Toe tannie Nelsie negentig word, kon ons die erkenning vir haar gee. So dikwels hoor mense nooit dat hulle vir ander kosbaar was nie.  Dit was kosbaar om te sien hoeveel die oggend vir haar beteken het. Opregte mense soos sy maak die lewe vir my die moeite werd. Dankie, tannie Nelsie, wens daar was baie meer mense soos jy!